Ds Hendrik du Plessis

Bere
Bere is vir my ‘n voorbeeld van blootstelling aan die Woord van die Here. Vir jare was die enigste woord wat gehoor is ‘n verdraaide vorm van een of ander biskop of watter titels hulle vir hulleself ookal toe-eien, wat tydens ‘n begrafnis of byeenkoms van die geleentheid gebruik maak om sy vals en verdraaide vorm van die Bybel te verkondig. Dit kom gewoonlik in die formaat van: “Die Here het vir my dit of dat gesê . . .”, en elkeen wat oningelig is in die Woord van die Here eet dit vir soet koek op, want wie is jy per slot van rekening om met die “hoogheiliges” te stry, veral as jyself nie eers ‘n Bybel het nie.
Ek het nou onlangs gelees dat een van die grootste redes vir valse godsdienste deur die eeue heen die woorde: “Die Here het vir my gesê” is, veral hier in Afrika. Baie mense is honger na ‘n stem of ‘n onnatuurlike boodskap en daarmee plaas hulle dit gelyk met die Bybel en ander moet dit as kanoniese gesag opvreet, want wie is jy per slot van rekening om sy ervarings in twyfel te trek. Dit is trouens een van die grootste aanslae teen kerk vandag.
Nog ‘n verskynsel hier in Afrika is die tendens dat al hoe meer sangomas hulleself nou “dominee”, in Tswana “baruti” noem, want dan is jy oral welkom. Ek het vir een van hulle ‘n geleentheid gebied van Gantsi na D’kar toe. Ek het hom gevra hoe hulle mense genees en hy het geantwoord dat dit afhang van die persoon se vlak van geloof al dan nie. As hy verkies om uit die Bybel genees te word, plaas hy sy vinger langs die betrokke offer wat die Bybel vereis. Daar is sekere Skrifgedeeltes in die Ou Testament wat van offers praat en dan plaas hy sy vinger blindweg op die vers of langs die vers. Die vers sal dan bepaal watter dier ter sprake is wat hy vir hom moet bring as offer, maar as die persoon op die tradisionele manier genees wil word, gaan haal sy dolosse. Die offers word dan nie verbrand of op ‘n vuur geplaas nie, nee, dit word geoormerk en is dan die eiendom van die betrokke samgoma. Baie sangomas het op die manier hier ryk geword. Hy kom hier aan sonder ‘n bees, maar as hy die dag weggaan vertrek hy skatryk met ‘n trop beeste en bokke.
Almal spreek hom aan as “moruti” wat beteken dominee (pastoor of biskop) en is hulle daarvan oortuig hy is ‘n dienskneg van die Here.
Dit is vir my verblydend toe die twee hoofmanne van Bere aan my genoem het van die verandering wat hulle in Bere opgemerk sedert ons die Klankbybels onder die mense begin uitdeel het. Selfs twee sjibiens het toegemaak. Weereens ‘n bewys dat die Here se Gees altyd deur sy Woord werk, en waar mense aan die Woord blootgestel word, daar werk die Gees van die Here en sy Woord sal nooit ongedaan of onverrigtersake terugkeer nie. Dit is ‘n tweesnydende swaard wat reg- of wegsny.

Met ons afgelope besoek aan Bere was daar ‘n honger onder die mense te bespeur. Mense van oraloor het ons kom vra vir ‘n Klankbybeltjie. Hulle loop soms kilometers ver daarvoor. Ek het gereël dat hul dit Sondag na die diens kan kry nadat hulle die die Woord van die Here gehoor het. Die Bybeltjie is ietwat kleiner as die vorige Bybeltjies en die verskil is dat dit ‘n interne geheue het in plaas van ‘n geheuekaartjie. Niemand kan dus aan die Bybeltjie peuter op soek na ‘n geheuekaartjie nie. Daarop is verskillende tale te same met die volledige Tswanabybel.
Een van ons hoofmanne wat my regterhand daar is ken almal daar en weet presies vir wie ons laas Bybeltjies uitgedeel het. Sommige wou vir hulle geliefdes wat ver bly ‘n Bybeltjie hê, maar dit kon ons nie toelaat nie, want daar was skaars genoeg vir die mense daar teenwoordig.

Na die diens het hulle een vir een navore gekom vir ‘n Bybeltjie, en jy besef 95% van die mense hier voor jou kan nie lees nie en vir die enkeles wat wel kan lees is dit so vermoeiend dat hulle gou maar weer die Bybel neersit. Ek praat nou van die ouer garde. Vir die jonger mense wat wel kan lees het ons gedrukte Bybels uitgedeel sodat daar meer Klankbybels beskikbaar kan wees vir die ouer mense.

Ons was veral dankbaar vir die stoele wat ‘n anonieme skenker aan ons gegee het. Daarsonder sou die meeste mense moes gestaan het. Die kinders was veral baie dankbaar daaroor. Ons het ‘n baie getroue en nederige Sondagskool-onderwyseres. Daaroor is ons baie geseënd. Dit is haar passie om vir die kindertjies Bybelversies te leer. Sy sal byvoorbeeld vra wat staan in Johannes 3:16. Dan spring die kinders in ‘n koor daar weg en sê die hele vers uit hulle koppe uit op: “Want so lief het God die wêreld gehad, . . .” Nog een van die baie verse wat hulle kan resiteer is Romeine 6:23: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” Dit was vir my verstommend hoe gemaklik hulle sonder enige moeite die moeilikste verse opsê. Een ding is seker, daardie kindertjies gaan eendag die Bybel ken. Die klas het omtrent ‘n halfuur geduur en in die halfuur het hulle die een Bybelvers na die ander uit hulle koppe opgesê. Ek het vir haar ‘n boks Sondagskoolmateriaal gegee wat sy met die kinders kan gebruik. Daaroor was sy baie dankbaar.

