Waardering vanuit D’kar – Desember 2020
D’kar
Covid-19 klink negatief op die oor, maar tog ook baie positief in die sin dat die Here se seën in ons gemeente duidelik sigbaar was die afgelope tyd. Dit was asof baie mense tot die besef gekom het, ons lewe nie vir altyd hier op aarde nie. Die kerkbywoning het drasties begin verbeter. Covid-19 het baie mense uit hulle gemaksone geskud. Die kosvoorrade wat uitgedeel is danksy die bydraes van ons gemeentes in Suid-Afrika en veral die Gereformeerde kerk Nieu Seeland was ‘n preek opsigself. Mense het daaroor gepraat en spesifiek die Here gedank wat deur ander gelowiges vir hulle omgee. Die kerk het sigbaar begin word, of anders gestel, die Here het Hom deur die kerk se liefdesdiens aan baie mense vertoon as ‘n God van liefde.
Ons seun, Pieter was vir 6 maande hier by ons ingeperk. Suné, ons dogter, sou ook kom, maar ongelukkig was die grens gesluit ‘n dag voor sy sou kom. Pieter het die Maandag deurgekom en die Dinsdag het hulle die grense gesluit. Sy was baie teleurgesteld, maar noudat ons terugkyk was dit ‘n bedekte seën omdat sy haar aandag op haar werk en haar meestergraadstudies kon vestig. Deur die Here se genade kon sy nou haar verhandeling indien. As sy wel deurgekom het sou sy beslis haar werk verloor het. Pieter het hier nie net op ‘n naburige plaas gehelp nie, maar was van soveel hulp hier rondom die huis. Hy het gebou, draad gespan, ons warmwaterstelsel herstel, die watersuiweraar installeer ensomeer, ensomeer. Dit is amper te veel om op te noem. Hy was letterlik elke dag besig. Septembermaand kon hy toe teruggaan, ook net betyds om sy studies te hervat.
Was ons nie geskok toe ons verneem Suné het Covid-19 opgedoen nie. Dit het vir ons gevoel of die boot waarin ons was gaan sink, maar deur die Here se genade het sy net matige simptome ervaar soos smaak-en-reukverlies, hoofpyn en moegheid. Diaree en keelseer het binne ‘n paar dae wonderbaarlik verbeter. Sy was heeltemal op haar eie daar in haar nuwe dorp en werksomgewing maar sy is gedra deur gebede en bemoediging van familie en vriende asook ds Jannie van der Schyff van die GK Welkom.
Waaroor ons besonder dankbaar is, is die feit dat my sendingbakkie weer padwaardig is. ‘n Anonieme skenker het die nodige fondse voorsien en kon ons die bakkie in Maun by Ngami Toyota laat herstel. So het die Here op die regte tyd die gedagte by sy kind iewers laat opkom om so ‘n skenking te bewillig. Ons is baie dankbaar.
Ons het ook Tswana Bybels gekry wat verskillende kerke aan ons verskaf het. Ons sê vir een en elk wat in die verband bygedra het, baie baie dankie. Daar is nie ‘n groter geskenk as ‘n Bybel nie, en die persoon aan wie jy die Bybel gee, gee aan jou die kans vir ‘n diep geestelike gesprek.
Dan het ons ook Klankbybels gekry. Verskeie broers en susters het bygedra. Daaroor is ons baie dankbaar en opgewonde. Die Naro Nuwe Testament is daarop. Die volledige Tswana Bybel is daarop van Genesis tot Openbaring, en ook Herero Bybelverhale. Al die Hereros kan Tswana verstaan. Baie Hereros kan Naro verstaan, en baie Naros kan Tswana goed verstaan, en omdat baie mense hier nie kan lees nie en gewoonlik niemand vir hulle wil of kan lees nie kan hierdie Bybels in klank daardie gaping baie beslis oorbrug. Daar was al in die verlede sulke Klankbybels hier wat aan die mense uitgedeel of verkoop was en die wat daarvan kon kry het, het dit van die môre tot die aand aangelos vir almal in die erf om na te luister. As jy daar kom word jy begroet deur ‘n gedeelte in die Bybel wat gelees word. Een kind kon selfs ‘n hele hoofstuk van ‘n seker boek uit haar kop uit opsê. Die groot geheim gaan wees om dit in wysheid oordeelkundig uit te deel dat die wat nie kan lees nie daarby baat kan vind.
