Ds Hendrik du Plessis
Hierdie jaar was nie ‘n maklike jaar nie, dit was ‘n jaar met baie uitdagings, nie net in D’kar nie maar ook elders op die sendingveld. D’kar is ‘n gemeente wat ontstaan het in die middel sestiger jare van die vorige eeu. Daar is tans ‘n volwaardige kerkraad en die gemeente reik ook buite sy grense uit na ander bedieningspunte.
Die kerkraad bestaan uit 4 ouderlinge, 1 emeritus predikant en 1 dienende predikant. Op die foto staan van links na regs James Morris, Gaobolelwe Ngakayaja, ek, Aron Johanes en Morris Morris. Jim Morris was afwesig. Ons is dus 6 op die kerkraad.

Wat aanvanklik net ‘n sendinguitreikpunt was reik nou ook uit na ander gebiede. Natuurlik het dit nie oornag gebeur nie. Dit het na jare se volgehoue sendingwerk gebeur. Ons is op die oomblik oor die 100 belydende lidmate en 170 dooplidmate met 10 in die voorbelydenisklas en vier in die belydenisklas. Kinders in die Sondagskoolklas wissel van 75 tot 200.
Bere
Bere is steeds ‘n bedieningspunt van D’kar. Daar is ‘n baie bekwame Sondagskoolonderwyseres wat regtig ‘n gawe het met kinders. Die stoele, klere en boeke wat ons as skenkings ontvang het was ‘n groot geestelike inspuiting. Ons wil weereens vir een en elk wat hiertoe bygedra het uit ons harte daarvoor bedank, maar bo alles gaan ons dank aan ons hemelse Vader wat dit vir ons moontlik gemaak het.

Wat vir my uitstaan is die feit dat sy vir die kindertjies kern Bybelversies leer. Wanneer hulle op ‘n Sondag bymekaarkom staan die kinders spontaan een vir een op en resiteer die Bybelversies wat hy of sy die week geleer het.

Dr. David Jeremiah het dit op ‘n keer so verduidelik: In Efesiërs 6 word die Woord, die swaard van die Gees genoem. Die woord wat hier vir “Woord” gebruik word is “Rhema” en nie “Logos” nie. “Logos” is die Woord in sy geheel, maar “Rhema” is ‘n sekere skrifgedeelte uit die Woord of “Logos” wat vir jou deur die Gees soos ‘n swaard aangegee word tydens die aanvegtinge van die duiwel en jy kan jouself verdedig. Jy word herinner aan sekere gedeeltes uit die Logos (Woord) van toepassing op jou omstandighede.
Soms is jy hartseer en soms moedeloos en dan gee die Heilige Gees aan jou die swaard (Rhema) aan, gedeeltes uit die Bybel waaraan jy herinner word en waarmee jy jouself kan verweer. Hoe dikwels skiet ‘n Psalmvers of ‘n gedeelte uit die Bybel jou net nie op die regte tyd te binne nie, en jy word vertroos.
Vir die Here Jesus self was skrifgedeeltes sy Rhema of sy swaard in Matteus 4 toe Hy Homself verweer het teen die aanslae van die duiwel. “Daar staan geskrywe” was sy woorde aan die duiwel en dan haal hy verse (Rhema of swaarde) uit Deuteronomium aan.
In Johannes 14:26 word na die Heilige Gees as ons Trooster verwys: “26maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” Die Heilige Gees troos jou juis deur jou te herinner. Maar as jy nie die Bybel ken nie, waaraan moet Hy jou herinner en waarmee moet Hy jou vertroos. Wanneer die kinders van Bere die Bybelversies so uit hulle koppe uit opsê besef mens dat dit versies is waaraan Heilige Gees hulle later in hulle lewens gaan herinner en vertroos.
Nog ‘n groot bedieningshoogtepunt hierdie jaar was die klankbybeltjies. Elke keer as jy by iemand se erf verbystap en jy hoor hoe die Bybel in die agtergrond gelees word kan jy nie anders nie as om te dink aan die woorde van Paulus in Romeine 10:17: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.” Mense wat andersins nooit met die Woord van God in aanraking gekom het nie, kan nou die hele dag daarna luister. In Johannes 8:32 sê die Here Jesus aan sy dissipels: “32En julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vrymaak.”

Op die sendingveld waar mense nog nie met die waarheid van die Woord in aanraking gekom het nie, heers daar ‘n atmosfeer van vrees vir onheile wat hulle kan tref. Sekere onheile kan jou tref as jy nie bepaalde rituele pligsgetrou nakom nie, en dit verstewig jou band met die tradisionele dokter, wat dan op sy beurt vir jou deur sy dolosse wysmaak wie jou getoor het. Dit word een groot wrywing tussen families. Mense haat mekaar. Dit het ons verskeie kere ook hier in D’kar ervaar. Iemand se geliefde kom te sterwe en die familie is heilig daarvan oortuig dat ‘n bepaalde persoon verantwoordelik was vir hul geliefde se dood, dat die afgestorwene doodgetoor is. Die rede? Die tradisionele dokter het so gesê. Wanneer hy na homself as ‘n dominee (moruti) verwys, is elkeen daarvan oortuig hy is van die Here. Dit raak een groot bose kringloop want die tradisionele dokter word as’t ware die huisdokter en die huispredikant wat die familie teen onheile beskerm en waarsku, en hy doen dit beslis teen ‘n prys. Sy vergoeding is gewoonlik beeste of bokke.
Die enigste genesing vir hierdie sieklike omstandighede is die waarheid van die Evangelie wat jou vrymaak. Ons het by mense aangekom wat hulle Klankbybeltjies amper nooit afskakel nie. Iemand in Mababe het aan my vertel dat hy met sy Bybeltjie aan slaap. In die stilte van die nag word die Bybel vir hom gelees en ons weet dat die Woord van God nooit onverrigtersake of leeg terugkeer nie.

