Ds Hendrik du Plessis
Die aanvang van die uitreik is met teëspoed begroet. Op pad Maun toe het die regter agterband van die bakkie gebars. Ek het oor iets skerps in die pad gery en die volgende oomblik het ons net ‘n knal gehoor. Omtrent ‘n kilometer verder het ons besef ons het ‘n pap wiel en het ek afgetrek om die wiel te vervang.
Die aand het ons by tannie Dorette Cronjè oornag. Die volgende dag het ons oral in Maun rondgery opsoek na die regte bandtipe, maar tevergeefs. Dit was nadat br. Tiddo Voogt in Suid-Afrika vinnig gereageer het en vir my geld kon oorplaas vir twee nuwe bande. Al die bandeplekke se voorraad sou eers die volgende week kom en daarby was Werkersdag ook in Botswana ‘n vakansiedag. Om Mababe toe te ry sonder ‘n spaarwiel is ‘n groot waagstuk. Gelukkig het een van die bandeplekke in Maun aan ons ‘n spaarwiel geleen en kon ons die pad aandurf Mababe toe.
Net voor Mababe het ons in ‘n watergat beland en kon ons nie vorentoe of agtertoe nie. Na my eerste poging het Abdul my dadelik vermaan en gesê dat ek die bakkie net dieper ingrawe. Om ons was seekoeie wat gesnork het en agter ons was ‘n olifant besig om te suip, en nadat ons die ruite afgedraai het kon ons duidelik die muskiete hoor wat bloed geruik het. Die gedagte dat ons die res van die nag in die bakkie vol muskiete gaan slaap met die ongediertes om ons was nie aangenaam nie.
Om uit te klim moes jy in die water klim. Wat het my besiel om in die gat in te ry? As ek vinniger gery het sou ek dit gemaak het, soos al die voertuie voor my gedoen het. Hulle voordeel natuurlik is hulle het 4×4 voertuie wat ek nie het nie. Gelukkig het ek van die mense in Mababe se telefoonnommers gehad en nie hoe lank daarna nie het hulle ons kom uittrek.

Mababe en Sankoyo
Wat die uitdeel van Bybels en traktaatjies aanbetref het ons hierdie keer op Sankoyo gekonsentreer. Ons het Bybels en Klankbybels by ons gehad. Idea, ons gasheer in Mababe by wie ons oornag het, het ons orals vergesel. Hy ken almal in Sankoyo en weet presies vir wie ons laas Bybels gegee het, geskrewe en Klankbybels.
Die hoofman daar was besonder dankbaar. Met ‘n vorige verslag het ek ‘n foto van hom en sy broer geplaas waar hulle al van vroegdag af gesit en luister het na die Bybel. Ons het hulle so ongeveer 12 uur verras met ons besoek. Ons was dankbaarheid toe ons hoor hulle sit al van 7 uur die oggend daar onder die boom en luister na die Klankbybel. Die hoofman het toe nog nie sy eie Klankbybeltjie gehad nie en was dus afhanklik van sy broer wat van tyd tot tyd vir hom kom kuier het.
Hy sit hier op die foto bo met die Klankbybel en ‘n gewone Bybel wat ons vir hom gegee het. Die gewone Bybel wil hy gebruik vir hulle raadsittings. Sy naam is Sepoposamakata en is soos baie in Sankoyo lid van die Yeyi-stam, met Yeyi-taal as moedertaal, alhoewel hulle Tswana vlot magtig is.
Die Yeyi-taal verskil van Tswana soos Afrikaans van Frans. Staande op die foto is Idea. Idea se moedertaal is Ts’iiga en dit verskil weer van ons Naro hier in D’kar soos Duits van Afrikaans. Yeyi is ‘n Bantoetaal en Ts’iiga is ‘n Boesmantaal. Hulle kommunikeer met mekaar in Tswana.

