Baie goeie en verrassende nuus
Ds Hendrik du Plessis
Deur die Here se genade kon ons verlede naweek vir die mense van Bere gaan kuier. Die twee hoofmanne van die dorp het by ons kom kuier wat ons baie waardeer het. Ons kamp gewoonlik net buite die dorp. Aangesien dit Vrydag was, was dit nog ‘n werksdag vir hulle en tog het hulle die moeite gedoen om ons te voet te kom groet. Dit was vir ons weereens ‘n bevestiging dat hulle ons as hulle vriende sien.
Later het die een hoofman homself verskoon, maar die ander een het bly sit vir nog ‘n koppie koffie. Op my vraag hoe dit nog gaan hier in Bere het hy geantwoord dat dit baie goed gaan. Die Klankbybels wat ons aan hulle uitgedeel het, het ‘n beduidende verandering in hul midde teweeggebring. Twee sjibiens moes toemaak, wat nog nooit gebeur het nie.
Ek was om die minste te sê, aangenaam verras. Ek het hom geantwoord dat die Gees van die Here altyd deur sy Woord werk. Waar die Woord van die Here aan mense gebring word, daar werk die Gees van die Here in hulle harte. Dit is Hy wat die Woord laat ontkiem in die harte van mense. Dit het my laat dink aan die woorde van Paulus in Kolossense 1. Paulus was baie verras en dankbaar oor die nuus van hulle geloof. Vanaf vers 3 sê Paulus “3Elke keer wanneer ons vir julle bid, dank ons God, die Vader van ons Here Jesus Christus. 4Dit doen ons, want ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus, en die liefde wat julle vir al die heiliges het,”. Vanaf vers 7 sê Paulus dat hy al hierdie wonderlike nuus van Epafras gehoor het en nou des te meer vir hulle voorbidding doen. Bere weet ons is in die greep van alkoholisme en een van die laaste plekke waar ‘n mens ‘n verandering sou verwag.
Ek het al by verskeie kere gesê, as jy vinnige resultate wil sien moet jy nie Bere toe gaan nie. My oud kollegas wat daar vir jare gewerk het en my later gevra het om by hulle oor te neem, kan daarvan getuig. Alkoholisme is aan die orde van die dag.
Later het ek die ander hoofman by sy huis gaan opsoek. Hy was ook vol lof vir die Klankbybeltjies wat ons uitgedeel het. Die misdaad het drasties begin afneem. Sommige dae sit hulle by die aanklagkantoor saam met die plaaslike polisiemanne verstom oor die geweld so drasties afgeneem het. Daar is deesdae net af en toe ʼn geval.
Juis in die tyd wat ons daar was, was daar ‘n ‘kerk’ wat kom besoek aflê het in Bere met hulle tromme en wit japonne. Hulle het ‘n klomp sogenaamde apostels en profete onder hulle wat kastig kwale genees en vir mense profeteer en seën.
Die hoofdrinker met wie ons gereeld praat was die hele naweek nugter. Hy vertel toe dat die mense met die tromme vir hom gesê het dat hy nagtelike probleme met sy oorlede ma het en dat hulle bereid is om hom te help. Hy het hulle geantwoord dat hy nie hul hulp nodig het nie want ons kerk (die Reformed Church) glo nie aan wat hulle doen nie, en buitendien lieg hulle want sy oorlede ma pla hom nie in die minste nie.

Tydens ons besoeke is ons nie daar om kerke af te kraak of te beledig nie, maar met ons Bybelstudies in Bere laat ek nooit die geleentheid verbygaan om valse leërstellings aan te spreek nie.
Die tyd gebruik jy om hulle in te ent deur die Woord van die Here. Deur voortdurend met hulle te praat maak jy hulle bedag teen valse leërstellings wanneer hulle opduik en bou jy so ‘n geestelike immuniteit onder hulle op. Jy vermaan tydig en ontydig om Paulus se woorde te gebruik.
Wat vir my baie positief was, is die gesindheid van die twee hoofmanne daar, links is David (die hoofman) en regs sit Cgara (die onder hoofman).

