Ds Hendrik du Plessis
Inleidend
Die afgelope naweek vanaf Donderdag kon ons Bere weer besoek. Met ons besoeke gaan dit nie net daaroor om vanaf ‘n preekstoel te preek nie, maar ook oor ons interaksie met die mense. Daar is persoonlike gesprekke wat mense baie waardeer. Daar is vermanings wat noodsaaklik is. Daar is nuwe mense wat jy ontmoet of mense met wie jy nog nie op so vlak gesels het nie. Daar is vriendskappe wat jy smee en ou vriendskappe word versterk. Dit het die Here Jesus en sy apostels dag vir dag gedoen. Bestudeer jy die Evangelie volgens Johannes sien jy menigte gesprekke wat vir ons opgeteken is.
Twee films
Vrydagaand het ons vir die mense ‘n film gewys wat handel oor die lewe van Simson. Dit is ‘n Engelse film en ek moes deur die loop van die film vir hulle tolk en verduidelik waarom dit gaan. Saterdagaand het ons weer die “walking with Jesus” film op hulle aandrang gewys. Daar was mense wat die film nog nie gesien het nie, maar die meeste het die film al vir die soveelste keer gesien. Aanvanklik is dit net ‘n paar wat daar sit, maar met die tyd word die getalle al meer namate die mense daar verbystap.

