Ds Hendrik du Plessis
D’kar Desember 2021
Ou Ben oorlede

Dit was so onverwags, niemand het dit voorsien nie. Die Maandag het hy, ek en Aron nog voor dr. Bredenkamp se spreekkamers gestaan en gesels. Ou Ben het met sy minibustaxi reg langs ons kom stilhou om te groet. Hy het van lyfseer gekla en ek kon sien sy oë en gesig was geswel. Min het ons geweet hy het Covid-19 onderlede. Die volgende dag skakel sy vrou my om te sê dat hy weens Covid-19 in die hospitaal opgeneem is en hy aan suurstof gekoppel is. Dit was ‘n geweldige skok. Dit het nie by ons geregistreer dat hy ons moontlik kon aansteek nie.
Ek het hom geskakel om te hoor hoe dit gaan. Ek het hom nog altyd ou Ben genoem, self weet ek nie hoekom nie. “Dit gaan goed Hendrik. Ek haal net ‘n bietjie moeilik asem. Vanoggend was my suurstoftelling nog 90.” Die volgende dag het ek hom weer geskakel. Hy het verduidelik dat sy suurstoftelling nog bo 80 is. Op ‘n stadium was dit so laag as 44, het hy gesê. Dit het my baie bekommerd gelaat. Die dag daarna het hy toe nie weer sy foon beantwoord nie. Ek het sy vrou geskakel wat my gerusgestel het dat dit goed gaan en dat hulle sy foon by hom afgeneem het omdat mense hom lastig val wanneer hy aan die suurstofmasjien gekoppel is. Dit was te verstane.
Daardie aand het ek met dr. Bredenkamp gesels wat verbaas was dat ou Ben nog lewe, want hy het nie lank tevore hartversaking gehad en daarby het hy aan hoë bloeddruk en suikersiekte gely. Sy vrou het my weereens gerusgestel dat ou Ben nog lewe en dat sy toegelaat word om hom te besoek. Toe ek haar weer skakel kon ek hoor aan die manier waarop sy antwoord dat daar iets groot fout is. “Ou Ben is nie meer met ons nie,” het sy aan die anderkant gesnik. Vir my was dit bitter moeilik, nie net omdat hy ‘n gemeentelid en ouderling was nie, maar ook omdat hy my vriend was. Jy kon altyd op ou Ben staat maak. Hy het soveel wysheid gehad. Wanneer hy tydens die kerkraadsvergadering gepraat het, het almal geluister, maar wat vir my van hom uitstaande was, was sy gebede – soos een van die Boesmans vir my eendag gesê het, as ou Ben bid, voel dit vir jou asof hy regtig met die Here praat. Diep ootmoedig het hy altyd begin bid: “O Vader, Seun en Heilige Gees . . .”
In een van my vorige verslae het ek melding gemaak van ou Ben se kind wat verdwaal het, en die nag in die reën in die veld deurgebring het. Sy familie het by hom aangedring om ‘n sangoma te gaan sien, maar daarvan wou hy en sy vrou niks weet nie. “Ek gaan nou na my kind soek en het nie tyd vir sangomas nie,” was sy woorde aan hulle. Wonder bo wonder het ons sy kind die volgende dag gekry.
Na sy begrafnis skakel sy vrou my en wou net seker maak: “Ons kerk glo mos nie aan hierdie badrituele waar jy as’t ware van die onheile van die dood gereinig moet word nie?”, want, sê sy verder: “Hier is mense wat wil hê ek moet in ‘n bad gaan sit sodat hulle my kan reinig en my antwoord aan hulle was dat ons kerk nie daaraan glo nie.” My antwoord aan haarr was, “ons is alreeds deur die bloed van ons Here Jesus gereinig. Ons het nie nog ander reinigings nodig nie.” “Dan wil hulle hê,” sê sy, “moet ek volgens tradisie vir drie maande nie kerk toe gaan nie, maar ook dit het ek weerlê.” Dit was vir my as haar predikant goed dat sy as ‘n oortuigde Christen nie van stryk gebring word deur die wette en regulasies wat niks anders is nie as die instellings en gebooie van mense nie, wat ten diepste ‘n okkultiese houvas op mense het, want as jy daarvan afwyk, is daar sekere onheile wat jou gaan tref, en as jy wil veilig speel kom jy maar die gebooie na.
Ons vra u voorbidding vir ou Ben se vrou, Lebotsang, wat dikwels familiedruk moet weerstaan omdat ons aan God meer gehoorsaam moet wees as aan die mense.
U broeder in Christus,
Hendrik du Plessis.