
My opdrag vanaand is om te praat oor die probleem van die verhouding tussen die soewereiniteit van God en menslike vryheid en nadat ek dr. MacArthur se boodskap vroeër gehoor het, voel ek dat die boodskap wat ek vanaand gaan bring ‘n afsluitende onwetenskaplike naskrif is van wat ons alreeds van sy lippe gehoor het. Hy vang werklik die essensie van die soewereiniteit van God vas, ‘n konsep wat telkens weer en weer in die kerk verkondig moet word omdat ons egter geneig is om te dink dat God magteloos is en dat die arm van die Here kort geword het, en die manier hoe Dr. MacArthur altyd sy standpunte in die heilige Skrif grond is ‘n wonderlike ding en ek het gedink dat vandag se behandeling van die onderwerp ‘n kragtoer was en so eintlik gee ek net ‘n epiloog van wat jy reeds gehoor het, maar voor ek die Skrif lees, wil ek jou graag vra om saam met my te bid. Kom ons bid: “Ons Vader en ons God, ons is bly dat dit U is wat soewerein is en nie ons nie, en dat dit U wêreld is en alles wat daarin is en alles wat in ons is, deur U Gees beweeg is om U heilige Naam te loof, en in plaas daarvan om eerder deur U soewereiniteit geïntimideer te word, verheug ons ons daarin en vind ons troos daarin. So praat vanaand met ons terwyl ons worstel met hierdie vraag van hoe U soewereiniteit met ons vryheid verband hou. Ons vra dit in die Naam van Jesus. Amen”
Ek wil graag vanaand begin deur ‘n kort gedeelte uit die boek Genesis te lees. Ons het reeds vroeër vandag saam met dr. Duncan gekyk na Genesis 1 wat die eerste hoofstuk van die boek Genesis is. Wie weet wat die laaste hoofstuk van die boek Genesis is? Reg, hoofstuk 50. Daar was ‘n klinkende antwoord op daardie vraag. Ek is bly daar is ‘n paar Baptiste hier in hierdie groep wat hulle Bybels lees. (Humoristies gestel en die mense lag) Goed. Ek wil graag jou aandag rig amper aan die einde van die boek Genesis in hoofstuk 50 vanaf vers 15, waar ons hierdie woorde lees, “15Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood was, het hulle gesê: Sê nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die kwaad wat ons hom aangedoen het! 16Daarom het hulle hierdie boodskap na Josef gestuur: U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde: 17So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien. En Josef het geween toe hulle met hom spreek.”
Voordat ek hierdie teks voltooi, is jy bewus daarvan dat dit wat tot op hierdie oomblik gebeur het as een van die koelbloedigste dade van verraad beskou kan word? Josef, wat die oogappel van sy vader was, was deur sy jaloerse en afgunstige broers as slaaf verkoop en hulle het sy veelkleurige jas of rok geneem en dit in die bloed van ‘n dier gedoop en teruggekeer na hulle huis en na hulle vader, Jakob, met die storie wat hulle self opgemaak het, dat Josef die prooi van ‘n roofdier geword het en ledemaat vir ledemaat verskeur is en nie meer met hulle is nie, terwyl hulle in werklikheid die voordeel getrek het deur van hom ontslae te raak deur hom aan Midianitiese handelaars te verkoop wat op pad was Egipte toe. Jy ken die storie.
Daar gekom het hulle hom in die slawemark aan Potifar verkoop. Hy het Potifar se slaaf geword, en toe het die verraderlike leuens van Potifar se vrou Josef in die tronk laat beland waar hy jaar na jaar na jaar gekwyn het, maar nooit sy geloof in die Here God laat vaar het nie. En toe, deur die geheimsinnige vermoë om drome uit te lê, is Josef bevry om die kommerwekkende drome van die Farao te verklaar en daarom het die Farao Josef aangestel om te werk met die oprigting van die voorraadstede vir die graan om hulle te beskerm teen hongersnood. En Josef het so ‘n voorliefde vir administrasie getoon dat die Farao hom tot die vlak van eerste minister verhef het. Jy ken die storie, hoe, toe die hongersnood Kanaän tref, Jakob sy seuns na Egipte gestuur het om verligting te kry, om goed uit die stoorkamers te probeer kry om hulle gesin te voed, en hulle het in die voorhowe van Farao gekom en daar het hulle Josef ontmoet. Josef het hulle herken; hulle het hom nie herken nie. En al die drama wat in daardie ontmoeting afgespeel het totdat dit uiteindelik duidelik geword het dat die eerste minister van Egipte die broer was wat hulle verraai het. En soos dit alles uitwerk, kom ons uiteindelik aan die einde van die verhaal waar Jakob, nadat hy verneem het dat sy seun nog lewe, gesterf het en die