ds Hendrik du Plessis
Sondagskoolmateriaal
Ons het iemand deur die genade van die Here wat die Sondagskoolkinders van Bere bedien, soos in my vorige verslag vermeld. Sy is verbonde aan die plaaslike skool in Bere. Haar behoefte was Bybels en Sondagskoolmateriaal, wat ek aan haar kon verskaf het. Ons is baie dankbaar vir iemand soos sy, wat nederig en op haar plek is. Sy is ‘n Tswanasprekende vrou wat ongelukkig nie die Boesmantaal daar magtig is nie, maar dit is ‘n reuse begin. As ons deur haar iemand plaaslik kan oplei sal dit wonderlik wees. Ons dra haar aan die beskerming en die seën van die Here op.
Besoeke
Hierdie keer het ons klem gelê op huisbesoeke. Baie mense vra vir klankbybeltjies, wat ons slegs gee na deeglike oorweging. Sommige mense kan lees. Vir hulle gee ons net gewone Bybels. Ons kon traktaatjies uitdeel wat die mense sommer net daar begin lees het.

Hierdie ou vrou was besonder opgewonde om die Woord van die Here in haar eie taal, die Qgõo-taal te hoor. Aanvanklik moes sy natuurlik touwys gemaak word om die regte knoppies te druk, en as jy dit afskakel of aanskakel moet jy lank op die rooi knoppie druk.

In die verlede het ons vir die mense gewag om te kom vra vir Bybeltjies, maar dan het jy die probleem dat net diegene wat kan loop of beweeglik is by ons opgedaag het. Groot getalle mense daag dan op, maar wat dan van die mense wat nie so ver kan loop nie? Hierdie keer het ons vir niemand vertel dat ons Bybeltjies het nie. Hulle het dit eers agtergekom met ons persoonlike besoeke aan hulle.
Dan was daar ou Ncoobiri wat baie opgewonde was oor sy Bybeltjie. Hy het gelag van opgewondenheid en het heeltyd vir ons gesê: “Dit is my taal hierdie .”

Dit is regtig ons bede dat die Here in die verspreiding van sy Woord op hierdie manier, mense sal verander. Ek dink altyd aan die woorde:
Nature forms
Sin deforms
School informs
But only Christ transforms.
Begrafnis te Khacgae
Abdul wat saam met my was en my getrou vergesel op al my uitreike, het ‘n week of wat gelede verneem van ‘n familielid van hom wat oorlede is te Khacgae. Die begrafnis was aanvanklik vir Saterdag geskeduleer, maar later verskuif na Sondagoggend. Vroeg Sondagoggend (vyf uur) het ons uit Bere uit vertrek. Dit was ek, Abdul en die twee hoofmanne van Bere. Khacgae is ongeveer 70 of 80 Kilometer van Bere af. Daar gekom met sonop was dit eers oudergewoonte die besigtiging van die lyk. Daarna kom die persoon wat oor die siekte van die oorledene verslag doen aan die woord. Hy verduidelik dan wanneer die oorledene begin siek word het tot en met sy dood. Sy vriende kry ook elkeen ‘n spreekbeurt. ‘n Oom aan moederskant het toe aan die woord gekom.
Voor ons na die graf vertrek het is ‘n trooswoord gebring waarna hulle my gevra het om ‘n gebed te doen. By die graf gekom het hulle volgens hulle gebruik eers grond in die graf gegooi met die woorde, stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.
My beswaar ná die tyd was: “Julle het die vloek wat die Here aanvanklik oor die mensedom uitgespreek het oor julle geliefde uitgespreek sonder om melding te maak van die opstanding in Christus. Dan het julle gepraat van die name, Vader, Seun en Heilige Gees, maar Matteus 28 sê dit is net een Naam, hoewel drie Persone. Die dissipels kry die opdrag om die mense te gaan doop in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees en nie name nie, want God is een.” By menige begrafnisse het ek hulle al daarop tereggewys en die meeste van hulle waardeer dit.
In een van my vorige verslae het ek melding gemaak van Abdul se ma wat tragies oorlede is toe hy nog maar ‘n babatjie was. Een nag het ‘n mamba by hulle hut ingeseil en sy ma gepik. Ver van die dokters en die hospitaal af kon sy dit ongelukkig nie maak nie, want ‘n mamba, as gevolg van sy temperament staan bekend as die gevaarlikste slang in die wêreld, hoewel nie die giftigste nie.
Om af te sluit was ons dankbaar oor die uitreik. Afgesien van die Bybels wat ons uitgedeel het en die persoonlike Bybelstudies by die mense aan huis, ontmoet jy soveel mense met wie jy vriendskapsbande smee wat uiters belangrik is in die uitdra van die Evangelie.
Ons hoofmanne daar in Bere
Bere het vier hoofmanne (of tradisionele kapteins) wat die hele dorp bedien. Dit is die hoofman en sy drie onderhoofmanne. Die dorp se sake word deur die onderhoofmanne aangehoor en die belangriker sake word dan na die hoofman verwys. Die sake sluit in van huweliksprobleme tot geweld en diefstal waar die plaaslike polisie ook betrokke is. Wanneer ‘n saak nie daar plaaslik afgehandel kan word nie, word dit verwys na die hoër howe soos die landros en verder op. Met die hoofman (David) en twee van sy onderhoofmanne (Cgara en Setantsho) is ek baie goed bevriend. As ons daar is doen ons baie dinge saam. Cgara alhoewel lid van die ZCC kerk is lief om ons te vergesel op ons huisbesoeke en Bybelstudies. Hy het ‘n baie goeie geheue en onthou presies wie laas klankbybeltjies gekry het en wie nie. Die vierde onderhoofman het ek al ontmoet en mee gesels. Ek ken hom nie so goed nie.
Dit is trouens David en Cgara wat ons vergesel het na die begrafnis te Khacgae. Ná die begrafnis het David dit weer benadruk en vir my gesê: “Jy moet besef dat ek nie ‘n kerk het nie. Julle kerk is nou my kerk.” Ek het aan hom genoem dat ek hom baie graag as ouderling sal wil oplei. Daaroor was hy baie opgewonde. Hy as hoofman saam met sy drie onderhoofmanne het baie invloed in die dorp.

Met Cgara het ek al verskeie kere gesels oor sy verbintenis met die ZCC kerk en sinkristisme. Hy is baie ontvanklik vir alles wat jy hom leer, maar hy het nog nooit by die punt gekom om die ZCC kerk vaarwel toe te roep nie. Ek wil hom ook nie dwing nie. Hy moet self die besluit neem. Hy het al verskeie kere sy ontevredenheid uitgespreek oor die ZCC kerk en sy gebruike. My bede is dat hy tot inkeer sal kom en sal besef dat sy kerk op die verkeerde pad is, want jy kan nie saam met mense aanbid wat nog aan hulle voorouers glo en hulle aanroep nie.
Om af te sluit is my versoek dat u tog aan hierdie dorp en sy hoofmanne in u gebede sal dink, dat die Here vir ons daar ‘n geopende deur sal gee.
U broeder in Christus,
Hendrik du Plessis.