Ds Hendrik du Plessis
Met die genade van die Here gaan dit goed hier in D’kar. Ons berei ons voor vir die paasgebeure eersdaags, vanaf die 29ste tot die 31ste Maart. Ons ouderlinge is druk besig met huisbesoeke in hulle onderskeie wyke waarna ons ‘n vergadering sal belê. Ons dink daaraan om tydens die paasnaweek nagmaal te vier.

Tydens hierdie besoeke met die oog op nagmaal word veral gekyk na die kerkbywoning van ons lidmate, want jy kan nie ‘n behoefte aan die heilige nagmaal hê as jy andersins nie ‘n behoefte aan die Here van die nagmaal het nie. Jy kan nie selde in die kerk kom en dan beweer jy het ‘n behoefte aan die sakramente nie. Hoe kan jy ‘n behoefte aan die sakramente hê as jy nie ‘n behoefte het aan die Woord van die Here wat jou daartoe moet opvoed nie?
Deur die jaar word elke lidmaat Sondae deur sy wyksouderling afwesig of aanwesig gemerk. Die gevolg is wanneer die ouderling iemand gaan besoek, het hy ‘n volledige rekord van sy lidmate se kerkbywoning – nie net van die jaar nie, maar ook van die vorige jare. So word mense onder tug geplaas en selfs afgesny van die gemeenskap van die gelowiges. Aan hulle word dit dan duidelik gestel dat dit hulleself is wat hulle afsny van die gemeenskap van die gelowiges. Hebreërs 10:25 stel dit so duidelik dat dit alles by die gewoonte begin om nie meer die gemeenskap van die gelowiges op te soek nie. Daar staan: “en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”

Die Naro vir die Here is my Herder
Wanneer jy ‘n Sondag oorgeslaan het voel jy skuldig en besluit dan om die volgende Sondag weer kerk toe te gaan. Dan slaan jy weer een of ander tyd ‘n Sondag oor en voel jy weer skuldig, maar dalk nie so skuldig soos die vorige keer nie, en stadig maar seker verval jy in die gewoonte om van tyd tot tyd nie die dienste by te woon nie. Later kan jy vir weke of selfs maande wegbly sonder om skuldig te voel. Jou gewete word stelselmatig afgestomp. Dit word dan soos Hebreërs 25 sê die gewoonte om nie meer die onderlinge byeenkomste van die gelowiges op te soek nie.

Daar eenkant is jy alleen en weerloos teen die aanslae van die duiwel. Gelowiges het mekaar nodig om mekaar voortdurend in gebed aan die Here op te dra en aan te spoor. Die Here Jesus het nie vir Thomas gaan opsoek daar waar hy by sy huis gesit het nie. Nee, Thomas moes eers weer die gemeenskap van die gelowiges opsoek. Eers toe kon hy aan die Here Jesus vat en Hom, “my Here en my God” noem.
Hebreërs 10 vanaf vers 26 gaan dan verder en waarsku ons teen opsetlik bly sondig: “26Want as ons willens en wetens aanhou sonde doen, nadat ons kennis van die waarheid ontvang het, bly daar nie meer ‘n offer vir ons sondes oor nie, 27maar wel ‘n verskriklike verwagting van oordeel en intense vuur, wat God se teenstanders gaan verteer.”
Om ons weerloosheid teen die die mag van die duiwel te verduidelik en hoe ons mekaar in die stryd nodig het, gebruik ek altyd die voorbeeld van dit wat jare gelede met my gebeur het tydens ‘n oggenddiens op die plase. In my vorige gemeente, Krokodilrivier, het ons in die oggende vir die werkers gaan dienste hou by die boere. Voor hulle begin werk het, het ek ‘n gedeelte uit die Bybel met hulle behandel. Vyftig tot honderd afhangende van hoeveel mense vir die boer werk sit dan voor jou en luister na die verkondiging van die Woord.
Die een oggend was daar tydens die diens twee groot boerboelhonde wat die werkers die hele tyd gelê en dophou het en erg vir hulle gegrom het, maar wat nie die moed gehad het om tussen hulle in te spring nie. “Toevallig” het ek die oggend met hulle gepraat oor die gelowige se weerloosheid en hoe gevaarlik dit is om jou geloof eenkant en afsydig te wil beoefen sonder die ondersteuning van medegelowiges, en dat die duiwel soos ‘n brullende leeu sulke weerlose mense teiken. ‘n Leeu sonder vir homself gewoonlik ‘n buffel af om uit die trop uit te beweeg. Hy val hom nie in die trop aan nie, want dan kan die ander buffels tot sy redding kom. Nee, hy sonder vir hom gewoonlik die swakke af wat nie by die trop kan byhou nie en daar eenkant bespring hy hom. Die groot geheim is dus, bly in die trop. So ook wat ons aanbetref, het ek aan hulle verduidelik. As gelowiges moet ons mekaar opsoek en by mekaar bly. Moenie die gemeenskap van die gelowiges verlaat of minag nie. Daar hou ons toesig oor mekaar, beskerm ons mekaar in gebed en smeking voor die Here en vermaan ons mekaar.
Ek was nog besig om te verduidelik hoe weerloos die buffel is sonder die trop en dat die leeus juis wag dat een van die buffels die trop moet verlaat, toe ek ‘n erge geskree en ‘n gegrom hoor. Een van die werkers het om een of ander rede besluit om iewers heen te gaan. Die oomblik toe hy die groep verlaat, het daardie verwoede honde op hom afgestorm. Die ander moes net keer en op die honde skreeu of hulle het hom gebyt. Die honde het nie die moed gehad om hom in die groep aan te val nie, maar toe hy buite die groep alleen wegbeweeg het, toe het hulle hom verwoed bestorm. Die toepassing van dit wat ek pas met hulle gedeel het, het toe daar en dan voor hulle oë afgespeel.
Nuwe lidmate
Deur die genade van die Here het ons nuwe lidmate bygekry en opgeneem in ons kerk. Dit is twee blanke wyke, Gantsi en Maun wat onder die Gereformeerde kerk Gobabis in Namibië geval het. Gobabis se predikant het hulle in die verlede van tyd tot hier kom besoek en bedien met die Woord van die Here en die heilige sakramente. Met die tyd het dit vir Gobabis al hoe moeiliker geword om met hul bedieningswerk hier voort te gaan. As gevolg van hul eie redes het GK Gobabis die wyke in Botswana laat weet dat hulle nie meer voortgaan met hul bedieding hier nie. Van die lidmate het toe uit eie vrye wil besluit om by ons, die Gereformeerde kerk D’kar aan te sluit, waaroor ons baie dankbaar is. Ons sien hulle nou as deel van ons gemeente met hulle onderskeie gawes wat die Here aan sy kerk hier geskenk het. Daar is 12 lidmate in die Maun wyk en 14 in die Gantsi wyk. Ons het in Februarie die Maun wyk besoek en ‘n verbondskind daar doop.
Om af te sluit

