Motopi
Ds Hendrik du Plessis
Ons het Donderdagaand 15 September by tannie Dorette Cronjé in Maun oorgeslaap waar sy steeds woon maar beplan om teen die einde van die jaar terug te trek Motopi toe. Motopi is ‘n saak na aan haar hart waar sy altyd betrokke wil wees tot die dag wanneer sy nie meer daar is nie. Sy kan en wil nêrens anders heen gaan nie. Op die plot daar wat nou wettiglik aan haar behoort, sal sy graag ‘n Bybelskool wil sien verrys. Op die kerkerf self is daar die kerk en die buitegeboue waar lesings aangebied kan word. (Vir dié wat nie weet nie, die kerk en die kerkerf met die buitegeboue is nie deel van haar plot nie.) Haar plot is teen die rivier terwyl die kerkerf in die dorp is en aan die Gereformeerde kerk behoort.
Wat die Bybelskool aanbetref klink dit na ‘n baie goeie idee maar waaroor daar deeglik besin moet word. In die eerste plek gaan daar belangstellendes wees wat as hulle afgestudeer het nie hulle kennis in die Gereformeerde kerk gaan terugploeg nie. Hulle gaan dan weer terug na hul eie ZCC kerk, ou Apostel kerk of watter valse kerk ookal. In die tweede plek gaan dit ‘n Bybelskool wees wat nie predikante gaan oplei nie, maar eerder kerkleiers, ouderlinge en diakens. Ons eie predikante word by Mukhanyo Bybelskool opgelei waar hulle ook as dit moontlik is via internetverbinding by ‘n satalietkampus van Mukhanyo kan inskakel. In die derde plek, wat so ‘n Bybelskool aanbetref is daar die kwessie van geld. Daar sal altyd geldelike implikasies wees, hetsy met voltydse of deeltydse opleiding. Wat huisvesting aanbetref is tannie Dorette bereid om haar plot daarvoor beskikbaar te stel.
Met deeltydse opleiding beteken dit dat jy sekere weke in ‘n jaar die groep bymekaar moet bring om opgelei te word. Dit is alles goed en wel, maar die vraag wat altyd by ‘n mens spook is, vir wie lei julle hulle op, met ander woorde, in wie belê jy? Is dit ‘n goeie strategie om ander kerke se predikante vir hulle op te lei – sodat hulle as’t ware hulle eie kerke van binne af kan kersten? So hoop jy. Het dit al gebeur? Dit is alles vrae wat ‘n mens vra.
Ek het onlangs met iemand van Mukhanyo gesels. Hulle satellietkampus in Rustenburg het hierdie jaar 25 nuwe studente wat ingeskryf het. Ek wou weet hoeveel van daardie getal Gereformeerd is? Met ander woorde hoeveel van die 25 studente teruggaan na ‘n Gereformeerde kerk om sy kennis terug te ploeg? Volgens hom is daar nie een nie. Dit bring ‘n mens weer voor die vraag te staan: Vir wie lei jy hulle op? Om hulle eie kerkmure of kerkstrukture sterker te maak? Natuurlik kan ‘n mens hulle nie wegwys as hulle aan ‘n Gereformeerde inrigting wil studeer nie. Hulle betaal immers daarvoor, en ons wil glo dat die Here hulle op ons pad geplaas het, maar dit word dan later ‘n probleem as jy soveel tyd aan hulle spandeer dat jy nie meer by jou eie mense uitkom nie. Dit is alles vrae wat by ‘n mens spook en ‘n mens bid vir die Here om wysheid: “Wat wil U hê moet ons doen?”

Die Vrydag is ons Motopi toe vir die naweek. Daardie Saterdag het Hendrick Keitatotse en sy vrou die hele dag by ons gekuier. Hulle is van ons getroue lidmate daar en ons wil hom graag oplei as ‘n ouderling. Al het hy soos die meeste in Botswana nie matriek (form 5) nie, kan hy opgelei word as ‘n ourderling of ‘n diaken. Hendrick is baie ywerig en woon die dienste gereeld by. Die opleiding werk basies so: Ek gee aan hom ‘n radiotjie met ‘n geheuestokkie (soos ek gedoen het met ons hoofmanne van Bere) dan sal ek elke keer wanneer ek hulle besoek nuwe materiaal met hulle behandel en word hulle aangespoor om ook hulle eie Bybelstudiegroepe te begin. Daaroor was hy en sy vrou baie opgewonde. Hendrick het dadelik name genoem van mense wat beslis sal belangstel.

