Ds Hendrik du Plessis
1. Bybelvertaling
Ons het weer ’n intensiewe hersieningsweek ingepas. Hierdie keer was ons vertaalspan besig met die boek Joshua en 1 Samuel. Weereens was die vertalingsmoontlikhede baie uitdagend omdat die Khoesantale ver verwyderd is van die ander tale. Ook onder mekaar verskil die Khoesantale. Waar die Khoetale elke woord kategoriseer as manlik, vroulik en onsydig, is dit met die Santale net mooi die teenoorgestelde. ‘n Eenvoudig voorbeeld: Die Santale het dieselfde woord “jy” of “jou” vir vroulik of manlik soos in Engels of Afrikaans. Soos in Afrikaans of Engels is daar nie ‘n vroulike “jy” of ‘n manlike “jy” nie, terwyl die Khoetale ‘n manlike jy/jou en ‘n vroulike jy/jou het en al die woorde in die woordeboek word in detail uitgewerk as manlik, vroulik of onsydig, met vroulike “julle’s” en manlike “julle’s” en vroulike “onse” en manlike “onse” en selfs ‘n “ons” en ‘n “julle” vir mans en vrouens saam en vir twee mans en vir twee vrouens en vir ‘n man en ‘n vrou saam ensomeer. So jy moet elke keer seker maak wie die mense is van wie daar gepraat word. Praat die Here Jesus hier net met sy dissipels of was vroue ook deel van hulle? As die Here Jesus net met Maria of Martha praat word die vroulike vorm gebruik sou daar ‘n “jy” of “jou” of ‘n “julle” ter sprake wees. Ons vra u voorbidding vir hierdie vertaling, en ook dat daar met die Qgõovertaling (‘n Santaal) begin sal word. Naro is deel van die Khoetale. Die Khoetale verskil onderling soos Duits van Afrikaans van mekaar, en die Santale verskil van die Khoetale soos Sjinees van Afrikaans. Gelukkig het die Santale hierdie ingewikkeldheid in ‘n groot mate vrygespring.
Ons uitreik na Bere
Die terugvoer oor die naweek-uitreik het weereens gesprekke ontlont rondom kultuur en geloof.
- Oorsig oor die naweek se dansfees
Die afgelope naweek se uitreik na Bere het saamgeval met die streek se jaarlikse dansfees. Dit het gesorg vir ‘n miernes van bedrywighede. Die geleentheid word jaarliks deur die regering georganiseer as deel van hulle inisiatief om die plaaslike kulture te bevorder en te laat herleef.
- Die fees is op hoë vlak bygewoon, van die minister van transport tot die plaaslike regeringshoofde, wat almal tydens die geleentheid toesprake gelewer het.
- Verskeie kultuurgroepe het die platform gekry om hul tradisionele danse en tradisionele gebruike ten toon te stel.

2. Geestelike Uitdagings: Die Verweefdheid van Kultuur en Kultus
Ná die amptelike verrigtinge in ‘n persoonlike gesprek met ons plaaslike hoofman daar, het die diepgewortelde geestelike blinde kolle van die gemeenskap weer duidelik geword. Daar is ‘n algehele gebrek aan onderskeid tussen kulturele praktyke en die kultiese/okkulte handelinge.

- Sincretisme (Geloofsvermenging): Vir die hoofman en baie gemeenskapslede is dit heeltemal normaal en aanvaarbaar om Christus in die kerk te bely en te dien, en terselfdertyd tradisionele genesers te raadpleeg.
- Besoek van ‘n Tradisionele Geneser: ‘n Bekende tradisionele geneser van Tchabo het ook die fees bygewoon. Van die rituele behels dan dat dansers om ‘n vuur dans totdat die geneser/sjaman in ‘n trans verval. Daarna lê hy die hande op dié wat vir genesing vra. Die hoofman was self baie ywerig om hierdie handoplegging te gaan bywoon.