broers nou weet dat hulle nie die beskerming van hul pa, Jakob, meer het nie, om hulle te beskerm teen die wraaksugtige toorn van hulle broer. Hulle is nou doodbang, en hulle weet nie hoe om dit te hanteer nie. En so word ons hier vertel dat hulle gesê het: “Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood is, het hulle gesê: ‘15Sê nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die kwaad wat ons hom aangedoen het!’” Hulle het dadelik erken dat Josef die volle reg onder die son gehad het om hulle te haat, want wat hulle aan hom gedoen het, was ‘n veragtelike en haatlike ding. En daarom het hulle aangeneem dat Josef teenoor hulle sou optree deur wraak te soek met dieselfde soort woede wat hulle destyds uitgeoefen het uit hul jaloesie en afguns teenoor hom. So nou smeek hulle om vergifnis, maar hulle erken dat wat hulle gedoen het boos was. “16Daarom het hulle hierdie boodskap na Josef gestuur: U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde: 17So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien.” En Josef het geween te midde van hierdie erkenning van hulle sonde, te midde van hulle bekering waar ons nie weet of dit gemotiveer was deur ‘n opregte berou of was dit dalk meer uit ‘n vrees vir straf, maar hulle erken dat wat hulle gedoen het, boos was, en dit het hul broer tot trane gebring. Luister nou na wat volg. “En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en gesê: Kyk, ons is u slawe.” Klink dit nie na die ervaring van die verlore seun in die Nuwe Testament nadat hy tot homself gekom het na ‘n lewe van losbandigheid en vasbeslote was om na sy pa se huis toe terug te keer nie? Nadat hy tot inkeer gekom het, was sy woorde: “Ek sal opstaan en na vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.” “Ek hoef nie ‘n seun te wees nie. Ek wil net in jou huis wees. En ek sal bly wees om daar te wees as jou slaaf.” En dit is dieselfde idee hier wat die broers vir Josef sê: “Kyk, ons het jou onreg aangedoen. Ons verwag nie dat jy ons as jou broers sal ontvang nie.” En hulle is op hulle gesigte, en hulle sê: “Aanvaar ons as jou slawe.” Nou hoe reageer Josef? Josef het vir hulle gesê: “Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God?” Wat hy vir hulle in soveel woorde gesê het was: “Julle is op julle aangesigte voor my asof ek die lewende God is. Ek is net julle broer. Ek regeer nie in die plek van God nie. Wat julle aanbetref, julle het wel kwaad teen my bedoel en bedink. Julle erken dit. Ek gaan nie ‘n versiersuikerlagie daaroor strooi nie. Wat julle destyds aan my gedoen het toe julle my verraai het en my as slaaf verkoop het, was onuitspreeklik goddeloos. Dit was nie ‘n ongeluk nie. Julle het presies geweet wat julle gedoen het. Julle het dit bedoel en bedoel ten kwade.” En dit is asof Josef vir sy broers wou sê: “Julle weet, ek het ‘n bietjie hieroor nagedink die afgelope paar dekades. Ek het baie tyd in die tronk gehad om hieroor na te dink, en ek moes die moontlike wortel van bitterheid wat in my siel sou opgroei hanteer as gevolg van wat julle aan my gedoen het, maar ek het verstaan en tot die slotsom gekom dat julle nie die enigste rolspelers in hierdie episode was nie. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die soewereine God van die heelal, die Here God van Israel, intiem betrokke was by julle boosheid. Julle kon my nie vir ‘n oomblik seergemaak het nie. Julle kon my hart nie vir ‘n oomblik gebreek of my verhouding met my pa vernietig het nie. Julle kon buiten die soewereine voorsienigheid van God my nie in die hande van my vyande laat uitlewer of vir een sekonde in die tronk laat werp het nie, want God se soewereiniteit was betrokke by julle duiwelse optrede teen my. En ek glo in ‘n God wat alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet en wat volgens sy voorneme geroep is, en ek glo dat die Here God van die heelal die soewereine mag het om selfs julle verraad teen my ten goede te bewerk.” Nou, voor hulle ontspan en sê: “Wel, sien, ons het net die soewereine wil van God uitgevoer. Jy gaan beslis nie vir ons kwaad wees hieroor nie Josef. Ons kan nie eens sê dat die duiwel ons dit laat doen het nie, maar dit is hierdie soewereine God daarbo wat gemaak het dat ons jou verraai het.” So net soos Adam voor hulle sou sê, “die vrou wat U vir my gegee het, het my in hierdie penarie laat beland.”, gaan Josef hulle nie daardie