Uitreike einde November 2024
Deur die Here se genade gaan dit goed hier in D‘kar. Mens en dier gaan swaar gebuk onder hierdie versengende hitte en droogte. Ondanks dit alles is ons vol vertroue dat hierdie seisoen vir ons anders sal wees.
Met ons katkisasie en Sondagskool gaan dit goed. Tans het ons 10 in die belydenisklas wat twee keer ‘n week klasse bywoon en 60 wat Sondae in die Sondagskoolklas is. Sondag vir Sondag word hulle name afgemerk. Soms is die getalle oor ‘n 100. Met die belydenisklas word op die kategismus klem gelê en word die boekie, “Thuto ya Bokeresete” (Christelike les of lering) behandel. Met die kinders in die Sondagskoolklas word die boekie “Loeto lo logolo” (die grootste reis) behandel. Die boekie handel oor verskeie Bybelverhale.
Huisbesoeke en Bybelstudies word gekombineer behalwe die voornagmaalse persoonlike huisbesoeke. Ons lidmate word besoek met die opdrag om hulle bure en mense om hulle te bedien en te nooi na die Bybelstudies. Op so ‘n manier leer ons ons lidmate om betrokke te wees by evangelisasie. Volgende keer besoek ons die volgende gesin saam met die vorige gesin wat ons die vorige keer besoek het. Omdat ons die Bybelstudie ‘n paar keer herhaal gee ons geleentheid aan die vorige gesinne om tydens die Bybelstudie hulle insette te lewer. So kuier ons van gesin tot gesin. ‘n Mens is dan dankbaar om mense wat nooit voorheen kerk toe gekom het nie Sondag ín die kerk te sien. Die volgende week besoek ons weer ‘n volgende gesin en ons word vergesel deur die vorige gesinne.
Ons Bere, Motopi en Mababe uitreik was baie inspirerend veral as jy deur studente vergesel word.
Luan van Heerden, Lindie Pieterse, Anika du Plessis en Hardus Stapelberg het die aand hier in D’kar by my oornag voor ons die volgende dag Bere toe was. Daar het ons die aand kamp opgeslaan in die opelug. In die verte was daar wolkies op die horison wat geblits het, maar nooit het ons gedink dat daardie wolkies met ‘n wind gaan kom om ons tente op die proef te stel nie. Die volgende aand was dit toe weer so, maar ons tente was toe meer gereed daarvoor. Voor die wind opgekom het, kon ons ‘n film vir die mense daar wys waar voor hulle soos gewoonlik vir die hoeveelste keer vasgenael gesit het. Soos ek in my vorige verslae genoem het, is daar in die film soveel aanhalings uit die Bybel wat iewers moet vassteek. Herhaling is ‘n baie goeie ding veral wanneer dit later algemene kennis begin word.

Mereyabone, ons Sondagskoolonderwyseres daar was veral dankbaar oor die Bybels wat sy ontvang het. Sy het Engelse en Tswana Bybels ontvang wat die studente saamgebring het en ‘n spesiale Studiebybel vir haar persoonlik. Sy staan heel voor in die middel op die foto.

Vrydagoggend het ons na Motopi vertrek om die naweek by tannie Dorette deur te bring. By haar het ons luuks geslaap in vergelyking met die vorige twee aande. Tannie Dorette het nou onlangs 80 geword, maar ondanks haar ouderdom is sy nog gesond en voel sy dat sy haar roeping daar wil uitleef tot sy nie meer kan nie. Sy sê, dit is waar sy wil wees, waar sy voel die Here haar geroep het. Sy was ‘n inspirasie vir die studente, veral toe sy begin vertel het hoe sy op Motopi geland het. Saterdagaand en Sondagaand het die studente vir die jongmense van die kerk ‘n Bybelstudie gehou.