Cgara is nog verbonde aan die ZCC kerk alhoewel daar al hoe meer en meer vrae by hom ontstaan oor die ZCC kerk, maar David beskou ons kerk as sy kerk vir hom en sy gesin.
Ek sê toe vir hulle dat siende dat hulle as hoofmanne ‘n belangstelling toon om in die Woord van die Here opgelei te word, gaan ek hulle deur die boek Genesis neem en gaan ons deur Genesis na die Nuwe Testament soos deur ‘n venster kyk, want sonder Genesis kan jy nie die Nuwe Testament verstaan nie. Hulle was baie opgewonde daaroor.
Ná die eerste les daar onder die bome het ek hulle twee van my volgende voorneme vertel dat ek vir hulle twee klein radiotjies gaan koop wat hulle in die son kan laai met geheuekaartjies. Daarop gaan ek die lesse vooraf opneem waarna hulle dan rustig in hulle eie tyd kan luister. Wat ek van hulle verwag is dat hulle met hulle eie klasse moet begin. Soek na gelowige mense in die dorp wat ywerig is om ook opgelei te word. “Julle sien self dat dit vir my te ver is om elke week te kom, maar met die radiotjies en die geheuestafies kan ons wondere verrig. Vir diegene dan wat julle oplei stel ons weer in staat om ander op te lei.”
Bere se mense is nie mense onder wie jy sommer kom en sê, ons begin nou ‘n kerk en siedaar nie. Dit is mense wat al het hulle gehoor van Jesus, hoegenaamd geen kennis van die Bybel het nie. Die bietjie kennis wat hulle het, is in baie gevalle so verdraaid as gevolg van valse apostels en biskoppe. Dit is dus nie ‘n kwessie van net die Evangelie verkondig nie. As dit die geval was, was dit baie makliker. Hier moet jy eers afbreek om weer op te bou. Om die waarheid aan hulle te verkondig moet vir hulle eers verduidelik word dat dit wat hulle geleer het al die jare verkeerd was. Noudat die dorpie Bere as’t ware vir die eerste keer gebombardeer word deur die ware Evangelie bring dit hulle tot die besef van hoe maklik hulle in die verlede geval het vir valse leërstellings.
‘n Tipiese voorbeeld is die groep apostels wat die naweek daar was. Bere is maklike prooi as gevolg van hulle onkunde of oningeligtheid. Jy stap daar in met jou wit toga en vertel vir mense dat hulle probleme het as gevolg van geeste wat hulle wil aanval, soos die een wat kamstig deur sy ma aangeval word, “en as julle vir ons beeste en bokke gee, sal ons julle probleme oplos.” So is daar baie van die predikers in Botswana wat hulle op die manier verryk. Hy kom daar aan met niks, maar nie hoe lank daarna nie stap hy daar weg met ‘n trop beeste en kinders wat hy by die ma of ma’s agterlaat.
In my gesprek met David het hy nog iets aan my genoem: “Jy weet Hendrik, tydens begrafnisse hier preek ek gewoonlik en jy sal nie besef hoeveel van jou preke ek al hier gepreek het nie.” Daaroor was ek baie dankbaar. ‘n Mens ry baie keer daar weg en wonder wat tot hulle deurgedring het, maar dan troos ‘n mens jouself met die wete dat ‘n mens die werk van die Heilige Gees nie moet onderskat nie en ek maar net ‘n instrument is in God se heilige doel. Johannes 6:37 inspireer my altyd: “Al wat die Vader My gee sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” Of die persoon in Bere of in Moskou is, hy of sy sal na die Here Jesus toe kom, en ek en jy is die instrument waardeur die Here die Woord aan hulle bring.”
Ek is veral opgewonde oor die Woord wat mense deur hierdie Klankbybeltjies bereik. Ek was gisteraand by my kollega hier in D’kar wat dieselfde ervaring met my gedeel het. Ons buurplaas hier naby wat deur hom bedien word, kon maar net so wel ‘n bierplaas genoem word. Ook aan hulle het ons so ‘n tyd gelede Klankbybeltjies gegee. Daar is baie mense wat daar bly na wie ons vir jare uitgereik het sonder enige noemenswaardig “sukses”. Ons almal hier weet hoe die mense hulle daar aan drank oorgegee het. My kollega kan nou nie uitgepraat raak oor die verandering wat by die mense daar ingetree het nie. “As ek daar kom, kom hulle spontaan na my toe aangestap en is honger vir die Woord, iets wat nooit voorheen gebeur het nie,” het hy vir my gesê. Ons het toe ooreengekom om ook vir die drie punte waarby hy betrokke is radiotjies en geheuestafies te koop om ook die materiaal wat ek vir Bere voorberei aan hulle te verskaf. Hy is betrokke by oom Dick Eaton se plaas, Tchabo en Groot Laagte.
Sondagskoolklassie

In Bere het ons ook ‘n Sondagskoolklassie wat goed op dreef is. Ene mevrou Mereyabone is die juffrou daar. Elke Sondag kom hulle gereeld bymekaar. Ons is op die oomblik op soek na 20 klein plastiese stoeltjies waarop hulle kan sit, en miskien so 2 of drie groot stoele. Nog ‘n behoefte is ‘n bord en kryt. Ons is baie dankbaar vir iemand soos sy wat so mooi na die kleintjies omsien.

Om af te sluit: Dit het my net weereens onder die besef gebring dat die eenvoudige Woord van God baie skerper is as wat ons dink. Hebreërs 4:12 stel dit so treffend: “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.”
U broer in Christus,
Hendrik du Plessis.