
Ds Hendrik du Plessis
1Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham:
2Abraham was die vader van Isak, en Isak die vader van Jakob, en Jakob die vader van Juda en sy broers;
3en Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar, en Peres was die vader van Hesron, en Hesron die vader van Ram,
4en Ram die vader van Ammínadab, en Ammínadab die vader van Nagson, en Nagson die vader van Salmon,
5en Salmon die vader van Boas by Ragab, en Boas die vader van Obed by Rut, en Obed die vader van Isai,
6en Isai die vader van koning Dawid, en koning Dawid die vader van Salomo by die vrou van Uría,
In hierdie tyd rondom Kersfees het ‘n mens weer baie tyd om te dink aan die geboorte van ons Here Jesus Christus. Dit was ‘n geboorte soos geen ander geboorte nie. Dit was ‘n Goddelike geboorte waar God mens kom word het. Kom ons kyk eers na die uitsonderlike geslagsregister wat tot hierdie geboorte gelei het. In die geslagsregister van ons Here Jesus Christus word van vier vroue melding gemaak. Volgens die reël in daardie tyd word vrouens nie in ‘n geslagsregister opgeneem nie – net mans. As dit vrouens van edele afkoms was, kon ‘n mens dit nog verstaan het, maar nou is dit van die slegste vrouens wat daar was. As hierdie geslagsregister deur een van ons opgestel moes gewees het sou ons hierdie vroue maar eerder uitgelaat het. Dit sou net ‘n klad op die familienaam geplaas het. Dink vir ‘n oomblik aan Tamar (vers 3), hoe sy op ‘n slinkse manier Juda verlei het en haar soos ‘n prostituut aangetrek het en hom op ‘n sekere plek ingewag het. Dit was na Juda se vrou Sua oorlede is. Tamar was Juda se skoondogter wat twee van sy seuns oorleef het. Hulle was slegte seuns staan daar en die Here het hulle dood gemaak. Toe hulle te sterwe kom was daar volgens die swaershuwelik net Sela oor om met haar te trou, maar die probleem met Sela was, hy was nog te jonk. Tamar moes dus nog ‘n paar jaar vir hom wag, maar toe hy oud genoeg is vir die swaershuwelik, maak Juda asof niks hoef te gebeur nie. Die heeltyd was sy maar daar by haar ouers in die hoop dat Juda haar eendag sal roep as die tyd reg is, maar die tyd het aangebreek maar al wat kom is Sela. Hoekom? Omdat Juda huiwerig was. Net nou is sy die oorsaak van sy seuns se dood en kom Sela ook te sterwe. Dit was hoe die swaerhuwelik gewerk het. As jou broer te sterwe kom moet jy vir hom by sy weduwee kinders in die wereld bring. Jy moes sy nageslag in stand hou. Dan kry sy ‘n briljante idee. As Juda nie vir Sela vir haar wil gee nie, gaan sy haar skoonpa self verlei. Toe Tamar hoor (Genesis 38:13) haar skoonpa (Juda) is oppad Timna toe om sy kleinvee te skeer, trek sy haar rouklere uit en maak haar gesig met ‘n sluier toe en gaan sit by die poort van Enajim langs die Timnapad en wag vir hom. Toe Juda haar sien was hy daarvan oortuig dit is ‘n prostituut, en wat ‘n geleentheid was dit net nie vir hom nie, veral nou dat sy vrou Sua oorlede is. Natuurlik moet jy eers voor die tyd uitvind wat dit gaan kos. “Jou seëlring met die ketting en jou kierie”, was haar woorde. Dit moes hy agterlaat. ‘n Paar dae daarna het Juda toe sy vriend, Gira van Adullam, gestuur met ‘n boklam om die pand by haar te gaan haal, maar hy kon haar nêrens opspoor nie. Hy het orals rondgevra: “Waar is daardie tempelprostituut wat by Enajim langs die pad was?” Toe Tamar swanger raak, was Juda hewig ontsteld. Hy wou haar sommer laat verbrand, en toe hulle haar wou gaan haal, stuur sy ‘n boodskap na haar skoonpa met die woorde: “Die man aan wie hierdie goed behoort – ek het by hom swanger geword. Stel vas aan wie hierdie seëlring met die ketting en die kierie behoort.” Dit is toe dat Juda sy kop in skaamte laat sak en besef dat dit hy is. Hy is die skuldige. In vers 26 staan daar: “Juda het dit herken en gesê: ‘Sy is onskuldig, ek nie! Ek moes my seun Sela aan haar as man gegee het.’” En so word hierdie prostituut die oeroumagrootjie van ons Here Jesus en dra dit die duidelike boodskap uit vir wie Hy na hierdie wereld toe gekom het.