Die films wys ons gewoonlik teen ‘n wit of ‘n geel muur. Die onderhoofman het sy muur tot ons beskikking gestel. Hy en die hoofman is van ons groot ondersteuners daar. Dit was koud die twee aande en almal moes die koue trotseer. Ons sit buite en die meeste mense het nie stoele nie, en almal wat die Kalahari ken weet hoe koud die sand kan word.
In die Kalahari is dit gedurende die dag gewoonlik warm en koud in die nag. As die son sak daal daar ‘n ysige koue op jou neer. Dit voel of jy letterlik in ‘n yskas instap. Daar was al temperature van minus 11 gemeet. Gelukkig was dit nie so koud die naweek nie.
Die “walking with Jesus” film het vyf episodes wat oor drie ure lank strek. Na die derde episode het ek hulle begin jammer kry oor die koue en die voorstel gemaak dat ons na die ander episodes later kan kyk, maar daarvan wou hulle niks weet nie. Ons het daar gesit tot en met die laaste episode. Ek het later in die bakkie geklim wat nogal gehelp het. Voor die aanvang van die vyfde episode het ek weer die voorstel gemaak, maar hulle wou van niks weet nie. Die laaste en vyfde episode wou hulle ondanks die koue sien.
Wat vir my baie belangrik is van die film is nie soseer die film self nie, maar die Bybelverse wat uit die Bybel aangehaal word. Die gesprekke onder mekaar in die film handel voortdurend rondom dit wat in die Bybel geskryf staan. Dit is alles verse wat baie nodig is om die Evangelie te verstaan. Dit is verse wat mense lei om ander mense na Christus toe te lei. Jy lei sonder dat hulle dit besef evangeliste op, want na die soveelste keer maak die verse nie net sin nie, maar die verse bly in die persoon se geheue en onderbewuste vasgeanker om enige tyd later weer opgediep te word. Daarmee saam weet ons werk die Heilige Gees in die harte van sy kinders. Dit is dan nie net iets wat jy uit jou kop uit leer nie, maar die lewende Woord self. Ek is daarvan oortuig dat mense wat met die film vertroud geraak het, dieselfde gesprekke later met ander mense ook sal kan voer, en dit is tog die doel van sending nie waar nie.
Die Qgõotaal
Met groot opgewondenheid het die twee hoofmanne my vertel van hulle suksesvolle kultuurdag die vorige Vrydag. Die regering moedig dit aan en reël dit siende dat daar baie inheemse volke is wat stadig maar seker besig is om hulle kultuur te verloor. Aan die anderkant kant kan hulle geld maak deur hulle kultuur aan besoekers ten toon te stel. Duisende besoekers kom van regoor die wêreld jaarliks Botswana toe om iets van die Boesmankultuur te beleef. Op die manier kom daar miljoene dollars en ponde die land in. Vandaar dat die regering besef het dat dit iets is om in te belê.
In ons gesprek het die kommer oor die Santale weer na vore gekom. Die kommer bestaan dat die Santale deur die Kgalagaditaal verswelg kan word. Die Kgalagaditaal is ‘n geradbraakte (nie negatief gestel nie) vorm van die Tswanataal wat nie amptelike status in Botswana geniet nie. Dan is daar ook nog verskeie Kgalagadidialekte wat dit vir hulleself moeilik maak om mekaar te verstaan. Met verswelg word bedoel dat die Kgalagaditaal dominerend op die Santale (Boesmantale) inwerk en die Boesmans in daardie streek al hoe minder en minder hulle eie taal praat. As die Kgalagaditaal ‘n internasionale erkende taal soos Engels was kon ‘n mens dit nog verstaan het, maar die Kgalagaditaal is net dominerend in die westelike dele van Botswana en dit dien slegs as ‘n spreektaal.
Die Nuwe Testament is onlangs in hulle taal vertaal. Hulle is nog besig met die Ou Testament. Dit is hartseer wanneer ‘n taal uitsterf. Trouens dit is wat in Suid-Afrika gebeur het met die X/amtaal. Die X/amtaal was ‘n Santaal wat Dorothy Bleeck en voor dit haar pa, Wilhelm Bleek saam met Lucy Loyd opgeteken het. In 1912 was daar alreeds ‘n woordeboek in die taal geskryf en by die 13 000 bladsye stories wat opgeteken en vertaal is. Die tragiese is dat die taal in 1912 uitgesterf het om vir nooit weer gehoor te word nie. Hoeveel keer was daar net nie gelag en stories vertel rondom die vuur in die taal nie. Hoe mooi sou die Evangelie van ons Here Jesus Christus net nie in die taal geklink het nie. Die hoogste doel van ‘n taal is tog om die Here daarin te loof en te prys. Met die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2 wou die Heilige Gees juis hê mense moet die Evangelie in hulle eie taal hoor en nie net in die lingua franka van daardie tyd nie.
Tans is daar nog ‘n Santaal in Suid-Afrika wat besig is om uit te sterf. Dit is die N/utaal wat nog net een moedertaalspreker oor het en sy is al diep in die tagtig. Terwyl sy nog leef probeer hulle alles in hulle vermoë doen om die taal op te teken. Om kinders die taal te leer praat is daar nou al ‘n woordeboek en boekies geskryf in die taal, maar die probleem is die kinders praat met mekaar in Afrikaans. Dit is die kitsresep vir enige taal om uit te sterf wanneer die kinders nie meer hulle moedertaal praat nie. Dit sien ons in Mababe waar die kinders met mekaar in Tswana kommunikeer en speel. Daar praat hulle die Ts’igataal. Die ouer garde praat met mekaar in die taal, maar die jonger geslag praat net Tswana, en wanneer die ouer garde met die jonges praat, kommunikeer hulle net in Tswana. Vra jy hulle waarom hulle dit doen is hulle verweer, hulle wil nie hê hulle kinders moet sukkel met Tswana in die skool nie. As iemand dalk weet van sagteware of toepassings wat baie effektief werk om sulke tale te bewaar laat weet ons asseblief.
Hier in D’kar is dit so anders. Orals gesels en speel die kinders in Naro. Al die Boesmans hier het hulle eie unieke name. Nou het ons al die Nuwe Testament in Naro vertaal. In die kerk leer ons ons kinders Naro lees. Daar is ‘n vertaalspan wat tans besig is met die Ou Testament. Die regering help ons in die skole om moedertaalsprekers vir bystand in te span sodat die kinders die werk makliker kan verstaan. Ongelukkig is die !Xõotaal nog nie op daardie vlak nie. Hulle het wel ‘n woordeboek maar dit is al. Wat egter verblydend is, is die feit dat die taal nog deur baie kinders gepraat word.
In Bêre speel en gesels die kinders onder mekaar nog land en sand in !Xõo, maar in Khagcae, ‘n nedersetting verder af, is die geneigdheid om meer na Kgalagadi oor te skakel, veral wat die kinders aanbetref. Dit is waaroor ons hoofmanne in Bêre bekommerd en besorg is. Terwyl ons so gesels het, het die vraag opgekom, wat beteken al hierdie kulturele aktiwiteite sonder jou moedertaal. Is dit dit wat besoekers wil sien en beleef? Jy dans en gaan tekere en sê jy is ‘n Boesman, maar wanneer julle met mekaar praat, doen julle dit in iemand anders se taal, sonder die unieke klapklanke.
‘n Aantal jare gelede, tydens my beginjare hier in D’kar, was hier ‘n groep Boesmans van Suid-Afrika af wat ons dansgroepe kom besoek het. Hulle wou kom kers opsteek wat die Boesmandanse aanbetref. Hulle het met mekaar in Afrikaans gepraat. Ek het hulle so jammer gekry omdat hulle besef het dat hulle die belangrikste deel van hulle kultuur verloor het en dit is hulle taal.
Tydens my gesprek met die een hoofman die dag daarna, was my vraag aan hom: “Cgara, wat sou jy sê is die geheim vir die oorlewing van ‘n taal?” Hy kon my nie onmiddellik antwoord nie, maar het op die ou end met my volmondig saamgestem. Die geheim vir die oorlewing van ‘n taal is niks anders nie as die Evangelie van ons Here Jesus Christus. Kyk net wat die Evangelie van ons Here Jesus Christus vir die Narotaal gedoen het. Na dekades van sendingwerk staan die Narotaal nou sterker as ooit. Hoekom sal die Here ‘n taal tot niet laat gaan wat as instrument dien om Hom te loof en te prys? Ek is vas daarvan oortuig dat dit die oorlewing van die Qgõotaal (!Xõotaal) ook sal verseker. Die Evangelie van Lukas en verskeie gedeeltes in die Bybel is al beskikbaar in Qgõo (!Xõo). (Let wel daar is twee skryfwyses wat vir die Boesmantale gebruik word) Jy kan na die toepassing 5fish in Playstore toe gaan waar daar baie materiaal beskikbaar is in die Santale en baie ander tale.
Ons erediens en Sondagskool die Sondagoggend
Die Sondagoggend was dit vir ons verblydend om te sien hoeveel kinders opge-daag het. Al sestig stoele wat aan ons deur die BSG geskenk is was beset. Ons Sondagskoolonderwyseres, Mereyabone was soos gewoonlik op haar pos.

