Nuus vanuit D’kar – 29 Mei 2020
Ds Hendrik du Plessis

My gesprek met Abdul
Agtergrond
Abdul is ‘n Boesman wat van tyd tot tyd ons in die tuin help. Hy is vernoem na sy oupa wat glo ‘n Indiër was, maar kyk jy na hom sal jy hard moet soek om enige Indiërbloed in sy are te vind. Waar die meeste Boesmans hier Boesmanname het, het Abdul net een naam en dit is Abdul. Sy ma was ‘n Qgõo-Boesman. Hy was nog maar klein toe sy oorlede is. Een nag het ‘n mamba in hulle hut ingeseil en haar gepik. Hulle kon ongelukkig niks vir haar doen nie. Daarna was hy in sy pa se sorg gelaat wat ‘n Naro-Boesman was. So het Abdul as ‘n Naro onder die Naros groot geword. Hy was om en by 15 jaar oud toe sy pa vir oorlede Willie Engelbrecht op sy plaas naby die Sonopkoppies gaan werk het. Die plaas is geleë teenaan die Sentraal Kalahariwildtuin. Willie was ‘n berugte grootwildjagter in daardie tyd. Abdul het die grootste ontsag vir hom gehad en volgens hom was daar nie ‘n bang haar op sy kop nie. Hy onthou nog goed hoe hy as jong seuntjie dikwels aan Willie se broek vasgehou het terwyl die leeus op hulle afstorm en die grond in sy oë spat. As tiener het Willie hom baie keer, wanneer hulle gaan olifante jag het, vroegoggend voor sonop gestuur om te gaan kyk na die olifante en hul tande, watter een die mooiste tande het.
My vraag aan hom nou die dag was: “Abdul, hoe kry jy dit reg om iemand se spoor wat jy sny so vinnig te kry?”, want as Abdul op ‘n spoor is kan jy verseker weet die persoon gaan nie wegkom nie. Nou onlangs het iemand die waterpomp hier by ons gesaboteer. Dit was nie ‘n halfuur nie, toe is Abdul by hom en het hy al die gesteelde goed kon terugkry. Abdul se antwoord aan my was: “My geheim met spoorsny is: As jy ‘n mens spoor sny moet jy altyd terug op sy spoor gaan waar hy vandaan kom. Daardie spoor lei jou altyd terug na sy huis of na mense wat hom ken. As jy op sy spoor loop in die rigting waarheen hy gaan, gaan hy ompaaie en draaie loop om jou in die war te bring.”
My ontmoeting met Abdul
Dit is moeilik om te sê hoe ons ontmoet het. Dit was maar hier in D’kar. Van tyd tot tyd het hy my gehelp en kon ons oor baie dinge gesels. In ons gesprekke het hy telkemale sy seun se probleme opgehaal en sy vrae daar rondom. Sy seun het betrokke geraak by “toutjieskerke”. Hierdie toutjieskerke het ‘n geweldige houvas op die jongmense hier. Dit is splinterkerke van die apostel kerke. As jy siek is of aan een of ander depressie ly, gaan jy na die plaaslike biskop wat jou dan met sy seremonies of rituele behandel. Tydens die behandeling word ‘n toutjie om jou gewrigte of lendene gebind. Dit sal dan die siektetoestand of jou gemoedstoestand besweer. Jy mag die toutjie dan nie verwyder nie, want dan sal die siekte na jou toe terugkeer. Abdul se seun het by hierdie mense betrokke geraak. Kort voor lank het daar ‘n gedragsverandering by hom ontstaan. Dit was so erg dat Abdul dit oorweeg het om terug te gaan vir behandeling by hierdie “toutjieskerk” waar hy vandaan kom. Die hospitaal en die kliniek kon hom nie help nie en ‘n ander opsie was om die toordokter te raadpleeg. Met tye is sy kind so mal soos ‘n haas en lag hy vir enige ding. Om met so ‘n persoon saam te bly is verskriklik wat nog as dit jou eie kind is. My voorstel aan Abdul was dat ons hom na dr. Bredenkamp, ons plaaslike dokter hier in Gantsi, toe moet neem. Dr. Bredenkamp het hom ondersoek en tot die gevolgtrekking gekom dat hy een of ander dwelmmiddel gebruik soos dagga. Hy verwys ons toe na die hospitaal wat tot dieselfde gevolgtrekking gekom het. Iemand moes hom aan dagga voorgestel het. Die vermoede word toe bevestig toe sy pa ‘n tyd daarna sy broeksakke deursoek en op daggasaadjies afkom.
Vir Abdul en sy gesin is dit ‘n stryd wat lank nog nie verby is nie, maar die positiewe van dit alles is die geestelike gesprekke wat ons kon voer en steeds voer. Dit sien ‘n mens dikwels in die sending, dat die Here vir jou deure oopmaak deur probleme soos hierdie.
