Ons het met groot vreugde en dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader die afgelope Sondag die sakrament van die heilige doop bedien wat deur die belydenis van geloof voorafgegaan was. Daar was 4 lidmate uit ons belydenisklas was eers die volwasse doop ontvang het voordat hulle belydenis van hul geloof kon aflê. Hulle almal het met hulle gades voor die kansel kom staan. Van hul gades is nie lidmate van ons kerk nie maar ons het versoek dat hulle teenwoordig moet wees wanneer hul gade of kind gedoop word. Voor die tyd is die belydenisklas deur die kerkraad noukeurig ondervra. Tydens die erediens het ek die preek, die formulier en alles daarmee saam hanteer en my emeritus kollega die bediening van die doop. Daar het in totaal 5 lidmate belydenis van geloof afgelê, 4 kinders is gedoop en 4 het die volwasse doop ontvang.

Die Skrifgedeelte was Genesis 25 wat dan ook as ‘n waarskuwing gedien het vir elkeen van ons wat deel is van die genadeverbond met Abraham. Abraham wat letterlik beteken “‘n vader van ‘n menigte nasies,” sluit deur die Here se genade ook ons in wat van nature nie Jode is nie, maar deel is van die menigte nasies. Esau was seker een van die meesbevoorregte of benadigde mense wat daar was. Hy was nie net alleen die eersgeborene nie, maar ook in die verbond gebore. Hy het immers die teken van die verbond, die besnydenis ondergaan. Wat ‘n hartseer dag moes dit net nie gewees het toe hy sy rug op daardie verbond gedraai het vir ‘n pot lensiesop. In kort daarmee saam die verduideliking dat dit vandag nog steeds gebeur. Dit het met Demas in tyd van Paulus gebeur wat die teenwoordige lewe liefgekry het. Dit gebeur vandag nog dat jy die tekens van die verbond het, soos in ons geval die doop, maar dat die lensiesop van hierdie wêreld jou net eenvoudig die rug laat keer op die Here en sy verbond. Dit was die duiwel se ou strategie in die paradys, maar met die tweede Adam, ons Here Jesus Christus het hy, die duiwel totaal en al misluk in sy poging, toe die Here Jesus geweier het om van klippe brood te maak en ook geweier het om voor die duiwel te buig ter wille van hierdie aardse skatte. In en deur Christus kan ons vandag ook triomfeer.

Na die diens kon ons dankbaar terugkyk hoe die Here ons desondanks dit alles wat die afgelope tyd gebeur het tot sover gedra het en steeds dra.
Groete en seënwense uit Botswana.
U broer in Christus, Hendrik du Plessis.