Een vir een het die kinders na vore gekom met Skrifgedeeltes wat hulle gememoriseer het. Daarna het ek aan hulle die gelykenis van die verlore seun verduidelik. Cgara die onderhoofman het dit toe alles saam opgesom in hulle Qgõotaal. Mereyabone het na die tyd weer gevra vir 10 Bybels wat ons toe aan haar kon gee.


Die klere
Dit is klere wat broeder Tiddo-hulle van verskillende kerke gekry het om aan die behoeftiges op ons verskillende sendingposte uit te deel. Met klere het jy altyd ‘n probleem. Jy deel dit nie sommer in die teenwoordigheid van ander uit nie. Jy gooi dit ook nie op ‘n bondel uit vir hulle om vir hulleself uit te soek nie, want dit is die teelaarde vir tweespalt wat gewoonlik uitloop op ‘n stryery. Vat iemand anders byvoorbeeld die broek wat jy wou gehad het kan dit in ‘n argument ontwikkel.

Ons het toe besluit om vir ons twee hoofmanne elkeen 2 bokse te gee en so ook vir ons Sondagskoolonderwyseres Mereyabone, om die klere met groot omsigtigheid uit te deel, nie noodwendig in een dag nie. Behoeftiges word bepaal en die klere word dienooreenkomstig uitgedeel, waar die regterhand nie sal weet wat die linkerhand doen of ontvang het nie. Op die foto hier bo links staan David met sy hoed op by een boks. Die ander boks was toe al die kamer ingedra.

Dit het ons ook hier in D’kar gedoen. In die verlede het ons die klere in die kerk uitgedeel, en dan het ons vir maande daarna verwyte moes verduur van mense wat niks gekry het nie. Nou het ons die bokse onder ons ouderlinge verdeel wat dit dan met groot omsigtigheid in hulle wyke uitdeel waar daar werklik behoeftige mense is. Hier regs staan die onderhoofman, Cgara agter die tweede boks.
Vir een en elk wat bygedra het om ons nood hier te verlig wil ons opreg dankie sê. Vir broeder Tiddo wat ver gery het om alles te reël om die besending gereed te kry vir Botswana wil ons sê, baie baie dankie. Die res van die bokse beoog ons om in Mababe uit te deel tydens ons volgende uitreik. Hier links staan Mereyabone, ons Sondagskoolon-derwyseres.

Om af te sluit vra ons steeds u voorbidding vir dit wat ons hier doen in die sendingveld. Ons is swak en magteloos teen die aanslae van die bose en dit besef ons, maar as u u gebedshande hier vir ons omhoog kan hou soos dit die geval was met Moses van ouds, kan ons oorwin deur Christus wat ons krag gee.
U broeder in Christus,
Hendrik du Plessis.