Ds Hendrik du Plessis
Ouderling Aron Johanes het my vroeër die week kom sien oor ‘n begrafnis van ‘n familielid wat oorlede is. Sy is in 1920 gebore en was 101 jaar oud. Ons het die Vrydagmiddag van D’kar af vertrek na Tchabo waar die ou vrou Saterdag begrawe sou word. Tchabo is ongeveer 110 kilometer van D’kar af. Dit het baie gereën en die grondpad was nat, met die gevolg dat ons ongeveer ‘n uur en ‘n half gery het. Daar gekom moes ons so gou as moontlik tente opslaan sodat die reën ons nie onkant vang nie. Ons het ook net betyds daar aangekom of die voertuig van die begrafnisondernemers daag op. Die kis is begelei tot in een van die kamers, ‘n gebed is gedoen en daarna soos die gebruik hier is, moes sekere formaliteite eers afgehandel word soos om vir die mense wat agterbly het en gewag het vir die oorledene te vra hoe hulle die dag deurgebring het. Iemand praat dan namens hulle. Daarna staan ‘n persoon op om namens die wat die oorledene gaan haal het te verduidelik hoe hulle dit in Gantsi ervaar het met die reëlings en alles daar rondom.

Daarna word die seën gevra en word die mense versoek om weer 9 uur die aand bymekaar te kom vir die nagwaak. Die nagwaak het sy ontstaan uit die bygeloof dat die oorledene deur gebede, preke en sang die hele nag vergesel word na die hiernamaals. Daardie hele nag sing, preek en bid hulle.
Die verrigtinge het eers na 9 begin en het hulle my versoek om die openingsboodskap waar te neem. Die persoon wat open baan dan die weg waarin al die predikers ná hom moet volg. Hulle gebruik dan sy tema en benadruk wat hy gesê het. Die voordeel van begrafnisse is dat jy die geleentheid kry om mense te bedien met die Evangelie wat jy andersins nooit in ‘n kerk sou gekry het nie – mense oor ‘n baie wye area wat kom vir die begrafnis. Dit is absoluut ‘n sending- en evangelisasiegeleentheid waar die Here Self die sameroeper is deur die dood van ‘n geliefde.
Die teksgedeelte wat ek met hulle behandel het was Johannes 14 en Handelinge 4. In Johannes 14:6 antwoord die Here Jesus vir Thomas: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” In Handelinge 4, die woorde van Petrus: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” Christus is die enigste weg tot die Vader. Uit die aard van saak was daar begrafnisgangers wat nie van so ‘n preek hou nie – mense wat verskillende paaie na die ewige lewe verkondig.
My vraag aan hulle was: “As daar ander weë was, hoekom sou die Vader dan sy geliefde Seun met so ‘n verskriklike dood belas het?” Hoekom dan nie eerder van die ander weë gebruik maak nie. Daar is mense wat glo dat jou kerklidmaatskap tot jou saligheid kan bydra. Daar is selfs ‘n lied wat hulle van tyd tot tyd sing waar gevra word om tog nie die lidmaatsertifikaat te vergeet nie. Begrawe my daarmee asseblief, sê die lied. Dan is daar mense wat glo dat die biskop een of ander tussenganger tussen die nou en die hiernamaals is. Van tyd tot tyd gee hy hulle asynwater in as ‘n middel om hulle geestelik en fisies te genees. Dan is daar die toutjies om die middellyf en gewrigte waardeur hulle jou gesondheid waarborg, maar as jy daardie toutjie afhaal gaan onheile en siektes jou tref. Durf jy die toutjies afhaal sal die siekte waarvan jy sogenaamd genees is weer na jou toe terugkeer. So lewe hierdie mense in vrees, te bang om die toutjies wat die biskop om hulle gebind het af te haal. Hierdie sogenaamde kerke met hulle biskoppe voer ‘n skrikbewind onder hulle lidmate. Hulle het ‘n ongelooflike houvas op hulle.

Ná die preek waarin ek klem gelê het op Christus as die enigste weg tot die Vader, was dit asof daar ‘n ongemaklikheid geheers het onder sommige, wat tog nog glo, as jy dit of dat doen jy gered kan word. Daarna het die ander “barutis” of predikers aan die woord gekom. Van hulle was baie dankbaar oor die boodskap, maar een was duidelik nie gelukkig nie. Hy het opgestaan en geskimp dat ons tog verdraagsaam moet wees teenoor ander sienings. Nie almal het dieselfde siening nie. Nie al die kerke glo dieselfde nie. Onder andere het hy regverdiging probeer soek vir hulle toutjies wat hulle om die mense se heupe en gewrigte bind in Jeremia 13, maar lees jy daardie gedeelte word die linnegord wat om die heupe van Jeremia gebind was juis ‘n teken van die Here se straf en nie genesing nie. Jeremia moes op bevel van die Here die linnegord wat hy om sy heupe moes bind by die Eufraatrivier in ‘n klipskeur gaan wegsteek. En na verloop van baie dae het hy op bevel van die Here die linnegord gaan haal. Toe hy daar kom was die linnegord bederf en waardeloos. Dit is toe dat die woord van die Here tot Jeremia kom en sê: “So sal Ek laat bederwe die hoogmoed van Juda en dié van Jerusalem, wat so groot is. Hierdie goddelose volk wat weier om na my woorde te luister, wat wandel in die verharding van hulle hart en agter ander gode aan loop om hulle te dien en hulle daarvoor neer te buig – hulle moet word soos hierdie gord wat waardeloos is.”
Ongelukkig het die persoon die volgende dag nie opgedaag vir die begrafnis nie en kon ek nie ná die tyd met hom gesels nie. Ek weet wie hy is en wag vir die regte geleentheid om met hom te gesels. Een of ander tyd gaan ons mekaar weer by ‘n begrafnis raakloop.
Na 11uur die aand moes ons volgens Covid-19 protokol verdaag. Die volgende oggend het ons half ses weer begin. Van al die predikers die vorige aand was daar niemand te sien nie, en ek moes gevolglik al die verrigtinge behartig het tot by die graf. Dit het my weer die geleentheid gegee om Christus te verkondig as die enigste weg tot die ewige lewe. Ná die begrafnis het ons saam met die mense gekuier. So leer ‘n mens mense ken en hulle het die vrymoedigheid om vir jou baie vrae te vra.
Die ou vrou wat ons begrawe het was een van min mense wat nog Boesmans geken het wat nog nie met blankes in aanraking gekom het nie. Sy was letterlik deel van die ou garde.
By die einste Tchabo waar ons was, het daar in 2017 ‘n vrou uit die bos na opgedaag wat nog geen kontak met die heendaagse beskawing gehad het nie. Toe hulle haar ondervra was haar antwoord: “Ek het in die bos groot geword tot al my familielede daar uitgesterf het. Ek is die enigste een wat oorgebly het. Ek was genoodsaak om hier na julle toe te kom.” Niemand het vermoed dat daar nog Boesmans primitief in die bos bly nie tot sy daar opgedaag het. Dit kan wees dat daar nog ander Boesmanfamilies in die bos is waarvan ons nie weet nie, want die Kalahari lê wyd uitgestrek.
Om af te sluit, vra ons u ondersteuning en voorbidding, dat die Here ons sal stuur na so baie mense wat die Here Jesus nog nie in hulle lewens ontmoet het nie. Baie wat van die Here Jesus wel gehoor het, het ‘n verdraaide siening van die Evangelie.
U broeder in Christus,
Hendrik du Plessis