17 Augustus 2020
Ds Hendrik du Plessis (D’Kar gemeente Botswana)
Nou-die-dag was Pieter (ons seun) en ek met die bakkie op pad na die ghwarriegat toe hier in D’kar. Van voor af kom daar ‘n Naro man en sy vrou aangestap met hout wat hulle dra. Hulle bly nie ver van ons af nie. “Pieter, sien jy daardie man?” en ek vestig sy aandag op hom. “Dit is ‘n wonderwerk op twee bene. Was dit nie vir die Here se ingryping en genade nie sou hy nie vandag hier gewees het nie.” “Hoe so?” wou Pieter daarop weet.
Dalk het ek hierdie al in ‘n verslag jare gelede genoem. Ek kan nie onthou nie. Ek het dit wel op ‘n keer aan ds. Piet Venter van GK Potch-Oos vertel. Een aand het ek voor die televisie gesit en kyk. Ek het niks makeer nie. Uit die bloute ontwikkel ek geweldige maagkrampe, soveel so dat ek wikkel vir die badkamer. Die badkamer is beset … wat nou gemaak? Die enigste ander uitweg is om toiletpapier uit die kas uit te haal en te storm vir die bosse. Ek is by die deur uit teen ‘n “stink” spoed. Enigiemand wat dit al oorgekom het weet hoe jou maag jou kan laat hardloop!

In die gehardloop hoor ek hier reg voor my in die bosse iemand wat praat en ‘n geskarrel. Toe ek met die flits in die rigting lig is dit dié Boesman wat besig is om selfmoord te probeer pleeg. Dit was nog net ‘n kwessie van die tou om die nek sit en van die boom afspring! Toe hy my sien protesteer hy hardop, “Los my dat ek selfmoord kan pleeg. Hoekom volg jy my?” Aanvanklik het hy nie geweet wie ek is nie tot hy my in die lig van die flits herken het. Ietwat aangeklam verduidelik hy aan my dat hy ‘n uitval met sy skoonpa gehad het en hy toe besluit het om sy lewe te beëindig. Ons het seker ‘n uur lank daar gesels voor ek hom van sy voorneme kon laat afsien en terug huis toe vergesel het.
Van die omgekrapte maag of maagkrampe was geen teken meer nie – nie eers die volgende dag nie. Ek het daarna baie daaroor gedink. Luister ‘n mens na ateïste wat beweer dat daar geen God is nie, wonder ek hoeveel uit ‘n miljoen keer as die nie ‘n biljoen keer is nie, kan toeval so mooi saamwerk dat so-iets gebeur?
Hier in D’kar is selfmoord ‘n algemene verskynsel. Die polisie het al verskeie mense hier van bome afgehaal. Ongeveer 50 meter anderkant ons huis het iemand een keer selfmoord gepleeg. Hy het eers sy vrou vermoor en op pad om homself te gaan ophang omgedraai en weer teruggeloop net om seker te maak sy is werklik dood, anders pleeg hy verniet selfmoord. Daarna is hy terug na die hardekoolboom toe en het hy homself opgehang.
Om en by ‘n jaar gelede het ‘n ander man homself weer so 80 meter van ons huis af opgehang. Toe ons die oggend wakker word hang hy daar aan die boom met die tou om die nek. ‘n Paar jaar vantevore het ons “counsellor” se seun reg oorkant die boom hom in hulle huis agter die deur opgehang.
Dit is baie traumaties om iemand wat jy goed ken in so ‘n situasie te sien, maar in hierdie geval wou die Here dit nie toelaat nie en het Hy my met krampe en al na hom toe gestuur. So glo ek.
Dink asseblief in u gebede aan ons mense in hierdie geweste wat ontvlugting soek in selfmoord as ‘n oplossing.Die woorde van ons Here Jesus is een van ons groot temas in hierdie deel van die land wat hierdie probleem probeer aanspreek: “28Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; 30want my juk is sag en my las is lig.” (Matteus 11:29-30)
Groete en seënwense,
Hendrik du Plessis