Ds Hendrik du Plessis
Wat Professor Floor ons in die klas geleer het
Tydens my onlangse besoek aan Bere, maar ook hier in D’kar, kom die onderwerp al hoe meer onder bespreking oor waarom so baie kerke stagneer of selfs doodloop. Trouens dit was Paulus se groot stryd in sy bediening, valse leerraars en valse apostels.
Professor Floor het vir ons in die klas gevra: “Hoekom sou julle dink het Paulus die vrou met die waarsêende gees belet om verder saam met hulle te loop? Sy het mos die waarheid gepraat, nie waar nie?”
In Handelinge 16 vanaf vers 16 staan daar: “En terwyl ons op pad was na die bidplek, kom ‘n slavin met ‘n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het. 17Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê: ‘Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing.’ 18En dit het sy baie dae lank gedoen; maar baie ontevrede daaroor, het Paulus hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan.”
Hoekom het Paulus haar belet om verder saam met hulle te loop? Sy het mos die waarheid gepraat? Sou dit nie beter gewees het as Paulus haar maar laat begaan het nie, solank sy net nie lieg nie, want dit wat sy gesê het was die reine waarheid: ‘Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing.’” Ten minste sou Paulus die vrede bewaar het, want direk daarna was dit chaos: “En toe haar eienaars sien dat die hoop van hulle wins weg was, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die mark voor die owerheid gesleep 20en hulle voor die regters gebring en gesê: Hierdie manne bring ons stad in opskudding, omdat hulle Jode is, 21en hulle verkondig sedes wat vir ons nie geoorloof is om aan te neem of na te volg nie, omdat ons Romeine is. 22En die skare het saam teen hulle opgestaan, en die regters het hulle klere laat afskeur en bevel gegee om hulle met stokke te slaan. 23En toe hulle hul baie slae gegee het, het hulle hul in die gevangenis gewerp en die tronkbewaarder bevel gegee om hulle sorgvuldig te bewaak.”
‘n Mens sou vir Paulus-hulle kon vra: “Hoekom soek julle onnodig moeilikheid? Dit is nou om jou kop in ‘n bynes in te druk. Natuurlik sal die bye jou steek. ‘n Mens kort soms wysheid om stil te bly Paulus. Kyk nou wat het met julle gebeur. Julle kon dood gewees het. Deur stil te gebly het kon julle baie meer mense na Christus toe gelei het. Nou is die hele dorp in opskudding oor julle. Aggenee Paulus, julle kon van beter geweet het.”
Professor Floor het kort en kragtig hieop geantwoord dat daardeur wou hierdie vrou en natuurlik die duiwel in haar probeer voorgee sy en Paulus-hulle werk saam. In die oë van die mense moes dit lyk asof sy en Paulus-hulle saam op ‘n uitreik is. Die oningeligte persoon op straat moes tot die gevolgtrekking kom dat hierdie vrou en Paulus-hulle saam in die bediening is, want orals waar hulle gaan was sy saam met hulle. Sy kraak hulle nie af nie, inteendeel, sy prys hulle aan, met ander woorde Paulus-hulle het dit so gereël dat sy die heeltyd agter hulle moes aanloop om hulle onder die skare te adverteer, sodat die mense môre, oormôre wanneer Paulus-hulle vertrek, sal weet by wie hulle kan gaan aanklop om hulp. Mens sou kon redeneer dat sy Paulus-hulle se plaaslike “kollega” is.

Tot vandag toe is dit die duiwel se strategie in baie sendingkerke. Daar is okkultiese bedrywighede in die kerk wat maar verdra word ter wille van vrede, wat ingesluip het omdat hulle soos die vrou nie noodwendig lieg nie, maar meelopers is van die kerk. Wanneer so ‘n persoon hom in ‘n kerk ingewurm het hol hy hom van binne af uit en jy kry hom nie maklik daaruit nie. In die sendingkerke kry ‘n mens so dikwels sulke mense. Hulle dien selfs op die kerkraad wat die mooiste gebede kan bid, maar na die tyd lewer hulle ‘n soort van ‘n tradisionele diens aan die gemeenskap. Die feit dat hy in jou kerk is maak hom geloofwaardig in die oë van die oningeligtes. Later het hy ‘n soort van ‘n geestelike houvas en ‘n aanhang onder jou lidmate. So het sinkretisme in baie kerke ingesypel.
Hoe kon dit voorkom word? By die katkisasieklas, waar mense gereed gemaak word om belydenis van geloof af te lê en toegelaat word om lidmate van die kerk te word. Baie sendelinge en predikante is maar al te bly en al te gretig om lidmate by hulle gemeentegetalle te voeg wat hulle later duur te staan kom. Nie verniet sê Paulus in 1 Timotheus 5:22: “Moenie haastig iemand die hande oplê nie,” en verder: “en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.” Hierdie lewensbeginsel het Paulus toegepas toe hy die demone in daardie vrou in die Naam van Jesus Christus bestraf het en hom van haar gedistansieer het.
Om af te sluit: In die sendingveld benodig ons baie wysheid, maar ook die waagmoed om ‘n Evangeliese standpunt in te neem al moet ons op die ou end ‘n prys daarvoor betaal, maar nêrens in die Bybel word ‘n kompromie aangegaan om die vrede te bewaar nie.
Ons vra u voorbidding in hierdie verband.
U broer in Christus,
Hendrik du Plessis.