Ds Hendrik Du Plessis
Vir die wat nie weet nie, Bere is ongeveer 200 kilometer van D’kar af. Gantsi is 40 km van D’kar af. Die afdraai na Bere op die A1 is 134 kilometer van Gantsi af. Bere is 15 kilometer van die afdraai af waar dit grondpad is.
Bere is ‘n gemeenskap met baie mense vasgevang in die greep van alkohol. As jy sendingwerk wil doen onder mense wat nie baie probleme het nie, goed geskoold is, ambisieus en met baie potensiaal, moet jy nie Bere toe gaan nie. Baie mense doen stukwerk vir die regering. Hulle noem dit “drought”. Hulle word gehuur om vullis op te tel en takies vir die regering te verrig. Net ‘n beperkte groep mense kan maandeliks gehuur word. As jy hierdie maand in diens was, kan jy nie volgende maand weer in diens geneem word nie. Dan moet daar vir iemand anders ‘n geleentheid gegee word. Hulle werk vannaf 8 uur soggens tot een uur namiddag. Die betaling is P500 per maand. Maar o wee, wanneer hulle hulle geld kry is dit ‘n uitgemaakte saak waar hulle dit gaan spandeer. Dit is baie tragies. Hierdie regeringshulp word in alle nedersettings en dorpies in Botswana aangetref.

Toe ons Donderdagmiddag laat daar aankom, het ons hier en daar bekendes gaan groet. Een van hulle is die plaaslike hoofman wat seker nou al ‘n jaar lank die pos beklee. Baie gou wou een van die ander weet of die klankbybeltjies al gekom het. Ons het daarna so om en by ‘n kilometer buite die dorp gaan kamp opslaan. Die volgende oggend toe ons so met die pad afkyk, kom daar ‘n groep mense aangestap om van die eerstes te wees om so ‘n Bybeltjie te ontvang. My antwoord aan hulle was om 4 uur weer te kom, want dan beplan ek ‘n groot Bybelstudie. Hulle beswaar was dat die Bybeltjies te min gaan wees en hulle wat nou eerste gekom het weer agter in die ry gaan wees soos die vorige keer. My voorstel aan hulle was dat ek ‘n groepsfoto van hulle sal neem sodat hulle die middag na ons Bybelstudie voorkeur kan geniet. Daarmee was hulle tevrede.
Die middag hier teen vier uur het die mense aangestap gekom. Die wat die oggend daar was en op die foto hierbo, was eenkant laat staan. Geen kansvatters was toegelaat nie.

Toe almal min of meer teenwoordig was kon ons met die Bybelstudie begin. Natuurlik kon nie almal Bybels kry nie, maar hulle wou gretig weet wanneer ons weer kom. Ná die tyd het almal daar weggestap met hulle Bybeltjies aangeskakel, en was hulle opgewonde en dankbaar om die Evangelie in hulle eie taal te hoor.
Op die volgende foto kan gesien word hoe daar nog steeds mense uit die bosse aangestap kom.
Die volgende dag was dit wonderlik om mense te sien wat na hulle Bybelradiotjies luister. Een van die hoofmanne kon vir my in detail vertel waarna hy geluister het. Hy was besig om na die Qgõo weergawe van Lukas te luister. Hulle luister daarna asof dit die eerste keer is dat hulle die Bybel hoor. Tog is dit so, want as jy nie kan lees nie wie sal vir jou lees, of wie sal elke keer tyd hê om vir jou te lees.
Na baie besoeke en gesprekke kon ons Maandag vergenoegd daar weg ry. Ons kon die Woord van die Here in hulle midde agterlaat, en die Woord van die Here is lewendig en kragtig om die hardste hart te laat verkrummel. Waar iemand die Woord van die Here hoor, dáár werk die Heilige Gees. Ons vra u intense voorbidding vir die mense van Bere.
Ons het Bere geteiken nie omdat daar sulke mooi en pragtige mense is nie, en ook nie omdat daar soveel moontlikhede is nie maar omdat hulle drenkelinge is. Wie behalwe ‘n dwaas sal die geskree van drenkelinge verontagsaam en meer aandag gee aan hulle op die strand. Net die Evangelie van ons Here Jesus kan hulle red. Ons innige gebed is dat die Here die Evangelie daar soos ‘n lig sal laat skyn vir die Westelike deel van Botswana.
Naas die klankbybeltjies is dit my voorneme en is ek tans daarmee besig om soos met Mababe en Motopi Bybelstudies voor te berei om via slimfoon aan hulle beskikbaar te stel. Bere is bo Motopi en Mababe bevoorreg met ‘n 4G+ internetverbinding. Al drie ons hoofmanne daar het slimfone wat dit vir my baie makliker maak.
Ons vra u vir u voortdurende voorbidding vir die mense van Bere.
Groete en seënwense in Christus, Hendrik du Plessis.