Die volgende oggend 10 uur het ek die erediens by die kerk waargeneem. Daar was beslis baie meer volwassenes wat die eredienste bywoon as in die verlede toe dit meerendeel kinders en jong mense was. Daaroor is ons baie dankbaar. Ná die diens het baie van die ouer mense hulle getuienis met die gemeente gedeel, hoe die Here Jesus hulle gered het van okkultiese bedrywighede.
Dit was vir my baie goed om te sien hoe hulle gegryp was deur die verkondiging van die Woord en hulle ná die diens, om aan te sluit by die preek spontaan opgestaan het om hulle ervarings met ons te deel. Baie Tswanas is een of ander tyd in hulle lewe desperaat vir hulp. Die fout wat hulle dan maak is om te doen wat die meeste doen. Hulle gaan soek hulp by ‘n sangoma (‘n tradisionele geneesheer), wat ‘n geestelike houvas op hulle begin kry. Daarna begin hy of sy drome droom en die okkultiese nagevolge daarvan beleef.
‘n Boesmanmeisie het op ‘n keer vir ons vertel van haar ervarings. Op pad na ‘n Bybelstudie toe, het sy vir ons vertel van magte wat haar in die nag teen die kamermuur vasgooi. Sy is nie lank daarna nie oorlede. Baie van die swart mense wat met die okkulte in aanraking kom, sien hulle voorvaders in drome, wat dan lei tot die aanbidding en verering van demone wat in die gedaante van hulle voorvaders aan hulle verskyn.
Mababe
Maandag 19 September is ons Mababe toe. Hierdie keer het ons baie klem gelê op Bybelstudies by mense aan huis. Mense nooi ons spontaan uit om by hulle te kom Bybelstudie hou. Die eerste persoon wat ons genooi het was iemand met die naam OT. Hy sit heel regs agter.

Hy is ‘n elektrisiën van beroep wie se spesialiteit dit is om by Safarikampe solarwildweringstoestelle te installeer om olifante uit te hou. Hy het nie net ons Bybelstudies bygewoon nie, maar het dit ook gereël. Sy versoek aan my was dat ons hom in die toekoms tog nie moet vergeet of uitlaat nie, want hy is nou deel van ons. Hy het in Mababe beland omdat dit die enigste plek was waar daar vir sy kinders plek was in ‘n skool. Al die ander skole was vol. Hy en sy vrou was toe verplig om Mababe toe te trek. Hy het ‘n skootrekenaar en het my gevra om die Bybelstudiemateriaal vir hom daarop af te laai. Ons was van Maandag tot Sondag in Mababe en kon baie mense besoek.
Om af te sluit: Ek is steeds besig om materiaal saam te stel. Ek en my kollega, ds. Gaobolelwe, plaas dit dan op geheuestafies om te versprei. Dit is die begin van ‘n onderneming wat ons hoop om mense oral te bereik. Hy gebruik dit ook by sy bedieningspunte en jy kan mense waar jy nie gereeld kom nie via klankmateriaal oplei en al is hulle nie geleerd nie kán hulle luister.
In my vorige verslae het ek genoem van Afrika wat ‘n luisterkultuur het teenoor die westerse leeskultuur. Ek glo dat ‘n mens in die toekoms selfs predikante op die manier sal kan oplei. Die materiaal self is nie net Bybelstudie nie, maar ook apologeties van aard wat daarop gerig is om die valse leerstellings van kerke en die Afrikagodsdienste aan te spreek en te weerlê. In Tswana is daar bitter min Bybelstudiemateriaal en geen apologetiese materiaal nie – apologeties in die sin dat dit dwaalleer, ketterye en die valse Afrikageloof vanuit die Bybel belig en weerlê. Tswana is ‘n taal wat die wydste in Suider-Afrika gepraat en verstaan word. Ek weet nie hoe lank die Here my nog gaan spaar nie, maar met die gawes wat Hy my gegee het wat die tale aanbetref, besef ek al hoe meer en meer die dringendheid om te publiseer. Dit het ek veral besef na ‘n gesprek met broeder Tiddo Voogd. “Die dag as jy nie meer daar is nie, wat laat jy agter,” was sy woorde aan my? Hiermee vra ek weereens u voorbidding.
Ek en my kollega bid gereeld die woorde van Paulus in 2 Thessalonisense 3:1 en 2: “1Ten slotte, broers, bid vir ons, dat die woord van die Here vinnig sy loop sal neem, en net soos by julle, geprys sal word, 2en dat ons gered sal word van die kwaadwillige en bose mense; want nie almal het geloof nie.” Hierdie gebedsversoek word in alle ootmoed ook aan u gerig.
U broer in Christus,
Hendrik du Plessis.