Kort historiese agtergrond
In my voorbereiding van katkisasiemateriaal in Naro kom ‘n mens weer opnuut onder die indruk hoe uniek en beskrywend die taal kan wees. Naro is ‘n “Khóètaal” en nie ‘n “Santaal” nie. Dit word “khwê” uitgespreek. “Khóè” beteken “mens”. Sommige skryf dit “khoi”. As daar gepraat word van die “Khóè-khóè”, word bedoel “mens-mens”. Die woord “Khoesan” is dan ‘n woord wat die “Khoemense” en die “Sanmense” onder een sambreel intrek, verwysende na die gemeenskaplike suigklanke of klapklanke in hulle tale.
Die “Khóèmense” is hulle met wie Jan van Riebeeck in die Kaap te doen gehad het, maar ook die “Sanmense”. Die “Khoemense” was grotendeels veeboere, maar het ook gejag, terwyl die “Sanmense” hoofsaaklik jagters was wat orals oor Suidelike Afrika rondgeswerf en van veldkos en jag gelewe het. Dit was soos Jan van Riebeeck en die vroeë inwoners van die Kaap hulle geken het.
Beide hierdie taalfamilies gebruik “klapklanke” of “suigklanke” om te kommunikeer. Xhosa en Zoeloe het hulle klapklanke van die Khoesanmense geleen, net soos baie leenwoorde van Afrikaans en Engels in hulle taal ingesluip het. Oorspronklik het Zoeloe en Xhosa soos al die ander Bantoetale geen suig- of klapklanke in hulle taal gehad nie. Ondertrouery, toe die Ngunitale vanaf die Noorde in Suider-Afrika aangekom het, het die suigklanke in hulle tale ingebring.
My Zoeloedosent op Potchefstroom het aan my verduidelik dat wanneer die Khoesanmense in die verlede van die Xhosas of Zoeloes se beeste gesteel het vir kos, is hulle agternagesit en letterlik gejag. Waar die Xhosas of die Zoeloes dan op hulle vrouens en kinders afgekom het, is dié gevange geneem. So het daar dan ‘n ondertrouery plaasgevind en het die klapklanke in die Zoeloe- en Xhosataal ingekom, want die Khoesanvrouens kon nie Zoeloe of Xhosa praat of verstaan nie. Behalwe natuurlik vir Xhosa en Zoeloe het Suid-Sotho en Tsonga net een suigklank in hulle tale. Hoe verder ‘n mens oos of van die Kaapkolonie af wegbeweeg het, hoe minder word die klapklank- of suigklankinvloed in die Afrikatale, wat vir ‘n mens sê dat die Khoesantale meer in die Kaapkolonie in daardie tyd voorgekom het. As ‘n mens na Xhosa en Zoeloe luister, hoor jy so nou en dan ‘n klapklank (suigklank) in hulle tale, terwyl jy amper nie ‘n sin in die Khoesantale kan maak sonder suigklanke nie. Xhosa wat die naaste aan die Khoesantale was het dan ook meer suigklanke in sy taal as Zoeloe wat verder geleë was, maar dit is maar ‘n druppel in die emmer in vergelyking met die klapklanke in die Khoesantale.
‘n Taal soos !Xóõ hier van Bere, 80% van al sy woorde bestaan uit klapklanke. Net 20% woorde het nie klapklanke nie. Nog iets interessants is, net 1% van al die tale in die wêreld (oor die 6000) maak van klapklanke gebruik, en die 1% is net in suidelike Afrika.
Die Khoesantale self
Al die Khoemense (Khoe en San) is familie van die ou Hottentotte in die Kaap. Hulle tale verskil van mekaar soos die Germaanse tale onder mekaar verskil soos, Duits, Afrikaans, Nederlands, Belgies en Engels, of soos die Romaanse tale onder mekaar verskil soos, Frans, Spaans, Portugees, Italiaans, Romeens ensomeer. Hulle stam van dieselfde oertaal af en het later opgebreek in verskillende tale wat aan mekaar verwant is. Net so is die Afrikatale aan mekaar verwant en maak gebruik van dieselfde grammatikale beginsels, maar eeue of duisende jare gelede moes daar ‘n oertaal gewees het wat die wetenskaplikes Oerbantoe noem. Uit hierdie oertaal het daar tale ontstaan wat vandag oral in Afrika gepraat word, al verstaan mekaar onderling nie, soos wat ‘n Duitser nie Afrikaans en ‘n Afrikaner wat nog nooit met Duits in aanraking gekom het Duits kan verstaan nie, is dit duidelik dat daar ‘n gemeenskaplik oorsprong was.
