Dit was ‘n bestiering
Deur die genade van die Here was ons uitreik na Mababe en Motopi baie geslaagd. Ons het Woensdag, 9 Junie van D’Kar af vertrek. Ná ‘n groot gesukkel om ons reispermitte te kry, aangesien alle permitte nou slegs deur middel van ‘n selfoontoepassing of aanlyn verkry kan word, en die aflaai van die toepassing geblokkeer is, het ons uiteindelik reggekom om elkeen se permit te kry en na sy selfoon te stuur. In Maun gekom kon ons vinnig so tussen die Tswana-klasse deur vir tannie Dorette groet. Die oponthoud met die permitte het veroorsaak dat ons eers laat na Mababe kon vertrek.

Net voor Mababe het dit sterk begin donker word. By die eerste poel water gekom, tref ons ‘n dubbelkajuit Hilux-bakkie aan wat in die modder vassit. ‘n Man het dadelik met sy flits op ons geskyn om ons aandag te trek. Hy was bang ons gaan verby ry sonder om hulle te help. Daarna het die gesukkel begin. Ons het alles probeer om hulle daaruit te trek, maar sy tou het elke keer gebreek. Dit was duidelik die bakkie het op sy pens in die modder gaan lê. Die wiele het die heel tyd in die rondte gespin. Ons het toe besluit om in Mababe iewers ‘n ketting te gaan leen. In Mababe aangekom kon ons ‘n ketting kry en is ons toe weer terug na die mense toe. Dit was ‘n Finse egpaar en met ons gebroke Engels kon ons mekaar redelik goed verstaan. Ons het gespook en gespartel tot om en by 11 uur die nag sonder enige sukses. Die arme man het alles probeer. As ‘n bakkie eers op sy pens in die modder gaan lê het, help takke onder die wiele nie meer nie. Ons het toe maar die aftog geblaas. Ons het belowe om die volgende oggend weer te gaan help. Dit was vir sy vrou was dit ‘n nagmerrie ondervinding, want orals was daar seekoeie in die poele rondom hulle. Die hiënas was net so lastig.

Deur die loop van die nag het daar ‘n groot vragmotor in Mababe aangekom en in ons stilligheid het ons gehoop hulle kon die Finne help, maar die volgende oggend toe ons daar kom was hulle nog steeds daar. Later het daar Suid-Afrikaanse toeriste aangekom. Met hulle 4×4 voertuig kon hul die bakkie nie eers geroer kry nie. Ons het later ‘n ruskamp daar naby se nommer in die hande gekry en hulle toe geskakel om ons te kom help. Nie lank daarna nie het hulle daar opgedaag met hulle Toyota Land Cruiser en is twee voertuie ingespan om die toeriste se bakkie uit die modderpoel van agter uit te trek. Hulle was op pad Khwai toe maar het verdwaal en hul rigting waarheen hulle gery het was Maun se kant toe. Toe besef ons dat die poel water in die pad is so bedrieglik en vals is, dat as hulle nie daarin vasgeval het nie, ons daarin sou beland het, en wou ons dit sien as ‘n bestiering siende dat hulle eintlik nie daar moes gewees het nie. Wat die skade aan die onderstel van hulle voertuig (rent-a-car), was sal ons nie weet nie, maar toe hulle uiteindelik uitgetrek is, het die water in strome by hulle dubbelkajuit uitgevloei. Met trane van dankbaarheid in die vrou se oë het ons hulle gegroet.
Kort agtergrondskets
Mababe is ‘n nedersetting oos van Maun teenaan die Moremi wildtuin. Ons het na die mense toe begin uitreik teen die einde van 2017. Dit het in kort so begin: Elke jaar in Augustusmaand was hier so ongeveer 20 kilometer van D’kar af ‘n dansfees op ‘n wildsplaas gehou om die Boesmans van Suidelike Afrika aan mekaar bloot te stel. Van heinde en verre word hulle aangery, en dan word daar deur die loop van die naweek om die beurt gedans. Die wildsplaas is dan ‘n miernes van bedrywighede soos wat elke Boesmangroep en –taal hulle kultuur en danse tentoonstel. Tydens die bedrywighede het ek iemand ontmoet met wie ek gou bevriend geraak het. Ons het lekker gesels en toe gegroet. So tussen die gesels deur het hy my uitgenooi om vir hom te gaan kuier. Hy wou graag vir my wys hoe mooi sy omgewing is. Ek het hom toe my selfoonnommer gegee waarna hy my weekliks geskakel het. Met elke gesprek wou hy weet wanneer ons vir hom gaan kuier. Ek en ‘n ouderling het toe besluit om te gaan kyk. Dit kon ‘n bedieningspunt word. Dit het baie na ‘n Masedoniese roep gevoel.