Met die lees van Markus 5 besef ‘n mens net weereens wat die kerk van die Here laat groei, en hoe belangrik die enkeling is wat werklik met die Here Jesus in sy lewe in aanraking gekom het. So ‘n persoon was die besetene van Gadara. Nadat hy gesond gemaak en bevry is van duisende demone het hy net een begeerte gehad en dit was om by die Here Jesus te bly. So ‘n persoon is meer werd as ‘n tienduisend sittende lidmate met hulle arms gevou, en net uit gewoonte uit kerk toe kom en niks meer nie. Die Here Jesus wou nie aan sy versoek gehoor gee nie, maar het hom uitgestuur as ‘n sendeling na sy eie mense om vir hulle te gaan vertel wat die Here vir hom gedoen het. Normaalweg het die Here Jesus vir mense gesê, “volg my”, maar vir hierdie man het Hy gesê, “gaan”. Wie kan met meer ywer hom vir die koninkryk van God beywer as hierdie man. Veral as jy in sy skoene staan en jy daaraan dink dat jy gister nog daar tussen die grafte nakend en skreeuend rondgedwaal het met die verskrikking en beklemming van duisende demone wat jou siel verstik. Die beklemming kan jy aan niemand verduidelik nie. Dit opsigself is maar ‘n geringe voorsmakie van die ewige hel wat vir jou voorlê in daardie toestand waar jy met miljoene in aanraking gaan kom, maar nou is jy so vry, so vry, so verlos en verlig dat woorde dit nie kan beskryf nie. Wie kan die Evangelie beter uitdra as hy. Dit was ‘n heidense gebied, oorheersend Grieks en Romeins en deel van die tien dorpe of stede (Dekapolis), vandaar dan dat hulle met varke geboer het, wat vir ‘n Jood in daardie tyd taboe was. Na die skade van 2000 varke wat van die krans af in die see gestort het, vra hierdie heidene Hom om hulle gebied te verlaat, wat die Here Jesus en sy dissipels dan ook doen, maar daardie besetene moes agterbly om in 10 dorpe of stede vir die mense te gaan vertel wat die Here Jesus vir hom gedoen het. As die duiwel gedink het die Here Jesus het hierdie rondte verloor, het daar op hom ‘n groot verrassing gewag, want in die volgende hoofstuk, Markus 6 vanaf vers 53 het die Here Jesus en sy dissipels weer na daardie gebied teruggekeer. Toe Hy daar voet aan wal sit kom duisende mense Hom tegemoet met hulle siekes. Vanaf vers 53 staan daar: “53En nadat hulle oorgevaar het, het hulle by die land Gennésaret aangekom en daar aan wal gaan lê. 54En toe hulle uit die skuit gaan, het die mense Hom dadelik herken, 55en hulle het in daardie hele omtrek rondgeloop en die wat ongesteld was, op bedde begin ronddra na die plek waar hulle hoor dat Hy is. 56En waar Hy ook al ingegaan het in dorpe of stede of buitewyke, het hulle die wat ongesteld was, op die markpleine neergesit en Hom gesmeek om, al was dit maar die soom van sy kleed, aan te raak; en almal wat Hom aangeraak het, het gesond geword.” Dit alles was die werk van een besetene wat met die Here Jesus in aanraking gekom het, vir wie die Here Jesus bevry het. Hy was die eerste sendeling in daardie gebied en die beste kandidaat vir daardie pos. Hy het nie teruggegaan om maar net ‘n lidmaat te wees nie. Nee, hy het teruggegaan as iemand wat iets het om te vertel, en jy kan alleenlik iemand soos hy wees as die Here Jesus in jou lewe ‘n werklikheid geword het en jy besef waarvan jy verlos is. Jy is bevry en almal moet dit weet. Nie net hierdie besetene nie maar ook Dawid het dit in Psalm 66:16 uitgeroep: “Kom luister, en laat my vertel, julle almal wat God vrees, wat Hy aan my siel gedoen het.” Sonder so ‘n belydenis is die Evangelie op sy beste maar net ‘n kursus of katkisasiemateriaal.
In die sendingveld soek ons in die eerste plek nie na die massas nie, maar na die enkelinge. Ja, daardie enkelinge sal na die massas toe gaan met die oortuigende verlossingsboodskap van ons Here Jesus Christus. Hulle sal gaan vertel, om Dawid se woorde te gebruik, “wat Hy gedoen het aan my gees.” (Psalmberyming).
U broer in Christus,
Hendrik du Plessis