Die opkoms was baie goed. Ek self was verbaas oor die opkoms die Saterdagaand na so ‘n kort kennisgewing. Ons het nie die geleentheid gehad om die mense te nooi nie. Ons het maar oppad kerk toe vir die mense langs die pad gevra om hulle maats te nooi. Dit was nie ‘n halfuur nie of daar was genoeg mense wat van orals af gekom het. Sondagoggend met die erediens was die kerk vol en ons was dankbaar vir soveel jongmense bymekaar.
Die Maandag het ons na Mababe vertrek. Die Dinsdagoggend het ons die nabygeleë Mogotlho Lodge besoek en Bybels uitgedeel.

Daarna het Luan vir ons voorgegaan met Bybelstudie saam met die personeel wat teenwoordig was. Met sononder het ons Bybelstudie by een van ons huisgesinne in Mababe gehou.

Die volgende dag het ons na Khwai vertrek waar ons ook Bybels kon uitdeel. Dit was goed en opbouend om mense opgewonde te sien oor ‘n Bybel. Die interaksie tussen die studente en die mense daar was baie opbeurend, veral vir dié wat Bybels ontvang het. Dit is indrukke wat altyd ‘n mens sal bybly.

Hoe bevoorreg is ons net nie hier aan die suidpunt van Afrika om Bybels te mag uitdeel nie. In baie ander lande sou ons in die tronk beland het en hoeveel mense het net nie al met hulle lewens daarvoor geboet nie. Die Donderdagoggend het ons vroeg opgestaan op pad terug huis toe. In Maun sou ons paaie skei. My voertuig het dit net-net gemaak as gevolg van die slegte pad. Die vorige nag het dit baie gereën en die hele pad terug was plek-plek onbegaanbaar. Op ‘n stadium het ek vasgesit en ‘n groot trok het my uitgesleep. Gelukkig het hy nie soos die vorige trok net verbygery nie. Hardus was saam met my in die bakkie en my geduldig begelei deur die modder en die water. Sonder sy raad glo ek sou ek veel meer vasgesit het.
Na hierdie uitreik wil ek vir Luan, Hardus, Anika en Lindie baie dankie sê wat hierdie uitreik vir ons moontlik gemaak het. Hulle was almal ewe bedrewe voor die Bybel as agter die kospotte. Hulle was ‘n uitstekende span.
Tswanabybelstudiemateriaal en preke
‘n Tyd gelede het broeder Tiddo Voogdt my daarop gewys dat daar bitter min bybelmateriaal beskikbaar is in die Tswanataal, en die mense in Suid-Afrika en Botswana wat Tswana magtig is, is om en by 12 miljoen. Dit is nou as ons die Pedi- en die Sothogroepe byreken. Ek het dit dadelik as ‘n roeping en uitdaging gesien om meer sulke materiaal te vertaal, op te stel en te verskaf. Ek dink nie in die eerste plek daaraan om groot en dik boeke te vertaal nie, maar boekies wat handiger werk en makliker gelees kan word. Ek is tans besig met ‘n lesing wat ek vertaal wat dr. R.C. Sproul aangebied het etlike jare gelede. Die lesing is om en by 15 bladsye. Op ‘n skitterende manier slaag hy daarin om die tema van sy lesing aan te bied: “If God is sovereign how can man be free?” Die lesing is op Youtube beskikbaar. Vanuit Josef se geskiedenis verduidelik hy hoe die Here in en deur die gang van al die menslike besluite sy soewereine raadsplan in vervulling bring. Dit sluit goed in by die Afrikamens met al sy bygelowe. Die Afrikamens worstel ten diepste met dit wat Paulus in Romeine 8:28 skryf: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” Die rede vir alle onheille wat hulle tref word toegeskryf aan een of ander persoon wat toor. Van daar dan die geneigdheid om toordokters te besoek wat op die ou end dieselfde diagnose maak en bevestig dat so en so jou wel getoor het. Ek het daaraan gedink om iets inleidends te skryf in hierdie verband en daarna dr. Sproul aan die woord te stel. Natuurlik sal ‘n mens eers toestemming moet kry om enige materiaal van wie ook al te vertaal. Ek het alreeds twee preke van professor Flip Buys gekry om te vertaal. ‘n Webblad sal ideaal werk om al die materiaal soos ‘n biblioteek te stoor. Ons is nog steeds besig om deur die boek