Laaste maar nie die minste nie, wil ons ons opregte dank uitspreek aan almal wat betrokke is by die BSG (Botswana Sending Groep). Sonder julle sou sending hier onmoontlik gewees het. Ons het ongelukkig geld nodig om afstande af te lê om aan mense die Evangelie te verkondig. ‘n Mens wonder dikwels hoe ver die tegnologie al gevorder het. Sou ‘n mens ‘n solar of battery-aangedrewe voertuig kon gehad het, sou dit ideaal gewees het. Jare gelede het hier skoolkinders van Suid-Afrika af deur Botswana gery met ‘n vierwielaangedrewe fiets. Vier mense moes heeltyd trap. Dikwels het ek gewonder hoe dit sal wees as jy die nodige batterye kan aanbring en solarpanele bo-op die dak, sodat jy makliker kan trap. Dan kan jy letterlik orals in die boedoes invaar opsoek na mense wat nog nie die Evangelie gehoor het nie, want Botswana lê braak wat sendingwerk aanbetref.
Die woord “dankie” klink dikwels so leeg of sonder inhoud, maar die gevolge daarvan is enorm, veral as jy die woord in jou gebede gebruik. Teenoor ons gemeentes en broers en susters wat ons die afgelope jaar so getrou ondersteun en bygestaan het, geldelik maar ook in hulle gebede wil ons ons diepste waardering uitspreek. Ons dank die Here vir u en ons bid vir u dat die Here u ryklik sal seën. Daar was soveel dinge om voor dankbaar te wees. Sou ons ‘n lys moes opstel waar begin ‘n mens en waar eindig ‘n mens? Hierdie jaar was ‘n unieke jaar.
Die motivering vir “dankie sê” uit die woorde van die apostel Paulus in 2 Korinthiërs 9:6-14 het my laat besef dat daar iets meer insit as net dankie sê.
Ek het die gedeelte hieronder al hoeveel keer gelees, maar dit gebeur dikwels dat jy ‘n gedeelte in die Bybel wat jy al vir die soveelste keer gelees het weer lees, en die inhoud daarvan jou dan eers tref.
2 Korinthiërs 9:6-14:
“6Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.
7Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.
8En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.
9Daar staan ook geskrywe: “Hy deel uit en gee aan die armes; hy bly altyd vrygewig.”
11Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank word, 12want die bediening van hierdie hulpbetoon voorsien nie alleen in die behoeftes van die gelowiges in Judea nie, maar bring ook oorvloedige dankbaarheid teenoor God mee. 13Deur hierdie duidelike bewys van julle bereidheid om te dien, sal daar baie wees wat aan God eer toebring. Hulle sal Hom prys oor julle gehoorsaamheid aan die evangelie van Christus wat julle bely, en oor julle opregte mededeelsaamheid teenoor hulle en teenoor al die ander. 14Hulle sal ook vir julle bid en met verlange aan julle dink, omdat die genade van God oor julle so oorvloedig was.”
In hierdie gedeelte sien ons hoe die vrygewigheid van ‘n gemeente (Korinthe) wonderbaarlik na hulle toe by wyse van spreke terug geboemerang het. Wat hier gebeur het is baie interessant. Dit is nie net ‘n voorbeeld nie, maar deur die hand van Paulus openbaar die Heilige Gees aan ons iets van God en sy diepste rede waarom Hy aan ander meer gee as aan ander, aan ander gemeentes meer gee as aan ander.
