Ds Hendrik Du Plessis
As kind kon ek onthou hoe die oumense altyd gepraat het van goëlery. As hulle vir jou gesê het dit goël daar moet jy maar weet die mense daar slaap nie in die nag nie. In die nag hoor jy dan hoe iemand die krane oopdraai en as jy daar kom is daar niks. Jy voel hoe iets jou bed skud. Jy hoor hoe iemand kettings op die dak sleep. Dit is ‘n ervaring wat mense al laat besluit het om maar liewer te trek.
Nou onlangs by ‘n begrafnis in Gantsi het iemand my geskakel met die versoek om hulle tog te kom besoek, want dit goël daar. Dit is ‘n jong blanke man wat in Zimbabwe grootgeword het en vir iemand hier boer. Hy is vertel dat ek in die sending is en moontlik kan help, want hulle werkers slaap nie in die nag nie. Ek het toe ‘n afspraak met hom gemaak vir die Saterdag. Ek en Aron, een van ons ouderlinge, het deurgery om hulle te besoek. Daar gekom was dit die jong blanke man wat ons ontvang het. Saam met hom was daar ‘n Ndebele van Zimbabwe en twee Boesmans.
Hulle het toe aan ons verduidelik wat daar snags gebeur. Goed raas op die dak en dan by die venster. In die middel van die nag kan jy duidelik hoor hoe iemand die deur oopmaak en inkom al is dit gesluit. Dit is omtrent altyd dieselfde tyd van die nag. Van die vensters af gaan die persoon gewoonlik altyd daar na die deur toe, maak dit dan oop en kom in. As jy gaan kyk vind jy die deur gesluit soos wat dit was. In die laaste tyd het dit al erger geword, sê die Zimbabwiër.
Ons het ‘n lang gesprek gehad waartydens ek aan hulle verduidelik het wat die Bybel sê oor die bestaan van bose geeste. In Effesiërs 6 praat Paulus van die bose geeste in die lug, maar, het ons aan hulle dit duidelik gestel dat ons nie hier is om die bose geeste te kom verdryf of te verjaag nie. “Ons het gekom om die Evangelie van ons Here Jesus te verkondig in Wie se teenwoordigheid dit onuithoudbaar is vir sulke geeste. Sou daar sulke geeste hier wees en ons verdryf hulle sal dit net wees om die simptome aan te spreek en nie die probleem nie. Die probleem lê dalk daarin dat julle nog nie die Here Jesus as persoonlike Verlosser in jul lewe het nie. As julle Hom werklik in jul lewens het, het julle nie net die simptome aangespreek nie, maar ook die wortel van die probleem.”
Aan die ander kant, sou jy ‘n bose gees uitdryf en jou lewenshuis staan leeg sonder Christus, kan daardie bose gees later maar weer terugkeer met sewe ander geeste erger as hy self, en die laaste sal dan erger wees as die eerste.
Daarna het ek ook aan hulle verduidelik dat sulke probleme gewoonlik ontstaan waar die okkulte in die verlede al geraadpleeg was soos toordokters of hierdie sogenaamde “baruti’s”, (predikers) wat hulle met spiritisme bemoei, want die Afrikamens het die geneigdheid om toordokters te besoek as hulle probleme het, en stel hulleself bloot aan okkultiese praktyke. Daarna word hulle gewoonlik lastig geval in hulle drome deur sogenaamde voorvaders wat eintlik bose geeste is wat voorgee om hulle voorvaders te wees.
My raad aan hulle was om hulself aan die Here Jesus oor te gee, en te vra om hul sondes te vergewe en in hul lewens te kom deur sy Gees. Ek het aan hulle verduidelik wat sonde is en dat ons almal sondig is voor die Here, maar sy genade is groot en deur Sy Seun Jesus Christus vergewe Hy al ons sondes. Hy is die enigste offer vir ons sondes.
