“En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” (Johannes 8:32)

Hoogsbeswaard het Abdul onlangs na my toe gekom: “Hendrik, julle het ‘n groot fout gemaak. Hoe kon jy en Cg’ase noudat sy vrou oorlede is, saam Gantsi toe gaan. Volgens ons tradisie moet hy tot met die begrafnis, die heeltyd by sy huis bly. Hy mag onder geen omstandigheide rondbeweeg nie. Ek het toe julle teruggekom het jou bakkie se sitplekke spesiaal met warm water gaan was dat julle nie moet doodgaan nie, en nou wil jy alweer saam met hom Gantsi toe gaan. Dit is baie gevaarlik want daar is onheile wat julle gaan tref.” Ek het rustig na hom gestaan en luister en vir hom gewag om te bedaar.
Abdul, soos ek in my vorige verslae melding gemaak het, het ongeveer ‘n jaar gelede belydenis van geloof afgelê. Hy het my nou al op ‘n hele paar uitreike vergesel, ook saam met my en Frits, wat verlede maand oorlede is aan Covid 19. Ek sien hom nog as ‘n kind in die geloof.
Ons het hom al oorweeg vir diaken, maar dan dink ‘n mens aan die woorde van Paulus om nie nuwelinge te gou in ‘n opsienersamp te bevestig nie (1 Timotheus 3:6). Terwyl hy saam met my op die uitreike gaan, is dit vir hom goeie blootstelling, nie net aan die Evangelie self nie, maar ook aan die bediening daarvan en goeie voorbereiding vir die ampswerk van ‘n diaken.
Nadat hy ietwat bedaar het, sê ek toe vir hom: “Abdul, kan jy onthou waaroor ek en jy so twee jaar gelede gesels het. Ons het daar gestaan, en ek beduie na die plek. Ek het vir jou daar twee sirkels op die grond getrek en vir jou gesê daar is twee krale in hierdie wêreld. Die een kraal is die Here Jesus se skaapkraal en die skape wat aan Hom behoort luister na sy stem (Johannes 10), want hulle behoort aan Hom, en niemand kan hulle uit sy hand uitruk nie. Dan is daar nog ‘n kraal, die duiwel se kraal, vol bygelowe en toordery. Daar toor hulle mekaar en hulle haat mekaar en in daardie kraal geld die reëls waarvan jy nou praat. As jy in daardie kraal is, stem ek met jou heeltemal saam, dan moet jy baie bang wees vir al hierdie onheile wat jou kan tref. Ek weet nie wat jou aanbetref nie maar wat my aanbetref, ek is nie in daardie kraal nie en ek weet wie my Herder is en dat niks met my kan gebeur sonder Sy wil nie.”
Abdul sê toe: “Ja, maar dit is ons tradisie, jy kan vir enigiemand vra. Skakel nou vir Aron en hy sal vir jou vertel dat dit so is.” Aron is een van ons ouderlinge. Op pad Gantsi toe het Abdul vir Ben (ook ‘n ouderling in ons kerk), geskakel en het hy vir Abdul probeer verduidelik dat dit ‘n ou Kgalagadi bygeloof is. In Gantsi het ons vir Aron raakgeloop en Abdul kon nie wag om vir Aron by die gesprek te betrek nie, met die hoop dat Aron sy kant sal kies en verdedig.
Aron se antwoord in kort aan hom was: “Abdul, die goed waarvan jy nou praat het ons geglo toe ons nog nie Christene was nie. Dit is ou goed wat vir ons geen waarde meer het nie. Nou is ons Christene en heg glad nie meer waarde aan daardie goed nie. As jy ‘n Christen is kan daardie onheile jou nie meer tref nie.” Half verleë het Abdul bes gegee. Aron, ‘n mede Boesman, was duidelik vir Abdul ‘n soort van ‘n kanon of ‘n laaste woord wat hom tot bedaring gebring het.
Dit het my net weereens tot die besef gebring hoe belangrik die individuele gesprek in die sending is. In baie gevalle kom dit onbepland en jy kry die geleentheid om iemand te konfronteer met die Evangelie, wat my laat dink aan die Woorde van ons Here Jesus: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” (Johannes 8:32) Waar die lig van die waarheid van die Evangelie nie skyn nie, daar neem vrees oor vir allerhande onheile. Dit is trouens hoe ‘n kultus werk. ‘n Kultus gebruik vrees as gom om sy lede bymekaar te hou. Daarteenoor word ons deur liefde aan Christus gebind.
U voorbidding word gevra vir Abdul en sy huisgesin en ook vir ons gesprekke rondom die Bybel en tydens ons uitreike rondom die kampvuur. Abdul het sy ma verloor toe hy maar ‘n kind was. Sy ma was ‘n Qgõo-Boesman van Khagcae naby Bere en sy pa ‘n Naro. Een nag het ‘n mamba in hulle hut ingeseil en sy ma gepik. Hulle kon ongelukkig niks vir haar doen nie, en hy het by sy pa groot geword. Abdul is ‘n gereelde kerkganger voor en sedert hy belydenis van geloof afgelê het en is dit sy vurige begeerte dat sy gesin hom daarin sal volg.
U broer in Christus,
Hendrik du Plessis.