opsie gee nie. Hy het gesê, “laat ons duidelik wees. Wat julle gedoen het, was boos.” En Josef was nie op die punt om goed sleg of sleg goed te noem nie. “Wat julle gedoen het was boos en julle het dit vir kwaad bedoel, maar wat julle vir kwaad bedoel het, wat julle uit die boosheid van julle harte vir kwaad bedoel het, het God ten goede bedoel sodat God se bedoeling met dit alles heeltemal regverdig kan en moet wees, dat God in sy soewereiniteit die vermoë en die vermoë het om deur die sondige besluite en die goddelose keuses van sy skepsels te werk om sy soewereine wil tot stand te bring wat alles saam regverdig is.” Nou, Johannes het reeds gewys hoe dit in die Nuwe Testament uitwerk, dat die kruis nie ‘n ongeluk was nie. Die kruis was die mees goddelose euwel wat ooit deur mense gepleeg is. Kajafas het dit vir kwaad bedoel. Pilatus het dit vir kwaad bedoel. Die Fariseërs het dit vir kwaad bedoel. Maar bo en behalwe die menslike opset, die menslike besluite wat gegroei het uit die bose neigings en impulse van gevalle mense, was God aan die werk om goed te bewerkstellig. En weet jy, het jy al ooit gewonder hoekom ons die mees goddelose gebeurtenis in die geskiedenis van die wêreld wat op Golgota plaasgevind het Goeie Vrydag noem? Hoekom noem ons dit nie Slegte Vrydag nie? Ons noem dit nie Slegte Vrydag nie, want wat God in daardie aksie bewerk het, was die grootste goed in die geskiedenis van die wêreld, in die versoening vir sy volk. Nou, wat ons hier in hierdie gedeelte sien, wel, laat ek dit lees, die res daarvan: “20Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad, met die doel om te doen wat vandag gebeur – om ‘n groot volk aan die lewe te hou.” (2020 vertaling) Die woord “om” in die teks druk “doel” uit. God het dit ten goede bedoel. God se doel met dit alles was, “om ‘n groot volk aan die lewe te hou.” “‘21Dus, moenie bang wees nie! Ek self sal julle en julle afhanklikes van kos voorsien.’ So het hy hulle getroos en mooi met hulle gepraat.” (2020-vertaling), nie oor hulle goeie bedoelings nie, maar oor God se goeie bedoeling. Weet julle hoe God se soewereiniteit werk? Julle ken die ou gesegde, “By gebrek aan ‘n spyker was die skoen verlore. By gebrek aan die skoen was die perd verlore. By gebrek aan die perd was die ruiter verlore. By gebrek aan die ruiter was die stryd verlore.” En dus, die deurslaggewende oomblik wat die uitslag van die stryd bepaal het, was ‘n enkele spyker uit die skoen van die perd. ‘n Onbeduidende spyker het die deurslaggewende rede vir die verlies van die geveg geword. Dink jy ooit aan wat gelei het tot Goeie Vrydag, wat ooit tot jou redding gelei het? Gaan net ‘n bietjie terug in tyd. Jakob trek Josef voor, daarom maak hy hierdie pragtige jas of rok met baie kleure, en gee dit aan hom. En Josef pronk soos ‘n pou in die ding, en hy vertel vir sy ouer broers dat hy hierdie droom gehad het waar hulle voor hom buig. En net daar besluit hulle: “Dit is dit. Dis genoeg met die jas. Julle weet, hierdie kind moet gaan.” En so gaan hulle en verkoop hom as slaaf, en hy gaan. Dit lyk asof dit so toevallig gebeur het. En “toevallig” net toe hulle van hom ontslae wou raak, kom hierdie Midianitiese handelaars “toevallig” met hulle karavane op pad Egipte toe daar verby, en dan is daar hierdie onbeplande ontmoeting tussen die bedoelings van die Midianitiese handelaars en die planne van Josef se broers. En so wanneer hulle saam aansluit, is almal gelukkig. Dit is ‘n situasie sonder verlies. Die broers raak ontslae van Josef, en die Midianitiese handelaars het ‘n prys in gedagte waarvoor hulle hom op die slawemark kan verkoop. So, hulle is nou op pad Egipte toe, en “toevallig” toe hulle hierdie outjie op die slaweblok te koop aanbied, gebeur dit so dat die een wat die wenbod kry, die hofdienaar of paleisamtenaar (2020 vertaling) van die wag is met die naam Potifar wat “toevallig” getroud was met hierdie gewetenlose vrou wat probeer het om hierdie jong slaaf te verlei en valslik te beskuldig, sodat hy op die ou end in die tronk gegooi word, waar “toevallig” sy medegevangenes, die skinker en die bakker was. En terwyl hy daar is, verklaar hy hulle drome vir hulle. Dit is net so “toevallig” dat een van hulle weer in diens van Farao kon wees om met hom te kon praat, die skinker. Dan kry Farao “toevallig” hierdie nagmerries, en die skinker onthou hierdie ou in die tronk wat