Ds Hendrik du Plessis
Frits
Ek het hom nog Sondagmiddag, 4 Julie, voor my vertrek na Mababe, gaan besoek. Tydens my besoek aan hom het ek ernstig met hom gepraat en gewaarsku dat hy baie blootgestel is aan Covid-19 omdat daar baie kinders en kleinkinders op sy werf woon. Hulle tel die virus by die skool of waar ookal op en kom steek die mense op sy werf aan. “Frits, soos jy weet is daar nou ‘n drastiese toename van Covid-19 in die omgewing. Ek is bereid om jou na jou veepos te neem op my eie onkoste.” Ons het toe ooreengekom dat ek hom die Maandagoggend 9 uur sou wegneem na sy veepos.

Die volgende oggend skakel hy my en vra of ons nie ‘n bietjie kan wag nie, want gerugte doen die rondte dat dieentstof op pad is, en ons een of ander tyd daardie week ingeënt kan word. Ek skakel toe vir suster Thupe, die verpleegsuster van Gantsi, om te hoor of die entstof al gekom het.
Dit het nog nie gekom nie maar sy belowe om te laat weet sodra dit daar is. Dinsdagoggend laat weet sy dat die entstof gekom het en dat ons Woensdagoggend kan gaan vir die Sinovac inenting.
Die volgende oggend moes ons eers na die “hospice” in Gantsi toe gaan om getoets te word of ons nie dalk die virus al onderlede het nie. Daar aangekom moes ons in ‘n lang ry wag tot dit ons beurt is. Miriam (my vrou) was ook saam met ons. Sy het op haar eie gekom. Ons plan was om saam ingeënt te word. Van daar af is ons toe na die gemeenskapsaal vir die inentings. Kort nadat Miriam ingeënt is, het sy erge hartkloppings begin kry en erg duiselig gevoel. Frits en ek het saam met haar gewag tot die simptome begin bedaar voordat ons weer die 40 km terug D’kar toe aangepak het. So kon ons agter haar aanry om seker te maak sy het veilig tuis gekom.
Die volgende dag skakel ek toe vir Frits om te hoor hoe laat ek hom kan gaan oplaai om hom weg te bring na sy veepos toe. Tot my skok antwoord hy dat sy dogter, Dinah, wat op Clareo hier naby D’kar, vir die voorskoolse kinders skool hou, Covid-19 opgedoen het. Sy is pas positief getoets en die kliniek op D’kar het hulle gelas dat hulle nêrens heen mag gaan nie sodat almal op die werf getoets kan word. Hulle sou die volgende dag, Vrydag, kom, wat toe nie gebeur het nie en tot die Maandag uitgestel is.
Maandag, 12 Julie, vertrek ek, Abdul en Johannes, sy seun, na Mababe toe. Hierdie keer kon Frits ongelukkig nie saam gaan nie. Op pad na Mababe het ek deurentyd met Frits kontak behou. Uiteindelik het die kliniek gekom en agt lede van sy gesin het positief getoets, Frits inkluis. Van toe af het ek Frits elke dag geskakel tot Vrydag die 16de. Sondag die 18de, het ek weer die namiddag geskakel. Sy dogter antwoord toe die foon en sê dat Frits swaar asemhaal.

