Nuus vanuit D’kar – Januarie 2021
‘n Baie bevredigende kerkraadsvergaderinig
Ons kerkraad het Dinsdag 5 Januarie vergader vir die jaarbeplanning. Die kerkraad bestaan uit Ben Soso, Sobe Nqarega, James Morris, Jim Morris, Morris Morris, Gaobolelwe Ngakayaja, Aron Johannes, Xgaiga Qhomatca, Frits Lala en Hendrik du Plessis. Afwesig: Frits en Xgaiga.
Die hoofpunt op die agenda was evangelisasie/sending. Die groot vraag is hoe ons as gemeente die Evangelie van ons Here Jesus kan uitdra na mense wat nie so bevoorreg soos ons is nie. Hier is ongeveer 2000 inwoners in D’kar, maar ons wil verder uitreik as net plaaslik. Ons het die wonderlikste boodskap in die hele wêreld om te deel, die vergewing van God in en deur sy Seun Jesus Christus. Dit kan en mag nie net tot D’kar beperk word nie. Tans reik ons uit na Bêre, Motopi en Mababe. Nader aan D’kar is plekke soos Tchabo, Groot Laagte, Oos en Wes Hanahai en Kuke.
Gaobolelwe, ons 77 jarige ‘n emirituspredikant, is nog vuur en vlam om die plase hier rondom D’kar te besoek. Hy meen solank sy gesondheid hou wil hy die Woord van die Here na mense uitdra. Hy is regtig vir my ‘n groot steunpilaar in ons gemeente. Ons benodig diesel vir ons voertuie om by mense uit te kom want dit is te ver om per fiets te ry, het ons nou-die-dag vir mekaar gesê. Een van ons kerkraadslede het met die voorstel gekom om wors te braai en te verkoop om die brandstof te kan koop. Die kerkraad deel ons sentiment en deel die roeping om die Evangelie aan mense oor te dra.
Elke ouderling het ‘n wyk en met ons huisbesoeke het ons besluit dat elke lidmaat ook sy bure moet uitnooi wanneer die ouderling of predikant daar huisbesoek doen. So betrek jy dan jou gemeentelede by evangelisasie.
‘n Ander punt op ons agenda was om verlede jaar se belydenisklas te bevestig. Dit het weens Covid-19 agterweë gebly. Dit sal so gou as moontlik moet gebeur voor daar weer inperkings kom.
Verder het ons twee datums vir nagmaal vasgemaak, 28 Februarie en 4 April (die paassondag) is voorlopig aangeteken. Daar is genoeg tyd vir die ouderlinge en diakens om huisbesoek te doen. Ek het verlede week die ouderlinge sy wykslyste op datum gebring vir 2021. Wykslyste word deur elke ouderling gebruik om sy wykslede se kerkbesoek te monitor. Sondae word elke teenwoordige lidmaat afgemerk. Wanneer die ouderling dan huisbesoek doen, weet hy presies hoe elke lidmaat se kerkbesoek is. Op die manier kan ons lidmate van nagmaal weerhou wat nooit kerk toe kom nie want as jy nie eers ‘n dors het na die Woord van die Here Sondae nie, vanwaar ewe skielike die dors na wyn.
Dit is ‘n sisteem wat ek in Suid-Afrika begin het, en wat baie goed gewerk het. Toe ek dit hier wou toepas, het ek aanvanklik teenstand van die lidmate gekry. Ons verweer was dat ons die herders van die Here se skape is en watter herder tel nie sy skape nie. Dit is nie noodwendig altyd laksheid wat maak dat iemand nie kerk toe kom nie, dit kan siekte of ander probleme wees en so kan jy op hierdie manier gou agterkom waarom die lidmaat se kerkbesoek swak is. Daarna het niemand meer ‘n probleem gehad nie.
Om af te sluit, drie van ons kerkraadslede, Gaobolelwe, Aron en James stel baie belang in preek maak. Trouens dit is hulle wat die leesdienste hier behartig wanneer ek elders moet preek. Aron en James was al die jare ds. Braam le Roux se getroue Narotolke en Gaobolelwe wat Tswana aanbetref. Ek het voorgestel dat ek hulle sal oplei. Ons beplan om saam die boek van James Braga deur te werk, “How to Prepare Bible Messages”. Dit is ‘n kostelike boek, met praktiese voorbeelde van hoe ‘n Skrifgefundeerde preek of Bybelstudie moet wees al dan nie. James Braga was ‘n sendeling in Sjina en daarna ‘n professor by die Multnoma School of the Bible. Die eerste druk was in 1969 en daarna is die boek ses keer hersien en herdruk. Ek is besig om die boek in Tswana te vertaal en daarna natuurlik in Naro. Gister wou hulle angstig by my weet wanneer ons nou gaan begin. Die reëling is, nadat ek ‘n hoofstuk vertaal het, werk ons dit saam deur.
Ek het aan hulle verduidelik dat Bybelstudie voorbereiding en preekmaak ‘n kuns is soos kos maak. Jy kan al die bestandele van ‘n resep voor jou hê en almal eet langtand, maar met die minste bestandele tot jou beskikking kan jy heerlike kos voorberei. Dit is ‘n fyn kuns om die kos van die Here uit elke hoofstuk in die Bybel so voor te berei dat jy die gemeente se aptyt al hoe meer en meer opwek.
Om op te som:
Ons beplaning vir hierdie eerste deel van die jaar is soos volg:
- Sending en Evangelisasie-uitreike: Motopi, Mababe, Bere en hier rondom D’kar.
- Belydenisaflegging
van 2020 se belydenisklas.
- Sondag word dit afgekondig.
- Die ouderlinge moet hulle dan individueel gaan besoek.
- Daarna verskyn hulle voor die kerkraad en word hulle ondervra.
- Vanjaar se belydenisklas wat aan die einde van 2021 belydenis van geloof moet aflê: Maandae word hulle deur Gaobolelwe onderrig en Dinsdae deur myself, tussen 5 en 6 namiddag.
- Huisbesoeke: Gemeentelede word betrek deur hulle bure oor te nooi.
- Nagmaal: 28 Februarie.
- Paasnaweek, 2-4 April: erediens Vrydagaand, Bybelstudie Saterdagoggend, koorsang Saterdagaand en nagmaal Sondagoggend.
Ons vra u voorbidding en ondersteuning in hierdie verband. Ons waardeer dit opreg.
U broer in Christus,
Hendrik du Plessis.