My verdere raad aan hulle was om elke aand voor hulle gaan slaap bymekaar te kom, ‘n gedeelte uit die Bybel te lees en dan ‘n gebed te doen. Ek het later weer die Ndebele man geskakel om te hoor hoe gaan dit. Volgens hom gaan dit baie beter, die nagtelike besoeke het beslis afgeneem. Ek het hom aangemoedig om aan te hou bid, want gebed en vas is die enigste manier om van hierdie magte ontslae te raak, sê die Here Jesus.
Dit is nie ongewoon vir die Afrikamens om met sulke probleme te kampe te kry nie. Dit kom oor geslagte heen waartydens hulle blootgestel was aan okkultiese praktyke. Vir duisende jare was dit die praktyk om die sangoma of toordokter te raadpleeg wanneer jy ‘n probleem het in jou huis. Die toordokter sal dan vir jou een of ander medikasie gee wat die toordery sal teëwerk.
Hy sal vir jou ook die naam van die persoon gee wat jou wil dood toor. Vir die res van jou lewe sal jy dan glo dat daardie persoon jou wil doodmaak al is dit die grootste bog wat die toordokter kwytgeraak het. Vir die res van jou lewe, lewe jy in vyandskap met daardie persoon. Dit kan selfs so lelik ontaard dat jy daardie persoon leed aandoen of selfs vermoor. Deur hulle kontak met die okkulte is dit algemeen dat hulle drome begin droom waarin die sogenaamde voorvaders met hulle praat of kommunikeer.
‘n Tswana vrou het op ‘n keer vir my gesê dat sy haar voorvaders kan sien in haar huis. Toe ek en ‘n ouderling vir een van die vrouens tydens huisbesoek verduidelik het dat dit nie hulle voorvaders is nie maar demoniese magte wat aan hulle in hulle drome verskyn, het sy met my saamgestem en gesê, dit maak vir haar sin, want haar ma wat nou onlangs oorlede is, was die sagmoedigste vrou denkbaar en sy was deeglik bewus van hulle armoede, maar nou pla sy haar elke nag in haar drome en wil sy hê sy moet ‘n bees as offer bring, en waar gaan hulle geld nou vandaan kry om ‘n bees te koop. Sy het saamgestem dat dit onmoontlik haar ma kon wees want hulle het haar nie so geken nie.
Baie mense hier in Afrika hunker na die ou-ou dae voor die koms van demokrasie en die blankes, maar wat hulle nie besef nie is dat demokrasie “sangomakrasie” vervang het, waar die toordokter of toordokters met hulle leuens die eintlike septer geswaai het.
Die hoofman van die stam het sy toordokters gehad as sy raadgewers. Hulle het gewoonlik die sogenaamde voorvaders vir hom geraadpleeg deur hulle dolosse. Jy het dan altyd in vrees gelewe omdat die toordokter baie maklik vir die hoofman kan sê, sy dolosse het vir hom gewys jy beplan ‘n komplot teen hom as hoofman. Dan het die hoofman sy impi’s beveel om van jou ontslae te raak. Daar was nie so iets soos appèl aanteken nie. Dit is die kamstige of sogenaamde goeie ou tye.
Daar is ‘n algemene geloof onder die swart mense dat witmense nie getoor kan word nie. Ek verduidelik gereeld aan hulle dat wit mense ook sogenaamd getoor kan word. As ek as blanke myself so aan die okkulte blootstel soos die gemiddelde Afrika-mens is dit voor-die-hand-liggend dat ek deur die mag van die duisternis beheer gaan word.”
Bere
Ons het weereens ‘n goeie besoek gehad. Ons het ook twee veeposte buite Bere besoek. In Bere self het ons vir 3 aande na mekaar die “Walking with Jesus” film gewys. Ek het in my vorige verslag melding gemaak van die film. Dit is ‘n film wat op ‘n baie eenvoudige manier dramaties die resultaat van Christenword verduidelik. Wat gebeur met jou as jy jou volkome aan die Here Jesus oorgee?
Vraag 2 van Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus word in die film duidelik uitgebeeld, jou ellende, hoe jy verlos kan word, en jou dankbaarheidslewe daarna. Die feit dat dit in Tswana oorgeklank is maak dat almal van die begin tot die einde vasgenael sit. Hulle verstaan waarom dit gaan. Selfs die volgende dag hoor jy hoe hulle die film onder mekaar bespreek.

