Die Klereskenking
Ons as gemeente in D’kar wil u uit die diepte van ons harte bedank vir een en elk wat bygedra het met klere. Ons neem hierdie skenking nie ligtelik op nie. Ons sien dit as die Here wat sy kinders se harte aangeraak het om aan ons te dink. Hy het ons nie vergeet nie.

Dit laat ‘n mens dink aan Paulus se woorde aan die Korinthiërs waar hy skryf dat so ‘n liefdesdaad mense rede gee om God te dank. Paulus skryf in 2 Korinthiërs 9:12: “Want die hulp van hierdie bediening voorsien nie net in die heiliges se behoeftes nie, maar lei ook tot ‘n oorvloed van baie uitinge van danksegging aan God.” (2020 vertaling) Dit gaan swaar met die Joodse gemeente daar in Jerusalem en die gemeente hier in Korinthe aan wie Paulus skryf het ‘n geldelike bydrae wat hulle wil maak, en so gebruik die Here die gemeente in Korinthe om die Joodse gemeente tot dankbaarheid te bring. Dit is ‘n wonderwerk op sigself dat die heidene nou Jode help, en die Here word daaroor verheerlik. Nie net dit nie, in vers 14 sê Paulus, dit bring nou die Jode daartoe om vir daardie gemeente in Jerusalem te bid. So glo ek werk die Here tot vandag toe nog. Die een gemeente help die ander gemeente en dit bring laasgenoemde gemeente daartoe om die Here te dank en te loof vir hulle weldoeners, en nie net dit nie, hulle bid ook vir hulle weldoeners, en hoe sal die Here wat die inisieerder van dit alles is sulke gebede nie verhoor nie. Dan eindig Paulus met die woorde: “15Aan God die dank vir sy onbeskryflike gawe!”
In D’kar het ons meer as 300 kinders wat gereeld die Sondagskoolklasse bywoon. Ons het onderwyseresse wat die kinders in groepe verdeel, die heel kleintjies tot en met die standerd sewes wat volgende jaar na die hoërskool toe gaan. Baie gou het hulle agtergekom hoe karig die kinders geklee is en hoe baie van hulle dieselfde klere oor en oor aantrek – vandaar het ons ons ondersteunende kerke hierby betrek, wat mildelik bygedra het, waaroor ons die Here nie genoeg kan dank nie. Ons bede is dat die Here u as ons weldoenders sal seën, want julle het dit nie net reggekry om ons te help nie, maar julle bring ons daartoe om die Here te dank en te loof oor julle, en die Here Self bring ons daartoe om vir julle te bid, en weereens bring dit ‘n mens voor die vraag te staan: Sal Hy wat die inisieerder van dit alles is sulke gebede nie verhoor nie?
Van die dag toe die bokse aangekom het, het ek foto’s begin neem, almal was opgewonde oor die besending. My oudkollega was besonder behulpsaam met die reëlings rakende die uitsortering en verdeling van die klere in bondels. Dit was omtrent ‘n hele dag se werk.

Daar was ‘n totaal van 35 bokse. Ons is in die besonder dankbaar teenoor mnr. Manie Strauss, ‘n sakeman in ons omgewing, wat altyd bereid is om met vervoer uit Suid-Afrika te help. Wanneer sy vragmotors terugkom Gantsi toe en daar is plek, help hy met graagte.
Dit was ‘n groot taak om alles uit te sorteer, maar een en elk wat daarmee gemoeid was het dit met oorgawe gedoen, en was dit beslis nie vir hulle moeite nie.

Ons bede is dat die Here deur hierdie
skenking al die eer sal kry, omdat dit Hy is wat ons bymekaar bring om vir mekaar om te gee – soos Paulus in 2 Korinthiërs 9:15 sê: “15Aan God die dank vir sy onbeskryflike gawe!”
So het die kinders die kerkgebou verlaat met elkeen wat iets in sy of haar hande het.

Die ou mense het ook aan die beurt gekom, elkeen baie dankbaar oor hulle geskenke.

Die Paasnaweek
Die Paasnaweek was redelik bedrywig van Vrydag tot Sondag. Vrydagaand het ons die kruisiging van ons Here Jesus onder die vergrootglas geplaas, sy smarte ter wille van ons. Saterdagaand het ons die verskillende kore die geleentheid gegee om op te tree, maar o weë die reën wou nie saamwerk nie. Toe die dreigende storm nader kom het ons maar besluit om te verdaag.
Die Sondagoggend tydens die diens het ons ‘n goeie opkoms gehad. Die klem het geval op die opstanding van ons Here Jesus. Hy het waarlik opgestaan!

Nagenoeg 90 kinders het die erediens bygewoon.
Om af te sluit, al ons dank aan ons Hemelse Vader wat aan ons die geleentheid gegee het om sy grootheid te beklemtoon in en deur ons Here Jesus Christus, en waar sy Woord verkondig word kom dit nooit leeg na ‘n mens toe terug nie.
U broer in Christus, Hendrik du Plessis.