As voorbeeld word vleis in Duits “fleisch” genoem en die Engelse het “flesh” in hulle taal. Omtrent elke Afrikataal in Afrika noem vleis “nama” of “inyama” of “onyama”, en dan is daar woorde wat weer radikaal van mekaar verskil, maar hulle almal deel min of meer dieselfde grammatikale beginsels. So kan ‘n Zoeloe glad nie Venda verstaan nie en ‘n Venda glad nie Shona of Herero verstaan nie en vice versa, maar tog deel hulle dieselfde grammatikale beginsels.
Onder die Khoetale kry jy Nama, !Ora, //ani, Buga, /Ganda, Naro, //Gana, /Gui, #Haba, Shua, Deti, Cara, Cirecire, /Haise, Danisi (of Danasani), Tshoa, Cua, Ciri-Cire en Kua. Dit is alles tale en nie dialekte van mekaar nie. As ons dit dialekte sou wou noem, dan moet ons Afrikaans ‘n dialek van Engels of Duits noem.
Die Santale verskil weer op hul beurt van die Khoetale soos Grieks van Afrikaans. Die verskil is eintlik nog groter omdat daar tussen Afrikaans en Grieks baie ooreenkomste bestaan, maar tussen die Khoe- en die Santale is daar afgesien van die klapklanke bitter min ooreenkomste. Alhoewel al hierdie tale van suigklanke of klapklanke gebruik maak, verskil hulle radikaal van mekaar. Hierdie suigklanke is eintlik maar konsonante soos r, p, s, t ensovoorts wat by die normale alfabet gevoeg word. Afrikaans en Sjinees deel ook baie alfabetletters, maar dit beteken nie hulle kan mekaar verstaan nie.
Onder die Santale kry jy dan die noordelike Santale en die suidelike Santale. Hulle verskil weer van mekaar soos Afrikaans van Frans. Die noordelike Sangroepe is die #Hua en die Ju-groepering. Die Ju-groepering bestaan uit Ju/’hoan, !Xun en Kg’au//ei. Die Ju/’hoan is die taal wat in “The gods must be crazy” gepraat word (die film van Jamie Uys). Die Suidelike groepe is die Taa en die !Kui-groepering. Onder die Taa-groepering val die !Xóõ van Bere. Onder die !Kui-groepering val die /Xam-, //Xegui Tshasi- en die #Khomani-groepering. Ongelukkig het die /Xamtaal in 1915 uitgesterf. Die #Khomani is op die punt om uit te sterf. As ek dit nie mis het nie is daar nog een moedertaalspreker oor. Dit is die laaste Santaal in Suid-Afrika. Let wel in Suid-Afrika en nie suidelike Afrika nie. In suidelike Afrika is daar nog baie Santaalsprekers wat een of ander Santaal as ‘n moedertaal het. Later meer oor die Santale en spesifiek die !Xóõ (Qgõo) wat hulle by Bere en verder suid praat.
