Die Botswana Sending Groep beoog om 500 audio bybels aan Ds Hendrik van D’kar se gemeente te gee , om daar te versprei. Al wat ons van U vra is om 1 bybel wat R 495.00 kos te borg (of meer) as donasie vir die projek. Geliewe die geld direk in die volgende rekening te deponeer:
FNB Modimolle Rekening Naam: Die Botswane Sendinggroep van die R M .
Rekening no: 62112 7699 08 Tak kode: 260247 Merk asb betaling : Audio bybel
e-mail bevestiging (vrywillig) : Du Plessis, Gerhardus GDuPlessis@landbank.co.za
Baie dankie…..
Mag ons Hemelse Vader hierdie uitreik seën
Die onderstaande skrywe vanaf Ds Hendrik du Plessis motiveer die rede vir ons projek.
Die Audiobybels (klankbybels)
In Romeine 10:17 sê Paulus: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.”
Deur die Here se genade en deur sy voorsienigheid in hierdie tyd het die tegnologie tot ons beskikking dit vir ons moontlik gemaak om sy Woord letterlik te kan hoor soos nog nooit te vore nie. Ek glo ons kan daarin die dringend van die tye inlees voor die wederkoms van ons Here Jesus, sodat niemand eendag ‘n verskoning voor God sal hê nie. Iets van die Here se dringendheid sien ons in die tegnologie-ontploffing wat ons in die laaste vyftig jaar beleef. Soos ‘n atleet begin spoed optel namate die laaste rondte naderkom, wil ‘n mens in die tekens van die tye en hoe die pas nou begin versnel daarin inlees dat dit bes moontlik die laaste rondte kan wees.
In Afrika en in besonder in hierdie deel van Botswana, was lees nog nooit prioriteit nie. Bitter min mense kan lees, en dié wat wel kan lees, lees baie swak en verkies eerder om nie te lees nie. Wat sal die motivering wees om te lees as dit jou ‘n halfuur neem om aan paragraaf te lees. As jy wel ‘n geskrewe Bybel het wat die gewete sus, maar jy lees met die grootste inspanning, sal dit die geneigdheid wees om dit maar eerder nie te lees nie. Dit was hier in Afrika en steeds vandag die teelaarde van al hierdie valse godsdienste, want iemand anders het maar die leeswerk namens jou gedoen onder die naam “baruti”, biskoppe, apostels, noem maar op. Valse predikers floreer op hierdie lidmate wat nie kan lees nie, en as jy op jou biskop, apostel of wie-ookal aangewese is om uit te vind wat die Here sê, bevind jy jou op ‘n baie gevaarlike terein, en as hy nie ‘n wedergebore kind van God is nie, gaan hy dit natuurlik uitbuit tot sy eie voordeel.

Hoe belangrik die waarheid is en die kennis van die waarheid kan ons duidelik sien in die woorde van Hosea 4:6: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.” In Jesaja 5:13 staan daar “Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.”
Ek het aan Abdul wat van tyd tot tyd hier vir ons in die tuin help op ‘n keer ‘n gedrukte Tswanabybel gegee voor die audiobybels gekom het. As sy dogter hier is, het hy haar gevra om vir hom ‘n stukkie te lees. Weke of selfs maande kon verbygaan voor sy weer kom. Ek dink nie ons besef hoe min hierdie mense van Afrika blootgestel was en is aan die Woord van God nie, en dan wonder ons hoekom daar nie ‘n oplewing plaasvind op die sendingveld nie.
Die wonderlike van audiobybels is dat almal wat kan hoor kan luister, en dít in jou eie taal. Jy hoef nie geleerd te wees nie. Terwyl jy met jou huiswerk besig is praat die Bybeltjie in die agtergrond. Elkeen wat daar verbyloop hoor wat gesê word, en die Heilige Gees werk deur die Woord. Op ‘n keer het ek mense besoek vir wie ek so ‘n audiobybeltjie gegee het. Een van die kinders het die bybeltjie aangeskakel. Die spesifieke hoofstuk wat gelees was kon sy woord vir woord vooruit sê. Met die baie luister kon sy die hoofstuk uit haar kop uit opsê. Dit het my net weer tot die besef gebring, hierdie mense het ‘n hoorkultuur en nie ‘n leeskultuur nie, en dit is tog Bybels, want geloof is uit die gehoor en die gehoor uit die Woord van God. Ek is daarvan oortuig, hoe meer kennis van die Woord jy het, hoe minder vatbaar jy sal wees vir valse leerringe.
Vanmiddag kom ou Cgara hier by my aangestap met sy drie kleinkinders vir ‘n audiobybeltjie. Hy het net een oog. Hy was oorstelp van vreugde oor die Bybeltjie. Toe hy so wegstap hoor ek hom vir sy kleinkinders sê: “Kom, nou gaan ons lekker luister.” Die vraag het toe by my opgekom: “Wat is die moontlikheid vir so ‘n persoon om andersins die Woord te hoor, as daar niemand is om vir hom te lees nie?” Die enigste manier dan waarop hy met die Woord van die Here in aanraking gaan kom is as hy dit op ‘n baie verdraaide vorm by een of ander valse prediker gaan kry, en wat sal dan sy verweer teen die leuen wees?
Ou Simon is 90 jaar oud en feitlik blind. Eensaam het ek hom daar by sy sinkhuisie sien sit. Hy is ‘n Herero maar vlot Naro en Tswana magtig. Voorheen het hy gereeld ons eredienste hier in D’kar bygewoon, maar vandat hy nie meer kan sien nie, het hy al hoe minder gekom. Die kanse vir so ‘n persoon om onder die geklank van die Woord van die Here te kom is uiters skraal as jy net op die geskrewe Bybel jou moet verlaat.