Sedertdien het ons van tyd tot tyd gaan kuier, Bybelstudies gehou en by mense gekuier. Baie mense verkeer onder die wanindruk dat alles van dag een af mooi in plek val met so ‘n bedieningspunt. Jy het dan dadelik ‘n katkisasieklas of ‘n Sondagskoolklas en lidmate wat inskryf. Ongelukkig is die teendeel waar. Wanneer jy by so ‘n plek kom, is almal skepties oor jou koms, behalwe natuurlik die een wat jou genooi het, hulle wonder waarom jy daar is. As ‘n persoon van buite af probeer jy maar met almal so vriendelik as moontlik wees. Hier en daar lag iemand vir jou grappie, veral as jy bekend is met hulle sin vir humor. Hulle is styf en hulle kyk jou uit. So tussen die besoeke deur probeer jy die Evangelie inwerk en hulle hoor jy is die dominee (moruti) van D’kar. Wanneer jy weggaan voel jy baie onvergenoegd.

Na ‘n paar maande gaan kuier jy maar weer, natuurlik met die doel om eers vriende te maak. Jy deel Bybels uit en hulle is dankbaar. Jy het geleentheid om te gesels oor die Bybel. Hulle luister na jou en niks verder nie. Jy gaan sit saam met hulle om die bierpotte en gesels oor ditjies en datjies tot hulle hoor jy is ‘n “moruti” en dan vra hulle vrae. Hoe dikwels het ons net nie daar om die bierpotte gesit en gesels nie. Daar het mense meer vrymoedigheid om vrae te vra. Dit kom spontaan. Ek het baie keer my dit probeer voorstel hoe die Here Jesus dieselfde gedoen het. Dit is natuurlik waarom die Fariseërs Hom ‘n vraat en ‘n wynsuiper genoem het. Op ‘n keer het iemand die begeerte uitgespreek om drank vaarwel toe te roep. Ek het hom geantwoord dat hy dit nie op sy eie sal regkry nie maar dat ek van Iemand weet wat hom kan help. Dit word dan die invalshoek om die Here Jesus as Persoon aan hom bekend te stel. Dit is dan asof hy met meer belangstelling luister, veral nou dat hy met sy probleem vorendag gekom het.
Met elke uitreik verminder die agterdog en jy bereik ‘n stadium dat hulle nie net blote kennisse is nie. Hulle het name en hulle word vriende. Hulle begin jou te mis. As jy daar kom soek hulle jou op. Die beste voorbeeld was natuurlik ons Here Jesus vir wie sy dissipels meer as dissipels was. Hulle was sy vriende. Sendingwerk is allermins om na ‘n plek toe te gaan en vir hulle te gaan preek, of om te gaan kerk hou. Jy gaan in die eerste plek om vriende te maak, ‘n verhouding met hulle op te bou. Hulle begin jou later vertrou met hulle diepste probleme. Hulle begin jou bel. Die kinders wil met jou praat oor die foon. Jy word hulle geestelike ouer. Dit is nie iets wat in ‘n enkele uitreik gebeur nie. Dit neem jare.
Dit is nie om ‘n paar mense vinnig onder ‘n boom bymekaar te maak en vir hulle ‘n klas te gee of kerk te hou nie. Jou besoek aan hulle is een groot lewensklas en elke gesprek ‘n preekstoel. Jou diepste doel met dit alles is om elkeen van hulle te bring tot ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus en niks anders nie. Doop, kerklidmaatskap en nagmaal vloei natuurlik daaruit voort, maar moenie die kar voor die perde inspan deur so gou as moontlik kits-Christene te maak ter wille van getalle nie. Dit is baie maklik om 100 mense onder ‘n boom bymekaar te maak en vir hulle te sê dat hulle nou lidmate van jou demoninasie is. So het baie sinkritistiese kerke ontstaan.
