Ds Hendrik du Plessis

Wanneer mense soos met die afgelope uitreik in rye aangeloop kom vir Bybels, laat dit ‘n mens dink aan die woorde van ons Here Jesus in Johannes 6:37: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” Die woord “sal” sê alles. Daar staan nie geskryf “mag dalk na my toe kom” nie. Nee, hulle “sal na My toe kom.” Dit verstaan ons veral as ons na vers 44 kyk. In vers 44 sê die Here Jesus: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” Dit maak van sendingwerk die suksesvolste beroep op aarde. Dit is ‘n 100 persent suksessyfer, omdat almal wat die Vader aan sy Seun gegee het na sy Seun toe sal kom. Dit is ononderhandelbaar. Dit is ‘n noodwendigheid. Dit sal en moet gebeur, waar jy ookal in die wêreld is. In die hele boek of Evangelie van Johannes gaan dit daaroor. Die Vader het ‘n sekere aantal mense aan sy Seun gegee, en dit is onmoontlik dat hulle verlore kan gaan, want niemand kan hulle uit sy hand of die hand van sy Vader ruk nie. In Johannes 10:27-29 sê die Here Jesus: “27My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. 28En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.”
Natuurlik is daar mense wat om die verkeerde redes na die Here Jesus toe gaan, maar hulle behoort dan nie aan die Hom nie. Dit is juis hulle met wie die Here Jesus hier in Johannes 6 praat. Gister was hulle die stille getuies van die aangrypendste wonderwerk denkbaar toe die Here Jesus die brood en vissies vermeerder het. Hulle was deel van die skare wat Hom met alle geweld koning wou maak. Met so ‘n broodkoning sal ons nooit meer honger ly nie. Ons hoef maar net agter Hom aan te loop en Hy sal die kos voorsien. Jy hoef ook dan nie weer te werk nie.
Toe die dissipels daarna na die oorkant toe vaar kon die skare duidelik sien dat die Here Jesus nie saam met hulle in die skuit geklim het nie (vers 22). Daardie nag het die Here Jesus al lopende op die see by sy dissipels aangesluit. Toe hierdie boemelaars, (verwysende na hulle met wie die Here Jesus hier in Johannes 6 vanaf vers 25 praat), die volgende dag Hom en sy dissipels nêrens sien nie, het hulle besluit om Hom aan die oorkant te gaan soek. Miskien is Hy daar. Daar gekom was hulle baie bly om Hom weer te sien (veral as jy honger is en dink aan die lekker brood van gister). Jy kan jou voorstel hoe hulle afgespreek het om Hom vriendelik te groet sodat Hy tog nie snuf in die neus kry nie. Hy moet net nie agterkom waarom hulle Hom eintlik soek nie – daardie vars brode van gister. So gesê, so gedaan. In vers 25 vra hulle dan ewe vriendelik: “Rabbi, wanneer het U hier gekom?” Op hierdie skynheiligheid het die Here Jesus onmiddellik gereageer, vers 26: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. 27Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël.” Dan probeer hulle met Hom redeneer oor Moses en die Manna in die woestyn sodat die gesprek hulle tog na die brood toe kan lei. Vers 30 en 31: “30En hulle sê vir Hom: Watter teken doen U dan, sodat ons kan sien en U glo? Wat werk U? 31Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is: Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet.” Duidelik kan jy sien waarna hulle mik, as Hy tog maar net weer daardie lekker brood van gister hier vir hulle kan optower. Dan verduidelik die Here Jesus dat dit nie Moses was nie, maar sy Vader wat die ware brood gee, naamlik Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee. Toe hulle sien dat hulle nou niks meer het om weg te steek nie, vra hulle Hom sonder om te skroom vir brood. Vers 34: “Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood.” Wat ‘n teleurstellende antwoord gee die Here Jesus toe vir hulle: “35 . . . Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” Dit bring die Here Jesus dan by vers 36 en 37: “36Maar Ek het vir julle gesê dat julle My gesien het, en tog glo julle nie. 37Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.”