Hier by ons in D’kar, die plase rondom ons en eintlik in die hele Gantsidistrik is die voertaal onder die Boesmans meestal Naro. Die Ju/’hoan- en die !Xóõsprekers sal as hulle met die Naros in aanraking kom Naro praat. As hulle nie Naro kan praat nie, praat hulle met mekaar Tswana. Ju/’hoan en !Xóõ is beide Santale, terwyl Naro ‘n Khóètaal is. Baie Naros kan Ju/’hoan praat, maar bitter selde hoor jy ‘n Naro wat !Xóõ praat. Ek het nog net twee raakgeloop wat beide kon praat. Een van ons kerkraadslede, Xgaiga, wat vlot in Naro en Ju/’hoan is, vertel aan my van sy rare ondervinding een keer in ‘n bus op pad Gaborone toe. Hy is ‘n baie joviale en spraaksame mens wat lief is vir gesels. Toe gebeur dit dat hy naby Bere tussen ‘n groep !Xóõboesmans moet sit, al die pad Gaborone toe. Wat vir hom die ergste was, sê hy, was dat almal gelag en gesels het en hy nie ‘n woord kon hoor of verstaan wat hulle sê nie. As dit die Ju/’hoantaal was (die Boesmantaal van “the gods must be crazy”), sou hy deel kon gehad het in hulle pret en plesier, maar omdat !Xóõ so radikaal van Ju/’hoantaal verskil, kon hy niks verstaan nie. Dit was vir hom een van sy verveligste oomblikke wat hy nog beleef het tussen mense.
Naro soos die meeste van die Khóètale het 28 klapklankkombinasies, Ju/’hoan het 48 en 10 vokale, en !Xóõ volgens die navorsers van Wikipedia 83 en 31 vokale. Saam met die klapklanke (suigklanke) het die !Xóõtaal 164 konsonante wat dit die taal met die meeste konsonante in die wêreld maak. Hoewel die Ju/’hoan meer klapklanke het as Naro, beskou baie mense insluitend die Naros dat dit ‘n baie maklike taal is. Die woordorde is in baie gevalle dieselfde as Engels of Afrikaans. Wat Naro volgens baie so moeilik maak is juis sy woordorde.
‘n Eenvoudige voorbeeld: Ncãar tc’ẽe a máá ncãa tsi xg’ae cgoa me ta tc’ẽea. Dit beteken letterlik: Het ek dink en sê het jy ontmoet met hom gedink. Wat beteken: Ek het gedink jy het hom ontmoet. Dit wat onderstreep is, is die klapklanke in die sin.
Iets anders van die Khóètale wat hulle baie ryk maak teenoor die Santale. Die Khóètale en dan nou spesifiek Naro sien alles in terme van manlik, vroulik en onsydig. Elke ding is ‘n man, vrou of ‘n ding. In die Santale word alle voornaamwoorde basies as manlik aangedui. Met ander woorde as jy van ‘n vrou praat sal jy sê, “hy het geloop” of “hy het dit of dat gedoen.” Dit is soos die Bantoetale, hy en sy is een woord. Daar is nie ‘n onderskeid wat die voornaamwoord aanbetref nie, terwyl ‘n mens in Naro in detail moet beskryf wie dit is.
Voorbeelde:
- Daar is twee woorde vir jy:
- Jy (as man) is: Tsaa
- Jy (as vrou) is: Saa
- Daar is woorde vir hy en sy
- Hy: gabá
- Sy: gasá
- Daar is ses woorde vir “julle”:
- Julle (twee vrouens): Gasao
- Julle (twee mans): Gatsao
- Julle (twee as man en vrou): Gakhao
- Julle (mans): Gaxao
- Julle (vrouens): Gasao
- Julle (mans en vrouens): Gatu
- Daar is ses woorde vir “hulle”:
- Hulle (twee vrouens): Gasara
- Hulle (twee mans): Gatsara
- Hulle (twee as man en vrou): Gakhara
- Hulle (net vrouens): Gazi
- Hulle (net mans): Gaxu
- Hulle (mans en vrouens): Gane
- Daar is ses woorde vir “ons”:
- Ons (twee mans): Gatsam
- Ons (twee vrouens): Gasam
- Ons (twee as man en vrou): Gakham
- Ons (net mans): Gaxae
- Ons (net vrouens): Gase
- Ons (mans en vrouens): Gatá
Nog ‘n unieke verskynsel in die Khóètale en dan in hierdie geval Naro, is hulle eksklusiewe gebruik van die voornaamwoord. Sodra jy ‘n “si” vooraan die voornaamwoord plaas dan sluit jy die persoon met wie jy praat uit. As ek met jou praat en byvoorbeeld sê, “ons gaan huis toe”, en ek gebruik die woord “sitsam”, dan sluit ek jou (as man) uit. As jy ‘n vrou is en ek ‘n man, sal dit “sikham” wees. Met ander woorde jy gaan dan nie saam nie. Iemand anders is dus deel van die “ons” en nie jy nie.
