Ds Hendrik du Plessis
1. Bybelvertaling
Ons kon onlangs weer ’n intensiewe hersieningsweek inpas. Hierdie keer het ons saam met die vertaalspan die boek Hooglied deurgewerk. Dit is ’n baie uitdagende boek met komplekse vertalingsmoontlikhede.
Stadig maar seker vorder ons deur die Ou Testament. Ons doelwit is om die Ou en Nuwe Testament binne die volgende vier jaar saam te publiseer. Die Nuwe Testament is reeds in 2012 uitgegee en ons wag nou vir die voltooiing van die Ou Testament sodat dit as ’n volledige Bybel gedruk kan word.
2. Versterking van die Kerkraad en Gemeentelike Groei
Die afgelope maand was gevul met besondere genade en diep hoogtepunte vir ons gemeentelike lewe, veral wat betref die toerusting en bevestiging van plaaslike kerkraadslede.
- Bevestiging van nuwe ampsdraers (Naweek van 14 Junie 2026): Dit was ’n groot hoogtepunt vir die gemeente om twee Herero-broers amptelik as ouderling en diaken te bevestig. Hierdie broers het vooraf getrou die belydenisklasse bygewoon en ’n tyd gelede belydenis van geloof afgelê. Nadat hulle vir die voorafgaande drie Sondae sonder enige beswaar ter approbasie (goedkeuring) aan die gemeente voorgehou is, kon hulle finaal in die ampte bevestig word.
- Kontinuïteit in plaaslike leierskap: Hierdie bevestiging volg op die vroeëre verkiesing (soos vermeld in die verslag van September 2025) van ’n Naro-sprekende lidmaat as ouderling, wat ook as die koördineerder van die Naro-Bybelvertalingsprojek dien. Dit is bemoedigend om te sien hoe die kerkraad oor taalgrense heen versterk word om die onderskeie gemeenskappe te bedien. Ons vertrou dat ons voortaan meer Hereros tot ons gemeente sal byvoeg, want ook hulle lê braak vir die sending hier in Botswana.

3. Besoek aan Mababe: (17–21 Junie 2026)
Vanaf 17 tot 21 Junie is ‘n besoek aan die Mababe-omgewing afgelê. Hoewel die reis vrugbaar was, het dit ook logistieke uitdagings meegebring.
Reis- en padtoestande
Die pad na Mababe was in ’n baie slegte toestand. Op een spesifieke plek het ’n groot vragmotor vasgesit. Omdat dit reeds donker was, moes ons ’n alternatiewe roete vind om verby te kom. (Die twee foto’s wat vanaf die web afgelaai is, dien as illustrasie van die padtoestande).

As gevolg van die moeilike padtoestande kon ons ons bestemming eers lank ná donker bereik. Dit het ons meer as twee uur geneem om vanaf Maun tot in Mababe te ry.

Kampbesoeke en Skrifonderrig
Tydens die uitreik kon verskeie kampe in die omgewing besoek word, waar ons mense gevind het met harte wat honger is na die Woord:
- Mokgotlho Lodge: Hier het ons ’n baie geseënde interaksie gehad. Twee persone het vir omtrent ’n uur lank indringende vrae gevra oor verskeie aspekte van die Bybel wat vir hulle onduidelik was. Dit was vir my verblydend om te sien dat hulle nie net hul Bybels lees nie, maar dit intens bestudeer.
- Filmbediening: Die vertoning van die film “Walking with Jesus” moes helaas op twee opeenvolgende aande weens onverwagse reën kortgeknip word.
- Ywer vir die Woord: Samuel, ons nuutverkose diaken wat die reis saam met ’n vriend meegemaak het, het uitgestaan met sy besonderse ywer tydens die Bybelstudiesessies. (Op die foto staan hy in die middel). Hy het elke teksgedeelte en kernpunt getrou in ’n boekie aangeteken om te verseker dat niks verlore gaan nie. Sy groot honger om die Skrif dieper te verstaan, is baie bemoedigend.
’n Mooi gebaar: Op die foto hier onder is ’n Hererovrou wat baie desperaat was vir ’n Hererobybel. Gelukkig het Samuel die Bybel by hom gehad wat ek ’n ruk gelede vir hom gegee het. Dit was vir my ’n pragtige gebaar toe hy sy eie Bybel vir haar aanbied, aangesien ek nog ’n paar Hererobybels tuis het.

4. Gebedsversoeke
Ons dra die werksaamhede en die leierskap in biddende afhanklikheid aan die Here op en vra u voorbidding vir die volgende sake:
- Geesdrif en wysheid: Dat die Here ons nuutverkose kerkraad sal seën met ywer, hemelse wysheid en die nodige kennis om sy kudde reg te lei.
- Bewaring en beskerming: Bid asseblief vir ons uitreike, ons gemeentes, asook die kerkraad in hierdie uitdagende tyd — dat die Here ons van die bose sal bewaar en die werk van die vyand sal verbreek.
5. Ons troos in die verkondiging van die Evangelie
In Handelinge 18:9-10 sê die Here Jesus in ’n naggesig vir Paulus om na die stad Korinthe te gaan, om die eenvoudige rede dat daar baie mense is wat aan Hom behoort:
“Die Here het een nag deur ‘n visioen vir Paulus gesê: ‘Moenie bang wees nie, maar hou aan praat en moenie stilbly nie! Ek is immers met jou en niemand sal ‘n vinger op jou lê om jou kwaad aan te doen nie, want in hierdie stad is daar baie mense wat aan My behoort.’”
Al wat Paulus moes doen, was om te praat en nie stil te bly nie. Daar staan nie dat hy hulle moes probeer oortuig of oorhaal nie. Nee, nog voordat Paulus daar opgedaag het, het hulle reeds aan die Here Jesus behoort; die verkondiging van die Woord onder hulle het dit bloot bevestig. Soos die Here Jesus in Johannes 6:37 sê:
“Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My kom, en Ek sal die een wat na My kom, nooit verstoot nie.”
Paulus gaan na die stad, verkondig die Evangelie, en diegene wat reeds aan die Here Jesus behoort, kom na Hom toe.
In Handelinge 13 was Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië. Hulle het eers in die sinagoge gepreek, maar toe baie van die Joodse leiers die boodskap verwerp en hulle teëgestaan het, het Paulus-hulle aangekondig dat hulle hul nou na die heidene (die nie-Joodse volke) wend. Vers 48 beskryf die heidene se blye reaksie hierop:
“Toe die heidene dit hoor, was hulle bly en vol lof oor die woord van die Here. En diegene wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.”
Dit is die motivering agter elke uitreik. Ons moet die Evangelie van ons Here Jesus gaan verkondig en nie stilbly nie. Diegene wat aan die Here Jesus behoort, sal na Hom toe kom, en hulle wat vir die ewige lewe bestem is, sal gelowig word. Dit maak van Evangelisasie en Sending die mees suksesvolle roeping op aarde.
U broer in Christus,
Hendrik du Plessis