Wat hulle aanbetref het hulle wel gekom, maar om totaal en al die verkeerde redes. Volgens vers 44 was hulle toe nie deur die Vader getrek nie, maar deur niks anders nie as hulle eie hongerpyne. Daarvan is daar baie voorbeelde in die sending, mense wat kerk toe kom of belangstelling toon in die Evangelie, getrek deur hulle eie motiewe, maar nie deur die Vader nie. Dit laat my dink aan ‘n staaltjie wat ek gehoor het wat hom iewers aan die kus van Afrika afgespeel het. ‘n Sendeling het Sondag vir Sondag sy kerkie stampvol gekry omdat hy na die tyd aan hulle tabak uitgedeel het. Die tabak het hy by ‘n skip gekoop wat elke Sondagoggend vroeg daar verbygevaar het. Een Sondag het die skip om een of ander rede nie sy opgewagting gemaak nie. Hy het voor die probleem te staan gekom oor hoe hy die slegte nuus aan sy gemeentelede gaan oordra. Die spesifieke oggend was die kerk soos gewoonlik weer stampvol, en besluit toe om dit voor die tyd af te kondig: “Julle almal het gesien die skip het vanoggend nie soos gewoonlik sy opwagting gemaak nie. Ek is baie jammer daaroor. Ek kon dus nie tabak koop nie.” Een ou man het toe daar agter met ‘n gebiedende stemtoon opgestaan en gesê: “Pastor, no tobacco, no church.”
Al het hulle gekom, glo hulle nie, sê die Here Jesus, want hulle is op soek na hierdie aardse brood, wat ‘n mens laat dink aan die lensiesop van Esau. Die hongerpyne van die hier en die nou moet gestil word (voorspoedsgodsdiens). Later in Johannes 6 verlaat die meeste van die Here Jesus se dissipels Hom. Hulle was op ‘n stadium 70. In Lukas 10:17 lees ons van hulle, en hier in Johannes 6 neem hulle aanstoot toe hulle hoor dat die Here Jesus se vlees geëet moet word en sy bloed gedrink moet word. In vers 55 sê die Here Jesus: “Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank.” Dit was vir hulle net een te veel, en dan sê hulle in vers 60: “Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?” Vanaf vers 64 staan daar: “Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie. Want Jesus het van die begin af geweet wie hulle was wat nie glo nie, en wie hy was wat Hom sou verraai. 65En Hy sê: Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie. 66Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie.”
Al die geld in die wêreld sou hulle nie kon oortuig om weer saam met die Here Jesus rond te beweeg nie. Hoekom nie? Om die eenvoudige rede, hulle behoort nie aan die Hom nie. Al die redenasies en die oortuigingsvermoë van die bestes onder die geleerdes sal hulle nie in hulle spore kan laat omdraai om die Here Jesus weer te volg nie. Hoekom nie? Hulle behoort nie aan die Here Jesus nie en hulle kan ook nie aan Hom behoort nie, omdat die Vader hulle nie trek en aan sy Seun gee nie. Hoe onsuksesvol was dit net nie. Omtrent al sy dissipels het Hom verlaat. Nee, inteendeel, hoe suksesvol was dit net nie, want almal wat die Vader aan Hom gegee het, het toe na Hom toe gegaan.
Nou onlangs met ons uitreik na Bere, het ons dit weereens beleef. Mense kom van ver af aangestap vir ‘n Bybel. Die reëling is, hulle kry nie ‘n Bybel alvorens die Evangelie in ‘n neutedop aan hulle verkondig word nie. So het die mense van vroeg af al daar opgedaag. Ons is skaars klaar met hierdie groep of die volgende groep daag op. Almal luister ewe aandagtig, en ‘n mens laat dit aan die Vader oor, want dit is Hy wat trek en aan sy Seun gee, en hulle sal na Hom toe kom, en Hy sal hom wat na Hom toe kom nooit uitwerp nie. Dit gebeur nie altyd ewe vinnig nie. Jy plant vandag ‘n saadjie en die Here bepaal wanneer dit sal ontkiem. Ons verneem van die kerkvader Augustinus wat vir jare lank ‘n onsedelike lewe gelei het en sy ma hom voortdurend in gebed aan die Here opgedra het, tot op ‘n bepaalde tyd deur die Here bepaal, toe hy die trekkrag van die Vader nie meer langer kon weerstaan nie. Weereens vra ons u innige voorbidding dat die Here ons die krag en die ywer sal gee om die Evangelie van ons Here Jesus Christus orals te verkondig sodat die wat aan Hom behoort deur die Vader getrek mag word.
U broer in Christus, Hendrik du Plessis.