Nuus vanuit D’kar – Desember 2020
Ds Hendrik Du Plessis
Die afgelope twee jaar het die Bushiri-koors soos ‘n warrelwind deur Botswana gewaai. Baie van ons lidmate het gewissel van getroue aanhangers tot net gewone bewonderaars van die selfaangestelde profeet. Voertuie het sy foto’s opgehad en was ‘n alledaagse gesig. As daar ‘n Bushiri-byeenkoms iewers in Suid-Afrika is, het van ons lidmate geld onder mekaar ingesamel om die byeenkomste by te woon. In ‘n ommesientjie kan P3000 ingesamel word en as jy weer hoor ry hulle hier af met ‘n skedonk en jy wonder of hulle dit ooit gaan maak.

Die motivering agter dit alles was die voorspoed wat verkondig word. Op ‘n stadium moes die Botswana regering tussenbeide tree, want mense was bereid om by banke diep in die skuld te gaan, net om ‘n bydrae in terme van geld aan die Bushiris te maak. So het geld die land uitgestroom en die mense wat agter bly sukkel om hulle skuld af te betaal, en niks kom van die voorspoed wat aan hulle belowe is nie. Hier is selfs kerke gestig, in Gantsi en ook hier in D’kar waar hulle gereeld bymekaar gekom het. In D’kar het hulle gewoonlik Vrydae-aande by ‘n sekere gebou byeengekom en luidkeels deur middel van luidsprekers tot laat in die nag hulleself laat hoor. Die musiek was so oorverdowend dat ek dikwels gewonder het hoe hulle oordromme dit hou.
Preek of praat ‘n mens daaroor, boikot van hulle ons kerk vir weke. Vir lank was dit ‘n tema in ons prediking of hulle nou daarvan gehou het of nie, en stadig maar seker het van ons lidmate begin draai. Die Here het ‘n wonderlike manier hoe Hy rigting gee aan sy kerk. Soms moet jy soos die verlore seun eers gaan varke oppas alvorens jy tot jou sinne kom. Toe die verlore seun daar tussen die varke sit en met honger oë na die peule kyk, het hy tot die besef gekom dat dit veel beter was toe hy nog onder pa se dak was.
Deur die bestiering van die Here gebeur ‘n ander “wonderwerk” – Covid 19. Daar word ‘n drastiese stokkie voor groot byeenkomste gesteek. Ernstige vrae word gevra oor die sogenaamde profeet. Was dit nie hy wat nou-die-dag nog geprofeteer het van ‘n goeie en voorspoedige jaar nie? Het al wat leef en beef nie salig onbewus nog geskree “receive” tydens die saamtrekke nie? Saam met hom het hulle gedroom van geld wat instroom, bevorderings by die werkplek, lewensmaats en huwelike. Trouens dit is waaroor die jeug droom en alles wat skeefloop word toegeskryf aan die werk van die duiwel. Na die saamtrekke kom baie van sy aanhangers terug met heuning wat hulle moet gebruik. Hulle koop die heuning ten duurste tydens die saamtrekke met die hoop dat dit sal doen wat die profeet belowe, en toe uit die bloute verskyn Covid-19, so vinnig dat die “beste profeet” in Afrika dit nie kon voorspel of voorsien het nie. Sedertdien het ons nog nie weer iets gehoor van ‘n saamtrek hier in D’kar of Gantsi nie.
Daarteenoor deur die genade van die Here het die getalle in ons kerk drasties toegeneem. Ons moes al mense wegwys omdat die getal wat die regering toelaat oorskry was, tot groot ontsteltenis van die wat moes terugloop. Die regeringsamptenare het ons kerk al ‘n paar keer kom besoek om te sien of ons die nodige reëls en regulasies nakom. Voor jy die kerk binnegaan word jou koors geneem. Jou hande word gewas. Jou naam word in ‘n registerboek geskryf, met jou selfoonnommer en fisiese adres daarin. In die kerk is daar merkers wat ons aangebring het presies waar jy mag sit sodat die nodige afstand gehandhaaf word. Met die laaste besoek van die regering het van die soldate met AK-47’s by die diens opgedaag. Agter in die kerk met ‘n AK-47 in die hand het ‘n soldaat in uniform gestaan en ons dopgehou terwyl ek gepreek het. Nie lank daarna nie het hy sy duim omhoog gehou as ‘n teken dat hulle te vrede is en het toe die kerkgebou verlaat.
Met die skandaal rondom die Bushiris en hoe hulle Suid-Afrika verlaat het, hoop ons dit was die finale spyker in die doodskis. Tog het dit ons jeug se oë oopgemaak op baie maniere. Dit het ons jongmense aan hulleself ontbloot. Skuiwergate kon gesien word in hulle Christelike mondering. Waar ons gedink het alles is pluis, was alles toe nou nie so pluis nie. Die aanhang wat die Bushiris gehad het, het ‘n mens tot die besef gebring dat baie mense na ‘n soort van “voorspoed” verlang wat die Here nie altyd belowe of waarborg nie, veral onder ons jeug. Temas in die Bybel het relevant begin word om die skeefgetrekte voorspoedsgodsiens aan te spreek. Dink maar net aan die lewe van Josef, Job en Paulus. Daar is so baie temas in die Bybel wat geen stempel dra van ‘n aardse voorspoed nie, en die gewone gelowige kan homself vereenselwig met mense in die Bybel vir wie dit nie altyd maanskyn en rose was nie. Een ding wat die voorspoedsgodsdiensideologie baie goed regkry is om ‘n valse gewete by jou tuis te bring. As “teenspoede” jou tref, beteken dit net een ding, die Here het jou verlaat, en wanneer jy aan jou sogenaamde profeet geld gee kan hy vir jou intree en jou lewe kan drasties ten goede verander.
Om af te sluit wil ons steeds u voorbidding vra, dat die Woord van die Here werklik tot ons jeug sal deurdring, maar ook ons ouer garde wat deur hierdie hele tyd getrou gebly het en nie geskroom het om te praat en te vermaan nie. Heel dikwels het van ons kerkraadslede in die kerk opgestaan en dit veroordeel, soms so kras dat ek gewonder het hoe die kerkbywoning die volgende Sondag gaan wees. Tydens begrafnisse wanneer enigiemand die geleentheid gegun word om ‘n woord te spreek, het van ons lidmate en kerkraadslede nie geskroom om selfs die naam Bushiri te noem nie. Vir baie van hulle was dit ‘n geweldige wroeging wanneer hulle kinders daarby betrokke was. Mag die Here aan ons die wysheid gee om werklik met die Evangelie tot ons jongmense deur te dring.
U broer in Christus,
Ds Hendrik du Plessis Gereformeerde Kerk D’Kar Botswana