Ek skakel toe dadelik die kliniek in D’kar en vra dat hulle tog die ambulans so gou as moontlik na Frits toe moet stuur. Hy het probleme. Nie lank daarna nie het hulle hom by sy huis gaan oplaai. Hy het nog self probeer opklim, maar hulle moes hom ophelp omdat hy reeds so swak was. Die aand toe ek sy dogter skakel hoor ek hoe sy aan die anderkant hartstogtelik huil. Die ambulansman het nou net die boodskap gebring dat Frits dit nie gemaak het nie. Ek kon dit glo nie. Sy huisgenote, natuurlik onkundig, het nie agterkom dat hulle pa se toestand vererger nie. Vir my was dit nie maklik nie, maar ‘n geweldige groot skok. Vir 20 jaar was ek en Frits onafskeidbaar. As daar nou iemand was wat altyd getrou sy masker opgehad het, dan was dit Frits, maar teen sy kinders en kleinkinders was hy nie bestand nie.
Mababe
Soos ek gesê het, het Abdul en Johannes, sy seun, my vergesel na Mababe en Motopi. Abdul het ‘n jaar gelede hier by ons in D’kar belydenis van geloof afgelê. Vir hom is dit baie belangrik om sy seuns saam te neem, om hulle bloot te stel aan die Evangelie. Hy wil vreeslik graag hê hulle moet betrokke raak by die kerk. Self het hulle nog nie belydenis van geloof afgelê of die dienste bygewoon nie, en is die Christelike gesprekke rondom die kampvuur vir Abdul wat sy kinders aanbetref baie belangrik. By ‘n vorige geleentheid was dit Xgaiga, sy ander seun, wat saam was Bere toe en daarna Johannes. Met die afgelope Mababe en Motopi uitreik was dit weer Johannes wat nie kon wag om saam te gaan nie.
Ons was vir twee weke in Mababe waar ons gereeld Bybelstudies kon hou. Wanneer ons bymekaarkom laat dit my baie dink aan die huisgemeentes in die tyd van die Nuwe Testament. Daar was toe nog geen kerke soos ons dit vandag ken nie. In 1 Korinthiërs 16:19 sê Paulus: “Die gemeentes van die provinsie Asië stuur vir julle groete, van Akwila en Priscilla en ook van die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaarkom: baie groete in die Here.” In Romeine 16:5 sê Paulus: “Groete ook aan die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaarkom.” In Kolossense 4:15 sê Paulus: “Dra my groete oor aan die gelowiges in Laodisea en aan Nimfa en die gemeente wat gereeld in haar huis bymekaarkom.” In Filemon vers 1 en 2 sê Paulus: “1Van Paulus, ‘n gevangene ter wille van Christus Jesus, en van ons broer Timoteus. Aan Filemon, ons vriend en medewerker, 2en aan ons suster Affia en aan Argippus, ons medestryder, en aan die gemeente wat gereeld in jou huis bymekaarkom. 3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus.” Dit sê vir ons dat huisgemeentes ‘n algemene verskynsel in die tyd van die Nuwe Testament was. Dit is bemoedigend om te weet dat tot die apostels klein begin het, en gemeentes gehad het wat in huise ontstaan het.
Idea
Die man by wie ons elke keer tuisgaan en wat uit sy pad uitgegaan het om ons te nooi en te ontvang sedert 2017, se naam is Idea. Hoe hy as Boesman aan die naam gekom het, weet ek nie. Hy is ‘n baie dinamiese persoon en deur sy toedoen het ons nou al ‘n groot erf van die regering gekry waarop ons later as die Here se wil daarby is, ‘n kerk of ‘n struktuur kan oprig. Hy het ‘n boek waarin hy almal se name neerskryf wat Bybels ontvang. Sy vrou doen vir hom die skryfwerk. In die twee weke daar kon ons twee keer die dorpie, Sankoyo, besoek en een keer Khwai. Die vreugde en opgewondenheid wanneer jy vir mense die klankbybeltjies gee tref jou elke keer opnuut. Volgens Idea gaan die klankbybels nog baie mense tot inkeer bring. Dit is asof hulle nou vir die eerste keer die Woord hoor.
In ons tyd daar het ‘n regeringsvoertuig by ons stilgehou. Een van die mans het hom aan ons voorgestel as die “council secretary” van Maun. Sy naam is Lets. Hy het my uitgevra oor die werk wat ons doen en of ons in Maun ook betrokke kan raak. My antwoord aan hom was dat ons orals betrokke kan raak afhangende van die fondse wat ons inkry.
Hy het my nommer gevra en ek het intussen skoon van hom vergeet tot hy my gister uit die bloute skakel om te hoor wanneer ons weer Mababe toe gaan. Hy sal graag wil hê dat ons die “council chairman” van Maun ontmoet. Daardie man sê hy vergesel die president oral wanneer hy in die omgewing is. As hy te hore kom van die mooi werk wat ons doen gaan die president beslis daarvan te hore kom, en hy het sy opregte waardering uitgespreek oor dit wat ons daar doen.

Tydens ons verblyf op Mababe was ons ook fisies bedrywig met die kap van pale. Idea het aanvanklik voorgestel dat ons mense moet huur om vir ons die 40 mopaniepale te kap. My voorstel was: “Idea, daar is niks verkeerd met ons hande nie, ons kan mos self die pale kap, ek en Abdul en Johannes.” Ek moet sê, behalwe vir die blase was dit baie goeie oefening. Op die ou end kon ons 35 jong mopaniebome afkap, goeie pale vir die kerkerf. Nou benodig ons net die draad vir die omheining. Die vraag kom dan onwillekeurig by ‘n mens op, wat gaan ons doen wat die olifante aanbetref. Die enigste is om maar die heinings van tyd tot tyd te herstel. Die mense daar het verlief geneem met die feit dat hulle hul heinings van tyd tot tyd moet herstel. Daar is tye wanneer die olifante oor die draad loop maar wanneer hulle die draad breek moet ‘n mens dit maar herstel tensy ‘n mens elektriese kontrepsie kan kry wat hulle skok as hulle daaraan raak.

