Verslag Dekar in Botswana besoek
Datum: 15 November tot 17 November 2023
Wie: Br Tiddo Voogt en Kobus Erasmus van Gereformeerde Kerk Lyttelton namens Botswana Sendings Groep.
Ons het 5h00 Woensdagoggend vertrek en reguit deurgery. In Ghanzi het ons gestop om ʼn paar kruideniersware en dinge te koop.
Die aand het ons by ds. Hendrik gekuier en gesels en in sy huis gebly. Miriam is in SA om haar moeder (87 jaar) se woonstel by die ouetehuis te ontruim aangesien sy oorgeplaas is na die verswakte eenheid. Ook het Miriam se ma ʼn hartaanval gehad en is tans in die hospitaal waar dit nie baie goed met haar gaan nie. Ons bid haar sterkte toe.
Ds Hendrik en sy werk.
- Dit gaan goed met ds Hendrik. Hy is positief t.o.v. die werk en sending wat hy in Dekar en uitreikposte by Mababe/Bêre en Motopi verrig.
- Die bybelstudiemateriaal wat hy gereeld opneem saam met die emerituspredikant ds. Gaobolelwe Ngakayaja en die versprei daarvan in die areas word gretig ontvang en bespreek. Die okkultiese gebruike en gewoontes onder die Boesmans en hul afstammelinge bly maar n uitdaging, maar Ds Hendrik is positief dat sy prediking wel ʼn wesenlike veskil maak.Die ouderlinge van die gemeente:
Ons het Donderdag laat, die middag en die aand saam met die ouderlinge vergader en gebraai. Van regs is ds. Gaobolelwe Ngakayaja (emeritus), brs. Tiddo Voogt, James Morris, Aron Johannes, ds. Hendrik du Plessis en Jim Morris. Afwesig was br. Morris Morris.

- Emiritus predikant Ds. Gaobolelwe is ‘n steunpilaarouderling as ‘n mens dit so kan noem. Hy was voorheen deur die Christelike Gereformeerde Kerk in Nederland aangestel as bedienaar en ook deur hulle vergoed. Die vergoeding het ʼn paar jaar gelede gestop.
- Die ouderlinge is almal al in hulle sewentigs en tagtigs. Alhoewel hulle oud is, is hulle nog steeds beweeglik en gesond en besoek die gemeentelede gereeld tuis.
- Tans is daar n bietjie onenigheid by 3 lidmate wat ongelukkigheid veroorsaak en ander negatief aanhits in die gemeente. Ons aanbeveling was om die geskil op te los deur die weg van Mattheus 18. Indien dit nie werk nie moet die mense onder tug geplaas word.
- Die katkisasie word nog elke Sondag behartig. Daar is genoeg lesmateriaal wat ons in die verlede gestuur het. Die lokale skool hanteer kinders tot en met klas 7 waarna hulle na Ghanzi hoërskool en koshuis gaan. Sodra hulle weer huis toe kom en aansoek doen om belydenis van geloof af te lê, word hulle onderrig deur Ds. Hendrik en of Ds Gaobolelwe.
- Die lidmate is arm en daar is nie sprake van maandelikse bydraes nie. Daar word slegs Sondae kollekte gehou en die geld word voor die gemeente getel, en opgeskryf. Opbrengs wissel van P20.00 tot maksimum P50.00 per kollekte. Dit gaan dus maar broekskeur.
- Die staat is die grootste verskaffer van werk.Meeste arm mense leef van die Pula 400 staatspension.(Rand 550.00)
- Ons het vir hulle uit die Bybel gelees en ʼn gebed gedoen om die aand mee af te sluit.
Ons moet aanhou bid, dat die Here helpers en kundiges sal voorsien in die gemeente.
Gereformeerde Kerk Gobabis en Ghanzi wyk.
Daar het ʼn interesante verwikkeling gekom. Die Gobabis gemeente het kennis gegee aan die wyk wat in Ghanzi en omliggende plase is dat Gobabis hulle nie meer kan bedien nie. Ds. Hendrik het al ‘n geruime tyd in die verlede by van die Gereformeerde lidmate op versoek huisbesoek gedoen en gepreek. Hy het ook al by die NG Kerk in Ghanzi (wat al geruime tyd vakant is), dienste gehou.
Daar het 2 lidmate by Dekar aangesluit en ons hoop dat nog meer sal aansluit. Ds. Hendrik sal voortgaan om te help waar nodig en die tyd sal leer wat verder gaan gebeur. Ons het die 2 lidmate uitgenooi om Vrydagaand by ons te kom eet. Ons het lekker gesels en gekuier.(Thys en Martie Boshoff)
(Daar moet onthou word dat die BSG slegs ‘n groep is wat help sodat die bediening kan voortgaan in Botswana en die versorging van Ds Hendrik om die Woord suiwer te bewaar en te beskerm en uit te dra. Daarmee wil ek sê dat die BSG slegs advies kan gee en nie kan optree as verteenwoordigers van die Gereformeerde kerke in Suid Afrika.)
Oor die algemeen
- Ook het ons ʼn draai gemaak by die Kuru art gebou,Dit word bestuur deur 2 gereformeerde lidmate van Ghanzi : Maude en Pieter Brown wat wonderlike werk doen.Besoek gerus webblad om te sien wat hulle alles doen. (www.kuruart.com)

