Hierdie verslag gee ‘n opsomming van ons onlangse besoek aan Bere, wat “toevallig” saamgeval het met ‘n plaaslike kulturele dansfees.
Onverwagte Dansfees en Amptelike Verrigtinge
Ons besoek aan Bere hierdie afgelope naweek het onverwags saamgeval met ‘n kulturele dansfees vir die plaaslike inwoners. Die doel van die regering met hierdie dansfeeste is ‘n poging om die verskillende kulture in Botswana te laat herleef.

Ons was nie bewus van hierdie dansfees die naweek nie totdat die hoofman ons Vrydagoggend daaroor ingelig het. Die geleentheid het ‘n unieke platform gebied vir interaksie en waarneming. Alhoewel sulke kulturele aangeleenthede baie kultiese elemente bevat, lyk dit so onskuldig vir die toeskouer wat daar eenkant met sy kamera staan en fotos neem. Ek het dit al in die verlede genoem dat die Afrikamens amper nie ‘n kultuur het nie, maar kulturele elemente het in sy kultus.

Selfs wat eenvoudige en niksseggende dingetjies aanbetref. Hy sal so sit en koffie of tee drink en dan die laaste bietjie in die koppie op die grond uitgooi vir sy voorvaders.
Die Saterdag was toegespits op die formele bekendstellings en toesprake deur verskeie hoofmanne, insluitend hooggeplaaste regeringsamptenare en hoofmanne van so ver as Kang. Hierdie byeenkoms het ‘n omvattende oorsig oor die plaaslike leierskapstrukture gebied. Die toesprake was tussendeur onderbreek deur die dansgroepe teenwoordig. Die laaste dansgroep teenwoordig het ons begelei na ‘n puberteitsdans. Die puberteitsdans is ‘n dans wanneer ‘n meisie volwasse begin word. Sy word dan in ‘n hut geplaas.

Vir sewe dae dans die vrouens sekere tye om die hut met ontblote boude. Die ouer mans mag daar wees maar nie die jonger garde nie. Gedurende die dag of nag wanneer die meisie bossies toe wil gaan moet sy ‘n maramapit (kastaiingpit) in haar mond sit en so spoeg spoeg uitstap en terugkom. Sou hierdie wette nie nagekom word nie, kan daar onheile te wagte wees. Die reën kan byvoorbeeld negatief beinvloed word en so ook die veldkosse daardie jaar. Al hierdie kulturele elemente lyk so mooi en onskuldig van buite, maar van binne bekyk het jy te doen met kultiese verpligtinge wat nagekom moet word om onheile en bose geeste weg te hou. Dit is waar die Evangelie van ons Here Jesus ‘n wonderlike bevryding bied. In Johannes 8:32 sê die Here Jesus: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Een van die eerste tekens van ‘n kultus, is vrees. Sou jy die tradisionele of te wel kultiese verpligtinge nie nakom nie, lê daar onheile vir jou en wag, en enige iets negatiefs wat dan in jou lewe gebeur word daaraan toeskryf. Vandaar dat die toordokter of tradisionele geneesheer so ‘n belangrike rol speel om onheile van jou af te weer.
Na afloop van die formele verrigtinge het ons die middag saam met die plaaslike gemeenskap geëet, wat die geleentheid vir verdere informele gesprekke moontlik gemaak het.
Gesprek met Mev. Mereyabone en Gebedsversoeke
Die Sondagoggend het ons die geleentheid gehad om met Mev. Mereyabone te gesels. Sy het haar begeerte uitgespreek om na ‘n ander area verplaas te word en het dit aan die Here opgedra. Laat sy wil geskied.

Sy is bewus daarvan dat haar vertrek ‘n leemte gaan laat wat die Sondagskoolkinders aanbetref. Ons gebed is dat, sou sy verplaas word, die Here ‘n getroue persoon in haar plek sal voorsien om hierdie leemte te vul.
Onverwagse Huweliksvergadering en Geestelike Gesprek
Voordat ons Sondag vertrek het, het ons besluit om een van ons onderhoofmanne te groet of totsiens te sê. Met ons aankoms het ons gesien hy is in ‘n vergadering. Ons is egter hartlik genooi om by hulle aan te sluit. Die vergadering handel toe oor die beplanning van een van hul kinders se huwelik.
Ek is gevra om ‘n gebed te doen, en iets gepas te sê. Ek het toe van die geleentheid gebruik om met die bruid en die ander teenwoordig te gesels. Aangesien hulle aan die ZCC-kerk behoort, het ek haar spesifiek uitgevra oor haar betrokkenheid by voorvaderverering of -aanbidding, aangesien die ZCC nog glo in die bestaan van hul voorouers en hul betrokkenheid hier op aarde. Haar bevestigende antwoord het vir my ‘n geleentheid gegee om sogenaamd “ontydig” die onderwerp aan te raak.
Uit die Skrif het ek toe aan hulle verduidelik hoe die praktyk van voorvaderverering en -aanbidding alreeds sedert die Ou Testament deur die Here mishaag en verag is, en as ‘n gruwel in sy oë beskou is. Ek het gedeeltes soos Deuteronomium 18 en die uiteinde van Saul, wat die gees van ‘n afgestorwene aangeroep het, as voorbeelde gebruik. In 1 Kronieke 10:13 staan daar spesifiek: “En Saul het gesterwe weens ontrou wat hy teen die Here begaan het, weens die woord van die Here wat hy nie gehou het nie; en ook omdat hy die gees van ‘n afgestorwene om inligting gevra het,”
My bede is dat die Here hierdie boodskap sal seën en vrug sal laat dra in hul lewens. Ek is van harte daarvan oortuig dat ons nie toevallig op daardie spesifieke oomblik daar aangekom het nie. Normaalweg sou ons nog by die kerk gewees het, maar weens die naweek se verrigtinge moes ons die diens uitstel.
Publikasie oor Voorouers en die Bybel
Ek wil ook graag u voorbidding vra vir die saamstel van ‘n kort publikasie. Die doel van hierdie publikasie is om die Bybelse siening oor voorouers en die raadpleging daarvan duidelik uiteen te sit. Ek beplan om hierdie skrywe so ver as moontlik regdeur Suider-Afrika te versprei. Ek vra u voorbidding in hierdie verband, want ons weet, oral waar jy die duiwel direk aanvat, daar kry jy geweldige teenkanting, tot selfs vervolging. Die normale strategie van die duiwel is om jou te beskuldig of onder verdenking te plaas dat jy niks omgee vir hulle kultuur nie. Mag die Here aan my wysheid gee in hierdie verband. U broer in Christus. Hendrik du Plessis