- Die Hoofman se Argument:
- Die hoofman beskou die sjaman se krag as ‘n “gegewe gawe van God” wat histories deur die eeue heen vir hulle Boesmans gewerk het.
- Hy meen dat die tradisionele gebruike (soos die dans vir reën, gesondheid, voorspoed ensomeer) altyd in die verlede deur God verhoor is, en dat Christenskap en tradisionele rituele daarom naas mekaar beoefen behoort te word, want dit is alles gawes wat die Here aan ons gegee het.
3. Die implikase van hierdie kulturele inisiatief

Die regering se aktiewe ondersteuning om hierdie gebruike te laat herleef, gee aan die gemeenskap ‘n gevoel van kulturele en geestelike oplewing. Dit skep ‘n unieke uitdaging vir evangelisasie en sending:
- Die gemeenskap sien nie die noodsaaklikheid van bekering weg van afgodery/sjamanisme nie, maar voeg die Christelike geloof by hul bestaande bygelowe.
- Daar is ‘n dringende behoefte aan diepgaande, duidelike onderrig oor die uniekheid en alleenheerskappy van Jesus Christus, sowel as die Bybelse onderskeid tussen die gesonde kultuur en die heidense kultusse. Gesonde kultuur sou byvoorbeeld wees om die ouer mense met respek te behandel, maar dit verkondig die Bybel ook. Die westerse beskawing het die gewoonte om die vrouens eerste te stel met “ladies first” en dan loop hulle voor die mans uit. Volgens die Afrikamens moet die mans voor loop om die vrouens en kinders teen roofdiere en gevare te beskerm, en daarmee is daar niks verkeerd nie. Dit is kulturele gebruike. Dit is gewoontes in verskillende dele van die wêreld wat kultuur genoem word. Dit is hoe mense hulleself gehandhaaf en georganiseer het, maar sodra jy die kultuur vermeng met geestelike bygelowe beweeg jy op ‘n kultiese terein. Daarvoor is daar baie gebruike onder die Afrikamens wat stiptelik nagekom moet word om nie die argwaan van die voorvaders of geeste te ontlok nie, want ‘n kultus gaan altyd gepaard met vrees. As jy dit of dat nie doen nie, kan jy sekere onheile te wagte wees. Die gevolg is dat jy in vrees leef sou jy een of ander wet oortree. So ‘n sjaman of kulturele geneesheer moet dan gereeld besoek word om die onheile van jou af te weer. Dit is absoluut heidens.
Gebedsversoeke en Opvolg:
- Gebed vir die Hoofman: Ons vra u voorbidding vir die hoofman, maar ook vir almal daar dat die Heilige Gees hulle die verskil sal wys tussen die waarheid van die Evangelie in kontras met die misleiding van hierdie kultiese rituele.
- Bedieningstrategie: Dat ons span die nodige wysheid sal ontvang om die Evangelie taktvol, dog sonder kompromie, te verkondig aan ‘n gemeenskap wat sterk deur tradisies aangevuur word. In Kolossense 4:6 sê Paulus: “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle elkeen moet beantwoord.”
