Br Thinus Herman
‘n Gebed: Arbeiders vir die oes in Botswana (Lukas 10).
O God en almagtige Vader, Skepper van hemel en aarde, ons het die afgelope twee weke weer in verwondering gestaan oor U skepping. Wat ‘n voorreg was dit nie om in die noorde van Botswana rond te beweeg en te sien hoe troppe wilde diere nog vrylik rondloop in die natuur nie. Ja, om in die oggende, met ‘n oop Bybel, te sien hoe die son die wêreld oranje verf en van U wonderdade getuig. Om in die aande te kan kyk na die sterrehemel en te leer hoe om die klanke van seekoeie, jakkalse, hiena’s en leeus te onderskei.


Here, U het destyds 72, twee-twee vooruit gestuur na plekke wat U nog beplan het om te besoek. Dankie, Here dat ons die afgelope twee weke ietsie soortgelyks kon ervaar in Botswana. Ons kon eerstehands sien wat in Lukas 10 staan: Die oes is groot, maar die arbeiders is min.

Here, ek wil U loof en dank vir die voorreg dat ons tannie Dorette kon ontmoet. Wat ‘n wonderlike getuienis oor die pad wat U met haar en oom Thys geloop het. Ja Here, op ‘n ouderdom wat meeste mense aftree, het U hulle in Motopi geplaas. Here, haar vertelling oor hoe basies hulle aanvanklik moes leef weerklink U woorde van Lukas 10 – geen beursie of reissak of sandale nie. Hulle was nie predikante nie, maar deur U Gees het hulle onder ‘n boom begin dien. Nou is daar al ‘n kerk en gemeenskapsaal.

Here, sy is al 79 en steeds leef Sy U opdrag uit: Laat die kindertjies na my toe kom. Ons kan maar net in groot afhanklik bid dat U werkers vir die oes na haar toe sal stuur. Ja, Here, sy bly vrou alleen in ‘n harde wêreld. Here, stuur iemand wat met kinders wil werk en Tswana ken of wil leer. As dit U wil is, stuur ook iemand wat onder die mans kan werk, want vandat oom Thys oorlede is, is die kultuur van die mense so dat hulle nie tannie Dorette as geestelike leier sal erken nie. En Here, dra vir tannie Dorette, omvou haar met U arendsvlerke dat Sy U elke dag, in dieselfde groot afhanklikheid, U pad sal kan bly loop. Dankie Here, dat Hendrik du Plessis haar ook ondersteun vanuit Dekar en ‘n paar keer in ‘n jaar daar kan uitkom as predikant.

Dankie dat ons saam met Hendrik van daar af Mababe toe kon gaan. Soos in Lukas 10 kon ons daar van huis tot huis gaan om Bybelstudie te doen en saam met die mense te bid. Ja, Here, gee vrede vir die huisies en hulle mense in die bos.

Here, dit was so besonders om te sien hoe U die gawe van tale aan Hendrik gegee het. Oor sy hele leeftyd het U Hom toegerus om juis hier ook ‘n impak te maak. Ons kon sommer sien in die reaksie van die mense hoe hulle reageer op U boodskap: “Vir julle is die koninkryk op hande.” Here, hierdie deel van Botswana is ‘n braakveld: Baie van die mense kan nie lees nie, min het werk en drank bedwelm die moedeloses.

Here, die mense hier leef so basies. Geen elektrisiteit nie. Net ‘n paar waterpunte. So hout en water aandra om pap mee te kook en te was neem ‘n groot deel van die dag op.

Dankie Here, dat in hierdie kultuur, waar stories om die kampvuur vertel word en daar min gelees word tegnologie ook ‘n rol kan speel. Audio Bybeltjies weerklink vir ure aan mekaar. Hendrik se Bybelstudies op klein radiotjies begroet huise vroeg oggend. Here, verhoor tog Hendrik se gebed dat dié met radiotjies nou Bybelstudie groepe daarondom sal begin. Gee hom krag om genoeg Bybelstudies te maak dat hulle so kan groei in die waarheid van U Woord. En Here, stuur middele vir nog radiotjies en audio Bybels.

Here, waar daar ook so maklik konflik en kwaad stokery in die sondige wêreld is, dank ons U vir die wysheid, kennis van die kultuur en lewens ervaring wat U vir Hendrik gegee het om situasies te hanteer. Staan U Hom by en werk U die aanslae van die bose tee sodat die bediening daar kan groei. Ja, Here U het Hom gestuur, en die wat hom verwerp, verwerp U.

Dankie dat ons ook in Dekar ‘n tydjie saam met Miriam, Hendrik se vrou, kon verkeer. Here dis nie maklik om sendeling te wees nie, maar dis nog moeilker om sendeling-vrou te wees. Opofferings in lewenstyl, weg van familie en vriende af. Opofferings om kinders op ‘n jong ouderdom weg te moet stuur vir hoërskool. Dankie dat U haar ook sterk gemaak het om in biddende afhanklikheid ‘n anker rol te speel in hulle bediening.
As dit U wil is, Here, gee ons die geleentheid om weer te gaan om te ondersteun, maar om ook meer te leer van die gevestigde bediening wat reeds 22 jaar in Dekar aan die gang is.

Here, ons het vol blydskap teruggekeer huis toe. Die twee weke se ervaring skreeu uit: Die arbeiders is min! O Here, stuur arbeiders vir die oes. Stuur mense wat bereid is om by Mababe te kom help om ‘n kerkie te bou. Die enigste ander kerk is ‘n voorspoedsgodsdiens kerk wat die haglike situasie net nog meer uitbuit. Stuur arbeiders wat bereid is om die taal te leer en in die harde omstandighede te werk. Ag Here, Mababe is maar ‘n klein dorpie en die werk daar is meer as wat ‘n voltydse arbeider kan hanteer en Hendrik kan maar een keer in drie maande daar uitkom. En wat nog van die ander dorpies daarondom. Here, stuur fondse vir brandstof sodat hy meer daar kan uitkom. Maar meer nog, stuur arbeiders vir die oes wat voltyds daar kan bedien.

Ons loof U Here, van die hemel en aarde dat U hierdie dinge vir slim geleerde mense verberg het en dit aan kindertjies en eenvoudige mense geopenbaar het. Ja, dat U die mense in Botswana so aanraak deur die handjievol arbeiders daar. Here niemand ken U, die Seun, en U die Vader nie, behalwe die aan wie U Uself bekend maak. Dankie dat U ons deel maak van U plan. Laat ons dankbaarheid oorvloei en maak ons arbeiders vir die oes.

Laat hierdie terugvoer ook uitkom by hulle wie U reeds voorberei het om arbeiders vir die oes te word en raak hulle aan. Roep hulle Here, want die oes is groot en die arbeiders is min. Laat ons U liefdesgebod ten volle uitleef. Maak ons barmhartige Samaritane vir almal wat U oor ons pad bring. Maar gee dat ons ook soos ‘n Maria by U voete sal sit om gevul te word met U Woord en Gees dat ons die werk sal kan doen. Laat ons, soos die gelykenis van die saaier, bly saai en op U vertrou vir die vrug.
Amen.