Ds Hendrik du Plessis
Bere
As ‘n mens met iemand bevriend raak, waag jy dit later om hom as vriend te reg te wys op ‘n mooi manier. Jy doen dit omdat jy vir hom omgee. Ek glo dit is waarvoor vriende daar is. Die Here Jesus het sy dissipels sy vriende genoem en ons weet self watter enorme impak dit op hulle lewens gehad het. Die hoofmanne van Bere sien ek as my vriende en ek glo ook andersom. Aan die beginstadium van vriendskap is julle nog versigtig vir mekaar en julle voel-voel nog aanmekaar, maar later begin julle al hoe meer en meer vrymoediglik met mekaar praat. Twee van ons hoofmanne daar behoort aan die ZCC kerk. Dit is seker een van die grootste kerke in die suidelike halfrond met om en by 7 miljoen lidmate. Hulle opmars elke jaar na hulle groot kerk in Suid-Afrika naby Polokwane is Moria. Om en by drie miljoen kom daar bymekaar as dit nie meer is nie. Die kerk word genoem die ZCC (Zion Christian Church). Ons weet almal hoe besig die paaie hier oor die paasnaweek oppad Moria toe is.
Dit is ‘n sinkretistiese kerk wat allerhande bygelowe by die Christendom gevoeg het soos die raadpleging en verering van voorvaderlike geeste. Sinkretisme in hulle geval is ‘n vermenging van Christelike en tradisionele Afrika-godsdienstige oortuigings soos:
- Gebruik van geloofsgenesing en openbaring deur drome vanaf die voorouers
- Rivierdoop
- Rituele kledingstukke, dikwels meestal wit, en profetiese stokke.
- Kos-taboes, soos om nie varkvleis te eet nie.
Sommige denominasies aanvaar poligamie. Aan hulle hoofde het hulle goddelike statusse verleen dat jy selfs deur hulle tot God kan bid. ‘n Mens kan oor die ZCC baie uitbrei wat nie die doel van hierdie verslag is nie. My vraag aan die hoofman was: Hoe kan jy deel van ‘n kerk wees wat so ver afgewyk het van die Christendom. Hoe kan jy selfs saam met hulle aanbid. Hier in Gantsi was daar in die verlede op aandrang van verskillende kerke ‘n gesamentlike aanbidding elke jaar gereël waartydens al die kerke in die omgewing genooi word om vir iets spesifieks soos reën saam te bid. My verweer was nog altyd, hoe kan ek saam met ‘n kerk of kerke aanbid wat nie dieselfde belydenis as ons het nie. Hoe kan jy saam met die apostel kerke, die Jehowagetuies of die Sewendaagse Adventiste aanbid wat totaal en al in ‘n ander Jesus glo. Dit is tog onmoontlik. Hoe kan jy saam met die ZCC kerk aanbid wat nog aan hulle voorouergeeste glo en hulle raadpleeg. Hoe kan jy saam met hulle in dieselfde juk trek in aanbidding voor die Here?
Aan die anderkant is daar baie wat aan die ZCC behoort wat totaal en al onbekend is met hierdie dwaalleer. Gesels jy met die hoofmanne van Bere, is dit duidelik dat hulle nie naastenby van al hierdie dwaalleer of kettery bewus is nie. Hulle het destyds soos baie by die ZCC kerk aangesluit omdat dit ‘n indrukwekkende kerk is, min wetende by wie hulle werklik aansluit. Omdat die kerk soveel lidmate oor die Suidelike halfrond het, is dit te verstane dat die getalle die kerk baie indrukwekkend laat ly. Jy voel geborge tussen die massas. Jy voel selfs geëerd as jy deel kan wees van die massas.

Daar is verskeie redes waarom ek vriende gemaak het met hierdie hoofmanne. In die eerste plek het hulle baie invloed in die dorp en oor die dorp. Hulle staan uit as leiers. By Christelike byeenkomste soos onder andere begrafnisse is dit hulle wat die leiding gee. In die tweede plek is die ZCC kerk baie streng en duld nie sedeloosheid nie. As jy ‘n lidmaat van die ZCC kerk is, mag jy ook nie sterk drank gebruik nie. Die gevolg is jy het iemand op wie jy in ‘n groot mate kan reken. In die derde plek het hulle aangename persoonlikhede by wie ek maklik aanklank gevind het. So het die opleiding van hierdie hoofmanne stadig maar seker begin om op die ou end die hele dorp vir Christus te wen. Deur middel van klankopnames en ander studiemateriaal word hulle gevoer, ja voortdurend gevoer met die Gereformeerde leer, en draai my uitreike daar spesifiek rondom hulle opleiding – van ‘n hoofman tot ‘n Evangelis. Een van ons ander hoofmanne, behoort nie aan ‘n kerk nie en het al by verskeie geleendhede ons verseker dat hy deel voel en is van ons kerk. Hy is die hoof van die hoofmanne, aangestel deur die regering en die hele dorp val onder hom. Die ander hoofmanne is dus sy onderhoofmanne.
