Bedieningswerk vanuit D’kar
Bybelstudie-opnames
My kollega en ek skuif so dikwels as wat ons kan agter die mikrofone in. Waar ons gewoonlik my selfoon gebruik het vir opnames, gebruik ons nou die toerusting wat brs. Cobus Rudolph en Tiddo Voogt vir ons geskenk het. Dit is egter nog ‘n leerproses. Soos in my vorige verslag genoem, berei ons die Bybelstudies eers skriftelik voor waarna ons dit dan op band opneem.

Die kerkraadslede is baie positief oor die initiatief en sal ook graag hulle eie Bybelstudiegroepe wil begin. Ons benodig egter tans radiotjies en geheueskyfies daarvoor. Om die regte kompakte klanktoestelle wat met ‘n geheueskyfie kan werk te kry bly ‘n soektog hoewel ek nou-die-dag een kon kry vir P107. Dit is ‘n “boombox” en werk goed. Dalk sal dit in Suid-Afrika goedkoper kos.
Bybels
Die Bybels het gekom en is in Gantsi. Sodra ek geleentheid het sal ek dit gaan haal. Dit is ‘n groot geskenk wat ons met baie omsigtigheid uitdeel. Aan elkeen wat ‘n bydrae gemaak het, spreek ons ons opregte dank uit. Dit is ons gereedskap. Dit is die swaard wat ons elke dag gebruik. Dit is ons verweer teen die magte van die duisternis.
Paasnaweek
Die beplanning vir die viering van die Paasfees word binnekort gehou. Dit is weereens ‘n groot geleentheid, om die Evangelie van ons Here Jesus Christus te verkondig. Normaalweg het ons Vrydagaand die diens waartydens ons die dood van ons Here Jesus aan die kruis beklemtoon. Die Saterdagoggend het ons Bybelstudie met die jongmense. Saterdagaand die verskillende kore in ons kerk wat vir ons sing, en Sondagoggend, die herdenking van die opstanding van ons Here Jesus Christus.
Ons vra weereens u voorbidding vir die werk wat ons hier doen, en bid asseblief saam met ons: “Laat U koninkryk kom.”
U broer in Christus,
Hendrik du Plessis.