Genesis te werk. Ook hierdie lesse kan daarin gestoor word. Al die preke en lesings kan ons tot beskikking van predikers stel, hetsy predikers of lekepredikers in Suidelike-Afrika. Al hoe meer en meer kom die behoefte van lekepredikers navore, wat iewers op ‘n nedersetting in die veld of in die stad hulle bevind en nie weet wat om Sondag vir sy groepie mense te sê nie. Paulus het meer mense deur sy geskrifte of briewe bereik as wat hy in persoon ooit sou kon droom het. Op die manier kan jy mense bereik wat jy nie sommer sal ontmoet nie. Dit hoef nie net ‘n webblad vir die Afrikatale te wees nie. Nee, daar is miljoene mense wat Afrikaans en Engels as eerste en tweede taal het, en gereformeerdepreke kan taalsgewys beskikbaar gestel word.
‘n Mens onderskat dikwels die krag van die Woord deur die werking van die Heilige Gees. Dit laat my dink aan ‘n predikant uit Frankryk wat ‘n dorpie hier in Afrika op uitnodiging kom besoek het. Hy het altyd in Frans sy boodskappe of preke oor Afrika uitgesaai. Hy kry toe die uitnodiging om by ‘n sekere kerk hier in Afrika te kom preek. Toe sou hy agterkom dat die kerk sy ontstaan het uit sy preke Sondae wat hy oor Afrika uitsaai. Dit was eers een wat Sondae gereeld na sy preke geluister het. Later het nog een bygekom, en die getalle het begin toeneem tot hulle later ‘n gebou kon bou en ‘n preekstoel. Sondae het hulle dan die radio op die preekstoel gesit en gewag vir die diens om 09:00 of wanneer ookal te begin. Die Franse dominee was verstom om te sien wat in sy afwesigheid daar gebeur het. Ek glo ‘n mens sal deur ‘n webblad met preke en studiemateriaal meer bereik in Suidelike-Afrika as persoonlike besoeke. Natuurlik gaan dit nie oor die een ten koste van die ander nie. Nee, Paulus het nie net geskryf nie, maar het ook die gemeentes persoonlik besoek waar hy kon.
Slotopmerking
Ek stel my Paulus se ingesteldheid teenoor evangelisasie en sending in Handelinge 28: 9 en 10 voor. Daar staan: “En die Here het deur ‘n gesig in die nag aan Paulus gesê: “Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.” Die 2020 vertaling stel dit so: “Die Here het een nag deur ‘n visioen vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie, maar hou aan praat en moenie stilbly nie! Ek is immers met jou en niemand sal ‘n vinger op jou lê om jou kwaad aan te doen nie, want in hierdie stad is daar baie mense wat aan My behoort.” Aan Paulus is nie die name bekend gemaak van diegene wat tot bekering gaan kom nie. Hy hoef niemand te gaan opsoek het nie, maar deur die werking van die Heilige Gees sal hierdie mense teenwoordig wees waar hy ookal preek, want hulle behoort aan die Here. Al wat Paulus hoef te doen is om die Woord te verkondig en deur die verkondiging van die Woord kom die wat aan die Here Jesus behoort tot inkeer. In Handelinge 13: 48 en 49 staan daar: “En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” Die 2020 vertaling stel dit so: “Toe die heidene dit hoor, was hulle bly en vol lof oor die woord van die Here. En diegene wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. Die woord van die Here het deur die hele landstreek versprei.” Jy gaan dus na ‘n plek toe en weet nie wie tot die ewige lewe uitverkies is nie, en dit is ook nie die wil van die Here om dit aan ons vooraf bekend te maak nie, maar die troos is hulle bestaan en sal tot geloof kom, want hulle behoort aan die Here Jesus. Die mag of almag agter dit alles is die Vader Self wat hulle as geskenk aan sy Seun gegee het. Dit lees ons in Johannes 6:37 waar die Here Jesus Sélf sê: “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My kom, en Ek sal die een wat na My kom, nooit verstoot nie;” en in Johannes 6:44 sê die Here Jesus verder: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”
U broer in Christus, Hendrik du Plessis.