Ds Hendrik du Plessis
Toordery in die Kalahari
In die Sendingveld bevind jy jouself soms op snaakse plekke. Een van ons gemeentelede, ‘n eertydse ouderling op ons kerkraad, het ‘n aantal jare gelede ‘n swaar beroerte aanval oorleef. Ek moet sê dit het hom nogal swaar getref. Ons het vir hom en sy gesin voorbidding in die kerk gedoen, hom in die hospitaal en by die huis gaan besoek. Hy is nog steeds gedeeltelik verlam en kom af en toe hinke-pinke kerk toe.
Een aand so om en by agtuur het ek hom gaan besoek. Die gewoonte hier is en die gemeentelede weet dit, dat ons nie afsprake maak nie. As jy iemand wil besoek dan besoek jy hom onverwags, vir die eenvoudige rede, met ‘n afspraak verdwyn die mense met wie jy graag oor die Here sou wou gesels het en die wat getrou kerk toe kom, bly gewoonlik agter vir die besoek. Toe ek so na die erf toe aangery kom, sien ek ‘n paar van hulle besig om ‘n gat te grawe by die ingang van die erf, by die hek.
Ek sien ‘n swartman (‘n Tswana) met wit handskoene aan en drie Boesmans by hom. In die lig van my flits sien ek hulle het sopas ‘n 30-06 patroon uitgegrawe. My eerste gedagte was dat dit “Wild Life” se mense is, of “Fauna en Florah” soos hulle in Suid-Afrika bekend staan. Van die hek af stap ek toe saam met hulle na ‘n bakkie toe wat op die werf staan. Die bakkie behoort aan die man wat die beroerte gehad het. Daar gekom vra die man met die wit handskoene my om my flits asseblief af te skakel. Dit was vir my baie vreemd, want dit was stikdonker. Aan die linkerkant van die bakkie maak hy toe die deur oop en vroetel onder die sitplekke. Wat hy daar gedoen het weet ek nie, maar die flits moes afgeskakel wees. Nadat hy so om en by drie minute daar gevroetel het, was hy tevrede. Daarna vra hy my toe om vir hom te lig. Die enjinkap word oopgemaak waarna hy lank daar gestaan en die enjin bekyk het. Ek vra toe vir een van die Boesmans in hulle taal wie hierdie man met die wit handskoene is, want ek wou nie hê hy moes hoor wat ek oor hom uitvra nie. Die Boesman het ook nie geweet wie hy was nie.
Ek het eers gedink hy soek na bloedspatsels en dat die arme familie in die moeilikheid is oor iets – een of ander wildsbok vir die pot. Ons beweeg toe daarvandaan na die bestuurderskant toe. Daar het hy my flits geleen en baie ernstig begin soek. Later gelas hy dat die sitplekke losgeskroef word. Op die ou einde haal hy ‘n ou geroeste mes uit en ‘n ietermagogskulp. In my enigheid het ek gedink dat dit seker nou genoeg bewys is – die ietermagogskulp, maar toe hy met sy wandelstaf hier oor die enjin begin prewel, het ek besef, “Wild Life” se ouens sal dit nie doen nie.

My vertwyfeling oor hierdie gedoente was duidelik op my gesig te sien. Die suster van die man met die beroerte het my reaksie gesien en merk uit die bloute op: “Elke persoon het sy gawes. Die Here het vir hierdie man ook sy gawes gegee.” Dit is toe dat ek besef dat hierdie man niemand anders nie as ‘n sangoma is en hulle het hom laat kom om te kyk wie verantwoordelik was vir die beroerte-aanval van hulle broer, met ander woorde wie hom getoor het. Daarvandaan is ons toe na die kamer waar die man gelê het. Die sangoma vra toe vir ‘n emmer met water. In sy groot leertas met sy verskillende kompartemente haal hy allerhande medisyne uit. Selfs die tokkelossiekristalle wat in die groot kettingwinkels hier gekoop kan word, word daar ingegooi. Tydsaam haal hy sy medisyne een vir een uit en gooi dit in die emmer. Later is dit bossies. Van die medisyne brand hy in ‘n beker en waai die rook met ‘n perdestert in die rigting van die sieke wat daar lê. Daarna begin hy met die perdestert in die emmer water te roer en sprinkel dit oor die sieke uit.