Eendag het ons hier in my erf gestaan, soos soveel kere te vore en ek het met ‘n stok op die grond vir hom geteken en verduidelik wat die implikasie is as hy ‘n sangoma gaan sien en hoe die duiwel deur die sangomas te werk gaan, en wat toordery is. Met twee sirkels het ek dit geïllustreer: “Hierdie twee sirkels wat jy hier sien Abdul, is twee krale. Jy is of in die duiwel se kraal, of jy is in die Here Jesus se kraal. Daar is nie ‘n middeweg nie. As jy in die Here Jesus se kraal is, het jy ‘n Herder wat vir jou lief is, wat jou persoonlik ken en niemand kan jou uit sy hand uitruk nie, selfs nie eers die duiwel nie.” Ek het aan hom verduidelik wat die Here Jesus in Johannes 10 van sy skape sê. “Die probleem kom in wanneer jy in die verkeerde kraal is waar al hierdie sangomas en valse kerke hulle lippe vir jou aflek. Jy is weerloos want jou herder in daardie kraal is die duiwel. Hierdie sangomas se sogenaamde hulp kan lyk of dit verligting bied, maar dit is net vir ‘n oomblik, vir jou om na hulle terug te gaan. Die groot probleem is, soos iemand op ‘n keer gesê het, ‘die duiwel help jou nooit verniet nie.’ Al hoe meer en meer word jy ingetrek in sy mag. Vrees en bygeloof word jou voorland. Jy is later een bol senuwees, veral as jy dink aan wat verkeerd kan gaan. In die nag slaap jy nie, want jy word deur demoniese magte geteister.
Een van ons lidmate se dogters (en dit het ek ook aan hom genoem,) wat by hierdie “toutjieskerke” betrokke was het jare gelede aan my en ouderling Fritz vertel hoe sy deur demoniese magte in haar kamer in die nag geteister word. Sy sê, sy word letterlik heen en weer geslinger in die nag. Nie lank daarna het ek haar begrawe. Daarteenoor staan die ander kraal en jy weet verseker dat jy die Here Jesus se skaap is en niemand kan jou toor nie, want jy behoort nie aan die kraal waar hulle mekaar toor en besweer nie, maar dan moet jy nie onder deur die draad kruip en gaan hulp soek by die duiwel se kraal en dink jy kan maar ewe doodluiters terugkeer na die Here Jesus se kraal toe nie. Dink jy, Abdul, die duiwel gaan dit toelaat?”
Stap vir stap het ons gesprekke met die tyd gevorder. Abdul het begin kerk toe kom, Sondag na Sondag. Na jare se gereelde bywoning het hy sy begeerte uitgespreek om belydenis van geloof af te lê. Daarna het hy gereeld twee keer per week die belydenisklasse bygewoon. As hy ‘n klas gemis het, het jy geweet daar was ‘n gewigtige rede voor. Was dit nie vir hierdie Covid-19 inperking nie, sou hy nou belydenis van geloof afgelê het.
My versoek is dat ons in ons gebede aan Abdul sal dink, veral aan sy seun wat hom slapelose nagte besorg. Dit is bitter moeilik om so ‘n verslaafde in jou midde te hê. Dit is die hoofrede waarom ek hierdie verhaal met u deel. Ek doen dit op versoek van Abul self en die foto word met sy vergunning geplaas.
Slotopmerkings
Menige sendeling sal saamstem dat die individuele benadering in baie gevalle meer vrug oplewer as die massas wat jy tot bekering wil bring. Filippus het een Ethiopiër na die Here toe gelei en dit was die begin van die kerk in Ethiopië. Doen moeite met die individu en jy het hom vir altyd vir die Here Jesus gewen. In sy boek, “The seven laws of the learner” skryf Bruce Wilkenson van iemand wat baie graag ‘n Sondagskoolklas wou begin. Die man se naam was Walt. Hy het die seuns sien albasters speel en saam met hulle begin speel. Na ‘n paar dae vra hy hulle of hulle nie by sy Sondagskoolklas wil aansluit nie. “Ons het nie geweet jy het ‘n Sondagskoolklas nie,” was die seuns se antwoord. “Nee, ek het nie een nie, maar ek wil een begin,” was sy antwoord. Die kinders het toe begin kerk toe kom en gereeld oom Walt Sondagskoolklas bygewoon. Hulle het sy vriende begin word, meer as net albastervriende, maar nooit het Walt besef dat onder daardie seuns die beroemde Prof. Howard Hendricks sit wat later duisende mense se lewens gaan aanraak nie. Elf van daardie seuns het later in ‘n voltydse Christelike bediening ingegaan.
In Wikipedia word oor Prof. Howard Hendriks die volgende gesê: “Howard George Hendricks (April 5, 1924 – February 20, 2013) was a longtime professor at Dallas Theological Seminary and speaker for Promise Keepers. Upon his graduation from Dallas, Hendricks accepted the pastorate at Calvary Independent Presbyterian Church (now Calvary Bible Church) in Fort Worth, Texas. An opening on the seminary staff led Hendricks to begin teaching twice per week in the fall of 1951. After one year on staff, Hendricks resigned his post to pursue a doctorate at Yale University. However, the founder and President of Dallas Theological Seminary, Lewis Sperry Chafer, died and the new President, John Walvoord, asked Hendricks to delay his doctorate and return to Dallas as a teacher.
For over fifty years, Howard G. Hendricks was a professor at Dallas Theological Seminary, where he taught “Bible Exposition and Hermeneutics” to freshmen. He mentored many Christian leaders, including Chuck Swindoll, Tony Evans, Joseph Stowell Robert Jeffress and David Jeremiah.
He was a keynote speaker for Promise Keepers and authored sixteen books. He ministered in over 80 countries, and he also served as chaplain for the Dallas Cowboys football team from 1976 to 1984.
In 1986, the Howard G. Hendricks Center for Christian Leadership opened on the Dallas Theological Seminary campus. This ministry attempts to develop Christian leaders and future church curricula through a process of mentoring.”
Dit het alles begin by ‘n sekere oom Walt met sy Sondagskoolklas. Dr. Bruce Wilkenson merk dan op, “moet nooit die ewige impak van jou onderrig onderskat nie.”
Groete en seënwense,
Hendrik du Plessis