Ds Hendrik du Plessis
Bêre lyk soos ‘n paradys na die afgelope milde reën. Hierdie jaar was ‘n besondere jaar. Sommige plekke in hierdie deel van Botswana het al oor die 1000mm reën gehad. Orals is die panne vol en die beeste is spekvet. Die doel van ons besoek was om Bybels en Klankbybels uit te deel. Ons het al so ‘n goeie verhouding met die plaaslike mense opgebou dat ons nie meer as vreemdelinge daar aankom nie. Ons kan eerlik sê ons het goeie vriende daar wat ons ook gereeld in Gantsi, hul naaste dorp, raakloop wanneer hulle kom inkopies doen.

Met die uitdeel van die Bybels en die Klankbybels het ons waar ons ook al by hulle aangedoen het dit duidelik gestel, voordat ons dit uitdeel, wil ons eers met hulle ‘n diep geestelike gesprek voer. Vinnig het die woord die rondte gedoen dat ons Klankbybels ook uitdeel. Min van die Boesmans kan werklik lees, wat nog te sê in ‘n ander taal, dus was die belangstelling veral groot wat die Klankbybels aanbetref.

Na elke gesprek kon hulle letterlik nie wag om hulle Bybels aan te skakel nie. Dit was goed om te sien hoe hulle selfs in die middel van die dag na die Bybels luister. Waarmee hulle ookal daar in hul erf werskaf, praat die Klankbybeltjie klip hard daar in die boom vir almal om te hoor. Bêre is oorwegend Qgõo-sprekende Boesmans. Naro en Qgõo verskil van mekaar soos Tswana en Afrikaans. Baie Qgõo-mense kan wel Naro verstaan, maar bitter min Naros kan Qgõo verstaan. Nou onlangs het iemand hier plaaslik vir my ‘n Qgõo-klankbybeltjie gegee wat ons met groot vrug daar kan gebruik. Dit is egter net gedeeltes van die Bybel wat daarop is. Alhoewel die Qgõo-dialek van Ukhwi daarop nie dieselfde dialek is as die Bêre-dialek nie, is dit dieselfde taal en verstaan hulle mekaar gemaklik.

Nadat ons al die Bybels en Klankbybels uitgedeel het, het mense ver agter ons aangeloop waar ons kamp opgeslaan het om tog ‘n Bybel te bekom al was dit die geskrewe Tswana Bybel. Dit laat my so dink aan die woorde van Hosea wanneer hy in Hosea 4:6 sê: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp,”. Orals in Afrika, ook hier in Botswana is daar duisende kerkies en groeperinge met hulle kultiese bedrywighede wat onder die vaandel van kerk baie mense mislei. Alleen kennis, die ware Bybelse kennis deur die oortuigingswerk van die Heilige Gees, kan Afrika red. Nog ‘n aangrypende gedeelte wat dit nader verklaar is Jesaja 5 vers 13: “Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.” Ballingskap, hongersnood en dors was die natuurlike en logiese gevolge van ‘n gebrek aan kennis, en waar die ware kennis verwerp word sê die Here in Hosea 4:6: “omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp,”. Dit gaan dus nie net oor onkunde nie maar die verwerping van kennis, maar hier in Bêre het ons mense wat nog smag na die ware kennis.

Om af te sluit, die verspreiding van Bybels is ‘n wesenlike deel van enige sendeling se bediening, want jy deel nie net Bybels uit nie, maar jy het ook die geleentheid om met mense uit die Bybel gesprekke te voer. Die groot troos agter dit alles is, sy Woord sal nooit onverrigter sake terugkeer nie. Ek sê altyd, sendingwerk is die mees suksesvolle beroep in die wêreld, want sê die Here Jesus in Johannes 6:37: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” In Handelinge 18: 9 en 10 lees ons: “9En die Here het deur ‘n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; 10want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.” Mag dit ons motivering wees om die Woord van die Here uit te dra orals waar ons gaan, al lyk dit so gering soos die hofdienaar van Ethiopië. As ‘n ontmande op sy reis terug Afrika toe sou ons sê Filippus het beter en meer mense om te bereik as om sy tyd te mors op enkelinge, maar deur die enkeling het die eerste kerk in Afrika tot stand gekom. Bid asseblief vir ons en ondersteun ons dat die werk van die Here in en deur ons ryklik geseën sal word.
U broer in Christus, Hendrik du Plessis.