Hierdie keer het ons besluit om die klere wat ons as skenking van Suid-Afrika ontvang het in Bere uit te deel. Ons Sondagskoolonderwyseres daar sal dit met die tyd uitdeel soos wat sy ‘n behoefte onder die kinders waarneem. Die klere is ‘n groot geskenk en sy is die geskikte persoon daar om dit met wysheid uit te deel. Sy staan links voor, en agter haar staan ons hoofman. Voor regs staan Abdul, wat my altyd op my uitreike vergesel.
Bybelstudie aan ons hoofmanne
Die vorige keer het ons met ons twee hoofmanne ooreengekom om hulle op te lei. My ooreenkoms met hulle was dat ek en my kollega ds. Gaobolelwe in D’kar Bybelstudies vooraf gaan opneem om met hulle deur te werk. Ek het toe vir elkeen ‘n solarradiotjie gekoop en vir elke radiotjie ‘n geheuestafie of stoorstokkie. Vooraf neem ek en my kollega ons Bybelstudies in D’kar op wat ons dan aan hulle beskikbaar stel deur middel van die geheuestafies. Elke keer wanneer ek Bere toe gaan bring ek vir hulle ‘n nuwe Bybelstudieles saam wat ek dan vir hulle op die geheuestafies aflaai. Ek het hulle aangemoedig om Bybelstudiegroepe te begin wat ook daarna kan luister. My voorstel aan hulle is om te begin met een of twee persone wat hulle uitnooi. Later kan hulle meer word. Ek het aan hulle die bekende voorbeeld genoem van ‘n Franse dominee wat op ‘n keer na ‘n kerk hier in midde-Afrika genooi was. Toe hy hier kom het hulle hom na ‘n groot kerk toe genooi. Die kerk was stampvol. Daar sou hy hoor dat die kerk sy ontstaan gehad het te danke aan sy uitsendings uit Frankryk. Aanvanklik was dit een persoon wat na sy dienste Sondae geluister het. Later het iemand anders by hom aangesluit. Toe was dit drie en vier tot hulle later ‘n kerk begin stig het en ‘n kerkgebou gebou het. Sondae het hulle dan steeds die radio op die preekstoel geplaas om na die diens te luister. Nooit het die Franse predikant in sy wildste drome besef wat sy uitsendings na Afrika beteken het nie.
Ons het met die boek Genesis begin. Ons lees die boek Genesis deur, en verse wat ‘n nader verklaring vereis word daar en dan verklaar. Ek wil voor ons na die volgende boeke toe aanbeweeg deskundiges van hulle maak wat die boek Genesis aanbetref. Jy kan die Nuwe Testament nie werklik verstaan as jy nie Genesis verstaan nie. Regs op die foto kan die hoofman gesien word met die radiotjie in sy hand.

Die volgende dag kon ons dieselfde Bybelstudie met die ander hoofman deurwerk. Die hoofman hierbo op die foto was toe ook teenwoordig.
My gebed is dat hierdie klein begin van Bere af sal uitkring. Nie net word sekere Skrifgedeeltes verklaar nie, maar die Boek Genesis word deurgelees en as ‘n geheel verklaar. Ons Bybelstudie se fokus hierdie keer was Genesis 1:1, verwysende na die Skepper van die hemel en die aarde en gedeeltes in die Nuwe Testament wat na die Here Jesus verwys as die Een deur wie alle dinge ontstaan het soos dit verklaar word in Johannes 1, Kolossense 1 en Hebreërs 1.
My kollega is baie opgewonde oor hierdie inisiatief. Ek het vir hom ook ‘n radiotjie en ‘n geheuestokkie gekoop wat hy op sy uitreike gaan gebruik. Hoe meer mense, hoe meer radiotjies wil ons tot hulle beskikking stel.
Om af te sluit
Om af te sluit wil ek weereens vir al ons kerke, daar in Nieu Seeland en in Suid-Afrika asook die individue wat ons instaat stel om hierdie uitreike moontlik te maak uit die diepte van my hart bedank. Sonder julle sou dit nie moontlik gewees het nie.
Vir broeder Danie du Plessis wat nie gesond is nie, maar ons deur sy kontakte telkemale van hierdie Klankbybeltjies voorsien, baie baie dankie Danie. Vir broeder Tiddo Voogt wat aan die spits staan van al hierdie inisiatiewe, sy moeite en liefde vir die uitbreiding van God se koninkryk, dit gaan nie ongesiens verby nie, maar bo dit alles kom al die eer, heerlikheid en aanbidding God Drie-enig toe wat ons as nietige mense gebruik in diens van sy koninkryk, en ons bede is elke dag, laat u koninkryk kom.
Groete in Christus,
Hendrik du Plessis.