Ds Hendrik Du Plessis
Volgens die inperkingsreëls en regulasies van Botswana was alle drankverkope steeds verbode, maar gelukkig het ons nog ‘n bottel Old Brown Cherry van die vorige nagmaal gehad. Deur die week kon al die ouderlinge rapporteer oor die lidmate in hulle wyke. Dit was ‘n bedrywige week met drie begrafnisse en ‘n ouderlinge vergadering wat ons iewers moes inpas. Een van die oorledenes was ‘n lidmaat, ‘n vrou, wat net skielik griepsimptome ontwikkel het en ‘n paar dae daarna oorlede is. Haar man wat ‘n paar jaar gelede ‘n beroerte-aanval oorleef het en nog gedeeltelik verlam is, het ook griepsimptome gehad maar het oorleef. Sy het negatief getoets vir Covid-19.
Gantsi-distrik was lank gespaar van die COVID-19 pandemie, maar die afgelope tyd het getalle drasties toegeneem. Op 2 Maart 2021 was daar ‘n totaal van 821 gevalle waarvan 144 aktief is met 9 sterfgevalle. Die gesondheidsdienste is geweldig onder druk. Teen 5 Maart 2021 was daar 30 537 gevalle in Botswana met 413 sterfgevalle en 1166 daaglikse gevalle aangemeld.
Tydens die nagmaalsdiens het die Skriflesing gehandel oor die Fariseër en die tollenaar en die gesindheid wat by ‘n Christen pas om geregverdig huiswaarts te keer. Op ‘n eenvoudige manier het ek die twee mense aan hulle voorgehou, wie die Fariseërs was en die tollenaars in daardie tyd en hoe jou gevoel van kredietwaardigheid of waardigheid jou kan bring tot een groot selfbedrog en daarteenoor die diepe ootmoed van iemand wat besef hoe groot sy sonde en ellende is. ‘n Enkele sinnetjie was genoeg om hom in ere voor God te stel: “o God, wees my, sondaar, genadig!”, teenoor die selfvoldaanheid van die Fariseër.
Voor die bediening van die nagmaal het ons dit weereens duidelik gestel dat enigiemand wat nog geloofsgeneser- of sangomatoutjies of enige ander behangsel van watter biskop, apostel of kerkvoorganger ookal aan het, ‘n oordeel oor homself sal eet en drink.

Met nagmaal word die Gereformeerde formulier in twee tale aan die gemeente voorgehou, Naro en Tswana. Hier en daar word die formulier nader verklaar vir duidelikheid. Daarna word die gemeente navore genooi vir die bediening van die nagmaal. Die gemeente staan dan voor die tafel en die kerkraad agter die tafel. Staande word hulle dan met die sakramente bedien.
Om af te sluit, ons nader nou die Paastyd wat strek oor die naweek van die 2de tot 4de April. Hopelik sal die inperkingregulasies aangepas wees teen daardie tyd. Ons innige bede is dat die Here ons sal seën in hierdie tyd dat ons aandag nie afgelei sal word nie, maar absoluut gevestig sal wees op die soenverdienste en die opstanding van ons Here Jesus Christus. Daarmee vra ons ook u voorbidding vir en in hierdie tyd.
U broeder in Christus,
Hendrik du Plessis