Nuus : Gereformeerde Kerk D”Kar Botswana

| Agtergrond |
| Dit het alles by ou Stan begin. Hy was iemand met gemengde bloed. As ek dit nie mis het nie was sy pa ‘n blanke, maar sy ma ‘n Herero. In die wandelgange van D’kar en Gantsi het ons mekaar gereeld raakgeloop en dan oor ditjies en datjies gesels. Ek het hom destyds tydens ‘n begrafnis ontmoet. Die Hereros het ‘n plaas hier naby en van tyd tot tyd word daar van hulle op die plaas begrawe. Al wat ‘n Herero is ruk omtrent oor die lengte en breedte van Botswana op om hulle laaste eer aan die oorledene te gaan betoon. Orals word daar tente opgeslaan en is dit een groot fees met hierdie hartseer ondertoon. Ek maak van die geleentheid gebruik om nie net die begrafnis by te woon nie, maar ook om Hererobybels uit te deel. In baie gevalle vra hulle my om die begrafnis met Skriflesing en gebed vir hulle te open. Dit was tydens een van hierdie begrafnisse dat ek ou Stan ontmoet het. Ons was by die graf en die mense was al besig om die graf toe te gooi, toe ek so ‘n end weg iemand agter my hoor praat, baie luidrugtig. Niemand het hulle aan hom gesteur nie. Toe ek omkyk staan ou Stan daar by een van die grafte, hard besig om met die voorvaders te gesels. Van die ander wat daar was het dit bevestig: Ou Stan is besig om met die voorvaders te praat. Ek het my daar voorgeneem om as die tyd hom voordoen ‘n indringende gesprek met hom te voer. Op daardie stadium was hy al om en by tagtig as hy nie ouer was nie. |
| Ons ontmoeting ‘n Ruk daarna loop ek hom raak by ons hoofman, April se huis. Dit was om en by 2017. April is in 2018 oorlede. “Ou Stan,” was my woorde aan hom, “Ek wil met jou gesels. Toe ons nou-die-dag by die begrafnis was, het ek jou gehoor baie hard praat by een van die grafte.” “Ja,” sê hy, “Ek het met een van die oorledenes gepraat. Dit is ons swartmense se tradisie om na die oorledenes te gaan vir hulp en raad.” Daar het ek deur die Here se genade die geleentheid gekry om rustig met ou Stan te gesels oor wat die Bybel sê oor voorvaders of te wel die dooies. Die Hereros het oor die algemeen ‘n groot respek vir die Bybel. Baie glo dat dit die Woord van God is, hoewel hulle daarnaas ook hulle voorvaderlike rituele het. Hulle glo aan Jesus maar ook aan die voorvaders. ‘n Ou Zoeloe het op ‘n keer in Suid-Afrika dit aan my so verduidelik: “Wanneer ek bid,” sê hy, “dan bid ek tot my voorvaders wat dan die boodskap aan Jesus oordra sodat Jesus dit aan sy Vader sal oordra.” Dit is sinkretisme op sy beste. Ek het toe dadelik met die deur in die huis geval en vir hom gesê: “Ou Stan, het jy geweet dat die Here dit absoluut in sy Woord verbied. “Wat verbied,” wou ou Stan weet. “Jy mag hoegenaamd nie met dooies praat nie.” Uit die veld geslaan het hy sy kop geskud en vir my gesê, nee, hy het nie geweet nie. Ek het toe my selfoon uitgehaal en Deuternomium 18 vir hom voorgelees. Vanaf vers 10 staan daar: “10Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan—wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, 11of wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. 12Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ‘n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit. 13Opreg moet jy wees met die HERE jou God. 14Want hierdie nasies wat jy uit hulle besitting verdrywe, luister na goëlaars en waarsêers; maar wat jou aangaan, die HERE jou God het jou nie so iets toegelaat nie.” Ou Stan was doodstil. Hy het nie geweet wat om te sê nie. “Jy sien ou Stan, dit is nie kultuur nie. Dit was al daardie tyd so. Die heidene het dit kultuur genoem, maar vir die Here was dit ‘n gruwel, soveel so dat Hy die mense wat dit gedoen het voor die Israeliete uitverdryf het. Ek lees weer vir jou vers 12: ‘12Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ‘n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit.” Verder het ek aan ou Stan verduidelik dat daar mense in die Nuwe Testament was (1 Kor. 10) wat gedink het hulle offer aan God. Paulus vermaan hulle en sê in vers 19 en 20: “19Wat sê ek dan? Dat ‘n afgod iets is, of dat ‘n afgodsoffer iets is? 20Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. Ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie.” “Jy sien ou Stan, elke keer as jy vir die voorvaders offers bring of selfs met hulle praat doen jy dit vir duiwels of wel demone. Jy praat eintlik met demone, en vir die Here is dit ‘n gruwel. Hy haat dit. Jy verbeel jou jy doen dit vir Here of vir jou voorvaders. As ons Lukas 16 lees sal jy sien dat wanneer iemand te sterwe kom hy nie meer kan terugkom na hierdie aarde toe nie. Die rykman in die hel het vir Abraham gesmeek om tog net vir Lasarus na sy broers toe te stuur om hulle dringend te waarsku teen die verskriklikheid van die hel. Hy sê in vers 28: ‘want ek het vyf broers – om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.’ Abraham se woorde aan hom was, vers 29: ‘Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.” Ek het verder aan hom verduidelik: “Jy weet ou Stan, ek het tussen swart mense groot geword. Julle taal ken ek soos my taal. Julle het my as’t ware groot gemaak. Ek ken julle kultuur asof dit my kultuur is en ek glo dit was vir ‘n rede so, sodat ek julle kan waarsku.” Ek vertel hom toe van iemand in Suid-Afrika by wie ons destyds, ek en ‘n ouderling besoek afgelê het. Die vrou het ons vertel van drome wat haar in die nag teister. Dit is haar ma, sê sy, wat aan haar verskyn in haar drome en sy wil hê hulle as gesin moet ‘n offer vir haar bring en dit moet ‘n bees wees. Nadat ons aan haar verduidelik het dat dit ‘n demoon is wat in haar drome aan haar verskyn en nie haar ma nie, het sy heelhartig met ons saamgestem en vir ons gesê: “Julle weet, dit het my baie gepla, want my ma was altyd ‘n baie sagmoedige en liefdevolle mens, en dan is sy deeglik daarvan bewus hoe arm ons is. Soos ek haar geken het glo ek wat julle sê. Sy sou ons nooit gedwing of geteister het om iets te doen wat ons nie kan bekostig nie en dan tree hierdie persoon wat in my drome aan my verskyn nie naastenby op soos ons haar geken het nie.” Ek en ou Stan het lank gesels en hy het verslae gelyk toe hy daar weg is. ‘n Ruk daarna het ons weer ontmoet en sy woorde aan my was: “Moruti Hendrik, jy moet nie dink ek het vergeet wat jy vir my nou-die-dag gesê het nie. Ek het baie daaroor nagedink, dankie.” Nie lank daarna is ou Stan oorlede. Aan die een kant was dit hartseer want hy was ‘n geliefde in ons omgewing, maar aan die anderkant was ek diep dankbaar dat die Here dit vir ons moontlik gemaak het om te kon gesels. ‘n Rukkie daarna noem ons hoofman aan my so in die verbygaan: “Hendrik, ek het nou-die-dag met ou David gesels en hy het pertinent aan my genoem dat hy sy voorouers aanroep om hulp en hy is nie bereid om die eeue oue tradisie prys te gee nie.” Ou David het deur die jare van tyd tot tyd ons dienste hier op D’kar bygewoon. Hy is ‘n regte Herero en ‘n inwoner van D’kar. Intussen is ons hoofman, April, in 2018 skielik oorlede. Ons het hom begrawe en daarna het die tyd weer sy normale gang gegaan, maar nooit het ek vergeet wat hy my vertel het oor ou David nie. |
| My gesprek met ou David ‘n Tyd gelede het ek een van ons lidmate besoek en nie lank daarna nie kom ou David daar aangestap. Aanvanklik het ons maar oor ditjies en datjies gesels en gewag vir die regte tyd en invalshoek. Later het ou David aanstaltes begin maak om te loop en het ek besef dit is nou of nooit. “Ou David!”, was my woorde aan hom. “Ek glo nie daar is iets wat toevallig gebeur nie. Dit is nou al ‘n lang ruk dat die Here dit op my hart lê om met jou te gesels en jy sal nie besef hoe bly ek is om jou te sien nie. Ek het jou al verskeie kere in die verbygaan gesien en dan sê die Here in my hart vir my: ‘Jy moenie vergeet om met ou David te praat nie.’ Daarom glo ek nie in toevallighede nie. Dit is die Here wat dit so gereël het dat ons vanoggend hier by ou Daniel se huis ontmoet.” Ou David het nie geweet wat om te sê nie en het seker gewonder waaroor ek met hom so dringend wil gesels. Ek het begin deur hom van ou Stan te vertel, en hoe die Here dit op my hart gelê het om met ou Stan te gesels. Betyds kon ek met ou Stan in aanraking kom en hom waarsku, want die Here wou nie hê hy moes so die ewigheid ingaan nie. Jy kan jou verbeel jy glo aan die Here Jesus, maar as jy nog jou voorvaders aanbid of die dooies raadpleeg, moet jy weet jy is nie ‘n Christen nie. In Johannes 14 vers 6 sê die Here Jesus, Hy alleen is die weg en die waarheid en die lewe en niemand kan na die Vader toe gaan nie behalwe deur Hom nie. Ons het lank gesels. Dit was basies ‘n herhaling van my gesprek met ou Stan, met Deuternomium 18 as vertrekpunt, en soos ou Stan is ou David daar weg sonder om ‘n woord te sê. Ek het hom gegroet met die woorde: “Ou David, ek glo dat die Here jou vanoggend na my toe gestuur het. Hy wil nie hê jy moet verlore gaan nie. Dit het swaar op my gemoed gerus, en dit is die Here wat dit gedoen het, en dit is niemand anders nie as Hy wat die ontmoeting gereël het.” Hy is daar weg in stilte. Ek het hom vanmiddag weer gesien op pad Gantsi toe. Ek wou stop om ‘n foto van hom te neem, maar ek dink nie dit sou wys gewees het nie. Ons gesprek is nog in ‘n sensitiewe stadium. Ek skat ou David so 83. Hy kan ouer wees, maar hy stap nog die wêreld vol met sy kierietjie. Ek vra dat u aan hom sal dink in u gebede. Menige sendeling sal dit beaam, suksesverhale in die sending is heel dikwels die man tot man gesprekke waar jy fokus op iemand se lewe. Mag die Here as dit enigsins nodig is ‘n opvolggesprek vir ons in die verband reël. (Om ‘n persoon “ou Stan” of “ou David” te noem is ‘n teken van respek omdat hulle baie ouer as jy is.) Groete en seënwense, Hendrik du Plessis |