Daarna vra hy my om die emmer vir hom te dra sodat hy die res van die familie kan besprinkel. Hy het natuurlik nie geweet wie ek is nie en het hy vrypostigheid gehad om my te vra om hom te help. Nadat hy die familie besprinkel het, is ons by die huis uit om die vier hoeke van die erf te oorkruis al sprinkelende. Intussen moes die sieke se vrou haar gereed maak om in die middel van die erf haar te laat besprinkel.
Ons was besig vanaf die tweede hoekpaal na die ander een (oorkruis) toe ek vir myself die saak uitmaak, hierdie emmer raak nou baie swaar, want dit is ‘n groot emmer en dit was driekwart vol met water en hierdie sangoma is glad nie haastig nie. In my innigheid was ek ook maar baie dankbaar niemand het ‘n foto van ons daar geneem nie, ‘n dopper dominee deur ‘n sangoma getoor en hy dra nogal vir hom die emmer oral rond. Baie gou het ek myself verskoon en is ek daar weg. Later sou ek hoor het die sangoma baie goed uit die sieke se lyf uitgehaal waarmee hy kamstig “getoor” was.
Soos ek aan die begin gesê het, sou ek ‘n afspraak met hulle gemaak het, sou hulle dit uit die aard van die saak gekanselleer het en my gevra het om op ‘n meer geleë tyd te kom. Die uiteinde van die saak was, die sangoma het tot die gevolgtrekking gekom dat naby familielede die man “getoor” het en dit die rede vir die beroerte was. Volgens die beskrywing wat die sangoma aan hulle gegee het, het die familie tot die gevolgtrekking gekom dat dit niemand anders kan wees nie as hulle oom en tannie.
Van tyd tot tyd het ons tydens eredienste probleme hier gehad met die een wat die beroerte oorleef het se vrou. Sy sou sommer so tydens die diens stuiptrekkings kry, (amper soos ‘n epileptiese aanval). Dan storm ‘n paar vrouens daar op haar af om haar tot bedaring te probeer bring. Dit is geweldig ontwrigtend, want jy moet jouself tydens die preek eers onderbreek tot sy tot bedaring gekom het. Een maal het een van ons ouderlinge gevra of hy nie kan bid nie. Sy woorde was: “Here, as hierdie verskynsel wat ons nou hier sien van U afkom, laat dit onder ons nog meer gebeur.” Na die diens was ek en die ouderling op pad na een van die bedieningspunte op die plase, en kon ons rustig oor die voorval gesels. Hy wou nog regverdiging soek vir die vrou se optrede en dat dit moontlik van die Heilige Gees afkomstig is. Ek het hom net daar in die rede geval en hom kort en beslissend geantwoord: “Jy kan maar sê wat jy wil, die Heilige Gees werk nie so nie.” Dit het nie gelyk of hy tevrede was met my antwoord nie, maar ons het dit daar gelos. Dit was nie twee jaar daarna nie toe dieselfde groepie hom (die ouderling) beskuldig van toordery. Hy en sy vrou en sou glo iemand se kind dood “getoor” het. Die ouderling het na my toe gekom en vir my gesê: “Hendrik, onthou jy ons gesprek oor die vrou met die stuiptrekkings in die kerk, en jy vir my gesê het die Heilige Gees werk nie so nie. Nou glo ek jou.”
