Ds Hendrik du Plessis Gereformeerde Kerk D’Kar Botswana
15–21 September 2020
Oppad Mababe toe het ons ‘n band afgeskryf. Gelukkig het ons ‘n spaarband gehad. Die pad is baie sleg en ek dink ‘n skerp klip het hom stukkend gesteek. Terwyl ek en Frits sukkel het iemand daar opgedaag wat ons gehelp het.
Sy naam is Boro en ken die mense goed waarheen ons oppad is.


Enigiemand weet hoe jou moed in jou skoene sak as jy bemerk jy het ‘n papwiel. Dit is nie iets om oor opgewonde te raak nie. Met die plank kon ons toe die domkrag van die grond af lig.


Uiteindelik het ons in Mababe aangekom. Ons gasheer was die man links. Sy naam is Idea.
Die volgende dag was ons na Mokgotlho lodge wat aan Hannes Pretorius behoort. Hy het ons laas gevra om vir sy werkers Bybels te bring. Hulle begin elke oggend met gebed en so ook wanneer hulle vannaand van diens afgaan.


Mababe is wildernis op sy beste. Buffels wei om die erf soos beeste in die nag en so ook die seekoeie. Ons het ons nou die aand so amper in vyf seekoeie buite die erf vas geloop. Een van hulle was ‘n kalfie. Deur die nag is die gebrul van leeus en die hiënas se bekende gesanik die klanke wat jou deur die nag dra. Die Saterdagnag om en by half twee het ek wakker geskrik van ‘n geweldige lawaai. Toe ek deur my tent se venster kyk staan hier om en by ‘n meter van my af ‘n olifant besig om aan die mopanieboom te wei. Ek het eers gedink dit is ‘n kameelperd. Gelukkig hou hulle nie daarvan as jy met die flits in hulle oë lig nie en moes hy
maar ewe druipstert ‘n ander boom gaan soek. Olifante is daar ‘n algemene gesig soos rooibokke in die Kruger Wildtuin.
Die namiddag kon ons ‘n Bybelstudie in Mababe hou.
Die vrou wat daar sit het baie ywerig die Bybelverse gelees. Die Bybelstudie het gehandel oor Matheus 7:24-27 waar die Here Jesus die verskil uitwys tussen twee geboue wat gebou is. Die een op sand en die ander een op rots, en die waterstrome en die wind wat dan teen daardie geboue aangekom het en hoe die een wat op sand gebou is se val groot was. Aanvanklik was daar geen verskil tussen die twee geboue nie. Hulle kon ewe sierlik daar staan. Die son skyn vandag en daar is niks waaroor ek my hoef te bekommer nie. So lewe baie mense van dag tot dag en dink nie daaraan dat sy lewe eendag deur ‘n storm getoets gaan word nie. Hoe en wat die storm gaan wees weet ons nie, en dan gaan die fondasie die deurslaggewende wees of jou huis gaan staan of nie. Gelukkig is jy dan as jy op Christus die Rots gebou het. Die laaste storm dan gaan die dood wees, en as jy nie op Christus al jou hoop geplaas het nie, gaan die val groot wees. Dit was in kort waaroor ons Bybelstudie en bespreking gehandel het.

Khwai is 37 kilometer van Mababe af. Ons volgende dag se beplanning was om na die mense van Khwai toe uit te reik. Vir die wat “Third Bridge” teenaan die Moremi ken, dit is waar Khwai is.
Hier in Khwai het ons by verskillende mense die geleentheid gekry om die Evangelie te verkondig.
Die bekers hier onder op die foto is bierbekers. Hulle verkoop tradisionele bier om ‘n bestaan te maak. By ‘n vorige geleentheid was dit ook die punt waar ons begin het. Daar tussen die bierdrinkers moet jy soms die interessantse vrae beantwoord.



Bo: Dit is Idea se kinders en kleinkinders en vriende wat ons na Khwai toe vergesel het. Ons staan hier by die brug net voor Khwai.
Die Sondagoggend het ons vertrek na Motopi. Die vorige dag was dit tannie Dorette se verjaarsdag. Sy is deur die Here se genade vanjaar 76 en oom Thys 86. Met hulle gesondheid gaan dit goed. Sy is nog aktief besig met Tswanaklasse wat sy in Maun aanbied. Sy word oorval deur mense wat in Tswana belangstel, veral die wat Botswanaburgers wil word. Nou is hulle op die uitkyk na ‘n plek wat hulle in Maun kan huur. Dan hoef sy nie twee keer ‘n week of selfs meer deur te ry Maun toe vir die klasse nie. Naweke kan hulle dan Motopi toe gaan vir die diens Sondae.

Slotopmerkings
In ‘n vorige verslag het ek melding gemaak van ‘n erf wat ons in Mababe bekom het. Dit is ‘n redelike groot erf. Ons het besluit om hom nie toe te span nie, maar wel hoekpale in te plant om die erf af te baken. Trouens dit help nie om die erf toe te span nie. Al die erwe in Mababe se drade lê platgetrap deur die olifante. ‘n Behoefte wat ons wel het is ‘n geboutjie waar ons kan tuis gaan en Bybelstudies aanbied.My ouderling Frits het dit nou-die-dag so aan my verduidelik: “Jy weet Hendrik, dit is nie goed om altyd by Idea tuis te gaan nie. Die mense, vriend en vyand van Idea gaan ons kerk begin assosieer met Idea. Daar is mense wat dalk nie die vrymoedigheid het om ons te besoek terwyl ons tente op Idea se erf staan nie.” Ons het lank daaroor gesels. Die gebou moet terselfdertyd ook van ons mense in Suid-Afrika kan akkomodeer sou u dalk vir ‘n aand of twee daar wil oorslaap oppad noorde toe of miskien vir ons Bybels daar wil los of watter studiemateriaal ookal.
Bo en behalwe Mababe en Khwai is daar ook nog Sankoyo wat ons wil bedien. Dit is ons toekomsplanne. Trouens die Boro wat ons gehelp het met die papwiel kom van Sankoyo af. Idea ken ook baie mense daar. Ons gebede is dat die Here ook daar vir ons deure sal oopmaak wat die Evangelie aanbetref.
U broer in Christus,
Hendrik du Plessis