Lees ons die vorige hoofstuk saam met hierdie hoofstuk sien ons hoe die gemeente in Korinthe met groot ywer alles in hulle vermoë gedoen het om geld in te samel om die Joodse gemeente in Jerusalem te help. As aansporing gebruik Paulus die Masedoniese gemeente as voorbeeld, hoe ywerig hulle was om die gelowiges in Jerusalem te help. Toe hierdie Masedoniese gemeente (Noordelike deel van Griekeland) hoor van die swaarkry in Jerusalem, het hulle dadelik aan die werk gespring en ondanks hulle armoede geld begin insamel vir die gelowige Jode in Jerusalem wat so swaar kry. Dit gebruik Paulus dan as aansporing vir die Korinthiërs om dieselfde te doen. Daardie Masedoniërs, sê Paulus kon so vrygewig wees omdat hulle hulleself eers aan die Here gegee het (2 Korinthiërs 8:5). Dan skryf Paulus verder aan hierdie Korinthiërs, vanaf vers 6: “6Daarom het ons vir Titus versoek om hierdie liefdeswerk, waarmee hy vroeër by julle begin het, nou ook te voltooi. 7Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer en ons liefde vir julle, wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig. 8Ek gee nie ‘n opdrag nie, maar ek wys julle op die ywer van ander (die Masedoniërs) om daardeur die opregtheid van julle liefde te toets.”
Dit bring ons dan by die gedeelte wat ons aan die begin gelees het, hoe jou gawes (liefdeswerk) op ‘n positiewe manier na jou toe terug boemerang en daarmee saam die rede daarvoor. In hierdie geval is dit die Korinthiërs. Deur hulle vrygewigheid gebeur daar ‘n reeks interessante dinge. Ons begin by die begin. Wat terug boemerang is die volgende:
- God se liefde: God het ‘n blymoedige gewer lief. (2 Korinthiërs 9:7)
- God se oorvloed: “8En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.” (2 Korinthiërs 9:8)
- God se rykdom: “11Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank word,” (2 Korinthiërs 9:11)
Dan verduidelik Paulus eers: Onthou sê hy: “12want die bediening van hierdie hulp betoon voorsien nie alleen in die behoeftes van die gelowiges in Judea nie, maar bring ook oorvloedige dankbaarheid teenoor God mee.” Met ander woorde, dit gaan nie net oor mense help nie, maar om daardie mense so vêr te kry om God te dank oor die hulp wat hulle ontvang. Dan verduidelik Paulus verder die uitwerking van hierdie hulpbetoon op die gelowige Jode in Jerusalem. Hy sê: “13Deur hierdie duidelike bewys van julle bereidheid om te dien, sal daar baie wees wat aan God eer toebring. Hulle sal Hom prys oor julle gehoorsaamheid aan die evangelie van Christus wat julle bely, en oor julle opregte mededeelsaamheid teenoor hulle en teenoor al die ander.”
En dit bring ons by die vierde ding wat terug boemerang.
- Daardie mense begin nou vir jou te bid: “14Hulle sal ook vir julle bid en met verlange aan julle dink, omdat die genade van God oor julle so oorvloedig was.”
Dit is interessant om daaraan te dink, dat die hulpverlening van een gemeente aan ‘n ander gemeente die uitwerking kan hê dat hulle aan God die eer toebring en nie net dit nie, maar dat hulle spesifiek vir daardie gemeente wat aan hulle hulp verleen het begin bid. As jou uitreik na ‘n gemeente in nood tot gevolg kan hê dat hulle God oor jou dank en aan Hom die eer toebring en vir jou begin bid, het die boemerang sy sirkelrondte voltooi. Jy het uitgereik en nou bid hulle vir jou. Dit bring ons dan by die vraag: Hoekom sal God so ‘n gebed nie verhoor nie? Dit is dan juis hoe die Here dit wil hê. Jy help, God word daarvoor gedank en geëer en hulle, oorweldig in hulle gemoed deur die werking van die Heilige Gees bid vir jou, en God verhoor hulle gebede ten opsigte van jou, en jy word geseën.
Wees een en elk daarvan verseker dat julle deur julle hulp en bystand ons daartoe gebring het om die Here te loof en te dank en ons bid vir julle dat die Here julle ryklik sal seën.
Mag hierdie eenvoudige waarheid ons motiveer om verder te dink buite die kring van ons alledaagse bestaan.
Groete in ons Here Jesus Christus,
Hendrik du Plessis