Ds Hendrik du Plessis
Met die beplanning van die uitreike het ons nooit voorsien dat dit soveel gaan reën nie. Ons was opgewonde en het daarna uitgesien. Nog ‘n rede vir ons oponthoud was ons ouderling se vrou wat herbegrawe moes word. Sy is in 1973 oorlede en in Gantsi begrawe en omdat ‘n pad oor haar graf gebou moet word word sy met die hulp van die owerheid herbegrawe. Dit kon ongelukkig nie realiseer nie en die datum moes uitgestel word. Ons kon egter eers Saterdag na Bere toe vertrek. Ons het in die reën gery en in die reën daar aangekom. Omdat ons eers laat uit D’kar vertrek het, het ons in die donker in Bere aangekom. Dit was om en by tienuur die aand. Ons het geen keuse gehad nie as om ons tente in die reën op te slaan, en so het dit deur die nag gereën. Tot ons skok sou ons agterkom dat al ons klere en selfs ons matrasse sopnat gereën het. Al droë klere wat ons gehad het was die aan ons lywe, en ons tente het ook begin lek. Die volgende dag was dit dieselfde. Ons moes in die tente sit en die reën trotseer. As die nood gedruk het moes jy maar in die reën gaan staan en nat word het.

Toe daar teen die volgende aand geen vooruitsigte was dat dit gaan ophou reën nie, het ons besluit om ons tente die volgende dag af te slaan en terug te gaan D’kar toe. Ons het ons tente in die reën opgeslaan. Ons kon darem ons twee hoofmanne groet. By die een kon ons ‘n ruk kuier met ons rûe teen die muur om nie nat te reën nie.

Die fotos hierbo is die Berepad toe ons teruggery het D’kar toe.
Die Maandagoggend het ons teruggery D’kar toe. Hoe welkom was ‘n warm stort net nie. My klere kon toe gewas word en ek kon my voorberei vir ons volgende uitreik na Motopi. Die Vrydagaand het tannie Dorette ons soos altyd baie hartlik ontvang. Wat my altyd van tannie Dorette sal bybly is ons diep geestelike gesprekke tot laat in die nag rondom die tafel.
Die Sondagoggend om 10:00 was die kerk redelik vol jongmense en ou mense. Na die diens het die jeug bymekaar gekom vir ‘n vergadering.

Nou onlangs het ‘n jongman by ons kerk daar aangesluit en die jeug begin mobiliseer. Tannie Dorette het al van hulle vergaderings bygewoon. Hulle het ‘n voorsitter, skriba en ‘n peningmeester wat alles opteken. Die aand het ons weereens by wyse van ‘n film ‘n Bybelstudie met die jongmense gehad. Dit was die film wat ons nou al drie of vier keer daar gewys het, “walking with Jesus.”
Ons sou die volgende dag Mababe toe vertrek het, maar almal het ons afgeraai omdat die pad onbegaanbaar was. Dit het baie gereën en orals op pad kry jy groot poele water wat jou hele bakkie sal verswelg, was hulle raad aan ons. Moet dit liefs nie waag om te kom nie.
Om af te sluit:
Vir ons was dit aan die een kant hartseer omdat ons graag al ons mense wou gaan opsoek het met wie ons ‘n verhouding opgebou het en onderrig in die Woord van die Here, maar aan die anderkant is ‘n mens dankbaar vir die milde reën wat so nodig is vir mens en dier om te kan oorleef. Wat reën aanbetref is dit vanjaar ‘n buitengewone geseënde jaar. Hier in D’kar het ons al vir die seisoen 753 mm reën gehad en dit reën steeds kort-kort. Ons bede is dat die Here ons ook so sal seën met die uitbreiding van sy koninkryk, dat die Woord van die Here ook daar sal reën op die harte van mense, want wat dit aanbetref is ons so absoluut van Hom afhanklik. U broer in Christus, Hendrik du Plessis.