So ook hierdie jong man wat vir die res van sy lewe bedleênd sal wees. Die regering het vir hom hierdie geboutjie gebou. Sy pa wat hom tot nou onlangs toe nog versorg het, ou Cao, is skielik oorlede.

Ou Zoo was op pad om te gaan bad. Hy is al vir jare heeltelmal blind. Sy seun bad hom gewoonlik in die geboutjie reg agter hulle. Ná die tyd het ek vir hulle elkeen ‘n audiobybeltjie gegee. Nou kan hy tydens sy donker en vervelige ure na die Woord van die Here sit en luister. Weereens, by wie anders sal hy na die Woord van die Here kan luister, want afgesien van die feit dat sy kinders baie besig is deur die dag, kan hulle beswaarlik lees.

Nie almal bekom die audiobybeltjies altyd op die gewenste manier nie, maar dat hulle desperaat is om so ‘n Bybeltjie te bekom, daaroor is daar geen twyfel nie.

My kollega, emeritus ds. Gaobolelwe Ngakayaja, het my Sondag gaan wys waar hulle sy audiobybeltjie gesteel het. By sy slaapkamervenster links onder het iemand versigtig die glas gebreek en sy audiobybeltjie gesteel. By die vensterbank het hy altyd die Bybeltjie gelos om in die son gelaai te word. Ons het daar saam van harte ons hoop uitgespreek dat die diefstal ten goede sal meewerk tot sy ewige saligheid.
Om af te sluit: Hoeveel makliker sou dit net nie vir ons as sendelinge gewees het nie, om sendingwerk te doen onder mense wat alreeds ‘n basiese kennis van die Bybel het en jy vir hom slegs die Evangeliese lyne hoef deur te trek. Toe Filippus by die hofdienaar van Ethiopië op die wa klim, was hy besig om uit die boek Jesaja te lees. Hy hoef nie alles aan hom te verduidelik het nie, omdat hy alreeds ‘n basiese kennis van die Bybel gehad het. So ook die Emmausgangers – die Here Jesus kon vir hulle die lyne deurtrek van Moses en die profete en alles wat op Hom betrekking gehad het, omdat hulle ‘n basiese kennis gehad het.
Die vraag sou wees: Het die toestand van die sending en sinkretisme in Afrika nie dalk in ‘n groot mate te doen met mense wat selde of nooit die Woord lees of hoor nie? Ek is daarvan oortuig dat dit ‘n groot rol gespeel het en vandag pluk ons die vrugte. Vandaar dan al hierdie valse kerke en groeperinge wat nie op die Woord van God geskoei is nie, maar die menings van mense verkondig, en wie is jy wat selde die Woord hoor om dit te betwis. In kort wil ons u hartlik bedank vir u bydrae wat hierdie audiobybels aanbetref. Ek is daarvan oortuig dat dit die Afrika-probleem in ‘n groot mate gaan aanspreek, want nou kan hulle vir hulleself die Woord van die Here in sy suiwerste vorm hoor sonder dat hulle geskoold hoef te wees.
U broer in Christus, Hendrik du Plessis.