Idea, soos ek gesê het is ‘n baie dinamiese persoon, en is baie ernstig dat ons ‘n permanente kerk in Mababe moet vestig wat al die omliggende dorpies bedien. Nou-die-dag wou hy by my weet of ons nie ‘n volgende keer na sy ander familie in Kasane kan gaan sodat hulle ook daar die Woord van die Here kan hoor nie. Dit is so ongeveer 600 kilometer deur die wildernis.
Die tyd in Mababe het vinnig verbygegaan, maar ook stadig, veral die nagte. Een nag het sewe leeus ons tente kom besoek. Ek kon die een naby my kop hoor verbyloop. By Abdul en sy seun se tent het hulle gesnuffel en die een het met sy nael aan die tent gekrap. Abdul het toe so fyn gefluit soos ‘n mamba wat kwaad is. Mense wat al met ‘n erg omgekrapte mamba te doen gekry het sal weet dat hy so ‘n skril fluitgeluid maak. Die leeus het ons toe daarna met rus gelaat. Volgens Abdul is leeus baie bang vir mambas en ‘n mamba se bekende fluit as hy kwaad is ken hulle baie goed. Van toe af het ons maar baie lig geslaap in die aande. Abdul sê, hy het eenkeer in die veld ‘n mamba so hoor aankom. Hy het hom tussen die mamba en sy gat bevind. Dan, sê hy, is ‘n mamba op sy gevaarlikste.

Na twee weke in Mababe wou ons teruggaan huistoe, maar ons kon nie reispermitte kry nie. Intussen is Frits Sondagoggend begrawe. Ons het toe besluit om die Maandag te ry Maun toe, waar ons by die DC (Districts Commissioner) sal gaan vra vir ‘n spesiale vergunning. Die DC kon ons ongelukkig nie help nie, want dit is dringende inperkingsmaatreëls wat die president self ingestel het.
Die Maandagaand het ons toe op Motopi gaan slaap. Daar het ons lank met Gift gesels. Hy is ‘n Zimbabwiër, wat al vir jare tannie Dorette se regterhand op Motopi is. Noudat tannie Dorette nie meer gereeld Motopi toe kan gaan nie, is dit hy wat die dienste Sondae daar behartig. Ek het tannie Dorette toe geskakel en gevra of dit nie nou die regte tyd is om Gift as ouderling te bevestig nie, siende dat hy nou-die-dag aansoek gedoen het vir burgerskap in Botswana en dat sy Tswana deur die jare al baie verbeter het. Tannie Dorette het gedink dit is ‘n baie goeie idee as hy bereid is. Ek het dit toe met Gift bespreek wat baie opgewonde was oor die voorstel en ons verseker het dat hy beslis geroepe voel om vir die Here te werk. Die rede waarom ons dit in die verlede maar uitgestel het was omdat daar nog altyd ‘n swaard oor sy kop gehang het dat hy enige oomblik uit die land gesit kan word.

Die volgende oggend was ons steeds baie onseker hoe ons terug sal kan gaan D’kar toe. Dit het ons op die plan gebring om langs die ou Heinevelddraad af te ry. Die olifante het die draad daar baie plat getrap. Van Makalamabedi af is dit oor die 200 km op ‘n tweespoorpad. Die aand het ons langs die pad geslaap, ek agter op die bakkie en Abdul en Johannes voor in die bakkie. Hulle sou oor my die wag hou, omdat die leeus daar volop is. Dit het hulle my belowe. Ek dink eerder hulle was te bang om buite te slaap. Ek moet sê, ek het lanklaas so koud en ongemaklik geslaap. Die koue kom van oral af in. Die volgende dag het hulle ons gelukkig by die Tsaohek na die Ghanzidistrik deurgelaat. Die Tsaohek is een van die hekke na die Sentraal-Kalahari wildtuin.
Om af te sluit
Drie dae gelede het Idea my geskakel met die slegte nuus dat tien van hulle nou positief getoets het vir die koronavirus, hy inkluis. Van ons naaste apteek hier in Gantsi het ek verneem van ‘n fonds wat gestig is om mense wat dit nie kan bekostig nie van medikasie te voorsien. Ek het die apteek gekontak en hulle kon my help met medisyne vir Idea en sy vrou (Ada). U voorbidding word gevra vir hierdie familie wat nou deur ‘n moeilike tyd gaan. Omdat daar nou weer streng inperkingsreëlings ingestel is en ons nie oor sones heen mag gaan nie, het ek met hulle skoonseun gereël om my by die bek-en-klouhek, Kuke, te ontmoet. Ongelukkig kon hy nie sy belofte nakom nie en moes ek ‘n ander plan maak om die medisyne Maun toe te stuur waar Idea iemand sal stuur om dit te gaan ophaal.
Die groot geheim met hierdie siekte is om dit so gou as moontlik te behandel. Dit het ons met Frits gesien. Die groot gevaar is, jy kom nie agter jou suurstofvlakke begin daal nie. Omdat die staat se klinieke so swak toegerus is, laat dit ons ou mense baie weerloos. Tot op hede, sê Idea het die kliniek daar in Mababe hulle nog van geen medisyne voorsien nie. Hulle sal hulle glo weer Maandag besoek.
Ons bid dat die Here ons in hierdie tyd die nodige wysheid sal gee.
U broer in Christus,
Hendrik du Plessis.