drome kan uitlê. Julle ken die storie. So kon Josef uit die tronk uit kom en aan die Farao sy drome verklaar. Josef word die eerste minister. Die hongersnood kom. Die broers kom en hulle nooi Jakob uiteindelik om terug te kom na Egipte toe. En as dit nie daarvoor was nie, sou die Jode nooit in Egipte kom woon het nie, maar nou kom hulle en woon in die land Gosen. Hulle vermeerder, hulle produseer, en “toevallig” gebeur dit so dat daar ‘n Farao aan bewind kom wat nie van Josef geweet het nie, en in plaas daarvan hierdie Joodse immigrante onder sy vlerk te neem, besluit Hy om hulle as sy slawe te gebruik vir sy openbare bouprojekte. Wel, soos die “noodlot” dit wou hê, het een van hulle vroue swanger geword en hierdie baba in die wêreld gebring juis op die tydstip toe die Farao hierdie wet uitgevaardig het om al die Joodse kinders te vermoor. En so was daar hierdie ma wat nie wou hê haar baba moet doodgemaak word nie. Sy vat toe ‘n mandjie gemaak van riete en besmeer dit met pik en laat dit in die rivier dryf met haar kind daarin en dra hom so op aan die verborge voorsienigheid van God. En so begin die ou dingetjie met die rivier afdryf. Hy begin toe te huil (ai foeitog), maar as daardie kind nie gehuil het nie, sou niemand hom ooit opgemerk het nie, maar dit het net so gebeur dat Farao se dogter “toevallig” op daardie tydstip daar was en sy kry hierdie baba, en sy sê: “Wel, ek moet vir hierdie baba sorg.” Sy neem hom huis toe, maak hom groot as die kind van Farao sodat die klein kindjie van kindsbeen af al die opleiding kon kry van die beste van die Egiptiese hof. Maar toe, net een noodlottige dag, sonder enige voorneme, sonder enige planne, niemand het dit voorsien nie, “toevallig” sien hy (die kindjie wat nou al groot geword het – Moses) hoe ‘n wag een van die Joodse slawe mishandel, en in sy woede staan hy op en slaan hierdie wag en vermoor hom per ongeluk. Dit was nie boosheid wat vooraf beplan is nie. Dit was nie ‘n eerstegraadse of ‘n voorbedagte moord nie. Hy wou die lyk wegsteek, maar iemand het dit gesien. En omdat iemand dit gesien het, word Moses in ballingskap verban waar hy as herder in die Midianitiese woestyn kwyn tot op sy oudag. Maar toe hy dit die minste verwag het, pas hy eendag die skape op en skielik kyk sien hy hierdie bos wat brand, maar dit brand nie uit nie. Wat gaan hier aan, dink hy by homself. Wat is dit? En hy draai eenkant toe en die bos begin met hom te praat en God gee Moses die mandaat om na die hof van Farao te gaan en vir Farao te sê: “Ek het die geroep van my volk gehoor. Laat my mense gaan.” En wat volg is die grootste verlossingsgebeurtenis in die hele geskiedenis van die Ou Testament, die uittog. God red sy volk, sluit ‘n verbond met hulle, maak van hulle ‘n volk, gee aan hulle sy wet, verower vir hulle die land Kanaän, Hy gee aan hulle konings en stuur aan hulle sy profete, en ‘n paar duisend jaar later, uit dit alles, ‘n baba word in Bethlehem gebore. En ons kan aangaan met hierdie storie, maar jy besef, dit alles as gevolg van een bose rok met baie kleure. Was dit nie vir die rok nie, was daar geen jaloesie nie. Geen jaloesie, geen verraad nie. Geen verraad, geen verkoop in slawerny nie. Geen reis na Egipte nie, geen Potifar nie. Geen Potifar, geen Potifar se vrou nie. Geen Potifar se vrou, geen tronkstraf nie. Geen tronkstraf, sou hy nooit die skinker en bakker ontmoet het nie. Was dit nie daarvoor nie sou hy nooit vir Farao ontmoet het nie. Nooit sou hy die eerste minister kon word nie. Die kinders van Israel sou ook nooit in die land Gosen gaan woon het nie. Daar sou ook nooit so-iets soos slawerny gewees het nie. Daar sou ook nooit ‘n uittog gewees het nie, en ook nie ‘n nasie nie. Daar sou ook nooit so-iets soos die Tien Gebooie gewees het nie, en so ook die koninkryk van God. “20Want julle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.” Is dit nie ongelooflik nie? Julle weet wanneer ons hierdie moeilike vrae hanteer waarmee ons as Christene worstel, kom dit altyd op die lys. Hoe versoen ons die soewereiniteit van God met menslike vryheid? Nou moet ek ‘n paar dinge hieroor sê wat amper teenstrydig lyk. In die eerste instansie moet ek sê, as ‘n splinternuwe Christen, as ‘n Christen van slegs ‘n paar maande, het ek oor hierdie vraag gedink en ek was daardeur ontstelt. Ek het gedink dit lyk vir my of ek hier ‘n teenstrydigheid tussen menslike