Ons het hierdie jaar ook al hoe meer en meer tot die besef gekom, mense moet opgelei word al kan hulle nie lees of skryf nie. Die mense word nie noodwendig opgelei as predikante nie, maar opgelei as gelowiges, ouderlinge en diakens waar hulle ookal bly. Ons kan hulle besoek. Ons kan aan hulle die materiaal verskaf in hulle eie taal. Ons kan die Bybel met hulle deurwerk daar op die veepos, nedersetting of dorp.
My kollega en ek het onsself digitaal begin opneem. Die materiaal stel ons tot beskikking van ‘n leiersfiguur wat sy groepie kan begin. Saam met die Klankbybeltjie kry hy ook ‘n stoorstokkie of geheuestafie wat hulle kan deurwerk. In Botswana het min mense hulle skoolloopbane voltooi. Dit beteken dat min kwalifiseer aan die vereistes om by Mukhanyo Bybelskool in te skryf. Sou ons so ‘n persoon kry en hy voel geroepe en is bereid om opgelei te word sal ons nie twee keer dink nie, maar ongelukkig is ‘n predikant hier in Botswana ‘n luukse.

Dit laat my dink aan Suid-Afrika so om en by twee eeue gelede. Die gemiddelde Afrikaner was ongeletterd, en daar was baie gemeentes wat so eenkeer in drie jaar deur ‘n predikant besoek is. Tydens so ‘n besoek word daar gedoop, belydenis van geloof afgelê en nagmaal bedien. Al was die meeste ongeletterd, het die mense die Bybel geken en die gemeentes het gefloreer. Die meeste van daardie gemeentes kon nooit iemand stuur om as predikant opgelei te word nie, maar dit het hulle nie verhoed om ‘n gemeente te wees nie. Die Bybelskool begin daar waar jy mense onder ‘n boom bymekaarbring, en jy kan hulle van tyd tot tyd besoek en hulle van leermateriaal voorsien. Met die audio- of klankmateriaal is die vereiste nie meer dat hy geletterd hoef te wees nie. As iemand kan lees is dit ‘n luukse, maar andersins hoef hy of sy maar net te luister en dit opsigself kan hulle goed doen, want hulle het ‘n luisterkultuur, ‘n memoriseerkultuur en nie ‘n leeskultuur nie. Soos hulle na die Klankbybeltjie luister kan hulle ook herhalend na die studiemateriaal luister. Aan die einde gaan dit nie net daaroor om vir iemand te vra of hy glo nie, maar of hy die kennis het wat sy geloof onderskryf.
Om op te som
Die tradisionele metode was om ‘n Bybelskool op te rig. Mense word dan daarheen gestuur vir Bybelopleiding, hulle word van kos en verblyf voorsien. Hulle word dus ontwortel uit hulle omgewing om daar te gaan studeer. Sodra hul afstudeer het word daar van hulle verwag om die resultate van hul studies te kan wys.
Die hedendaagse metode wat baie goedkoper uitwerk is wanneer jy as’t ware die Bybelskool na die student toe vat. Vooraf maak jy digitale klankopnames wat jy by hom agterlaat. Dit word dan daardie persoon se verantwoordelikheid om mense van die staanspoor af op te lei. Hy word van dag een af in die werk gesit en dit is basies gratis. Al wat hulle hoef te doen is om oor en oor na die materiaal te luister. Van tyd tot tyd besoek jy hulle. Of hulle onder ‘n boom of in ‘n gebou bymekaarkom, dit alles hang van hulle af. Mense wat belangstel om opgelei te word kontak die verantwoordelike persoon en hy voorsien die materiaal wat aan hom voorsien is.
Die tradisionele metode werk, maar dit kos baie geld en mense word ontwortel, terwyl hierdie digitale opleiding soos Bybelstudie onbepaald voortduur soos hulle toegerus word. Natuurlik kan aan hulle sertifikate uitgedeel word vir modules wat hulle voltooi het, maar die ware toets is of hy ander oplei, want dit is nou sy verantwoordelikheid. In kort kom dit daarop neer, jy help mense om hulle eie “Bybelskole” te begin en jy verduidelik dit ook so aan hulle. Dit is dan niks anders nie as die Bybelse beginsel van dissipel maak. ‘n Dissipel lei jy op om ander dissipels op te lei, en ons verskaf aan hulle die digitale materiaal.
Om af te sluit
Vir ons is dit ‘n wonderlike uitdaging en ek is daarvan oortuig, as ons in ons diepe afhanklikheid na die Here toe gaan, alles ten goede sal meewerk tot die uitbreiding van sy koninkryk. Ons vra dat u vir ons sal bid. Ekself bid gereeld die woorde van die apostel Paulus in 2 Thessalonisense 3:1 en 2: “31Ten slotte, broers, bid vir ons, dat die woord van die Here vinnig sy loop sal neem, en net soos by julle, geprys sal word, 2en dat ons gered sal word van die kwaadwillige en bose mense; want nie almal het geloof nie.” Daarmee saam lees ons die belofte in vers 3: “3Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en van die Bose bewaar.”
U broer in Christus.
Hendrik du Plessis
*(Let wel dat alle foto’s met toestemming van betrokke partye geplaas word)