Ds Hendrik Du Plessis Januarie 2021
Kultus of Kultuur
| ‘n Valse probleemstelling |
| ‘n Valse probleemstelling is soos ons almal weet, ‘n probleem wat sy ontstaan te danke het aan ‘n valse persepsie. Die oorsprong is vals maar die probleem word ‘n realiteit. In die sendingveld worstel ‘n mens gereeld met sulke probleemstellings. Na jare se bearbeiding kan dit so maklik weer vlamvat afhangende van die regte vrae op die regte tyd. Ek noem ‘n paar voorbeelde: |
| Met die besoek van ‘n sekere antropoloog gaan hou ek die aand daar Bybelstudie. Ná die tyd vra sy ‘n paar vrae aan die Narosprekende Boesmans, wat hulle nogal onkant gevang het. “Julle het mos julle eie godsdiens,” het sy gesê. Waarom het julle nog die witmense se godsdiens nodig? Vir al die eeue het julle die Here gedien en tot die Here gebid en gedans – of tot wie anders het julle dit gedoen? Was dit die duiwel?” |
| Op ‘n ander stadium was hier by ons op D’kar ‘n ander antropoloog uit Suid-Afrika met ‘n groepie San mense wat nie meer hul eie taal kan praat nie. Hulle praat slegs Afrikaans. Hul leier, oom Jan, was saam met hulle. Hy het ‘n klomp dolosse en behangsels om sy nek gehad wat hom aardig laat lyk het. Die doel van hulle besoek was om hulle “geestelike agterstand” by ons “boesmans” op te vang. Hiermee word dan spesifiek verwys na die transdanse waartydens die dansers in ‘n trans gaan – dikwels so erg dat hulle letterlik beserk raak, teen bome wil uitklouter, in die vuur wil val en die vreeslikste onaardse geluide maak. Sommige van hulle kies sommer koers in ‘n rigting in en dan hardloop die jong mense agter hulle aan om te keer dat hulle hulself nie teen bome of drade te pletter hardloop nie. Tydens hierdie trans word die hande op siekes gelê en word hulle glo gesond. Die bewyse daarvan het ek nog nie gesien nie, maar dit is wat hulle beweer. Met hul besoek word so ‘n transdans gereël sodat hulle eerstehands weer kan sien en ervaar hoe dit gedoen moet word. Spontaan het die dans begin met die vrouens se neuriesang en die mans wat rondom die vuur dans. Oom Jan (‘n man van gemengde afkoms en hul leier) het langs my gesit – iemand wat sy Bybel verbasend goed geken het, maar ongelukkig dit sinkretisties vermeng met allerhande drome, voortekens en kulturele praktyke. Later het die mans, soos wat die musiek hulle ritmies opgewerk het, in ‘n trans begin gaan. Een van hulle begin toe met sy onderaardse geluide en rukkings. Ek vestig toe oom Jan se aandag daarop. Sy antwoord aan my was: “Hy gaan nou in die dieptes van die Heilge Gees in.” Ek het onmiddellik daarop gereageer en gesê: “Ek glo nie dat dit van die Heilige Gees afkomstig is nie.” Hy het hom vererg en kort daarna gaan slaap. Die volgende dag was die gort gaar oor my bewering aan hom. Ek is geroep om verskoning te vra. Die antropoloog wat saam met hulle daar was, was giftig teen my en het die een sigaret na die ander opgesteek en my voortdurend aangeval, “. . . hoe durf jy . . . ens. ens.”. Die vrou in beheer van Kuru se dansgroep, ‘n Hollandse Rooms Katolieke dame, was maar al te gretig om die skuld op my te pak, want om die transdanse nie as goddelik te sien nie was vir haar heilskennis. My antwoord aan hulle was: “Ek het niemand afgekraak of probeer seer maak nie, ook nie beledig nie. Inteendeel ek het net met die leier gepraat en nie my standpunt uitgebasuin om iemand te na te kom nie. Ek kan nie ‘n moordkuil van my hart maak nie. Soos hy seker die reg het om te sê wat hy glo, het ek ook die reg om te sê wat ek nie glo nie. Ek kan nie my gewete verkrag en maak asof ek glo wat ek nie glo nie. Dan sou ek skynheilig wees.” |
| Een van die transdansers, het gereeld begin kerk toe kom en was vasbeslote om belydenis van geloof af te lê wat hy toe ook gedoen het. Toe hy gereeld begin kerk toe kom en die katkisasieklasse bywoon het sy belangstelling in die transdanse totaal en al afgeneem. Hy was een van Kuru se dansers wat per geleentheid vir toeriste gedans het. Aan ons kulturele sentrum noem hy dat hy nie meer wil dans nie en hy nou gereeld kerk toe kom. Die Rooms Katolieke vrou wou die aapstuipe hieroor kry. Hy is onder my invloed, was haar mening. Ongelukkig het hy aan die einde onder hulle invloed geswig. |
