Ds Hendrik Du Plessis
Voorbereidingsdiens
‘n Ou Boesman het op ‘n keer vir my gesê: “Dominee, as jy ons tot ons sinne wil bring, moet jy ‘n groot klip in die water gooi sodat die troebelwater na bo kom. Almal sal duidelik hulle misnoeë bekend maak, en dan los jy hulle tot die water weer bedaar en na normaal terugkeer voordat jy die volgende klip ingooi. Op hierdie manier sal jy ons mettertyd oorhaal na jou standpunt.”
Dit het ek nou met Sondag se erediens beleef. Die ouderlinge is al die afgelope maand besig met huisbesoeke en van tyd tot tyd word probleemgevalle met my bespreek en dan ook versoeke: “Dominee, wil jy nie tog vir ons hier- of daaroor preek nie. Hierdie saak is nog by baie onduidelik, of hieroor heers daar nog onsekerheid.” Een van die ouderlinge het by ‘n lidmaat gaan huisbesoek doen en gesien dat daar toutjies om haar gewrigte en enkels gebind is. Toe hy haar daaroor uitvra het sy erken dat sy ‘n geloofsgeneesheer hier in D’kar besoek het en dat dit hy is wat die toutjies om haar gewrigte gebind het. Sy voel nie te wel nie en het besluit om hom te besoek. Ons almal ken die spesifieke geloofsgeneser en sy “kerk” hier in D’kar. Hy behoort aan die Saint Hebrew Apostelic Church. Baie van die Boesmans wat een of ander geestelike of gesondheidsprobleem het gaan sien hom dikwels. Ek het al gesien hoe mense in ‘n ry staan om asynwater te drink en vas glo dat dit hulle van hulle probleme sal bevry.

So het dit gebeur dat ek Sondag uit Jeremia 13 gepreek het. Jeremia 13 is juis die verskoning onder hierdie geloofsgenesers waarom hulle mense met toutjies om hulle gewrigte bind. Met die begrafnis nou onlangs te Tchabo, in my vorige verslag, was Jeremia 13 die verskoning. Of hulle al ooit Jeremia 13 gelees het weet ek nie, maar hulle staan by Jeremia 13. Jeremia het dit gedoen, en daarom doen hulle dit ook, is hulle verweer. Voor die diens het een van die ouderlinge my gevra om tog reguit te praat. “Met hierdie mense help dit nie om draaie te loop nie,” was sy woorde. Jeremia 13 was op die spyskaart en met Jeremia 13 kan jy nie draaie loop nie.
Jeremia 13:1-11
“1So het die HERE vir my gesê: Gaan koop vir jou ‘n linnegord en bind dit om jou heupe; maar laat dit nie in die water kom nie.
2En ek het die gord gekoop volgens die woord van die HERE en dit om my heupe gebind.
3Toe het die woord van die HERE vir die tweede keer tot my gekom en gesê:
4Neem die gord wat jy gekoop het, wat om jou heupe is, en maak klaar, gaan na die Eufraat en steek dit daar weg in ‘n klipskeur.
5Daarop het ek gegaan en dit weggesteek by die Eufraat, soos die HERE my beveel het.
6En ná verloop van baie dae het die HERE vir my gesê: Maak klaar, gaan na die Eufraat en haal die gord daarvandaan wat Ek jou beveel het om daar weg te steek.
7Daarop het ek na die Eufraat gegaan en gegrawe en die gord geneem van die plek af waar ek dit weggesteek het; en kyk, die gord het bederf, dit was waardeloos.
8Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
9So spreek die HERE: So sal Ek laat bederwe die hoogmoed van Juda en dié van Jerusalem, wat so groot is.
10Hierdie goddelose volk wat weier om na my woorde te luister, wat wandel in die verharding van hulle hart en agter ander gode aan loop om hulle te dien en hul daarvoor neer te buig—hulle moet word soos hierdie gord wat waardeloos is.