Daar is egter nog ‘n vrou wat in die geslagsregister van ons Here Jesus opgeneem is. Soos Tamar was sy ook nie ‘n Jood nie. Ook sy het letterlik geen druppel Joodse bloed in haar are gehad nie. Sy was ‘n Kananiet. En by dit was sy ‘n prostituut. Dit was haar nering, haar werk. ‘n Vieslike vrou. Ons ken die verhaal in Joshua 2 hoe sy die twee verkenners van Israel in haar huis weggesteek het en die koning van Jerigo daarvan te hore gekom het en hy ‘n afvaardiging na haar gestuur het met die opdrag: “Lewer die manne uit wat na jou gekom het, wat in jou huis ingegaan het; want hulle het gekom om die hele land te verken.” (vers 3) Dan antwoord sy hulle, vers 4 en 5: “4Seker, die manne het na my gekom; maar ek het nie geweet waar hulle vandaan was nie. 5En toe die poort met donker gesluit moes word, het die manne uitgegaan; ek weet nie waar die manne heengegaan het nie; jaag hulle gou agterna, want julle sal hulle inhaal.” Vers 6: “Maar sy het hulle op die dak laat klim en hulle weggesteek onder die vlasstoppels wat op haar dak oopgegooi was.” Daarna het sy na hulle opgeklim waar hulle weggekruip, en haar woorde aan die twee verspieders van Joshua was: “Ek weet dat die HERE die land aan julle gegee het en dat die skrik vir julle op ons geval het en dat al die inwoners van die land vir julle bewe; 10want ons het gehoor dat die HERE die water van die Skelfsee voor julle by jul uittog uit Egipte laat opdroog het en wat julle die twee konings van die Amoriete, Sihon en Og, oorkant die Jordaan aangedoen het, dat julle hulle met die banvloek getref het. 11Toe ons dit hoor, het ons hart gesmelt, sodat daar by niemand enige moed meer oorgebly het teenoor julle nie; want die HERE julle God, Hy is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder. 12Sweer dan nou tog vir my by die HERE dat, terwyl ek aan julle ‘n guns bewys het, julle ook aan my familie ‘n guns sal bewys; en gee my ‘n betroubare teken 13dat julle die lewe van my vader en my moeder en my broers en my susters en almal wat aan hulle behoort, sal spaar en ons siele sal red van die dood.” Ons ken die res van die verhaal, hoe sy hulle met ‘n rooi tou daar laat afsak het en die ooreenkoms was heel duidelik, daardie tou moes daar bly sodat wanneer hulle die stad aanval, daardie rooi tou die teken sal wees dat daar niks met hulle sal gebeur nie, solank sy by haar woord hou en hulle nie verklap nie. Dan gebeur die groot wonder in hoofstuk 6 toe die mure van Jerigo ineenstort nadat hulle vir sewe dae daarom geloop het, een keer elke dag en op die sewende dag sewe keer. En getrou aan Ragab het hulle haar en haar familie niks aangedoen nie. In vers 23 staan daar: “Die jongmanne, die spioene, het toe ingegaan en Ragab met haar vader en haar moeder en haar broers en almal wat aan haar behoort het uitgebring—al haar familiebetrekkinge het hulle uitgebring en hulle buitekant die laer van Israel laat bly.” Jy kan jou dit voorstel hoe verslae en geskok die familietjie daar op ‘n bondel gestaan en toekyk het hoe al die mense van Jerigo omkom (haar volksgenote) en hoe die stad in vlamme opgaan en sy en haar familie gespaar word. Verwese, verstom, verslae en pateties staan sy en haar familietjie daar – nie gered omdat sy ‘n goeie vrou was nie, maar omdat sy geglo het in die God van Israel. Min het Ragab die hoer daardie dag geweet sy gaan die oumagrootjie word van ons Here Jesus Christus die Seun van God, en sal vermeld word in die geslagsregister van ons Here Jesus Christus. Hoe aangrypend is die Woord van God net nie. Net Hy kan van ‘n niks ‘n iets maak. Hy kon ‘n hoer vat en haar die oumagrootjie van sy Seun maak. En dit het Hy met ons ook gedoen. Hy het ook ons wat wat geen druppel Joodse bloed in ons are het nie, sy kinders gemaak. Galasiërs 3:29: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”