| Nou onlangs het ‘n Indiaanse antropoloog met my ‘n afspraak gemaak. Sy wou graag meer weet oor ons kerk se geskiedenis. Heel versigtig het sy haar vrae geformuleer, maar ek het gou agter gekom waarop sy afstuur. Kort voor lank sy vra hoe staan ons as kerk teenoor die Boesmans se kultuur? Ek het geantwoord dat wat myself aanbetref ek ‘n onderskeid maak tussen kultuur en kultus. Kultuur is ‘n mensgemaakte reëling waarin verskillende volke op verskillende maniere hulself handhaaf en uitleef, wat opsigself nie verkeerd is nie, maar ‘n kultus is ‘n aanbiddingswyse wat in stryd is met dit wat die Skrif ons leer. Daarmee saam is daar ‘n groot gros bygelowe wat hoegenaamd nie met die Skrif te versoen is nie. |
| Ek noem toe ‘n paar voorbeelde aan haar. Nie lank gelede het ek ‘n kind begrawe. Die ma en ander vrouens het onbedaarlik gehuil. Volgens hulle het ‘n sekere persoon wat hulle by name noem, die kind doodgetoor. My vraag die Indiaanse antropoloog was toe: “As toordery deel is van hulle kultuur en die geloof daar rondom, moet ons as kerk ter wille van kultuur sulke dinge ondersteun?” |
| As iemand malaria of tuberkulose onderlede het, maar die kultuur beweer hy is getoor en daar moet vir hom gedans word om die kragte te verbreek, moet ons dan in die naam van kultuur hierdie erfenis bewaar? Moet jy sien hoe iemand voor jou wegkwyn en sterf ter wille van kultuur, om daardeur die sogenaamde mooi erfenis te bewaar? |
| Moet ons die mense motiveer om al die onheile te vrees wat oor hulle sal kom as hulle sekere rituele nie nakom nie, want die kultuur is vol sulke rituele en vrese. |
| Dit is maar ‘n paar van die talle probleme wat ons het wat kultuur aanbetref, tensy jy nie alles vir kultuur opvreet nie. Dan is daar vrae wat eg en opreg van die Sanmense self kom. Hulle voorouers het gedans vir reën en dan het die Here vir hulle reën gegee. As iemand siek was het hulle vir die sieke gedans en vir die Here gevra om hom te genees – of was dit die duiwel wat hom genees het? Dit klink na gewigtige vrae en dit lok geweldig simpatie uit tot ‘n mens die lig van die Bybel daarop laat val. Dit bring ons dan voor die groot vraag te staan in die sending: Wat sê die Bybel hiervan? Dit is ‘n gewigtige vraag waaroor baie mense in Afrika struikel: “Voor ons nog met die Christendom in aanraking gekom het, was ons tog godsdienstig. Wanneer ons gebid het, het ons tog nie tot die duiwel gebid nie, maar tot God. As ons Hom iets gevra het, het Hy dit aan ons gegee. Dit was tog seker nie die duiwel wat dit aan ons gegee het nie?” Daarom dat dit vir baie Afrika gelowe nie verkeerd voel om een of ander sinkretistiese vermenging in hulle Christelike geloof in te werk nie. ‘n Zoeloe het op ‘n keer vir my gesê: “Ek bid tot my voorvaders wat dan die boodskap oordra na Christus en Christus na God.” |
| Wat sê Bybel van hierdie valse probleemstellings? In Handelinge 14 moes Paulus-hulle vlug. Hulle moes inderhaas Ikonium verlaat want daar het onder die heidene en ook onder die Jode saam met hulle owerstes, ‘n beweging ontstaan om Paulus-hulle te mishandel en te stenig. Toe hulle dit agterkom het hulle na Likaónië, Listre en Derbe gevlug. In Listre het daar ‘n man gesit wat verlam was aan sy voete, kreupel van sy geboorte af, en hy het nooit geloop nie. Terwyl Paulus gepraat het, het hy heeltyd geluister. Paulus het na hom gekyk en gesien dat hierdie man geloof het om gesond te word. Met ‘n groot stem het Paulus vir hom gesê: “Staan regop op jou voete! En hy het regop gespring en begin rondloop.” Die skare was verstom daaroor en het in Likaónies vir mekaar gesê: “Die gode het soos mense geword en neergedaal na ons toe.” Vir Bárnabas het hulle Zeus genoem, en vir Paulus Hermes, omdat hy die woordvoerder was. 13Die priester van die Zeustempel, net buitekant die stad, het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy wou saam met die mense offers aan die apostels gaan bring. 14Toe die apostels, Barnabas en Paulus, daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die mense ingespring en geskreeu: 15“Mense, wat vang julle nou aan? Ons is maar net sulke mense soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle hierdie sinlose gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. 16Hy het in die verlede alle nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan, 17maar tog bekend gemaak dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.” |