Met ons uitreik verlede week het ek en my ouderling baie rede gehad tot dankbaarheid. Toe ons daar kom was die mense besonder bly om ons te sien. My ouderling het Saterdag aan my toe ons terugry opgemerk dat ‘n mens kan nie glo dat dit dieselfde mense is wat ons ‘n paar jaar gelede hier ontmoet het nie. Dit voel soos gister toe almal ons nog met agterdog bejeën het, maar nou is hulle ons vriende. Ons het vir hulle Bybelstudies in die oopte gehou en almal was gretig en dankbaar oor die klankbybeltjies. Ons kon indringende gesprekke met hulle voer. Wat my veral beïndruk het was twee mense in die groep. Een van hulle is die plaaslike polisieman, in sy dertigs. Voorheen was hy stil en teruggetrokke, maar noudat ons hom van nader leer ken het, het hy al hoe meer ontdooi, soveel so dat hy spontaan na my toe gekom en gevra het of ek nie vir hom via whatsapp Bybelstudiemateriaal kan aanstuur nie. Hy sal graag vir die groep Bybelstudies wil aanbied. Hy is ernstig daaroor en wil die Bybelstudiegroep lewendig hou. Hy wil met elke byeenkoms ‘n foto oor whatsapp stuur. Van my kant af het ek my onderneming gegee om vir hom van tyd tot tyd Bybelstudies aan te stuur. Op die foto sit hy heel agter regs.
Dan is daar nog ‘n man wat ek ontmoet het. Ná die Bybelstudie het ek van hom verneem dat hy ‘n graad het in sosiale wetenskappe aan die Universiteit van Botswana. Ons het gepraat oor hulle Boesmantaal daar wat besig is om uit te sterf. Nog net die ouer garde praat die taal. Die kinders praat met mekaar Tswana. Dit is eintlik tragies. Ek weet nie wie hulle oortuig het dat Tswana die taal van die toekoms is nie. Van toe af het hulle met hulle kinders Tswana begin praat en geglo hulle sal dan ook beter vaar in die skole.
Hoe anders is dit net nie hier in D’kar nie. Nêrens sal jy Boesmankinders hoor Tswana praat nie. Al sou ‘n Tswana met hulle Tswana praat sal hulle hom in Boesman (Naro) terug antwoord. Die Boesmantaal wat hulle daar by Mababe praat word Tsiga genoem. Dit is ‘n Khóè-verwante taal soos Naro, en verskil van Naro soos Duits van Afrikaans. Terwyl ons gesels en hy sy kommer met my deel vra ek hom of hy weet wat die beste behoud van ‘n taal is. Eenvoudig die Evangelie van Jesus Christus. Onmiddellik het hy met my saamgestem aangesien hy ook ‘n uitgesproke Christen is.
Ek hou toe aan hom D’kar as voorbeeld voor. Ons het ‘n Nuwe Testament in Naro. Met die Ou Testament is al ver gevorder. Daarmee saam moes baie dinge in plek val, ‘n ortografie, woordeboek ensomeer, maar bo alles waar Jesus Christus verkondig word, word mense vry om hulleself in Christus te wees. Dit alles het in plek geval na jare se Evangelieverkondiging. Ons het nou al so ver gevorder dat die regering vir Naro die groen lig gegee het om in die skool as vak aangebied te word. Die afgelope paar jaar al het die regering Boesmantolke in die skole aangestel om die kinders te help om die werk te verstaan.
Dit is nog nie te laat om te begin nie. Ek het voorgestel dat hy met die ‘Naro Language Team’ in D’kar kontak maak. Aangesien Tsiga ook ‘n Khóètaal is, behoort die ortografie nie veel van mekaar te verskil van Naro s’n nie. Die volgende môre het ek hom weer gaan opsoek. Ek het hom gevra of hy nie dalk belangstel om as predikant opgelei te word nie, want ons het ‘n kerk in Suid-Afrika wat bereid is om vir iemand se studies te betaal. Hy stel egter meer in Bybelvertaling belang en dit sy wens is om die Bybel in sy taal te vertaal. Daarna het hy gesê dat hy van tyd tot tyd Gaborone toe gaan, maar wanneer hy in Mababe is, is hy meer as bereid om die Bybelstudies aan te bied. Ek moet net vir hom die Bybelstudiemateriaal stuur, en hy het my sy eposadres gegee.