Die mense aan wie ons Bybels uitgedeel het is almal mense tussen wie Idea groot geword het wie hy persoonlik ken.
Ons het mense individueel gaan opsoek wat by ‘n vorige keer gesoebat het vir ‘n Klankbybeltjie.
Al hierdie mense is mense wat buiten hulle huislike take van elke dag vir ure lank ledig sit, en die Woord van die Here wat in die agtergrond weerklink kom nooit onverrigtersake terug nie.

Ons doel is om mense, dalk vir die eerste keer in hulle lewe bloot te stel aan die Woord, mense wat vir hulle hele lewe lank afhanklik was van valse predikers om te hoor wat die Here vir hulle wil sê. Nou kan hulle, selfs die wat nie kan lees nie dit vir hulle self hoor. Ek het op ‘n keer een van hulle vanuit D’kar geskakel, en in die agtergrond kon ek die Klankbybeltjie hoor praat, duidelik en helder.

Ons bede is dat die Here deur sy Woord en Gees sy Koninkryk sal laat kom en dat dorpies tot inkeer sal kom. Nie net die ouer garde nie, maar ook die jonger garde was gretig om ‘n Bybel in die hand te hê.
Tydens ons besoek aan Mababe het ek indringende gesprekke kon voer met een van die min mense onder die Boesmans wat ‘n graad het. Hy is een van die Ts’iiga Boesmans. Hy en sy vrou woon in Gaborone en van tyd tot tyd kom kuier hy vir sy pa in Mababe. Hy is ‘n diep oortuigde Christen, en iemand wat die Bybel besonder goed ken. Hy is op die oomblik besig om hom te verdiep in die regte omdat die saak van die Boesmans regoor Botswana vir hom baie na aan die hart lê. Wat vir my uitstaan van hom tydens ons Bybelstudies is sy gebed. Ek sou hom graag eendag wil sien as ‘n predikant. Hy was trouens nou onlangs die aanvoerder van ‘n span wat hulle taal wil begin opteken. Dit is ‘n taal wat besig is om uit te sterf as daar nie drasties iets aan gedoen word nie.
Tydens ons gesprekke met Idea en sy vrou het ek vir hom gesê dat hulle baie ywerig is dat daar ‘n kerk tot stand moet kom, en ons is dankbaar daaroor, maar beide hulle en hul kinders is nog nie gedoop nie. My woorde aan hom was: “Onthou Idea, daar is net twee krale in hierdie wêreld, die duiwel se kraal en die Here se kraal. Daar is nie ‘n middeweg of ‘n middekraal nie, en as hulle in hul harte oortuig is dat die Here Jesus die enigste weg tot saligheid is, moet hulle, om die voorbeeld van ‘n skaap te gebruik, geoormerk (gedoop) word.” Idea en sy vrou het hierop baie positief gereageer.
Om af te sluit vra ons weereens u voorbidding vir Mababe en al die omliggende dorpies, dat die koninkryk van die Here daar sal kom. Afrika is vol kerke, maar bitter min Skrifgefundeerde kerke en die rede hiervoor is mense wat nie kan lees nie, of moeilik lees, en die enigste uitweg is dan om hulle te verlaat op die menings van valse predikers wat kamstig profetiese gawes het.
Motopi
Met tannie Dorette gaan dit goed. Sy wil baie graag terugtrek Motopi, hopelik teen die einde van die jaar. Sy behartig nog elke Sondag die eredienste daar – heen en weer is dit 160 kilometer. Ons vra ook u voortdurende voorbidding vir haar wat nie meer vandag se kind is nie en ons is dankbaar dat sy nog oor die vermoë beskik om te doen wat sy doen in diens van God se koninkryk. Ons kon hierdie keer nie by Motopi uitkom nie. Adul se seuntjie het skielik siek geword en het ons besluit om gouer terug te kom. Op die ou end was dit klierontsteking wat toe gelukkig met antibiotika behandel kon word.
U broer in Christus,
Hendrik du Plessis.