Ds Hendrik du Plessis
Deur die Here se genade het ons baie mooi reën gekry. Vir D’kar is dit iets besonders om nou al oor die 200mm reën te kan hê. Alles rondom ons is groen en juig. Ons kort egter nog opvolgreën.
Wat verblydend is, is die baie kos wat die Boesmans nou in die veld kan uitgrawe en die bredies wat soos spinasie voorberei word. Dan is daar ook die veldvrugte soos rosyntjiebessies en suurpruime. Vitamines en minerale is nou volop in die veld.

‘n Week gelede was hier iemand wat ons vertel het hoe geil die maramas of kastaiings in die veld groei. Ek hoop ons oes hierdie jaar soos nog nooit tevore nie. Maramas is die Boesmans se stapelvoedsel wat vir maande en jare kan hou as hulle in sakke gestoor word. Dit is ‘n neut wat baie ryk is aan proteïene en vitamines. Die dop is baie hard wat jy moet oop kap om die inhoud wat soos ‘n neut lyk te kan eet. Alvorens jy dit kan eet moet jy dit eers in die vuur rooster.

Ons bede is dat die Here dit ‘n besonderse jaar sal maak, want baie Boesmans ly aan ondervoeding.
Uitreike
Ons sien uit na ons uitreike hierdie jaar, en ons bede is dat die Here dit ‘n geseënde jaar sal maak wat die uitbreiding van sy koninkryk aanbetref. Binnekort wil ons besoeke bring aan Bêre, Motopi en Mababe. Op ons beste kan ons maar net die saad saai en die Here laat dit ontkiem. Dit laat my dink aan Paulus se uitreik na die Korinthiërs. In Handelinge 18 vanaf vers 8 staan daar: “8En Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo; en ook baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop. 9En die Here het deur ‘n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; 10want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.”
Dit is die hoop wat ons almal het wanneer ons die evangelie verkondig. Ek gaan na ‘n plek toe en weet verseker daar is diegene wat aan die Here Jesus behoort. Dit is immers sy belofte in Johannes 6:37: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” Daarmee saam die woorde van ons Here Jesus in vers 44: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”
Ek is steeds besig om Bybelstudiemateriaal te vertaal wat ek graag met ons volgende uitreik sal wil uitdeel. Dit laat ‘n mens lang ure voor die lessenaar sit.
Ek het RC Sproul se lesing wat handel oor God se soewereiniteit en die mens se sogenaamd vryheid in Afrikaans en Tswana vertaal. Die tema van sy lesing is: “If God is sovereign how can man be free?”
Dit is een van die gedagtes waarmee die mense in Afrika worstel. Ons praat van ‘n soewereine God en tog gebeur daar lelike en bose dinge rondom ons en met ons. Waar kom die wil van die mens in teen die agtergrond van God se soewereiniteit. Nog ‘n vers wat hulle nie verstaan nie is Romeine 8:28: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
Die vraag is dan, hoe bose en slegte dinge ten goede kan meewerk. Dr. Sproul slaag uitstekend daarin om Josef se geskiedenis in die lig van God se soewereiniteit te verduidelik. Die geneigdheid van die Afrikamens is om hulle tot toordokters te wend om die kragte wat die onheil oor jou bring teen te werk. Die logiese gevolgtrekking is dan dat die Here afwesig is waar die onheil jou tref. Dr. Sproul wys daarteenoor dan op Josef se woorde in Genesis 50:20: “Want júlle (sy broers) het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.”
Dit maak ‘n mens altyd opgewonde wanneer jy met ‘n uitreik mense gaan besoek en jy weet jy het iets om vir hulle te gee wat hulle geestelik gaan versterk. Ek sien uit daarna om hierdie lesing uit te deel aan soveel as moontlik om dit dan met hulle te bespreek. Die treffende is, toe Josef daar in die put was, was die Here absoluut teenwoordig en nie afwesig nie. “Want júlle het wel kwaad teen my bedink,” sê Josef, “maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.” Génesis 50:20.
Om af te sluit, ons benodig katkisasiemateriaal, nie net vir D’kar nie, maar ook vir die sendingveld globaal oor Suidelike-Afrika. Die Gereformeerde kerke in Afrika het deur die jare bitter min gepubliseer. Ek is steeds besig met Genesis wat ek later in boekvorm beskikbaar wil stel asook die klankopnames daarmee saam.
My ander doelwit is om die Heidelbergse Kategismus in Tswana te vertaal. Ons gebruik tans die 1975-vertaling wat destyds deur die NG kerk vertaal is. Die probleem egter is dat dit ‘n letterlike vertaling is, vertaal vanuit Engels of Afrikaans. Jy verstaan dus die vertaling makliker as jy die Afrikaans of die Engels byderhand het. Ek is van mening dat die Heidelbergse Kategismus in baie gevalle deur die Afrikamens nie duidelik verstaan word nie omdat die vrae nie verduidelik word nie.
Daar word in die Kategismus vrae gevra maar die vrae self is nie altyd verstaanbaar nie. ‘n Kort verduideliking van elke vraag sal dus baie help om die antwoord te verstaan. Die vraag byvoorbeeld, wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe, sal beter verstaan word met ‘n verduideliking van wat met troos hier bedoel word. Wat vir ons logies is, is nie noodwendig vir die Afrikamens logies nie. So is daar talle vrae wat verduidelik kan word voor ‘n mens by die antwoorde kom, en so ook wat die antwoorde aanbetref, as jy die Kategismus Tswana laat praat sal die Tswana dit ook beter verstaan.
Mag die Here die verkondiging en die verduideliking van sy Woord seën en ons vra u voorbidding vir hierdie grootse taak.
U broer in Christus,
Hendrik du Plessis.