Die volgende oggend ná ons oggendbybelstudie het ons vertrek na Motopi toe. Die mense in Mababe was baiedankbaar oor hulle klankbybeltjies. Een van hulle het met groot opgewondenheid vertel waarna hy gister geluister het. Ons het hulle aangemoedig om Genesis en Johannes deur te luister. As ons weer kom gaan ons daaroor praat. Hulle kan maar oor en oor na die boeke luister.
In Maun het tannie Dorette aangebied dat ons die aand daar by haar oor te slaap, maar my ouderling, Frits en een van ons lidmate, Abdul, het gevoel om eerder op die kerkerf in Motopi te gaan kamp opslaan.

Die Sondag het ek die diens daar waarneem en die woorde van Dawid in Psalm 37 het hulle nogal baie aangespreek. In Psalm 37:25 sê Dawid: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” Dit het ons voor die vraag gebring: Wat beteken regverdig wees? Dawid self het baie sondes gehad, en niemand is voor God regverdig nie. In Psalm 51:7 erken Dawid self dat hy in sondes ontvang en gebore is. Wanneer jy regverdig is staan jy tog sonder blaam voor die Here. Jou sondes is dan vergewe. Hoe was dit moontlik in daardie tyd? Hoe kon ‘n mens regverdig voor God staan? In die Ou Testament moes jy in jou diepe berou soos Dawid ‘n offer vir die Here bring. Dit is al hoe jy jou saak met die Here kon regmaak om as regverdige voor Hom te kon staan. Berou oor jou sondes was van kardinale belang. Psalm 51:19 sê Dawid: “Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” Dan breek die tyd van die Nuwe Testament aan en berou is nogsteeds van kardinale belang, en al die offers van die Ou Testament word dan rigtingwysers na die finale offer van ons Here Jesus Christus. Die voorbeeld van die tollenaar en die Fariseër is aan hulle voorgehou en die tollenaar wat in diepe berou dat die Here hom as sondaar genadig sal wees. Na sy gebed staan daar kon hy as regverdige huis toe stap. Sy saak met die Here was reg. Hy was regverdig. Van so ‘n regverdige belowe die Here dan in Psalm 37 dat Hy hom nooit sal verlaat nie. Die Tswanavertaling lui, dat selfs sy kinders nie vir kos sal bedel nie. Dit het ons almal voor die vraag gebring: “Hoe staan ons voor die Here? Is ons ellende nie dalk te wyte aan die feit dat die Here ons nie volgens Psalm 37:25 as regverdiges kan ag nie?” Ons maak die regte kerklike geluide, gedoop, belydenis van geloof afgelê, gaan gereeld kerk toe, maar ons het nog nooit werklik in diepe berou oor ons sondes na die Here toe gegaan nie. Baie eenvoudig het ek dit aan hulle verduidelik. Ná die erediens het ‘n vrou haar waardering uitgespreek en gesê dat sy baie geleer het uit die preek.
Sondagaand het Hendrik, ‘n plaaslike inwoner van Motopi en sy vrou vir ons kom kuier. Vir jare het hy nie meer kerk toe gekom nie. Op ‘n stadium het ons hom oorweeg vir ouderling, maar ongelukkig het die verhouding tussen hom en sy vorige vrou skipbreuk gely. Hy is nou weer van voorneme om terug te kom kerk toe.
Na ‘n bedrywige week het ons die volgende dag die pad terug huis toe aangedurf. Ons vurige gebed is dat die Here Mababe en Motopi sal seën as ‘n lig in daardie donker deel van Botswana. My grootste uitdaging tans is nie net om hulle te besoek nie, maar ook om aan hulle leermateriaal te verskaf wat hulle kan gebruik al is ek nie daar nie.
Groete en seënwense,
Hendrik du Plessis.