vryheid en Goddelike soewereiniteit in die gesig staar, want as God regtig soewerein is, dan kan ons nie regtig vry wees nie, of as ons regtig vry is, kan God nie regtig soewerein wees nie. Ek was in ‘n kollege wat kerkverwant was wat ‘n baie, baie swak verhouding of verwantskap was maar as een waarin daar steeds ‘n vereiste was om die Ou Testament as inleidende vak te neem, wat ek as ‘n eerstejaarstudent geneem het. Ek het die vraag aan die professor gerig, “Maar wat van God se soewereiniteit en die menslike vryheid of vrye wil?” En hy het soort van sy voorkop opgeskroef om die indruk van diepsinnigheid te skep, jy weet, sê hy, en hy het in gedempte terme gepraat en gesê: “Ag, dit is ‘n raaisel. Dit is asof God se soewereiniteit en menslike vryheid soos parallelle lyne is wat mekaar in die ewigheid ontmoet.” En ek het hom dit hoor sê en gedink, “sjoe! Dit is swaar goed hierdie. Hierdie professor moet regtig slim wees.” – parallelle lyne wat mekaar in die ewigheid ontmoet. Ek het die klaskamer verlaat en ek is terug na die koshuis. Ek het in daardie tyd graag tafeltennis gespeel, en tydens een van die wedstryde het ek gedink: “Parallelle lyne wat mekaar in die ewigheid ontmoet,” en ek dink, “As daardie parallelle lyne mekaar in die ewigheid ontmoet; om die waarheid te sê, as hulle mekaar in Albuquerque, in Dallas, in Atlanta of New York City ontmoet, wat nog te sê die ewigheid, hulle is nie regtig parallelle lyne nie, is hulle? Want as hulle werklik parallelle lyne is, gaan hulle nie in Albuquerque of enige plek ontmoet nie, wat nog te sê die ewigheid.” En ek dink toe by myself: “Aan die ander kant, as hulle mekaar in die ewigheid ontmoet, dan is hulle steeds nie parallelle lyne nie,” sodat hierdie oënskynlik diepgaande antwoord op my vraag soort van op homself intuimel, en ek dink toe by myself: “Jy weet, dis regtig simpel om so te praat.” Ek kry toe nog een so ‘n verklaring. Hy sê vir my, “Dit is soos, wanneer jy water uit ‘n put uit gaan haal. Jy het hierdie emmer bo-op en dit is aan ‘n tou vasgemaak en jy laat hierdie emmer afsak na die bodem van die put waar jy niks kan sien nie, want dit is te donker daar onder, en jy laat sak dit daar en jy laat die emmer bietjie water skep en dan trek jy dit weer op en jy het jou water.” En hy sê: “Besef jy dat daar twee toue is wat na ondertoe gaan, maar buite jou terrein draai hulle om die katrol aan die onderkant en dus is hul verbinding en hul eenheid buite die bestek van jou visie. En dit is soort van hoe dit is met die soewereiniteit van God en die menslike vryheid.” Maar waaroor ons hier praat, mense, is om nie water uit ‘n put te kry nie. Teen die tyd was ek maar pas ‘n Christen vir ongeveer 3 maande en tot die besef gekom, wel wat is die groot probleem met hierdie vraag? Hierdie vraag is regtig glad nie ‘n moeilike vraag nie. Dit is ‘n baie eenvoudige vraag, en wat my verstom is hoe so baie mense blykbaar daaroor struikel. Daar is regtig geen probleem nie. Daar is geen teenstrydigheid nie. Daar is glad geen raaisel nie. Jy het God wat ‘n wese is en jy het mense wat wesens is, en as ons praat oor die verskil tussen die twee, noem ons die wesens wat ons “mense” noem “menslike wesens”, en wanneer ons na God verwys, sê ons Hy is “die Opperwese.” Nou wat is die verhouding tussen mense en die Opperwese? Wel, die belangrikste ding wat ons dan moet verstaan is, watter een die hoogste gesag het. Ons noem mense nie “opperwesens” nie; ons noem hulle mense. Dit is God wat die Opperwese is. Nou, God is ‘n wilswese. Dit wil sê dat God ‘n wil het. Hy het ‘n goddelike vermoë waardeur Hy besluite neem, waardeur Hy keuses maak. Ons as sy skepsels, is ook wilswesens, en deel van ons menswees is dat ons Skepper ons toegerus het met die vermoë om te kan kies wat ons “die wil” noem. En wat dit beteken om ‘n wil te hê en so ook die vermoë om te kies, is dat ons die vermoë het om keuses te maak. En dit is waaroor ons besorgd is, wanneer ons praat oor vryheid en oor die vrye wil, die vermoë om keuses te maak. Nou, terug in die negentiende eeu, in Europe, was daar ‘n baie belangrike filosoof wie se naam Edmund Husserl was. Die meeste mense op straat het nog nooit gehoor van Edmund Husserl nie, wat een van die voorste stigters was van ‘n filosofiese skool genaamd personalisme, en een van die dinge wat die filosofie van personalisme probeer beantwoord het, was die vraag: “Wat maak mense wesens uniek? Wat is dit wat ons bestaan as mense, as persone definieer? Wat beteken dit om ‘n persoon eerder as ‘n ding te wees?” En die antwoord wat Edmund Husserl op daardie vraag gegee het, was eenvoudig dit, dat mense die vermoë het om met opset op te tree. Dit wil sê, ons kan ‘n doel wat ons wil bereik daar stel en ons kan keuses maak en besluite neem met die doel om daardie idee te verwesenlik. En daarom het Husserl daarop aangedring dat absoluut sentraal tot ons menswees die feit is dat ons die vermoë het om keuses te maak. Nou het ek gesê, die meeste van julle het waarskynlik nog nooit van Edmund Husserl gehoor nie, maar ek stel voor dat die meeste van julle ten minste van een van sy twee bekende dissipels gehoor het. Sy twee bekendste studente was Jean-Paul Sartre en Martin Heidegger. So jy het Satre en Heidegger, wat twee van die belangrikste ateïstiese filosowe van die twintigste eeu was. Albei het onder Husserl gestudeer; beide besig met die hele konsep van die menslike wilskrag. En Sartre het tot die gevolgtrekking gekom dat dit die menslike vryheid is wat die sterkste argument is wat daar teen die bestaan van God is. Basies het Sartre soos volg geredeneer, hy het gesê: “As die mens werklik vry is, kan God nie bestaan nie, en omgekeerd, as God bestaan, kan die mens nie vry wees nie.” Nou, dit was die opsies. En hy het gesê: “Ons weet verseker dat ons vry is. Ons weet verseker dat ons morele wesens is, dat ons wilswesens is. So dit bewys dat daar nie ‘n God kan wees nie.” Wel, daar was een element in sy redenasieproses wat ek nog nie aan julle verduidelik het nie. In die definisie van vryheid het Sartre aangevoer dat vryheid outonomie beteken. Laat ek dit weer sê, vryheid beteken outonomie. En tensy jou vryheid verhef word tot die vlak van outonomie, is jou veronderstelde vryheid maar ‘n lugspieëling. Goed. Wat is of beteken outonomie? Wat is ‘n outomobiel? Julle weet almal wat ‘n outomobile is. Dit is die ding wat elke dag jou brandstof sluk. Die woord “outomobiel” het ‘n voorvoegsel en ‘n wortel. “Outo” beteken “self”. “Mobiel” het te doen met beweging. ‘n Motor is ‘n masjien wat homself beweeg, behalwe wanneer dit sonder petrol of diesel gaan staan. Dan moet ons dit stoot, en dan is dit nie meer ‘n outomobiel nie. Maar daardie woord “outo” beteken “self”. Die Griekse woord vir wet is die woord “nomos”. Jy het dit al vandag gehoor, die woord “antinomian” beteken “teen die wet.” En dus beteken die woord “outonomie”, “auto-nomos”, letterlik “selfwet” of “selfregering.” En dus was dit die idee wat Sartre gehad het, dat om werklik vry te wees, ons ‘n absolute vryheid moet hê, ons moet outonomie hê wat beteken dat ons uiteindelik geen aanspreeklikheid teenoor enigiemand buite onsself het nie. So natuurlik as ek outonoom is, as ek myself regeer, is daar geen plek in daardie scenario vir ‘n soewereine almagtige Godheid wat in die hemel oor alle dinge regeer nie. As jy nou ‘n onoplosbare teenstrydigheid wil vind, ‘n antinomie (antiwet of teen ‘n wet) wat niemand kan oplos nie, sou dit die konflik tussen goddelike soewereiniteit en menslike outonomie (selfwet) wees. Daardie twee kan nie wedersyds in dieselfde heelal bestaan nie, net soos ons verstaan dat daar nie ‘n onbeweeglike voorwerp en ‘n onweerstaanbare krag in dieselfde heelal saam kan bestaan nie. Nou kan ons ‘n krag voorstel wat onweerstaanbaar is, en ons kan ‘n voorwerp voorstel wat onbeweeglik is. Wat rede nie kan bedink nie, is die saambestaan van twee sulke voorwerpe, waarvan een onbeweeglik en die ander onweerstaanbaar is. Hoekom nie? As ‘n onweerstaanbare krag ‘n onbeweegbare voorwerp ontmoet en die voorwerp beweeg, wat sê dit vir jou van daardie krag en wat sê dit vir jou van daardie voorwerp? Dit sê dat dit nie onbeweeglik is nie. As ‘n onweerstaanbare krag ‘n onbeweeglike voorwerp ontmoet en dit beweeg nie, wat sê dit vir jou van daardie onweerstaanbare krag? Dit sê dat dit nie onweerstaanbaar is nie. Jy het gedink dit is onweerstaanbaar. En die ou liedjieskrywer het dit verstaan. Sommige van julle met sneeu op die dak, onthou die liedjie? Dit klink soos volg: “If an irresistible force such as you meets an immovable object like me,” en dan gebeur wat? “Somewhere, somehow, da, da, da, da. Something’s gotta give, something’s gotta give something’s gotta give in.” Onthou julle dit? Dis hoe hulle in