Van elke skildery wat verkoop word gaan 50% na die kunstenaar en 50% na Kuru art waarmee hulle weer verf/rame en administrasie uitgawes dek.
- Ons het die kerkgebou en terrein besoek Daar is ʼn paar dingetjies wat ons dink aandag moet kry. Ds Hendrik sal ʼn opsomming maak en aan ons deurstuur. Dit behels o.a. regmaak van sement steunblokke van skuins kerk ysters/ vervang venster stopverf(putty) buitegeboue verf en moontlike installasie van 1000 liter water tenk.Indien moontlik later ook sinkplaat dak verf en plaffone binne in kerk. (Ek skat ons gaan redelik ver kom met so R20—R30000 se materiaal) Dan ook terrain skoon maak (klippe en papiere)
- Ook het ons vir Mere ontmoet. Sy behartig die katkisasie in Bêre, so ongeveer 150km van Ghanzi af. Sy was toevallig in Ghanzi vir ʼn werkswinkel van haar werk en dit was dus baie goed om haar te kon ontmoet.

- Sy het gevra of ons nog weer 30 stoele kan skenk aangesien haar klas noual gegroei het na 60 kinders elke Sondag. (U sal onthou dat ons ongeveer ʼn jaar gelede 30 stoele geskenk het)
- Dan vra sy ook vir klere as dit moontlik is. Ek sal dus met ʼn klere insamelingsaksie afskop vroeg volgende jaar.
- Van julle sal die Lodge onthou net buite Ghanzi wat aan die Kuru Development Trust behoort het. Dit is nou gesluit en vervalle. Die vroeëre inkomste wat daaruit genereer was, het na die gemeenskap van Dekar gegaan vir die pomp van water en die verskaffing van werk aan die plaaslike inwoners. Na Covid-19 het die infrastruktuur van die wildsplaas verval as gevolg van min toeriste besoekers wat opgedroog het. Baie mense kla ook oor spesifieke mense van die trust wat hulleself aan geld gehelp het. Let wel, die wildsplaas behoort nie aan die kerk nie, maar aan die Kuru Development Trust.


Om af te sluit
- Vir die van julle wat daar wil besoek aflê, wil ek net verseker dat die vleis by Graaf slaghuis (langs die Puma Garage) beter is as SA vleis. Daar is ook ʼn Hollandia restaurant waar mens kan eet en koffie drink wat heel goed is. Die Spar/Shoprite het alles wat mens nodig het vir n safarivakansie,
- Ons het ongelukkig nie meer tyd gehad om Motopi of Mababe te besoek nie.Dis nog weer ʼn ekstra 400km, en sal dit moet oorstaan vir ʼn aparte besoek. Ons het Saterdagoggend vroeg weer huiswaarts gekeer en laat middag in Centurion aangekom.
- Ons het ʼn vrugtevolle besoek gehad en baie met Ds Hendrik gepraat en bemoedig.
Ons bid dat ons Hemelse Vader al die werk wat in Botswana gedoen word ryklik sal seën
Seëngroete
Tiddo en Kobus.