Dan is daar nog ‘n omstrede figuur in die geslagsregister van ons Here Jesus opgeneem, Rut die Moabiet. Kom ons bekyk haar veelbesproke agtergrond van nader bekyk. As daar nou ‘n nasie is met wie jy nie in daardie tyd gemeng het nie, was dit die Moabiete. Hulle was ‘n vervloekte nasie. In Deuternomium 23:3-5 staan daar: “3Geen Ammoniet of Moabiet mag in die vergadering van die HERE kom nie; selfs hulle tiende geslag mag nooit in die vergadering van die HERE kom nie; 4omdat hulle julle, by jul uittog uit Egipte, nie met brood en water op die pad tegemoetgekom het nie; en omdat hy Bíleam, die seun van Beor, uit Petor in Mesopotámië, teen jou gehuur het om jou te vloek.” En in vers 6 en 7 staan daar: “Jy mag hulle vrede en hulle geluk solank as jy lewe, vir ewig nie soek nie. 7Die Edomiet moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want hy is jou broer; die Egiptenaar moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want jy was ‘n vreemdeling in sy land.”
Moabiete en die Amoniete se afkoms was seker die ergste vorm van bloedskande wat daar kon wees. Hulle oupagrootjie Lot het hulle in ‘n grot verwek toe hy dronk was. Lot se vrou het in ‘n soutpilaar verander en Lot en sy twee dogters is toe daar na ‘n grot toe waar hulle vir ‘n tyd moes skuil ná die verwoesting van Sodom en Gomorra. Een dag kom hulle met ‘n “briljante” idee vorendag – tussen aanhalingstekens natuurlik. Dit is nou die twee dogters. In Genesis 19 vanaf vers 31 staan daar: “31Die oudste dogter het vir die jongste gesê: ‘Pa is oud. Hier rond sal ons nie op die gebruiklike manier mans kry nie. 32Kom ons maak vir Pa dronk en dan slaap ons by hom sodat ons by hom kinders kan hê.’ 33Daardie nag het hulle hom dronk gemaak, en die oudste dogter het met hom gemeenskap gehad. Hy het nie besef dat dit sy is wat by hom kom lê en daarna opstaan nie. 34Die volgende dag sê sy toe vir die jongste: ‘Ek het verlede nag by hom geslaap. Kom ons maak hom vannag weer dronk en dan gaan slaap jy by hom sodat ons elkeen ‘n kind by hom kan hê.’ 35Hulle het hom toe daardie nag weer dronk gemaak, en die jongste dogter het met hom gemeenskap gehad. Hy het nie agtergekom dat dit sy is wat by hom kom lê en daarna opstaan nie. 36So het die twee dogters van Lot by hulle pa swanger geword. 37Die oudste het ‘n seun in die wêreld gebring en hom Moab genoem. Hy is die voorvader van die Moabiete. 38Die jongste dogter het ook ‘n seun in die wêreld gebring en hom Ben-Ammi genoem. Hy is die voorvader van die Ammoniete.”
In Nehemia 13 vanaf vers 23 vaar Nehemia uit teen die Judeërs wat vir hulle Amonitiese en Moabitiese vroue geneem het. Hy sê: “23Daardie tyd het ek ook nog Judeërs gesien wat getroud was met vrouens uit Asdod en met Ammonitiese en Moabitiese vrouens. 24Van hulle kinders het die helfte Asdods gepraat of die taal van ‘n ander volk. Judees kon hulle nie praat nie. 25Ek het met die mense geraas, hulle vervloek, party van hulle geslaan, hulle hare uitgetrek en hulle voor God ‘n eed laat aflê: ‘Julle sal julle dogters nie laat trou met die heidene se seuns nie en hulle dogters nie met julle seuns of met julleself nie.’”