hierdie land liedjies geskryf het. Wat jy nie kan hê nie, is ‘n heelal waar jy ‘n soewereine God en ‘n outonome skepsel het. En slegs as jy dink dat menslike vryheid tot die vlak van outonomie styg, het jy hierdie probleem. Maar nêrens leer die Bybel ooit dat aan mense outonomie deur God gegee is nie. Inteendeel, outonomie is die onwettige, onwettige bereik van wesens wat gemaak is in onderwerping aan ‘n soewereine God. Jy weet, wat lees ons in die skepping toe God vir Adam en Eva in die tuin gesit het. Wat het Hy gesê? Het Hy vir hulle gesê: “Julle woon in hierdie tuin, en julle mag niks doen nie. Ek het al hierdie bome met al hierdie pragtige kosse daar in die tuin wat ek gemaak het, maar julle kan nie van enige van hulle gebruik maak nie. Moenie aan enige van daardie bome raak nie, want as julle aan ’n enkele boom in daardie tuin raak, sal julle sterf.” Is dit wat God gesê het? Dit is wat die duiwel gesê het wat God gesê het, maar dit is nie wat God gesê het nie. Hier is die eerste bekendstelling van die konsep van vryheid. “Van al die bome in die tuin mag jy vry eet, behalwe hierdie een hier. Jy mag nie daarvan eet nie. As jy dit doen, sterf jy.” Wat God aan die mens in die skepping gegee het, was die vermoë om keuses te maak, maar daardie vermoë was nie onbeperk nie. Dit was beperk. “Van al die bome,” het God gesê, “hier mag jy vry eet, maar jy kan nie sommer enigiets doen wat jy wil doen nie. Daar is perke aan jou vryheid. Daar is beperkings op jou vryheid.” En die ding is dit, God is vry en sy skepsels is vry, maar God is meer vry as sy skepsels. Dis nou eenvoudig. Jy sou dink dit sal eenvoudig wees, maar hier is die soort goed wat ek heeltyd in die kerk hoor. Kyk of jy hierdie een al gehoor het. “God se soewereiniteit word beperk deur menslike vryheid.” Het jy dit al ooit gehoor? Geliefde, dis nie goeie teologie nie; dis godslastering. Want as jy sê dat God se soewereiniteit deur jou vryheid beperk word, wie is soewerein? Jy is! Jy word nou outonomie (selfwet) gegee. Jy word vryheid gegee wat die vryheid van God self oortref. Hier is een nog erger, “God red soveel mense as wat Hy moontlik kan.” Jy weet, Hy wil graag almal red. Hy doen die beste wat Hy kan, maar as Hy in jou hart sou werk om jou hart sonder jou toestemming te verander, sou Hy jou vryheid skend, en dus kan God jou nie red tensy jy gered wil word nie. En die sondaar in die hel sou alles wou gee wat hy gehad het en alles doen wat hy kon om ontslae te raak van daardie vryheid wat God daarvan weerhou het om hom te red. Op die pad na Damaskus het Saulus van Tarsus nie vir Christus gevra om hom te red nie. Toe God deur Sy soewereine welbehae in my lewe binnegedring het en die gesindheid van my hart verander het, het ek Hom nie gesoek nie. Ek het hom nie gevra om in te kom nie. Hy het gekom. Dis hoe hy na jou toe gekom het. Hy het nie my vryheid vernietig nie. Hy het dit verhef, want voordat hy dit gedoen het, was ek ‘n slaaf van my eie bose neigings. Nou, in die voorsienigheidsleer praat ons oor die leerstelling van instemming, hoe daar die keuses van God kan wees terwyl daar keuses van mense is, en hoe God deur die keuses van mense werk sonder om ons keuses te vernietig. God het nie Josef se broers van hulle vryheid beroof nie. Josef se broers het presies gedoen wat Josef se broers wou doen. God het hulle nie gedwing nie, maar God het Sy soewereiniteit uitgeoefen deur hulle vrye besluite. Dis ‘n wonderlike ding. Dit is ‘n goeie ding, en ek is bly dat my vryheid nooit ‘n beperking op God plaas nie. As ek kies om enigiets te doen wat ek doen, as ek kies om my hand nou op te steek as ‘n oefening van geweld, het my verstand besluit dit sal ‘n goeie ding vir my wees om my hand op te steek en daardie idee het op een of ander manier aan my liggaam gekommunikeer, en die interaksie tussen nie-uitstrek en uitstrek vind plaas in hierdie aktiwiteit waar ek my hand opsteek. Wat daarvan as God nie wou hê ek moet my hand opsteek nie? Wat as God soewerein bepaal het dat ek nie my hand sal kan opsteek nie? God het geweet ek gaan my hand opsteek en hy het gesê: “Nee. Jy gaan nie jou hand opsteek nie.” Kon Hy my vernietig voordat ek my hand opgesteek het? Kon hy my vermoë verwyder? Absoluut. Daar was reeds vroeër verwys na die Westminsterkonfessie wat sê: “God bepaal van alle ewigheid af vry en veranderlik wat ook al gebeur, maar nie op so ‘n