| In hierdie gedeelte merk ons ‘n paar belangrike dinge op. In die eerste plek het Paulus geen kompromie probeer aangaan tussen Christus en hulle godsdienste nie en tog was Paulus nie onsimpatiek teenoor hulle nie. “Ons is maar net sulke mense soos julle,” sê hy. Tweedens veroordeel hy hulle nie, maar wel die sinlose gode en doen hy ‘n beroep op hulle om hulle te bekeer sonder om enige kompromie aan te gaan tussen hulle sogenaamde gode en die God van die Bybel nie. Derdens stel hy Hom aan hulle bekend: “Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het.” In die vierde plek wil hy hulle van ‘n misverstand bevry en sluit hy alle nasies onder een sambreel in wanneer hy sê: “16Hy het in die verlede alle nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan,”. “Eie koers” beteken dan uit die aard van die saak die teenoorgestelde van “God se koers”. Daarom moet hulle hulle bekeer. Teenoor iemand wat sou kon noem: “Ja, Paulus, ek hoor wat jy sê, maar in die verlede het ons op ons manier so en so tot God of tot die gode gebid of ons voorvaders geraadpleeg en is ons verhoor.”, kom sy helder en duidelike antwoord: “maar tog bekend gemaak dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.” Al het God toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel, hulle eie koers inslaan, was God nie in die minste afwesig wat sy algemene genade aanbetref nie. As die Boesmans daar in die Kalahari rondom die vuur gedans het in hulle onkunde en nood en die Eskimos in Antartika en die Indiane in Suid-Amerika, was God hoegenaamd nie afwesig in sy algemene genade nie. Die verwronge Godsbeeld wat elke nasie gehad het of het maak hoegenaamd nie dat God apaties staan teenoor hulle persoonlike nood van elke dag nie, maar wanneer die Evangelie van ons Here Jesus Christus verkondig word, kom daarmee saam die drastiese oproep: “Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle hierdie sinlose gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer.” Meer helder en duidelik kan Paulus dit nie stel nie. Daar was ‘n tyd toe God in sy verdraagsaamheid toegelaat het dat elke volk sy eie koers inslaan, maar daar is ook ‘n tyd wanneer elke volk voor die drastiese keuse te staan kom: Of Christus of my eie koers na die ewige verdoemenis. |
| Dit kom daarop neer dat God in die verlede mense in hulle nood verhoor het in sy algemene genade by wyse van reën van die hemel af wat hy gegee het, gereelde oeste, volop kos en hulle selfs gelukkig gemaak het. Dit was nie die duiwel wat hulle verhoor het nie, maar God, wat hulle genadig was, al het hulle in hul onwetendheid op ‘n diaboliese manier die aangesig van God gesoek. |
| Verder moet dat daar ‘n drastiese ommekeer wees en hoegenaamd geen stelselmatige oorgang of versoening tussen Christus en die eie koers mag wees nie. As daar op die altaar van die onbekende god in Handelinge 17 ooit offers gebring was, sou dit daarna nie meer gedoen kan word nie, want Christus is die enigste offer vir ons sondes. As die voorvaders in die verlede geraadpleeg was, sou dit daarna opsetlike duiweldiens wees om daarmee aan te gaan, want Christus is die weg en die waarheid en die lewe, niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie. |
| In die sendingveld is ‘n mens soms verplig om dit baie prakties te verduidelik. So ‘n paar jaar gelede het ons ‘n teerpad gekry wat naby ons verbygaan. Die verskil in teenstelling met die slegte pad wat ons altyd na Gantsi toe moes ry is duidelik waarneembaar. In die verlede sou jy iemand met simpatie bejeën het sou sy voertuig onklaar geraak het op die slegte pad, want dit was ‘n pad waaroor ‘n mens boekdele kon skryf, maar sou iemand halstarrig weier om die teerpad te gebruik en sy voertuig sou onklaar raak, sal hy uit die aard van die saak elkeen se simpatie verloor, want hy doen dit nie meer uit onwetendheid uit nie. |