Toe Naomi en Elimeleg vanweë die groot droogte besluit om na die land van die Moabiete te trek, het elke Jood rede gehad om hulle wenkbroue te lig en te skinder: “Het julle gehoor Naomi en Elimeleg gaan trek, en raai waarheen? Na die land van die vervloekte Moabiete. Die Here gaan hulle straf. As jy nie wil hoor nie moet jy voel.” Jy kan jou indink wat Nehemia sou gesê het as hy in Rut se tyd gelewe het. Hulle het skaars daar in die land van die Moabiete aangekom of Elimeleg kom te sterwe, en met elke Jood sou ons wou saamstem dat dit net die Here se straf kan wees. Dan trou hulle seuns boonop met twee Moabitiese dogters, en elke Jood skud maar net weer die kop. Na tien jaar kom die seuns ook te sterwe – hulle verdiende loon, sou ons sê. Die res van die geskiedenis ken ons hoe Naomi en haar skoondogters die lang stofpad aanpak terug Betlehem-Juda toe. Op Naomi se aandrang besluit Orpa toe maar om halfpad om te draai, maar Rut wou van niks weet nie. “U God is my God en u volk is my volk”, dit is al wat sy sê. Terug in Betlehem en by haar mense is almal verbaas om Naomi te sien, maar Naomi wil eerder Mara (Bitter) genoem, want die Here die Almagtige het haar baie bitterheid aangedoen. In Rut 1:21 sê sy: “21My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ‘n ramp oor my gebring.” “Dit is julle eie skuld Naomi,” sou ons wou sê. “Wat het julle in die eerste plek onder daardie vervloekte mense gaan soek.” So gebeur dit dan dat Rut vir Boas ontmoet en hulle op die oud end trou. En raai wie was Boas se ma? Niemand anders nie as Ragab die hoer. Die vervloekte Moabiet, Rut en Ragab die hoer se seun, Boas word dan die oumagrootjie en oupagrootjie van Dawid uit wie ons Here Jesus Christus gebore is. Wie durf verdoem as God sy kind regverdig noem? Dit was die derde vrou in die geslagsregister van ons Here Jesus Christus. Daar staan in Matteus 1 vers 5 en 6: “5en Salmon die vader van Boas by Ragab, en Boas die vader van Obed by Rut, en Obed die vader van Isai,
6en Isai die vader van koning Dawid, en koning Dawid die vader van Salomo by die vrou van Uría,”
Hoe eerlik is die Bybel net nie, name wat ek en jy eerder sou wou verswyg het word aan die groot klok gehang, en dit bring ons by die vierde vrou in die geslagsregister van ons Here Jesus Christus, Batseba. Die naam Batseba kom egter nie hier voor nie. In die geslagsregister staan daar slegs geskryf: “en koning Dawid die vader van Salomo by die vrou van Uría,”. Wanneer daar staan “die vrou van Uría”, word al die beendere van die verlede weer opgegrou en word die Here Jesus hier in sy geslagsregister daarmee belas en gekonfronteer. Tereg moes Hy pa staan vir sy verlede. By verskeie kere word Hy die Seun van Dawid genoem. Sy pa Dawid het by ‘n ander man se vrou geslaap en so laag gedaal dat Hy hom laat vermoor het vir sy vrou. Kan jy jou indink as jy die seun van so ‘n pa moes gewees het? En toe die engel vir Josef sê: “en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”, word nie net hierdie vier vroue by die getal ingesluit nie, maar die ganse volk van God hierby betrek. Hy word die Verlosser dan van die nageslag van Abraham – al hulle sondes, maar ook my en jou Verlosser, ons wat in Christus glo en op Hom ons hoop geplaas het. Ja, ons vorm deel uit van die volk van God. In Galasiërs 3 skryf Paulus aan Christene wat nie Jode was nie: “28Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. 29En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”
Om af te sluit bring dit ons by ‘n vraag wat baie mense al gevra het. Dit is ‘n vraag waaroor baie mense al getwyfel het. Hoewel die Here Jesus uit hierdie geslagsregister gebore is, staan daar dat Maria se swangerskap uit die Heilige Gees was. Hoe weet ons dit was waar? Is dit iets wat ons sommer maar blindelings moet glo? Is geloof iets blindelings? Glo ons dit net bloot omdat die Bybel so sê, miskien met so ‘n ondertoon van twyfel wat ek nie teenoor myself wil erken nie? Wat is my antwoord aan die wat nie wil twyfel nie, maar tog twyfel. Twyfel is nie iets wat net die heidene ondervind nie. Nee, Johannes die