Dit bring ons dan by die vraag te staan hoe Paulus die Evangelie verkondig het onder sulke mense met hulle eeue oue bygelowe. Het hy met hulle ‘n kompromie aangegaan? Nie eers naastenby nie. In Handelinge 14 kom Paulus en Barnabas in Listre aan. Daar ontmoet hulle ‘n man wat gesit het en sy voete nie kon gebruik het nie. Van sy geboorte af was hy verlam en kon nooit loop nie. In vers 9 staan daar: “Hy het na Paulus se woorde geluister. Paulus het stip na hom gekyk, en toe hy sien dat hy die geloof het om genees te word, het hy met ‘n harde stem uitgeroep: ‘Staan op, regop op jou voete!’ En hy het opgespring en begin rondstap.” Die mense daar in Listre interpreteer dit toe volgens hulle geloof, as gode wat na hulle toe neergedaal het. In vers 11 staan daar: “Toe die skare sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: ‘Die gode het soos mense geword en na ons afgedaal!’” Met alle geweld wou die skare toe aan Paulus en Barnabas offers bring. Vir Barnabas het hulle Zeus genoem en vir Paulus Hermes. Wat Paulus en Silas toe doen was merkwaardig. Hulle het nie die skare laat begaan en geredeneneer, ‘kom ons los hulle, ons sal later aan hulle verduidelik, en hulle weet nie van beter nie.’ Nee, op daardie oomblik het Paulus en Barnabas hulle klere geskeur en tussen die skare in gespring en geskreeu: “Mense, waarom doen julle dit? Ons is ook in alle opsigte mense, net soos julle! Ons verkondig aan julle die Evangelie dat julle van hierdie nuttelose dinge moet wegdraai na die lewende God, wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het.” Dan verduidelik Paulus en Barnabas aan hulle hoe die Here al die jare gewerk het: “Al die heidennasies het Hy in vorige geslagte toegelaat,” sê Paulus, “om op hulle eie paaie te gaan, maar tog het Hy geen onduidelike getuienis van Homself gegee nie, deur goeie dinge te doen: Hy het uit die hemel aan julle reën en vrugbare seisoene gegee, en julle liggame met kos en julle harte met vreugde gevul.” Wat dit aanbetref was die Here nie onduidelik oor Homself nie. In Handelinge 14:16-17 sê Paulus, “al die heidennasies”, met geen uitsondering nie. Hy het hulle toegelaat om op hulle eie paaie te gaan. Hy het hulle toegelaat en nie gedwing nie, want dit is wat die natuurlike mens vir homself gekies het weg van God af. Tog het Hy vir hulle duidelike tekens gelaat van Homself. Die rouste heiden kon sien dat dit die Here is. Paulus-hulle soek dan nie ‘n tiepe van kompromiegodsdiens nie, maar sê duidelik en onomwonde in vers 15: “Ons verkondig aan julle die evangelie dat julle van hierdie nuttelose dinge moet wegdraai na die lewende God, wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het.” Tog, sê Paulus, al was dit vir eeue so, het dit nie beteken dat God afwesig was nie. Nee inteendeel, vers 17: “maar tog het Hy geen onduidelike getuienis van Homself gegee nie, deur goeie dinge te doen: Hy het uit die hemel aan julle reën en vrugbare seisoene gegee, en julle liggame met kos en julle harte met vreugde gevul.” As die rou heidene vir eeue lank rondom ‘n vuur gedans en sekere rituele gedoen het, was dit die Here wat hulle gehelp het ondanks hulle onkunde. Dit was nie hulle voorvaders of gode soos Zeus of Hermes of die duiwel nie. As so ‘n heiden tot inkeer wou kom sê Paulus, moes hy van hierdie nuttelose dinge wegdraai na die lewende God.
Die probleem is dus, as jy hierdie kultiese bygelowe aanspreek kom jy so maklik in die spervuur dat jy hulle kultuur minag, terwyl hierdie kultiese bygelowe niks met kultuur te doen het nie. Die duiwel is slinks. Dit is dieselfde wat gebeur met die verskillende kultiese kerke. Die oorgrote meerderheid noem hulleself “apostel kerke” en daarbinne floreer die sangomas (sjamans). Dit is asof hulle tot die besef gekom het dat sangomas in baie huishoudings nie meer so welkom is nie, maar as ons onsself “baruti” of “apostels” of “pastore” noem, ontvang die mense ons met ope arms. Vandaar dan die ontstaan van al hierdie kultiese kerke wat eintlik maar op hulle beste sangomakerke is. Dit is dus ons uitdaging en voorbidding om hierdie eenvoudige waarheid van die Evangelie kompromieloos aan elkeen te verkondig. Dit is net die Heilige Gees wat oortuig, en Hy doen dit deur die verkondiging van sy Woord. U broer in Christus, Hendrik du Plessis