| Om terug te kom na kultus en kultuur. In kultuur is nie alles noodwendig sleg of boos nie. God het in sy algemene genade ook sy lig daar laat skyn dat ‘n dief dienooreenkomstig sy dade gestraf word en dat die jeug leer om die ou mense te respekteer. In die Engelse kultuur het ons “ladies first”, terwyl die Afrika mens eerder sou wou hê die man voor moet loop om die vrou te beskerm. So het elke kultuur sy musiek, sy ritmes, sy danse wat opsigself nie noodwendig verkeerd is nie. Hoeveel pragtige spreukwoorde is net nie in eie taal opgesluit nie, wat daarvan getuig dat God in sy algemene genade sy lig ook daar laat skyn het by wyse van pragtige spreuke en insigte om orde en gesag te handhaaf. Selfs van die mees anti-Christelike regering wat daar ooit was skryf Paulus in Romeine 13: “Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.” Kultureel is daar baie mooi goed wat ‘n mens van elke volk kan waardeer, maar ongelukkig lê tussen hierdie kulturele mooi dinge ook okkultiese praktyke verskuil waarvan elke volk hulle voor God moet bekeer. |
| Vele het al gekom met die vraag: Wat van die Sangomas met hulle worteltjies wat hulle uitgrawe, drink jy hulle konkoksies word jy heel dikwels gesond. Is daar iets mee verkeerd? Natuurlik is daar opsigself niks daarmee verkeerd nie. Heel dikwels kry ‘n mens dít wat in die worteltjie is in ‘n meer verfynde pilvorm in die apteek. As Christene glo ons dat God in sy genade die plantemateriaal tot ons beskikking gestel het, nie net as ons voedsel nie maar ook as ons medisyne, maar sodra ek dieselfde plant wat God vir my gegee het om my hoofpyn mee te behandel gebruik teen God se bedoeling in en dit dan om my nek hang of by my deurpos gaan begrawe om my teen bose geeste of onheile te beskerm, beweeg ek van kultuur oor na kultus toe. Dit is wat hierdie toordokters so gevaarlik maak, want by hierdie natuurlike medisyne wat God aan ons gegee het, het hulle in baie gevalle ‘n okkultiese dimensie gaan byvoeg om buite God om op geskape dinge te vertrou in die plek van die Skepper. Kultus gaan dan altyd gepaard met vrees. Kom jy sekere rituele nie streng na nie kan sekere onheile jou tref. So het menige kultusleier ‘n geestelike houvas op mense rondom hom. |
| Die San mense het ‘n pragtige kultuur, maar ongelukkig ook baie kultiese bygelowe wat ‘n dempende of stremmende invloed op hulle uitoefen, wat dit onmoontlik maak om hulle kultuur ten volle tot eer van Christus uit te leef. Menige antropoloog het ‘n romantiese idee van die Sanmense en wil geen onderskeid tref tussen kultus en kultuur nie. Vir hulle is dit een mooi pragtige erfenis. Vir die antropoloog wat ons hier kom besoek het, het ek die dag gesê: “Terwyl jy daar agter jou lessenaar sit en die pragtigste boeke skryf, begrawe ek hulle met trane in my oë as gevolg van bygelowe wat julle wil bewaar tot hulle ondergang. Terwyl julle pragtige foto’s neem van die “healing dance” rondom die vuur, sit ons met die harde werklikheid daardie selfde dans nie tuberkulose, malaria, vigs ensomeer kan genees nie. Baie mense is begrawe omdat hulle mediese behandeling geweier het en hulle slegs verlaat het op die danse. Sou hulle voor die koms van die Evangelie genesing ontvang het by wyse van hierdie danse, was dit niemand anders nie as die Here wat by wyse van sy algemene genade hulle genadig was, nie omdat die danse iets was nie, maar omdat die Here deur sy algemene genade hulle in hulle moeilike omstandighede begenadig het. |
| Dit is ons as sendelinge se daaglikse stryd, om kultuur en kultus van mekaar te skei sodat elkeen in sy eie kultuur die knie voor Christus kan buig en kan erken dat Hy alleen Here en God is. Mag God ons die insig en wysheid daartoe verleen. U broer in Christus, Hendrik du Plessis. |