Ons kosbare kinders in die gemeente
Ds Hendrik du Plessis
Die kerklewe hier in D’kar begin stadig maar seker weer na normaal terugkeer. Vir ‘n tyd lank het ons die sondagskoolklasse tot halt geroep, veral na die Covid-19 virus ons kerkraad swaar getref het. Om kontak tussen die kinders en die grootmense te vermy het ons die kinders nie meer by die kerk laat leer nie. Ons het tans vier onderwyseresse wat met die onderrig help. Dit is leerkragte uit ons gemeente.

Ons is besonder dankbaar oor die boekies wat ons via br. Tiddo gekry het. Ons bede is dat die Here ons werklik sal seën met die onderrig van ons kinders. Soos in die foto gesien kan word is die oes groot, maar die arbeiders min, en die enigste is om te bid vir arbeiders in sy oes, want die oes behoort aan Hom. Die kinders geniet die onderrig en dit is vir ons baie positief. Die getalle weerspieël dit.

Om die foto hierbo een te maak om ‘n geheelbeeld te vorm kan ‘n mens die seuntjie hier voor, nommer 86 gebruik as afsnypunt. Ongelukkig kon ek nie almal op een foto inpas nie, anders moes ek verder weg gestaan het.
Ons belydenisklas word twee keer ‘n week onderrig, Maandae en Dinsdae. Die klasse word regtig ywerig bygewoon. Ook met hulle moes ons in die tyd toe die kerkraad so siek was vir ‘n tyd lank halt roep. Gelukkig was hulle geduldig tot ons weer kon begin het. Ons versoek aan u is om tog nie ons kinders in u gebede te vergeet nie. Dit is ons kerk se toekoms maar breër gesien ook die toekoms van die Evangelie van ons Here Jesus Christus hier in Botswana.
Groete en Seënwense,
Hendrik du Plessis