As hierdie mense maar net kon sien wat ek daardie aand met die sangoma gesien het. Dit was so maklik om die 30-06 patroon daar in die donker te plant waar hulle kastig na iets gesoek het. Die geroeste mes en die ietermagogskulp was deur niemand anders nie as die sangoma self daar geplant, juis op daardie oomblik toe hy wou hê ek die flits moes afskakel. Toe hy vir my gevra het om die flits af te skakel en hy vir om en by 3 minute daar onder die sitplekke gevroetel het, het hy meer as genoeg tyd gehad om die skulp en die mes daar te plant. Dat niemand dit agtergekom het nie gaan my verstand te bowe. Vir hulle was dit ‘n wonderwerk, soos die sieke se suster opgemerk het: “Elkeen het sy talente van die Here ontvang, en so ook hierdie man.” Soos ‘n goed opgeleide kulkunstenaar kon die sangoma voor hulle oë kamstig goed uit die sieke se lyf uithaal en hulle was verstom. Jy hoef net so ietwat vlug van hand te wees om dit te doen, en buitendien in die donker was dit vir hierdie sangoma soveel makliker om met hulle oë te toor, en die ergste van alles was, hulle het dit vir die waarheid geglo.

Om ‘n lang storie kort te knip: Twee dae later was al wat ‘n Boesmantransdanser daar om vir die sieke deur die nag te dans, om hom te bevry van hierdie sogenaamde toorspel. Dit is so tragies: Sondag word daar in die kerk vir hom gebid. Maandag besoek die sangoma hom en Woensdag dans hulle vir hom – sinkretisme op sy beste.
Dit bring ‘n mens dan weer by die vraag aan die begin te staan: Wie was toe nou die eintlike “toornaar”? Die antwoord is ongetwyfeld, niemand anders nie as die sangoma self. Hy het nie net met hulle koppe gesmokkel of getoor nie, maar hy het families teen mekaar opgesweep wat vir jare daarna vas oortuig was dat hulle oom en tannie hulle kleinneef dood wou hê. Die gevolg was ’n intense haat vir mekaar en dit oor ‘n leuen wat die duiwel self in hulle midde kom plant het. Hierdie sangomas wat in Suid-Afrika en orals in Afrika so vrylik rond beweeg, is verantwoordelik vir miljoene der miljoene huishoudings wat opgebreek het en steeds opbreek, want as hy gesê het sus en so het so en so getoor, wie is jy om dit te betwyfel. ‘n Ander vraag is, met hoeveel moorde het hulle net nie al weggekom nie? As ek ‘n wroeging teen iemand het, en ek wil iemand vergiftig, na wie toe gaan ek om gif in die hande te kry? Na niemand anders nie as die sangoma self. Nou onlangs was daar ‘n artikel in ons plaaslike koerant waar iemand hier in Gantsi wat by die “councel” werk weier om ‘n sangoma te betaal, omdat die sangoma hom belowe het om iemand vir hom dood te toor, maar nou tot sy groot ontnugtering en skok loop die man ewe vrolik nog elke dag by hom verby en nog niks het met hom gebeur nie. Hoe kan hy nou die sangoma betaal as die sangoma nie sy opdrag uitvoer nie?
Baie mense en veral die EFF verromantiseer die verre verlede, maar min wetende, dit was ‘n donker verlede waar die sangomas die septer geswaai het. Hoeveel onskuldiges, families en nasies het net nie in die slag gebly oor uitsprake wat sangomas gelewer het nie. As jy, al is jy hoe onskuldig deur die sangoma beskuldig word van toordery, is daar nie ‘n kans dat jy jou onskuld kan bewys nie. Jy en jou hele gesin word uitgewis. Wat was die beskuldiging teen Piet Retief en sy manne: “Bulalani Abathakhathi!” “Maak dood die toornaars!” Hoekom? Omdat die sangoma dit vir Dingaan gesê het.
My een ouderling (Frits) wat van tyd tot tyd wanneer hulle probleme het en baie druk van sy familie ervaar om sangomas te raadpleeg, het op ‘n keer dit so aan my gestel: “Hendrik, al moet ek doodgaan, ‘n sangoma of ‘n Boesmangeneesheer besoek ek nooit weer in my lewe nie, nie nou dat ek die lig en die verligting van die Evangelie ervaar het nie.”
In Johannes 8:32 sê die Here Jesus: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Mag die waarheid van die Evangelie ons ook hier op die sendingveld bevry van die leuen van die duiwel. Ook in hierdie verband het ons u voorbidding so ontsaglik nodig.
U broer in Christus,
Hendrik du Plessis