Doper het in die tronk ook getwyfel en van sy dissipels na die Here Jesus toe gestuur. In Matteus 11:2,3 staan daar: “2En Johannes het in die gevangenis gehoor van die werke van Christus, en twee van sy dissipels gestuur 3en vir Hom gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?” Dan antwoord die Here Jesus hulle: “Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien: 5blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig. 6En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.” Wat ‘n briljante antwoord!!! En toe die dissipels vertrek begin die Here Jesus die skare aangaande Johannes vertel. In vers 11 sê die Here Jesus: “Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.” Hy was so ‘n groot man hier op aarde en tog het hy ook getwyfel. Dit wil sê gelowiges kan ook twyfel. En nou is die vraag, wat doen ‘n mens in so geval? Johannes het met sy twyfel na die Here Jesus Self gegaan. Dit is die beste om na die persoon te gaan oor wie jy twyfel, en wat ‘n ongelooflike antwoord het hy net nie gekry nie: “Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien: 5blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig. 6En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.” Gelukkig is jy as jy diep in jou binneste nie aanstoot neem nie.
Daar is nog ‘n antwoord wat die Here Jesus aan die mense wat getwyfel het gegee het. In Johannes 14:11 sê die Here Jesus: “Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self.” Sy werke sal met ander woorde toon of Hy is wie Hy is. Sy werke sal met ander woorde toon of dit wat met sy geboorte gebeur het werklik van die Heilige Gees was. As dit ‘n leuen was sou sy werke hom onmiddellik uitgevang of verraai het. Nog nooit was daar vantevore iemand wat soveel buitengewone wonders kon doen nie. Mense wat blind gebore is, sien onmiddellik. Mense wat verlam is, staan voor die oë van almal op en loop terug huis toe. Dink maar net aan Lasarus wat al vier dae in die graf was. Hy het al geruik. Jy kan jou voorstel hoe mense hulle neuse moes toedruk vir die reuk. “Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood.”, sê Martha (Johannes 11:39). By twee verskillende geleenthede het Hy brood en visse vermeerder. Matteus 15:38 praat van vier duisend manne buiten die vroue en kinders. Saam met die vroue en die kinders kon hulle maklik vyftien duisend gewees het. En die oorskiet was sewe mandjies van die sewe brode en die paar vissies. In Johannes 6 was die oorskiet 12 mandjies vol. Dit was vir die mense in Johannes 6 so allesoorweldigend dat hulle met alle geweld die Here Jesus wou koning maak. In Johannes 21:25 skryf Johannes: “En daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.” In kort kom dit daarop neer, as daar oor sy geboorte gelieg was vanwaar dan die ongelooflike wonders wat van so ‘n geboorte getuig. As Hy nie was wie Hy veronderstel was om te wees nie, sou ek en jy as sy vriende in daardie tyd Hom gewaarsku het: “Bly maar liewer weg daar van Lasarus se graf af, want daar gaan die mense jou uitvang wie jy werklik is.” Selfs buite-Bybelse boeke praat van sy buitegewone wonders. In Johannes 3 sê Nikodemus: “Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.” Vanwaar dan hierdie buitengewone wonders wat van die begin van die skepping van die wereld af tot vandag toe nog nie weer herhaal kon word nie? Die antwoord is heel eenvoudig. Hy is gebore uit die maagd Marea. Sy geboorte was net so verstommend soos sy werke. Dan het ons nog nie eers gaan delf in die ongelooflike profesië van die Ou Testament wat Hom voorspel het nie. Jesaya 9 vers 6 is om maar een voorbeeld te noem. Mag die Here aan ons geopende oë gee om soos Thomas van ouds te kan sê: “My Here en my God!” En die Here Jesus se antwoord: “Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.”
Soos ek aan die begin gesê het, ons het baie om oor na te dink wanneer ons dink aan die Goddelike geboorte van ons Here Jesus Christus. Van ons hier in die warm Botswana wens ons u almal ‘n geseënde Christusfees en ‘n voorspoedige nuwe jaar toe. U broer in Christus, Hendrik du Plessis.