Ds Hendrik du Plessis
Die afgelope Paasnaweek was deur die Here se genade besonder geseënd. Ons was veral opgewonde oor die betrokkenheid van die kinders. Dit was ‘n skoolvakansie en baie kinders was vir die naweek by die huis.

Vrydagaand het ons ‘n erediens gehad wat gefokus het op die lyding van ons Here Jesus. Ondanks die reën het die mense drupsgewys al meer en meer geword. Na die erediens, het ons die film “Walking with Jesus” vir die hulle gewys. Dit is vyf films wat aansluit by die kruisgebeure. In my vorige verslag het ek melding gemaak van die films. Al die karakters in die film is Afrikamense en hulle onderlinge intriges toe hulle die Here Jesus as Verlosser en Saligmaker aangeneem het. Die aangrypende van die film is hoe die Here Jesus mense se lewens verander. Regs is ‘n greep uit die video van die hoofman wat voor sy bekering eers ‘n nors buffel was en baie mense kwaad aangedoen het, maar na die tyd ‘n nederige Christen geword het, wat soos Saggeus gaan vergoed het vir al die leed wat hy die mense van sy dorpie aangedoen het.

Die woord vir glo in Tswana is “dumela” wat op sy beste beteken om saam met iemand te stem. Hulle het ook twee woorde vir vertrou, “ikanya” en “tshepa” wat mynsinsiens nader aan glo is as om bloot saam te stem. Hoekom hulle nie met die vertaling van die Bybel eerder een van hierdie woorde gebruik het nie, weet ek nie, want “dumela” beteken om met iemand saam te stem. Hoe dit ookal sy, as jy saamstem met dit wat die Here Jesus vir jou gedoen het aan die kruis op Golgota, sal jy gered word. Nie net dit nie, jou hele lewe gaan verander, en dit is presies wat gebeur het met die karakters in die film. Hulle het die Here Jesus as hulle Verlosser en Saligmaker in hulle lewens omhels en dit het ‘n drastiese ommekeer in hulle lewens te weeggebring. Dit laat ‘n mens dink aan die bekende woord: “Nature forms; sin deforms; school informs, but only Christ transforms.”
Saterdagaand het ons weer ‘n diens gehou. Daarna het ons die laaste drie van die films gewys. Tussendeur het ek en my kollega verduidelik hoe dit alles in mekaar pas. Vasgenael het elkeen gesit en inneem omdat hulle hulle met baie van die goed wat daar gebeur mee kan vereenselwig.
Sondagoggend was dit die normale erediens waartydens ons die opstanding van ons Here Jesus kon herdenk. Ek het na die tyd by een van ons gemeentelede aangedoen en sy woorde aan my was: “Dominee, ek kon die teenwoordigheid van die Heilige Gees vanoggend in die kerk aanvoel. Die verkondiging van die Woord het diep tot my gespreek.”

Gedurende die week het een van die boere in die omgewing vir ons ‘n bees geskenk en die plaaslike kunsprojek ‘n P1000. Daarmee kon ons vir twee dae heerlik eet. Daar was genoeg kos vir die Saterdag en Sondag. As ons terugkyk na alles kan ons sien hoe die Here die naweek ons geseën het, ons samehorigheid, ons samesyn, die verkondiging van die Woord sodat die fokus kon val op dit wat ons Here Jesus vir ons as nietige sondaars kom doen het. Aan U o Drie-enige God al die eer.
U broer in Christus,
Hendrik du Plessis