11Want soos die gord kleef aan die heupe van ‘n man, so het Ek die hele huis van Israel en die hele huis van Juda aan My laat klewe, spreek die HERE, om vir My te wees ‘n volk en ‘n roem en ‘n lof en ‘n sieraad; maar hulle het nie geluister nie.”
In my verduideliking was dit duidelik dat hierdie linnegord om Jeremia se heupe alles behalwe voorspoed of seën afbeeld. Dit is ‘n afbeelding van die Here se toorn oor Israel en Juda. Die eerste opdrag aan Jeremia was dat die linnegord nie in water mag kom nie. Hierdie mense in D’kar bad met hulle toutjies aan. Hulle haal dit nie af wanneer hulle bad nie. Op hierdie punt wyk hulle al klaar af van die opdrag in Jeremia 13. Daarna moes Jeremia die linnegord om sy heupe afhaal en dit in ‘n skeur by die Eufraat gaan wegsteek, volgens die opdrag van die Here. Na verloop van baie dae kom die opdrag weer tot Jeremia: “Maak klaar, gaan na die Eufraat en haal die gord daarvandaan wat Ek jou beveel het om daar weg te steek.” Daarna het Jeremia die linnegord gaan opgrawe en bemerk dat die gord bederf het en waardeloos is. Jy kan nou niks meer daarmee doen nie. As jy aan hom vat verbrokkel dit. Daarna het die woord van die Here tot Jeremia gekom met die ontstellende woorde: “So sal Ek laat bederwe die hoogmoed van Juda en dié van Jerusalem, wat so groot is. 10Hierdie goddelose volk wat weier om na my woorde te luister, wat wandel in die verharding van hulle hart en agter ander gode aan loop om hulle te dien en hul daarvoor neer te buig—hulle moet word soos hierdie gord wat waardeloos is. 11Want soos die gord kleef aan die heupe van ‘n man, so het Ek die hele huis van Israel en die hele huis van Juda aan My laat klewe, spreek die HERE, om vir My te wees ‘n volk en ‘n roem en ‘n lof en ‘n sieraad; maar hulle het nie geluister nie.” Wat die geloofsgenesers soos ‘n seën laat klink is ten diepste ‘n vloek.

In ons kerk was dit so stil jy kon ‘n spelt hoor val. Van Israel en Juda word spesifiek gesê: “wat wandel in die verharding van hulle hart en agter ander gode aan loop om hulle te dien en hul daarvoor neer te buig—hulle moet word soos hierdie gord wat waardeloos is.” Vandag word ons aan God gebind deur die soenverdienste van ons Here Jesus Christus, maar as ek by die sangomas of geloofsgenesers of by die bygelowe van my kultuur iets daaraan wil byvoeg, maak ek die band tussen my en God in Christus Jesus waardeloos. As daar in my kultuur sekere rituele is wat ek moet nakom om as’t ware die guns van God of die voorvaders of wie ookal te verdien kom dit neer op ‘n verbreking van die verbond of band wat daar tussen my en God is, omdat daar slegs een is wat ons aan God kan bind en dit is ons Here Jesus Christus. Sonder Hom is ons bestem vir die ewige verdoemenis. ‘n Eenvoudige beeld wat ek gebruik het is: As jy vir iemand koffie maak en jy wyk af van die resep, maak jy nie meer koffie nie. Sou jy sout, peper, tee, grond of wat ookal byvoeg, maak jy nie meer koffie nie, al lyk dit hoe mooi. Dit is jou eie brousel. So moet ons ook nie aan God se resep vir ons redding torring nie. As ons dit doen, is dit op sy beste ‘n vloek en nie ‘n seën nie. Volgende week gaan ons deur die sakrament van die nagmaal ons eenheid met God beleef en bely. Moet tog nie met jou toutjies hier kom aansit nie, want dan gaan jy ‘n oordeel oor jouself drink.
