16 Junie 2020
Besoek aan Bêre, Botswana
Ds Hendrik du Plessis en ouderling Fritz Lala van die Gereformeerde Kerk D’kar.

Ons kamp langs ‘n verlate pad ongeveer ‘n kilometer buite Bêre.(Dis so 178km suid-oos van Dekar). Die aande was bitter koud daarom moes ons genoeg brandhout bymekaar maak.

*Daar is nog nie ‘n kerk in Bere nie dus slaap ons in die veld en besoek dan die mense van die dorpie wat ontvanklik is vir ons uitreik.*.
Mense aan wie ons Bybels uitgedeel het en Pamflette wat ekself gemaak het is ook uitgedeel. Daarop is Skrifgedeeltes wat hulle kan memoriseer.



Bo: Mfana en Fritz
Mfana en Fritz. Hy is ‘n man wat sy perde gesoek het en sodoende by ons kampplek verbygegaan het. Dit het tot ‘n diep geestelike gesprek gelei. Hy is al 11 jaar met ‘n Narovrou getroud en het drie kinders by haar. Hy behoort aan geen kerk nie omdat dat hy nie een van hierdie “spiritualistiese kerke” vertrou nie. Met ons uurlange gesprek in sy eie taal kon ek die verskil tussen ‘n ware en valse kerk verduidelik, ook hoe ‘n gelowige gered word en wat die enigste weg tot saligheid is. Hy en sy vrou het elkeen ‘n Bybel, sy het ‘n Naro Bybel. Niks gebeur toevallig nie, dit was bestem dat hy daar verby moes gaan.

Bo : Ouderling Fritz saam met David. Hy is verlede jaar deur die regering gekies as verteenwoordiger vir die hele Bêredistrik. Hy behoort nie aan ‘n kerk nie maar is baie opgewonde om die Bybel beter te leer ken, Hy wil ‘n dissipel van die Here Jesus word en sy begeerte is om ander te leer. Ek het gevra dat nog mense moet soek wat soos hy voel oor die Evangelie. Ons gaan met ons volgende besoek dan met opleiding begin.
My opdrag aan hom was om ander mense te soek wat ook soos hy voel. Wanneer ons weer gaan sal ons dan met die opleiding begin. Ons sal studiemateriaal gereed hê wat onmiddellik kan gebruik word wanneer ons weg is om ander mense mee op te lei. Die gedagte is om mense op te lei om op hul beurt weer ander op lei. Die wese van dissipelskap. In die verlede het ons mense opgelei of gekatkiseer om gelowiges te wees maar nooit om dissipels te wees en in staat te wees om dissipels te maak nie.
Ek vra u voorbidding vir David. Hy is ‘n gesiene en invloedryke persoon in sy omgewing en kan kosbaar wees vir die uitdra van die Evangelie.
Laastens, baie van ons gesprekke met mense daar handel oor valse kerke. Dit is gewoonlik een of ander apostelkerk met ‘n nuwe naam, met rituele wat absoluut Bybels vreemd is. Die mense behoort aan hierdie kerke omdat hulle geen Bybelse onderbou het om te kan onderskei nie. Ons het ook ‘n lang gesprek gehad met die onderhoofman van Bêre wat aan die ZCC kerk behoort.
Seëngroete,
Hendrik du Plessis
Indien u my wil kontak besoek www.botswanasending.co.za webblad,vir my detail.
Sou u graag n donasie wil maak dan is die bank besonderhede ook op die webblad.
Dankie vir alles