22–29 September 2024
1Tess 3:6–7 “Maar nou dat Timótheüs net van julle af by ons aangekom het en ons die goeie tyding van julle geloof en liefde gebring het, en dat julle altyd ‘n goeie herinnering aan ons behou en verlang om ons te sien, net soos ons ook vir julle — daarom, broeders, is ons in al ons verdrukking en nood vertroos oor julle deur jul geloof.”
Ter samevatting van die uitreik het ds Hendrik op die laaste aand van die uitreik hierdie verse met ons gedeel en gesê dat hy werklik bemoedig is deur ons besoek. Dit help om sy batterye te laai dat hy weer met ywer kan voortgaan met sy bediening.
Motopi
Bediening vind plaas deur tannie Doret Cronjé. Sy tree elke Sondag op as “katkisasie-onderwyseres” vir omtrent 80 kinders by ʼn saal in Motopi. Sy gee toebroodjies en deel ʼn boodskap in Tswana.

Sy woon self op ʼn plot ʼn ent buite Motopi. Sy ontvang voldoende hulp om met haar bediening te kan voortgaan, maar sy is reeds 80 jaar oud en haar man is al oorlede. Daar is ook nog nie iemand wat gereed is om die bediening by haar oor te neem nie. Tannie Doret het voorgestel dat iemand dalk ʼn week of twee lank kom lesse aanbied vir die kinders hoe om ʼn klein besigheid te bedryf (of so iets), want baie van hulle voel hulle het nie hoop om werk te kry nie. Oor die lang termyn sal die ideaal wees om bediening te kan uitbrei na volwassenes
Mababe

Die grondpad vanaf Shorobe na Mababe is in ʼn baie slegte toestand. Ek sou nie voorstel dat ʼn uitreikgroep met ʼn tweewielaangedrewe bussie (of ander tweewielaangedrewe voertuig) weer soontoe probeer gaan nie.
Ons het ʼn aantal kere vasgesit en moes staatmaak op verbygangers in 4×4-voertuie om ons uit te sleep.
Ds Hendrik beskryf Mababe nog as “rou sendingveld”.

Sy kontakpersoon daar — ʼn man genaamd Idea — het hom gehelp om ʼn erf in Mababe van die staat te kry. Die erf staan egter nog leeg en die buffels en olifante het die heining verniel. Ds Hendrik kom ongeveer een of twee weke elke 3 maande daar uit. Dan doen hy huisbesoek, gesels met mense by die sjebien en wys die film “Walking with Jesus”. Hy deel ook bybels uit aan personeel van die lodges in die omgewing. Die inwoners van Mababe praat ʼn taal wat verwant is aan Naro (die taal van D’kar), maar hulle verstaan ook Tswana. Die grootste onmiddellike behoefte vir bediening by Mababe is brandstofgeld vir ds Hendrik om meer gereeld daarheen te kan gaan. Volgende wil hulle ook ʼn struktuur op die perseel in Mababe oprig.
D’kar
Die bediening by D’kar gaan goed voort. Ds Hendrik doen huisbesoek by een gesin en vra dan daardie gesin om hom na ʼn volgende huisgesin te verwys. Dan kom die eerste gesin saam na die tweede huisbesoek. Die proses herhaal. Op hierdie manier bereik hy nuwe gesinne doeltreffend.

Ds Hendrik is besig met ʼn reeks bybelstudies uit Genesis waarvan hy klankopnames maak en versprei. Daar is geleentheid vir opgradering en instandhouding van die infrastruktuur in D’kar, maar dit is nie dringend nie. Ds Hendrik se kollega in D’kar, Gaobolelwe Ngakayaja, help nog met bediening, maar is reeds baie oud. Ds Hendrik glo dat daar nie te groot verwagtinge moet wees dat ʼn jong lidmaat van D’kar binnekort as predikant opgelei sal word nie, maar eerder dat daar gefokus moet word op die roeping en toerusting van ouderlinge wat hulle dienswerk getrou verrig. Die projek om die Ou Testament in Naro klaar te vertaal gaan voort onder leiding van kerke uit Nederland. D’kar se kerkraad word van tyd tot tyd geleentheid gegee vir terugvoer op die gedeeltes wat reeds voltooi is.
Bére
Die bediening in Bere is ook nog minder gevestig as in D’kar, maar reeds verder gevorder as in Mababe.

Daar is voltyds ʼn katkisasie-onderwyseres wat ondersteun word deur ʼn NG-predikant van Maun. Ds Hendrik (en gewoonlik iemand van D’kar wat saamkom) kamp meestal in die veld buite Bere as hulle daarheen gaan, maar daar is ʼn gebou in die dorp waar die katkisasieklasse plaasvind.
Die taal wat by Bere gepraat word verskil baie van Naro, maar ds Hendrik is besig om dit aan te leer. Hy doen ook daar huisbesoek en wys die film. Ons het nie veel tyd daar spandeer nie.
Op pad van Mababe na D’kar het ons een aand oorgeslaap by Pel’s Island, ʼn lodge in die Delta wat behoort aan Ernst Labuschagne, ons eie ds Christo se swaer. Hy het bereidwilligheid getoon om hulp te verleen aan ds Hendrik se bediening waar hy kan.
Algemeen
Alhoewel die hooffokus daarop moet wees om ds Hendrik se permanente bediening te ondersteun, is daar geleentheid om uitreike meer doeltreffend aan te pak. As ʼn uitreikgroep langer tyd op een plek spandeer, sal daar geleentheid wees om ook verhoudings te bou en saam met die christene daar te aanbid. Dit kan ook bemoedigend wees vir hulle om saam met gelowiges van ʼn ander land bybelstudie te hou en te aanbid — iets waarvoor daar nie op hierdie uitreik geleentheid was nie. Deur uitreike word daar dalk ook iemand geïdentifiseer wat ds Hendrik se bediening kan voortsit sou hy emeriteer.

Ons is dankbaar om te sien hoe die Here sy kudde versorg in D’kar en omgewing. Ons is ook versterk in ons eie geloof deur die uitreik te kon meemaak.
Louis Boshoff
5 Oktober 2024