Motopi
Ds Hendrik du Plessis
Dit gaan goed met tannie Dorette. Sy woon nog in Maun, maar beplan om teen die einde van die jaar weer terug te trek Motopi toe. Dit is haar huis, sê sy. Sy behartig elke Sondag die eredienste daar waaroor ons baie dankbaar is.

Ons het 17 en 18 Junie vir twee aande, die film Walking with Jesus in die kerk op Motopi gewys. Dit is ‘n film wat die tipiese lewe van die Afrikamens uitbeeld, en hoe selfs ‘n sangoma op die ou end tot bekering gekom het. Brs. Mac Mc Menamin en Lourens Gouws wat vroeër die week by ons in D’kar oornag het, het die film daar vir ons gewys. Hulle het deur Botswana getoer om die film op verskeie plekke te wys. Ek het hulle versoek omdie film vir die mense van Motopi te wys. Dit het gelukkig so uitgewerk dat hulle in daardie tyd op pad terug Suid-Afrika daar kon aankom. Almal het vasgenael voor die film gesit omdat hulle hulleself daarmee kon vereenselwig het.

Sondag kon ek die erediens daar waarneem waarna ons die volgende dag Mababe toe vertrek het.
Mababe
Soos ek in van my vorige verslae vermeld het, het ons ‘n kerkerf in Mababe bekom. Die regering het die erf aan ons kerk gratis gegee met dien verstande dat ons dit sal ontwikkel. Ons was die hele week besig met pale kap en draad span.

Ons het daarmee verlief geneem dat die olifante van tyd tot tyd die drade gaan plattrap. Ons het dit daarom nie te hoog gespan nie, sodat hulle gemaklik oor die draad kan tree. Waar die draad plat trap word, herstel ons maar weer. Dit is wat die inwoners van Mababe van tyd tot tyd doen. Dit gebeur darem nie elke dag of elke week nie, maar dat dit wel gaan gebeur daaroor twyfel ons nie.

Wat ook ons aandag in beslag geneem het was ‘n begrafnis die week. Hulle het my gevra om verskeie dienste daar waar te neem tot en met die begrafnis Saterdag 25 Junie. Dit was ‘n Boesman wat in 1925 gebore is en omtrent sy hele lewe lank daar gebly het. Mense van oraloor tot sover as Gaborone het gekom vir die begrafnis. Sy seun is ‘n baie goeie vriend van ons en ‘n diep gelowige en ons was dankbaar dat ons juis in daardie tyd daar kon wees. By ‘n vorige geleentheid kon ons vir die ou man ‘n klankbybeltjie gee. Dit is van sy seun wat ek in my vorige verslag melding gemaak het as iemand wat ek graag eendag in die bediening sal wil sien.

Tydens ons verblyf daar is ons (ek en Abdul) uitgenooi om die naweek van die 9de Julie ‘n kultuurgeleentheid in Mababe by te woon. Tydens die tyd gaan daar hopelik gepraat word oor hulle taal wat besig is om uit te sterf en hoe die Bybel sentraal kan staan tot behoud van hulle taal. Dit is gelukkig nog nie te laat nie omdat daar baie mense is wat nog hulle taal kan praat. Om een of ander rede het die ouer garde besluit om met hulle kinders net Tswana te praat. Die nuwe geslag kinders praat gevolglik net met mekaar Tswana.
Ons is dankbaar dat die ander Boesmantale soos Naro en Qgoo nog sterk staan. Nooit sal jy hulle kinders met mekaar Tswana hoor praat nie. Ek het verduidelik dat net een Persoon hulle taal kan red en dit is Jesus Christus. Waar die Bybel in ‘n taal vertaal word, word God Drie-enig verkondig. So kom die rede vir ‘n taal op aarde tot sy reg, veral wanneer die Here daar in loof en prys kan word. As voorbeeld het ek die Narotaal gebruik. Vandag staan Naro sterker as ooit te vore. Daar is ‘n Nuwe Testament en ons is besig met die Ou Testament en in die kerk word Naro lewendig gehou deur Woord en lied. Nie net in die kerk nie, orals waar jy kom hoor jy Naros met hulle kenmerkende suig- of klapklanke kommunikeer. Hulle skroom nie meer om hulle taal te praat nie, want die Evangelie het hulle bevry van ‘n minderwaardigheidsgevoel, veral wat hulle taal aanbetref.
Om af te sluit is my bede dat die Here ons die wysheid sal gee om die Evangelie van ons Here Jesus Christus by wyse van hierdie pragtige en unieke taal aan hierdie mense te bring.
U broeder in Christus,
Hendrik du Plessis.