Ná die diens in die konsistorie voor die afsluiting hoor ek iemand baie ongeduldig na my roep: “Jy moet my kom sien, jy moet my kom sien. Ek soek jou by my huis.” Dit was toe niemand anders nie as die vrou van wie die ouderling my vertel het, by wie hy huisbesoek gedoen het – die vrou met die geloofsgeneser se toutjies. Ek en die ouderling het toe besluit om haar na die diens te gaan besoek. Die yster moet jy slaan terwyl hy warm is. Daar gekom was sy duidelik ontsteld. Dit het vir haar gevoel asof ek net vir haar gepreek het, sê sy. Wie het my van haar vertel? Ons het haar laat verstaan dat sy nie die enigste persoon met toutjies is wat daar gesit het nie en in die tweede plek is dit ‘n probleem in D’kar maar ook in Tchabo, ja orals waar hierdie geloofsgenesers hulle inwurm is dit ‘n proleem.
Ons het aan haar ons onsmaaklike ondervinding verduidelik wat ons met die begrafnis te Tchabo gehad het toe hierdie geloofsgenesers juis Jeremia 13 gebruik het om hulle toutjies te regverdig. Die geloofsgeneser daar het Jeremia 13 genoem sonder om die hoofstuk te verklaar. Dit is toe dat ek besluit het om een of ander tyd daaroor te preek sodat die Skrif self aan die woord kan kom. Op pad terug vanaf Tchabo het ons genoeg tyd in die bakkie gehad om daaroor te gesels en die hoofstuk te bespreek. Die ouderling het ondanks die geskud in die bakkie die gedeelte kon lees. Sy is dus nie die rede waarom ek vanoggend daaroor gepreek het nie, maar deel van die rede.
Sy wou toe weet of sy die toutjies maar kan aanlos en dit sien as bloot versiering. Ek het geantwoord dat sy dadelik die toutjies moet afsny as dit deur ‘n geloofsgeneser aangesit is. As dit bloot versiering is, haal dit af, want dit is slegte smaak. Wie bad en loop jaar in en jaar uit met dieselfde versiering, en buitendien wie behalwe ‘n dwaas sal dit sien as versiering. Almal hier in D’kar weet wie die oorsprong van sulke toutjies is, en wanneer ons die eenheid in en deur ons Here Jesus Christus Sondag wil vier en bely, is dit baie beslis nie die plek waar ons daardie toutjies wil sien nie, en as sy nie kans sien om dit af te haal nie, het ons nie ‘n ander keuse nie as om te glo dat sy nog daaraan glo. Ek en die ouderling is toe daar weg en was hy baie dankbaar oor ons besoek aan haar. Dit is een van sy probleemlidmate in sy wyk. Ons was oortuig daarvan dat sy nou baie stof tot nadenke het.
Om af te sluit, dit was beslis ‘n groot klip wat die water in ons gemeente vertroebel het. Ons vra die voorbidding van een en elk vir ons gemeente, maar ook dat die Here die werk van die bose hier sal verbreek en ‘n pad vir ons oop sal maak vir die Evangelie. Hier is nog so baie mense wat glo aan ‘n Christus plus evangelie. Christus ja, maar jy moet nog dit of dat doen. Dit was Paulus se stryd in die Nuwe Testament, Christus plus die besnydenis. As jy sy brief aan die Galasiërs bestudeer is dit Christus plus allerhande rituele. Dit is nie dat hulle Christus verwerp nie, maar dat hulle iets byvoeg. Galasiërs 4:10: “Julle neem dae en maande en tye en jare waar.” In vers 11 sê hy: “Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het.” In vers 9 noem hy dit “die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien?” In ons geval hier, maar ook oor die res van Botswana het baie mense geen probleem met Christus nie, maar jou kulturele seremonies soos offers en behangsels moet jy nie prys gee nie. Ons kan dit tereg noem, ‘n tevergeefse Christendom.
U broeder in Christus,
Hendrik du Plessis