In Afrikaans as ek sê, “ons gaan huis toe”, moet jy eers uitvind of jy deel is van die “ons” of nie. In Afrikaans en so ook in Engels, as jy dit nie verduidelik nie kan dit tot baie misverstande lei. Ek kan nog onthou toe ek op universiteit was, het ek eendag vir Miriam (my vrou) gesê, ons gaan vanmiddag braai. In Afrikaans het ons net een “ons”. Die gevolg is Miriam het gedink sy was deel van die “ons”. Later toe sy daar aankom en haar gereed gemaak het vir die geleentheid, sou sy tot haar teleurstelling uitvind, dit is ‘n mannebraai. As ons Naro gepraat het, sou sy onmiddellik gehoor het dat sy nie deel van die “ons” was nie, en sou dit die teleurstelling en misverstand in ons kommunikasie voorkom het.
Een aand hier in D’kar hoor ek mense praat in die donker. Ek vra toe vir hulle: “Wie is julle?” en “Waar gaan julle heen?” “Ons is op pad huis toe,” kom dit van die een wat antwoord. Uit die woord wat hulle gebruik het vir “ons”, kon ek hoor daar is net vrouens en hulle is meer as twee en daar is nie mans by hulle nie, want anders sou hulle ‘n woord gebruik het wat die mans ook ingesluit het, en ek was in die woord “ons” uitgesluit, want hulle het die eksklusiewe vorm van die woord “ons” gebruik: “sise”. As daar mans saam met hulle was sou hulle die woord “sitá” gebruik het, en as hulle my ingesluit het sou hulle die woord “gatá” gebruik het.
Dit is natuurlik ‘n geweldige uitdaging, veral as dit kom by die vertaling van die Bybel en Bybelstudies. As die Here Jesus met sy dissipels is en daar word na “ons” of “hulle” of “julle” verwys, moet jy altyd vir jouself die vraag afvra watter woord ter sprake is en of daar mans en vrouens of net mans of net vrouens en hoeveel betrokke was. Daarom is die vertaalproses baie uitdagend en interessant.
Dit was in kort iets oor die Khóè- (Khoi) en die Santale. Hoe hulle tale ontwikkel het deur die eeue is ‘n geheim, maar dat dit ‘n unieke taal is wat die Here deur al die eeue bewaar het, daaroor is daar geen twyfel nie, en ‘n wonderwerk, veral vir die feit dat Hy vandag geloof en geprys kan word ook in hierdie tale.
Natuurlik is Hy die groot Argitek van al hierdie tale. Dit plaas Genesis 11 teenoor Handelinge 2. In Genesis 11 wou die mens een wees, een taal, een gebou, een ekonomie ens. Hulle het hulle eenheid in hulleself en hulle eie trots en grootheidswaan gesoek tot die Here Self ‘n verwarring onder hulle gebring het, want ware eenheid is net moontlik in Christus wat ons dan bring by Handelinge 2 waar verskille mense en verskillende tale met die uitstorting van die Heilige Gees een kon wees in en deur Jesus Christus. Deur die eeue heen het die Here die “taalverwarring” in stand gehou sodat alle tale en nasies hulle eenheid in die Een ware God (Vader, Seun, Heilige Gees) kan soek en hulle Hom ondanks die verskeidenheid kan loof en prys. Dit is die ware eenheid. In Johannes 17:11 bid die Here Jesus: “. . . sodat hulle een kan wees net soos Ons.”
Ons vra weereens u voorbidding dat die Here vir ons deure sal oopmaak om hierdie mense van die Kalahari se harte aan te spreek in en deur hulle unieke tale.
Groete en seënwense, u broer in Christus.
Hendrik du Plessis.