Die Sondag by die kerk was daar nie soveel kinders soos gewoonlik nie, omdat baie met die skoolvakansie saam met hul ouers na die veeposte toe is. Tog was dit aangenaam om te sien hoe die onderwyseres hulle leer. Die kinders dikteer Bybelversies wat hulle by die huis uit hulle koppe uit geleer het. Sy het toe ‘n boek oopgemaak waardeur sy werk en die Sondagskoolles aan hulle verduidelik.
Toe ek die groepie kinders daar voor my sien het Sagaria 4 vers 10 by my opgekom wat ek met hulle gedeel het: “Want wie verag die dag van klein dinge . . .” Die 2020 Bybelvertaling stel dit so: “Want wie het die dag van klein dinge gering geskat?” Soos wat ons hier sit is dit nie baie indrukwekkend in die oë van die wêreld nie, maar die Here kyk anders na die dag van klein dinge. Dit gaan nie oor die dag as sulks nie, maar oor dit wat die Here vir die toekoms beplan. Baie keer gebeur dit in eenvoudigheid en beskeidenheid.

Ek het aan hulle die verhaal van oom Walt vertel wat baie graag ‘n sondagskoolklassie wou begin het. Eendag het hy ‘n groepie seuns sien albasters speel. Hy het hulle genader om met hulle vriende te maak. Later het hy hulle kerk toe genooi. Eendag toe vra hy hulle of hulle nie by sy sondagskoolklas wil aansluit nie. “Haai ons het nie eers geweet oom het ‘n sondagskoolklas nie,” het die een opgemerk. “Nee” sê hy, “Ek het nie ‘n sondagskoolklas nie maar ek wil een begin.” Daarna het hy hulle getrou geleer en Sondae het hulle kerk toe gegaan. Hulle was 13 seuns. Elf van daardie seuns het later predikante of sendelinge geword en een van daardie seuns was die bekende teoloog prof. Howard George Hendricks. Vir meer as vyftig jaar was Howard George Hendricks ‘n professor by Dallas Theological Seminary, waar hy “Bybeluitleg en Hermeneutiek” aan eerstejaars geleer het.
In Wikipedia lees ons dat hy deur die jare baie Christelike leiers gementor het, insluitend Chuck Swindoll, Tony Evans, Joseph Stowell, Robert Jeffress, Chip Ingram, Josh Macdowell en David Jeremiah. Hy was ‘n hoofspreker vir Promise Keepers en het sestien boeke geskryf. Hy het in meer as 80 lande gedien, en hy het ook gedien as kapelaan vir die Dallas Cowboys-sokkerspan van 1976 tot 1984. Volgens Josh Macdowell het daar wêreldwyd deur sy invloed meer as ‘n duisend institute ontstaan – En dit alles het maar eintlik ontstaan deur die eenvoudige oom Walt. Professor Hendricks skryf self:
“In my eie lewe kan ek verskeie van hierdie diep invloedryke figure onthou wat strategies deur God gebruik is om die gang van my lewe te verander. Die eerste was ‘n man met die naam Walt. As dit nie vir Walt was nie, twyfel ek ernstig of ek ooit ‘n volgeling van Jesus Christus sou geword het. Ek het uit ‘n gebroke huis gekom. My ouers was geskei voor ek gebore is, en nie een het baie aandag aan my geestelike toestand gegee nie. Om dit reguit te stel, ek kon geleef het, gesterf het en hel toe gegaan het sonder dat iemand eers die moeite gedoen het om om te gee. Maar Walt het omgegee. Hy was deel van ‘n klein kerkie in my omgewing wat ‘n passie ontwikkel het om sy gemeenskap vir Christus te beïnvloed. Walt se passie was om nege- en tienjarige seuns soos ek met die Evangelie te bereik. Ek sal nooit die Saterdagoggend wat ek hom ontmoet het, vergeet nie. Ek was uitgestrek op ‘n Philadelphia-sypaadjie en speel albasters. Skielik het iemand langs my gestaan. Ek het opgekyk om te sien hoe hierdie skelm ou bokant my uittoring — al ses voet, vier duim van hom. My mond het soort van oopgeval. ‘Haai, seun, sou jy nie graag Sondagskool toe wou gaan nie?’ het hy gevra. Dit was ‘n ongelukkige vraag. Na my mening moes enigiets wat die woord ‘skool’ bevat, slegte nuus wees. Ek skud toe my kop en sê, nee. Maar Walt het net begin. ‘Hoe sou jy graag albasters wil speel?’ vra hy en gaan hurk. ‘Nou praat hy my taal!’, het ek vir myself gesê. ‘Sekerlik!’ Ek het geantwoord, en vinnig die speletjie opgestel. As die beste albasterspeler in die blok, was ek vol vertroue dat ek hierdie uitdager redelik maklik kon wen. Sou jy glo hy het my in elke wedstryd geklop! Trouens, hy het elke albaster wat ek gehad het, gevang. In die proses het hy my hart gevang. Ek het dalk ‘n wedstryd en ‘n bietjie trots daardie dag verloor, maar ek het iets oneindig belangriker gekry — die vriendskap van ‘n man wat omgegee het. ‘n Groot man, ‘n ouer man, ‘n man wat letterlik op my vlak afgekom het deur te kniel om ‘n speletjie albasters te speel. Van toe af, waar Walt ook al was, was dit daar waar ek wou wees.
‘n PH.D. IN OMGEE
Walt het oor die volgende paar jaar in my lewe ingebou op ‘n manier wat my vir altyd gekenmerk het. Hy het my en die ander seuns in sy Sondagskoolklas gereeld geneem om te stap. Ek sal daardie tye nooit vergeet nie. Hy het hartprobleme gehad, en ek is seker dit het sy hart nie goed gedoen nie, ons het hom oral in die bos laat hardloop soos ons gedoen het. Maar dit het gelyk of hy nie omgegee het nie, maar hy het omgegee. Trouens, hy was seker die eerste persoon wat my onvoorwaardelike liefde betoon het. Hy was ook ‘n model van getrouheid. Ek kan nie ‘n keer onthou dat hy ooit onvoorbereid by sy Sondagskoolklas opgedaag het nie. Nie dat hy die mees skitterende onderwyser in die wêreld was nie. Trouens, hy het amper geen opleiding daarvoor gehad nie. Op beroepsgebied het hy in die gereedskap en handel gewerk. Maar hy was opreg, en hy was ook kreatief. Hy het maniere gevind om ons seuns by die leerproses te betrek — ‘n benadering wat ‘n blywende bydrae tot my eie styl van onderrig gemaak het. Oor die algemeen het Walt Christus vir my ‘n werklikheid gemaak. En nie net vir my nie, maar vir dertien ander seuns in my buurt, van wie nege ook uit gebroke huise gekom het. Merkwaardig genoeg het elf van ons voortgegaan om loopbane as beroepsgerigte Christelike werkers te volg – wat ironies is, aangesien Walt self skool eers deur die sesde graad voltooi het. Dit wys net dat ‘n man nie ‘n doktorsgraad hoef te hê vir God om hom te gebruik om iemand anders te vorm nie.”
Om af te sluit, natuurlik het oom Walt nie naastenby voorsien dat die seuns wat hier voor hom sit eendag so ‘n groot invloed op die wêreld gaan hê nie. Oom Walt het maar net sy passie uitgeleef, sy liefde vir Christus. Wees opreg lief vir Christus en vir die kinders voor jou. Dit is geweldig aansteeklik. Deur jou liefde vir hulle gaan hulle Christus liefhê. Daardie kinders sal dit vir die res van hulle lewens onthou. Al is jou klassie hoe klein, ons dien ‘n groot God, ‘n God vir wie ‘n klein begin en klein dinge nie te klein is nie.
U broer in Christus,
Hendrik du Plessis