Ons groot probleem in Botswana is, daar is ‘n mag-der-menigte sulke dorpies of nedersettings oor die hele Botswana wat deur hoofmanne beheer word, maar daar is feitlik niemand onder hulle wat geleerd is nie. Die hoofmanne van Bere is nie geleerd nie, alhoewel hulle op hulle manier kan lees en skryf. Die gevolg is jy kan eintlik niemand stuur vir verdere opleiding, om eendag ‘n predikant te word nie, maar jy kan hulle daar plaaslik oplei om Evangeliste vir daardie dorpie te word. Jy lei hulle op as dissipels om ander dissipels te maak. Dit bring ons by die vraag: Wat van hulle betrokkenheid by die ZCC? Wat van hulle betrokkeheid by die aanroep van voorvaderlike geeste? Dit is een van die eerste vrae wat jy vir jouself vra wanneer jy iemand na die Here Jesus toe lei. Vrae soos: In hoe ‘n mate is jy betrokke by jou voorouers? Verskyn hulle in drome aan jou? Het jy hulle al genader om hulp? Al is nie een van die hoofmanne betrokke by die verering of aanbidding van voorouers nie, en daaroor is ons baie dankbaar, is dit deel van hul opleiding om ander te waarsku. Ons hoofmanne is almal Boesmans (Qgõo-boesmans), en die Boesmans het nie ‘n voorvaderbeheptheid soos die swart mense van Afrika nie. Hoewel die Boesmans in geeste glo, het ek nog nie by hulle die tendens of geneigdheid gesien om voorouers te raadpleeg nie. Ons Sondagskoolonderwyseres is wel ‘n Tswana, maar sy het dit duidelik laat blyk dat sy nie daaraan glo of daarby betrokke is nie.
Op ‘n keer het ons by mense in Suid-Afrika huisbesoek gedoen. Dit was by my vorige sendinggemeente waar ons betrokke was. Die aand het ek en my ouderling by ‘n spesifieke huis gaan besoek aflê. Dit was ‘n Tswanagesin. Gou het ons agtergekom dat hulle nog in hulle voorouers glo. Na my verduideliking uit die Skrif dat hulle sogenaamde voorouers op hulle beste demone is wat in die vorm van hulle voorouers aan hulle verskyn, het die een vrou instemmend haar kop geknik, en gesê: “Wat jy vir my nou sê maak sin, want my ma was nog deur al die jare ‘n baie nederige en liefdevolle mens. Sy het presies geweet hoe swaar ons hier kry en dat ons niks het nie, maar nou eis sy dat ons vir haar ‘n bees as offer moet bring. Waar gaan ons ‘n bees vandaan kry? Dit maak dus vir my sin,” sê sy, “dat dit nie sy is nie maar ‘n demoon.”
My ouderling in Suid-Afrika wat die aand teenwoordig was, het self so ‘n ondervinding gehad. In ‘n droom het sy sogenaamde “ouma” vir hom gesê dat hy ‘n swart lappie onder sy kopkussing moet sit sodat hy drome van haar kan ontvang. My ouderling het vir my gesê, hy het nooit op die versoek gereageer nie, maar sy familielede, broers en susters wat nog in hulle voorvaders glo, slaap nie in die nag nie as gevolg van nagmerries.
Uiteindelik het ons tyd in Bere uitgeloop en kon ons retrospeksie doen oor ons tyd wat ons by hulle deurgebring het. Behalwe ons besoeke deur die dag het hulle by ons in die aande aangedring om die Christelike films wat ons by ons het te wys, al het hulle dit vir die hoeveelste keer gesien. Vir my is dit altyd positief omdat daar soveel skrifgedeeltes is wat oor en oor herhaal word. Ek self het dit al hoeveel keer opgemerk dat hulle die film onder mekaar bespreek en die tersaaklike gedeeltes herhaal.
Mababe
Van Bere af is ons die Vrydag na Mababe toe. Normaalweg besoek ons eers Motopi vir die naweek, maar tannie Dorette het my laat weet dat daar die naweek omtrent niemand op Motopi by die kerk gaan wees nie siende dat dit vakansie is. By Mababe het ons vriende alreeds vir ons ‘n plek gereed gekry waar ons kon kamp. Daar gekom sou ons sien hoeveel moeite hulle gedoen het om die plek vir ons gereed te kry. Daaroor was ons baie dankbaarheid. Oor die naweek en die volgende week kon ons verskeie kere Bybelstudies met hulle hou en die films wys. Op versoek van mense by ‘n jagkamp het ons ook na hulle toe uitgereik, Bybelstudie is met hulle gehou en Bybels uitgedeel. Onder baie mense soms die van wie jy dit die minste verwag is daar ‘n honger vir die Evangelie. Ons het ook klere uitgedeel wat ons nie laas kon doen nie. Dit is die klere wat die gemeentes van Suid-Afrika vir ons ingesamel het. Met ons vorige geleenthede was daar nie plek vir die klere nie, maar die bokse was gemerk vir Mababe. Aan die begin van hierdie jaar weens die baie reën was dit ook nie vir ons moontlik om Mababe toe te gaan nie, maar hierdie keer het ons gesorg dat die klere saamkom, en daaroor was hulle baie dankbaar en het gevra om hulle dank oor te dra.