manier dat dit geweld aan die wil van die skepsel doen of om weg te doen met sekondêre of tweederangse oorsake nie.” My vermoë om my hand op te steek verg ware krag. Ek kan werklike oorsaaklike krag uitoefen deur te besluit dat ek hierdie effek wil hê om my hand op te steek, maar dit gebeur of vind plaas altyd en oral waar ek woon en beweeg en in God is, waar ek nie eens my hand kan opsteek sonder God se primêre krag nie. So, as jy hierdie probleem rondom die menslike vryheid haastig of vinnig gaan hanteer, moet jy ontslae raak van die heidense idee wat die kerk infiltreer het en sê dat die vrye wil outonomie beteken of dat vrye wil beteken dat jy as skepsel met gelyke krag die vermoë het om jouself óf tot die goeie óf tot die slegte te neig. Nee. God sê dat jy van nature in jou sonde ‘n slaaf is. Jy het nog steeds die vermoë om keuses te maak, maar jou keuses is goddeloos. Jy is moreel onbekwaam in en uit jouself totdat jy deur God die Heilige Gees in staat gestel word om die heilige dinge van God te kies. As God sou sê: “Hier is Ek. Hier is Jesus. Maak jou keuse.” Die humanis, die sekularis sê jy het die gelyke mag om Jesus te kies of om Jesus nie te kies nie. Maar die Bybel sê, sê Jesus, as daardie opsie jou voorgehou word in jou sonde, in jou korrupsie, in jou toestand van geestelike dood, jy nie vir Jesus sal kies nie, want jy kan Jesus nie kies nie, en die rede waarom jy nie vir Jesus kan kies nie, is omdat jy Jesus nie sal wil kies nie. Sien, die eenvoudige ding is dat jy nie kan kies wat jy nie wil hê nie. Wat keuse is, is om te kies wat jy die meeste wil hê in ‘n gegewe situasie, die kragtigste neiging wat jy op daardie oomblik het. So keuses gebeur nie in ‘n lugleegte nie. Keuses is nie magies nie. Elke keuse wat jy ooit gemaak het, het ‘n motivering daaragter. Dit is jou motivering, nie iemand anders s’n nie. Jy het nog nooit een keer in jou hele lewe iets gedoen wat jy nie wou doen nie. Ek het ‘n honderd dollar in my beursie wat ek nie aan die eerste persoon sal gee nie, maar hoeveel van julle dit ook al kan doen, wie kan my môre vertel nadat ek die hele nag daaroor gedink het aan ‘n enkele aksie wat jy al in jou lewe gedoen het wat jy nie wou doen nie. Jy kan sê: “Wag, ek hoef nie te gaan slaap om daaroor te dink nie. Ek is by hierdie konferensie, en dit is die laaste plek waarheen ek ooit wou gaan.” Ek sou sê: “Wel, hoekom is jy hier as jy nie wou kom nie?” “Jy weet nie. My vrou, as ek nie na hierdie konferensie toe kom nie, gaan sy my lewe hel op aarde maak, en ek het geen begeerte gehad om na hierdie konferensie te kom nie.” En ek het gesê: “Ja, maar ten tyde van die besluit was jou sterkste geneigdheid om aan die wense van jou vrou te voldoen eerder as om in die ellende te leef wat jy sou hê as jy dit nie gedoen het nie.” Dit is soos Jack Benny. Jy onthou die ou skets toe hy daar voor was, sy dialoog gegee het en ‘n ou wat van die kant van die verhoog af kom met ‘n masker en ‘n geweer, en hy die geweer op Jack Benny rig en sê: “Jou geld of jou lewe.” En Bennie sou gaan … en die inbreker sou sê: “Komaan. Wat doen jy?” Hy sê: “Ek dink daaroor.” Jy sien, selfs daarin, wat die inbreker doen, is dat hy jou nie dwing om vir hom jou geld te gee nie; nee, hy het net jou opsies tot twee verminder, en hy laat jou die besluit neem of jy vir hom jou geld wil gee en of jy wil sterf. Jy sal kies volgens die sterkste neiging wat jy op daardie oomblik het. Dit is hoe menslike keuses werk, en God weet dit. En God het die wysheid en die krag om deur ons begeertes te werk om Sy plan tot stand te bring. Selfs as of wanneer ons begeertes heeltemal sleg is, kan en werk God deur ons bose begeertes om sy goeie doel te bereik. Julle het dit ten kwade bedoel, maar God het dit ten goede bedoel. Onthou net altyd wie soewerein is en wie nie, en dit sal nooit vir jou ‘n probleem wees nie. Kom ons bid. “Vader, ons is so bly dat dit U is wat soewerein is. Ons dank U vir die mate van vryheid wat U aan ons gegee het, en ons dank U vir die vryheid wat ons s’n is in Christus, dat U ons deur die krag van die Heilige Gees nou bemagtig het om Jesus te kies, om Jesus te wil hê, om te begeer wat eens vir ons heeltemal onbegeerlik was. Toe ons U nie eens in ons denke wou hê nie, het U nou aan ons siel ‘n begeerte gegee om U te ken en U lief te hê. Dankie vir die uittog van ons siele uit die slawerny van sonde, amen.”