Op Mababe het ek met drie mense goed bevriend geraak. Al drie van hulle behoort ook aan die ZCC kerk. Ek het al vir myself die vraag afgevra hoekom ek ZCC mense soos magneet aantrek. Ook hulle is deel van my opleidingspan en vergesel my orals waar ons Bybelstudies aanbied. Een aand het ons (een van hulle en sy vrou) rondom die vuur gesit en lank met my gesels. Ek wou by hom weet hoe hy by die ZCC mense uitgekom het en by hulle aangesluit het. Hy was baie siek, sê hy, en kon nêrens hulp kry nie. Uit desperaatheid het hy toe na die ZCC kerk toe gegaan en hulle kon hom help. Hy het gesond geword en toe besluit om by hulle aan te sluit. Volgens die studie waarna ek vroeër verwys het gebeur dit heel dikwels dat hulle hul voorouers in ‘n droom sien. Oupa of ouma of ma of pa, wat al oorlede is, verskyn dan in ‘n droom aan hulle en verwys hulle na die ZCC kerk as hulle gesond wil word. So het dit gebeur dat hierdie vriend van my by hulle aangesluit het. Daarna het ek na verskeie skrifgedeeltes met hom en sy vrou behandel en verduidelik dat die mense wat mense sê hulle in drome sien nie sy voorouers is nie, en dat sulke wonderwerke nie van die Here af kom nie. In Mattheüs 7:23 staan daar dat daar baie mense eendag Here Here gaan sê, wat baie kragtige dade in die naam van die Here Jesus kon doen, vir wie die Here gaan sê: “Ek het julle nooit geken nie.” Genesings en wonderwerke en selfs die uitdryf van demone is nie die waarborg van die Here se teenwoordigheid of dat die Here jou ken nie. In Mattheus 24:24 sê die Here Jesus dat daar valse christusse en valse profete gaan opstaan en groot tekens en wonders sal doen om as dit moontlik is ook die uitverkorenes te mislei. Die feit dat die ZCC kerk deur voorvaders of voorouers onderskryf en aanbeveel word sê alles oor hierdie kerk. Hierna het hulle ons gesprek in die rigting van varkvleis gestuur, want die ZCC’s eet nie varkvleis nie. Vir die ZCC kerk is die eet van varkvleis ‘n taboe, ‘n sonde. Vanuit die Ou Testament en Handelinge 10 het ek aan hulle verduidelik waar dit alles vandaan kom, die doel daar agter en hoe dit alles in Christus vervul is. My saamwees met hierdie mense het nie net ten doel om hulle die Bybel te leer nie maar is ook apologeties van aard, om dwaalleer te weerlê veral wat hulle eie kerke aanbetref. Hoewel ons van die Vrydag tot die Woensdag daar by hulle was het die tyd vinnig verbygegaan.

Motopi
Met ons teruggaan kon ons tog by tannie Dorette die Woensdagaand oornag. By haar was van ons vriende van Suid-Afrika vir ‘n uitreik na Shakawe en kon ons saam die aand rondom die Bybel kuier tot laat, en so ook die volgende oggend. My geestelike batterye was behoorlik gelaai. Die Here, glo ek, stuur sulke vriende op jou pad. Paulus was op ‘n stadium baie neerslagtig en het die Here dit so bestier dat Titus daar opdaag. Paulus skryf in 2 Korinthiërs 7:5-6: “Want selfs nadat ons in Macedonië gekom het, het ons liggaamlik geen rus gehad nie, en het ons van alle kante verdrukking ervaar – van buite aanslae, en van binne angs. 6Maar God, wat die neerslagtiges bemoedig, het ons bemoedig deur die koms van Titus –”
Om af te sluit word u voorbidding gevra vir hierdie bedieningspunte, vir my vriende en mense daar wat ‘n verwronge idee het van wat dit beteken om ‘n Christen te wees – mense wat glo, maar nie die kennis het nie. My troos was nog altyd die woorde van ons Here Jesus in Johannes 6 verse 37: “Al wat die Vader my gee, sal na my toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom nooit uitwerp nie.” Daarmee saam vers 44: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” Ons evangeliseer, maar dit is die Vader wat trek. U broeder in Christus, Hendrik du Plessis. (‘n Skakel om meer te wete te kom oor die ZCC: https://www.tkm.co.za/doc/zcc.html)